Die Mens in WF

Dit bly nou maar een van die hoof redes vir kritiek teen die meeste vorme van wetenskapfiksie, naamlik dat die meeste intelligente lewensvorme van ander wêrelde soos mense lyk – of skynbaar mense is. Of dat die wesens baie mensagtig is – sogenaamde humanoïde. Dit wil sê, lewensvorme wat ‘n kop met twee oë, een mond en een neus het, en met twee ore. Dat die wese verder twee arms en twee bene het en op die agterpote (die bene) loop. Verder dat die wesens met klank kommunikeer en selfs die nodigheid sien om klere te dra. Ensovoorts…

Die ooglopende rede hiervoor is dat dit by verre die maklikste is om mense as akteurs te gebruik en bloot te vermom as buiteaardse wesens, in teenstelling met ingewikkelde tegnieke om byvoorbeeld iets te skep met ‘n ander hoeveelheid bene as dié van ‘n mens. Tweedens kan dit sekerlik geargumenteer word dat die film of skepping juis vir ‘n menslike gehoor bedoel is, en dat mense gevolglik die maklikste aanklank vind by wesens wat darem so op ‘n manier met hulself ooreenkomste deel – die skepping is dus meer toeganklik vir die gehoor. En beide van hierdie twee redes het natuurlik hul eie meriete.

Maar, natuurlik het selfs die vervaardigers van wetenskapfiksie begin kriewelrig raak oor hierdie saak en mettertyd hul eie antwoorde probeer gee vir hierdie verskynsel.

In episode 146, in die 6de seisoen van Star Trek – The Next Generation, getiteld The Chase, word daar ‘n antwoord gegee vir die talle humanoïde wat hulle in die reeks aantref. Na ‘n uitgerekte soektog en mededinging tussen vier van die rasse van die reeks, kom hulle op ‘n holografiese boodskap af uit die verre verlede.

Dit blyk uit die boodskap dat die humanoïde van die Melkwegstelsel ‘n gemeenskaplike voorsaat deel – ‘n oerras wat hul DNS op baie van die planete “gesaai” het, wat gevolglik gelei het tot die ontstaan van talle soortgelyke, dog verskillende spesies van humanoïde. Hierdie feit was natuurlik nie aangename nuus vir baie van die spesies (of rasse) nie, omdat baie van hulle al vir eeue lank vyande van mekaar was en mekaar haat.

Hierdie selfde idee word aangetref in Jupiter Ascending, waar ‘n magtige moondheid verskeie wêrelde “besaai” het en dat mense gevolglik ontwikkel het. In dié wêreld is die mense self dan die oes wat nou aan hierdie moondheid behoort en deur hulle verbruik kan word. ‘n Mens het daarom geen regte nie en is bloot ‘n produk wat gebruik of verhandel kan word.

In Battlestar Galactica (die 2de reeks, nie die oorspronklike nie) kry ons met iets soortgelyks te doen – al is dit nie presies dieselfde nie. In hierdie storie se heelal is die mensdom wat op Aarde woon die produk van ‘n “mens” wat afkomstig is van planeet Kobol en ‘n organiese Cylon – hulle het voortgeplant en op die Aarde gevestig om die begin te wees van die mensdom wat daaruit verder sou ontwikkel.

Die verhale, Jupiter AscendingBattlestar Galactica en Star Trek se stories is interessant dog vergesog, maar kan wel so op ‘n manier “geglo” word want almal speel in dieselfde sterrestelsel af – die Melkwegstelsel.

Die meer interessante vraag is waar die mense in Star Wars vandaan kom? Soos ons telkens herinner word, speel dit af in ‘n sterrestelsel baie, baie ver weg. So, waarom is daar mense in daardie verafgeleë sterrestelsel teenwoordig?

Daar bestaan baie min materiaal oor hierdie saak. Gelukkig het Robert J Sawyer onlangs sy werk vrygestel oor ‘n skepping wat in beginsel deur George Lucas goedgekeur was, om as ‘n trilogie by die Uitgebreide Heelal van Star Wars gevoeg te word. Die projek was egter nooit voltooi nie en met die oorkoop deur Disney sal dit nie verder ontwikkel word nie.

Die werk se naam was Alien Exodus, en in die verhaal word vertel van ‘n planeet Aarde in die laat 25ste eeu waar die mensdom oorheers word deur rekenaars en robotte wat hulle self gebou het. Met hul besef dat hulle nooit die masjiene sal kan wen nie, ontsnap daar 5,000 van hulle in ‘n kolonieskip na Alpha Centauri, om daar te gaan vestig. Onderweg daarheen beland hulle egter in ‘n kosmiese maalgat wat hulle wegvoer na ‘n sterrestelsel baie, baie ver weg en lank terug in tyd waar hulle op planeet Corellia gestrand raak – een van die planete in die sterrestelsel waar Star Wars afspeel…

So, verstommend genoeg is die mense in Star Wars dus van die Aarde afkomstig!

Ons, as mense, dra onsself verder en verder uit in die heelal, soos gesien kan word op hierdie voorstelling wat op Voyager 2 aangebring was,

…maar ons dra onsself ook altyd verder uit in die fiktiewe realiteite en wêrelde wat ons voortdurend skep in die wonderwêreld van die verbeelding.