OP ‘n vreemde, vreemde dorpie – 2016 © Christo Meyer
VOLWASSE FANTASIE (1 479 WOORDE)
Dis sterk skemer toe ek voor die grys gebou met die hoë mure stilhou. Ek slaak ‘n dankbare sug van verligting.
Uiteindelik, nadat ek ‘n ompad moes ry, het ek my bestemming bereik. Ek maak die deur oop en klim versigtig uit.
My eerste gewaarwording is ‘n brandreuk wat my oë laat traan. Ek is dadelik op my hoede.
Soos ‘n snuffelhond hou ek my neus in die lug om te probeer vasstel uit watter rigting die reuk kom.
Dan, in ‘n oogwink is die brandreuk weg. Was als net my verbeelding? Ek gaan haal my bagasie uit die kattebak, sluit die deure en loop fronsend tot by die ingang.
Die plek is verbasend stil. My motor is die enigste voertuig in die parkeerarea. Is hier dan geen ander besoekers nie?
Dit is my heel eerste besoek aan hierdie godverlate plek. In opdrag van Grobbies, my hardkoppige, onredelike nuusredakteur, het ek hierheen gekom om ’n storie oor beweerde satanisme te doen.
Iemand het blykbaar spoorloos verdwyn en daar word vermoed dat ‘n sataniese groep agter die verdwyning sit. Ek het nie juis uitgesien om hierheen te kom nie, maar Grobbies is nie iemand wat nee vir ‘n antwoord vat nie.
Daar is niemand by ontvangs nie, of so wil dit voorkom. Ek kyk onseker in die groot vertrek rond. Dan, uit die hoek van my oog, sien ek ‘n beweging.
’n Komieklike dwergvroutjie sit half weggekruip op ’n houtstoel agter die toonbank. Sy gewaar my en gluur my aan asof ek van Mars of Jupiter is.
Sy is norser as enige suurknol wat ek al ooit in my meer as veertig jaar op aarde teëgekom het.
Nie eens sekere kettingwinkels se buierige kassiere sal met haar kan meeding nie.
Met haar kraalogies beskou sy my agterdogtig van kop tot toon, sonder om ’n enkele woord te uiter.
Haar skreeusnaakse haarstyl dateer uit die tagtigerjare en haar gekreukelde wit rok met die heldergeel blomme was meer as ’n dekade gelede hoog in die mode.
“Is jy alleen?’ vra sy met ’n koue, gevoellose stem.
“Ek dink so. Toe ek laas gekyk het, was hier niemand by my nie,” antwoord ek sarkasties.
“Jy moenie vir jou kom staan en slim hou nie, mannetjie.” Die frons op haar verrimpelde voorkop verdiep.
“Toe ek laas gekyk het, was daar ’n graad in joernalistiek agter my naam. As dit nie slim genoeg is nie . . .”
“Ja, ja, ja. Jakkals prys sy eie stert. Ek kan sien jy is nie van hier rond nie,” mor sy.
Probeer die vrou te kenne gee ek hou my hoogmoedig? Sy ken my skaars.
“Naam en van?” rammel sy dit af.
“Baartman,” antwoord ek, “David Baartman.”
“Dit sal drie honderd en vyftig rand vir die nag wees. Ons aanvaar slegs kontant. Te veel kredietkaartbedrog en . . .”
“Dis in die haak,” onderbreek ek haar. “Ek het ’n lang reis agter die rug en ek soek net ’n bed om my kop op neer te lê. As jy nie omgee nie.”
Ek haal my beursie uit my broeksak en betaal. Sy trek ’n laai oop, haal ’n sleutel uit en oorhandig dit aan my. Hoekom is die vrou se hande so ysig? Sy kon net so wel ’n lyk gewees het.
“Kamer 234,” sê sy kortaf. “Gebruik die trappe. Die hysbak is buite werking.
“Op die tweede vloer draai jy links in die gang af.”
Dié hotel kan nie juis as luuks beskryf word nie. My kamertjie is piepklein en die verf teen die mure is afgeskilfer. Ten minste is daar darem ’n stort met louwarm water.
Nadat ek gestort het, gaan ek uitgeput op die bed lê.
Alfred se woorde maal skielik deur my kop. “Daar is net iets aan daardie dorpie . . .”
Hy het brandstof in my tenk gegooi en my ’n kortpad tot hier verduidelik.
Toe ek wegtrek, sien ek in die truspieëltjie hoe die vriendelike petroljoggie my motor agterna staar, amper asof daar iets was waarteen hy my wou waarsku . . .
Harde voetstappe in die gang ruk my iewers in die nag uit my diepe slaap.
Ek sit regop in die bed, luister aandagtig.
Klokhelder hoor ek hoe die plankvloere kraak. Wie kan dit wees wat so laat hier ronddwaal?
My gedagtes skakel oor na vyfde rat. Dalk is dit net ’n sekerheidswag wat sy patrollie kom stap, probeer ek myself gerusstel.
Maar sê nou dis wel ’n sekerheidswag, hoekom kom die voetstappe dan nou skielik hier voor kamer 234 tot stilstand?
Ek dwing myself om kalm te bly. Dit gaan niks help om paniekbevange te raak nie.
Skielik verstaan ek hoekom sommige mense met ’n vuurwapen onder hul kussing slaap. Dis vir oomblikke soos dié wanneer jy nie seker is wat op jou wag nie.
Versigtig kruip ek onder die warm duvet uit.
Kyk, as ’n man onverwags ’n besoeker kry, wil jy darem weet wie dit is – ongeag watter tyd van die dag of nag.
Ek lig my voete van die bed af en sluip op my tone vorentoe. Die draai van die sleutel en die ooppluk van die deur is byna gelyktydig.
Ek maak my gereed om ’n vuishou deur te stuur. Die swernoot!
Wat soek hy so laat in die nag voor my deur?
’n Rilling gaan langs my ruggraat af. My keel trek toe.
Hoe is dit dan moontlik dat hier nou ewe skielik niemand is nie?
Ek het dan oomblikke gelede gehoor hoe die persoon met die harde voetstappe voor my kamerdeur kom staan.
Dit kan tog nie my verbeelding wees nie! Is iemand besig om kat en muis met my te speel?
Ek draai my kop ’n paar maal links en dan weer regs in die gang af, maar daar is geen teken van lewe nie.
Alles is meteens grafstil.
Terug in my kamer gaan sit ek onseker op die rand van my bed. My hart klop benoud.
Wag, miskien moet ek ophou wonder en weer probeer slaap. Môre gaan ’n lang dag wees.
Die volgende oggend is ek saam met die hoenders uit die vere. Laat slaap is vir mense wat nie ’n lewe het nie.
Hoe vroeër ek aan die gang kom, hoe meer kry ek gewoonlik uitgerig.
Ná die episode met my onsigbare besoeker het ek bly rondrol.
Klaas Vakie het geweier om weer te kom inloer.
Die tyd breek aan om in die pad te val. Dié keer is daar werklik niemand by ontvangs nie.
Ek los kamer 234 se sleutel net daar op die toonbank en loop na buite. Ek hoor en sien niemand. Is almal in dié hotel dan laatslapers?
My eerste stop is by die polisiestasie. Ek parkeer my Corolla onder ’n koelteboom en klim tydsaam uit. Dis ’n lieflike sonskyndag.
Daar is twee konstabels aan diens en my oë val sommer dadelik op hul naamplaatjies.
Die lang, skraal vroutjie se van is Heyns en haar manlike kollega met die breë skouers is Jantjies.
“Wat kan ons vir jou doen?” vra Heyns en glimlag pragtig vir my.
Ek stel myself voor en verduidelik kortliks die doel van my besoek.
Jantjies staan ook nader en die drie van ons raak heerlik aan die gesels.
“Sê my, is daai vroutjie in jul hotel altyd so nors?” vra ek ná ’n ruk. “Ek het haar amper gisteraand ’n blitskursus in kliëntediens gegee.”
’n Ongemaklike stilte volg. Het ek iets verkeerd gesê?
Jantjies vra verskoning en maak hom uit die voete. Heyns kyk my senuweeagtig aan.
“Jy…’n mens praat nie so van die dooies nie,” sak sy af. “Betoon ‘n bietjie respek.”
Ek gluur haar vraend aan.
“Die tannie na wie jy verwys, sy was een van ‘n aantal mense wat in die groot brand omgekom het. Jy is nie die eerste persoon wat oor haar kom navraag doen nie. Dis asof sy sukkel om rus vir haar siel te kry.”
“Brand?” vra ek verbaas. “Watter brand?”
“Ons . . . ons dorp se hotel het dertien jaar gelede tot op die grond afgebrand. Niemand weet presies hoe of wat gebeur het nie.”
Lam van skok gluur ek haar aan.
“Dit kan nie wees nie,” prewel ek. “Dit kan nie wees nie…”
“Die brand het vermoedelik in kamer 234 ontstaan,” vertel Heyns verder. “Ek ken nie al die antwoorde nie, maar hier gebeur vreemde en onheilige dinge op ons dorpie wat op die oog af so rustig lyk.”
Sy haal diep asem.
“Miskien het dit nie so gevoel nie, maar ek is seker jy het laasnag op iemand se graf geslaap. Op die stuk grond waar die hotel voorheen was, is deesdae ’n begraafplaas. Kyk self as jy weer later daar verby ry.”
Meteens is ek haastig om hier weg te kom. Ek gee nie om wat Grobbies gaan sê nie. Hy kan een van die junior verslaggewers stuur om oor die dorpie te berig. Ek moet so gou as moontlik in die pad val. Voor ek ook soos mis voor die oggendson verdwyn.