Kleinspan

Kinders het belangstellings sodra opleiding plaasvind
– Arthur C. Clarke

Niemand sal seker ontken dat ‘n liefde vir lees verkieslik van kleins af aangemoedig moet word nie. En ‘n liefde, kennis en aanvoeling vir ‘n taal word sterk gestimuleer uit die lees van boeke in die gegewe taal.

Gelukkig is die skrywers van Afrikaanse wetenskapfiksie nogal baie produktief gewees die afgelope klompie jare en ons wil graag die boeke vir die kleinspan appart lys van die res – so hierdie afdeling sal spesifiek daaraan gewy word.

Dis interessant dat kinderboeke grootliks handel oor tema’s in die fantastika. Sprokies, superhelde, fabels, fantasieë – dis ‘n baie groot deel van die vermaak van kinders. Om dié rede gaan ons nie ‘n poging aanwend om dít alles te lys nie en gaan ons eerder op die wetenskapfiksie fokus wat minder algemeen is – al is die onderskeid nie altyd baie duidelik in die geval van kinderboeke nie. Die skryf van wetenskapfiksie vir die kleinspan het eers redelik onlangs begin posvat.  Daar is egter enkele uitsonderings.  ‘n Versommende fonds is gemaak met die opspoor van ‘n leesboekie vir die laerskool wat in 1938 verskyn het met die naam Kasper se besoek aan die Maan? – geskryf deur Elizabeth Saunders.  Dit is só ongewoon dat ons besluit het om die ganse boekie af te tas en hier beskikbaar te maak – besoek gerus ons bladsy daaroor en lees die storietjie – dit neem net ‘n paar minute…

Die Anna Atoom-reeks deur Elizabeth Wasserman is ‘n onlangse reeks wat op kinders gemik en wat wetenskaplike konsepte op ‘n komiese manier vir kinders toeganklik maak.

Om die waarheid te sê, dis een van die min voorbeelde wat die sprong van Afrikaans na Engels gemaak het.

En Elizabeth Wasserman het ook nie gestop by Anna nie. In ‘n ander reeks, Die Dingesfabriek is daar ook reeds vier stories vir die jongspan beskikbaar.

En dan het Elizabeth ook ‘n ander reeks geskep oor Speurhond Willem, waarvan een van die boekies vir Willem in die ruimte plaas – hierdie boekie het ook die sprong na Engels gemaak.

Vir ‘n selfs jonger leser (of luisteraar) was Jaco Jacobs uiters produktief met sy Professor Fungus-reeks wat nou al reeds uit tien boekies bestaan en wat kleiner kindertjies se verbeelding aangryp – maar selfs deur laerskoolkinders verslind word.

Jaco het egter ‘n hele aantal ander boekies ook geskryf wat nie deel is van die Fungus-reeks nie. ‘n Ander reeks, ‘n Kas vol Monsters, is ewe gewild by kinders.

En dan, sommer maar net, het hy nog ‘n klompie ander boekies ook geskryf.

Ook baie produktief was Theresa van Baalen met haar reeks oor Sanri Steyn se avonture.

 

Janie Oosthuysen het heelwat boeke vir die jeug geskryf, maar twee daarvan was vir jonger kinders en in die veld van WF.

Ook Leon de Villiers het vir ons kinders twee boekies bygedra.

Nick Falk het ook sy bydrae gemaak met sy reeks Dinos-Sourus-straat.

En vertaalde werke is natuurlik ook volop, soos Moemin deur Tove Jansson.

…of die uiters verbeeldingryke werke van Roald Dahl.

Regtig baie fabels, sprokies, spookstories en fantasieë bestaan ook vir kinders – gaan kyk gerus na die Afrikaanse rakke in die meeste boekwinkels in Suid-Afrika. Dit is lekker om te weet dat daar soveel mense is wat ‘n aktiewe bydrae maak tot die Afrikaanse fantastika vir kinders. Baie dankie aan elkeen van julle – en hou aan met die goeie werk.