Gewillige Opheffing van Ongeloof

Waarom hou sekere mense eenvoudig nie van wetenskapfiksie nie?

“Smaak verskil”, is die antwoord wat baie sal gee.  Maar kan dit só eenvoudig wees?

Wel, die een aspek is sekerlik die mate van verbeeldingrykheid van verskillende mense – almal is immers nie ewe welbedeeld in hierdie kategorie nie.

Maar daar is ‘n ander, selfs meer fundamentele rede.  En dit is dat baie mense eenvoudig te kenne sal gee dat hierdie tipe ding eenvoudig vir hulle te vergesog is.  Dit wil sê dat hierdie wetenskapfiksie-nonsens eenvoudig te dik vir ‘n daalder is – hoe kan mens, mensself met sulke twak besig hou…?

En daar is taamlik baie wat dit net té onwerklik ag om tyd daarop te mors.

Maar die ander – ons wat dol is oor die fantastiese wêrelde en moontlikhede, kry dit reg om dít wat nie in ons eie werklik inpas nie, te aanvaar en toe te laat dat ons daardie kunsmatige wêreld glo en ons selfs daarin kan inleef– om só die storie te geniet.

Hiérdie eienskap staan bekend as ‘n gewillige opheffing van ongeloof – jy moet die wil hê om dinge wat nie geglo kan word nie, desnieteenstaande te glo asof dit volkome geloofwaardig is.  En slegs só, kan die inhoud van die verhaal geniet word.

Hierdie idee van ‘n gewillige opheffing van ongeloof is voorgestel deur die Engelse filosoof en digter Samuel Taylor Coleridge in 1817 – wat opgemerk het dat baie wat opvoerings en opera’s kyk sal huil in tragiese dele alhoewel die ganse aanbieding op die verhoog glad nie oortuigend is nie en dat basies niemand kan dink dat dit eg is nie.  Dit kan slegs geniet word indien daardie elemente wat die aanbieding ongeloofwaardig maak opgehef word sodat daar verby dit gekyk kan word om die verhaal te geniet.

‘n Verdere, en selfs meer drastiese stap, is die gewillige opheffing van geloof.  In dié geval word die eie waardes, sieninge en oortuigings opsy geskuif sodat ‘n kyker (byvoorbeeld) homself kan inleef in aspekte wat strydig is met eie oortuigings.  Dit kom dus daarop neer dat ‘n heteroseksuele persoon na ‘n fliek oor homoseksuele kan kyk, sy eie afkeer en weersin opsy skuif, en homself inleef in die emosies en omstandighede soos aangebied in die fliek – en ja, selfs te kan huil oor dinge wat moontlik andersins weersin sou wek.

Sonder ‘n gewillige opheffing van ongeloof kan mens kwalik baie van wetenskapfiksie hou.  ‘n Gewillige opheffing van geloof verg egter nog heelwat meer van die individu…