Om ‘n fantasie te skep

Fantasieë móét onderskei word van verhale (of skeppings) wat bloot elemente uit die genre bevat.  Die blote feit dat ‘n heks in ‘n storie voorkom, maak dit nie noodwendig ‘n fantasieverhaal nie.

Fantasie verskil van ander literêre werke vanweë die aard van die wêreld-in-die-werk wat geskep word.  Hierdie wêreld is ‘n fantasiewêreld wat weinig verband hou met enige vorm van die historiese wêreld wat aan die mens bekend is.  Maar hierdie fantasiewêreld het sy eie reëls, sy eie logika, sy eie konsekwnesies.  Hierdie wêrelde is tegelyk logies – in homself – en onlogies – met betrekking tot die historiese werklikheid.  Só ‘n wêreld is ook tegelyk moontlik en onmoontlik, aanvaarbaar én onaanvaarbaar.  Hierdie wêrelde word bevolk met wesens wat in die historiese werklikheid glad nie bestaan nie:  wat ‘n eie lewe en persoonlikheid moet kry sodat hulle geloofwaardige karakters, indiwidue kan word.

Die unieke Alice se avonture in Wonderland deur Lewis Caroll illustreer hierdie wêreld-in-die-werk baie duidelik.  Die wêreld wat Alice teëkom nadat sy in die konyngat gekruip het, is totaal ánders as die historiese werklikheid, maar dit het ‘n vaste orde, dit vorm ‘n geslote eenheid.  Die wesens daar het ‘n eie persoonlikheid en lewe.  Die konyn of die muis, byvoorbeeld, is nie maar net diere wat in die fantasiewêreld kan praat nie.  Hulle word karakters wat net dáár, in daardie wêreld kan bestaan.

‘n Fantasiewêreld wat slaag, word met subtiliteit opgebou.  Afgesien van die “feite” wat oor dié wêreld bekend word, moet mens die bestaan van hierdie wêreld kan “voel”.  Daarom slaag ‘n fantasie of hy slaag nie.  Daar is geen middeweg nie.  Die fantasiewêreld kan nie “half aanvaarbaar” wees nie.  Dit is òf aanvaarbaar, òf dit is nie.  Om ‘n oorvereenvoudigde en onwetenskaplike voorbeeld ter verduideliking te gebruik:  ‘n seebel is uiters fyn van tekstuur waarin kleure baie delikaat weerspieël word.  Maar ‘n enkele prik kan dit vernietig.  So is dit ook met die fantasie – ‘n inkonsekwentheid, ‘n lomp woord, ‘n foutiewe perspektief, kan die fantasiewêreld wat in feite én gevoel moet bestaan, vernietig.

-Lydia Snyman