Tronke

Een van die omgewings wat maar al te dikwels in fantastika voorkom, is ‘n tronk oftewel ‘n gevangenis.  Dit wil sê plekke waar misdadigers, of vyande van die staat aangehou word om hulle uit die samelewing te onttrek en dus af te sonder van die res van die samelewing.  En hoewel hierdie konsep reeds millennia met die mensdom saam kom, is dit verstommend hoe algemeen dit as ‘n toekomstema in wetenskapfiksie gebruik word.

Dit is feitlik ondenkbaar om ‘n utopie te kyk (of lees) waarin daar nie op ‘n stadium juis met hierdie aspek te doen gekry word nie.  Tronke is Suid-Afrika dateer terug na die vroegste tye toe dit saam met ‘n regstelsel van soorte deur kolonialiste in die land gestig is.  In die kasteel in Kaapstad kan daar vandag nog besoek afgelê word aan die oudste voorbeeld hiervan.

‘n Meer verbeeldingryke idee vir ‘n gevangenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is Robbeneiland in Tafelbaai sowat 12km vanaf die vasteland.  Dit is in die koue Benguela-seestroom wat dit byna ondenkbaar maak om te dink om daardeur te swem om te ontsnap.

Hierdie idee om ‘n tronk genoegsaam af te sonder vanaf die res van die samelewing en om ontsnapping te bemoeilik kom dikwels voor in WF. In die fliek Lockout (2012) kry ons te doen met ‘n tronk in die vorm van ‘n ruimtestasie wat om die aarde wentel. Die ruimtestasie is swaar gewapen om enige ongemagtigde tuig wat dit benader af te skiet.

Hierdie idee van ‘n totaal afgesonderde tronk word selfs nog verder gevoer in die fliek Riddick (2013), waar ‘n planeet uit die hel (letterlik), genaamd Crematoria, gebruik word as ‘n tronk – en slegs vir ‘n tronk. Die planeet is uiters naby aan die sentrale ster in die sonnestelsel en het dus ongelooflike hoë temperature wat dit basies onmoontlik maak om op die oppervlak van die planeet te oorleef. Vir dié rede is die tronk ‘n totaal ondergrondse fasiliteit wat van die gevaarlikste misdadigers huisves. Die tronk kan egter atmosfeer van buite inneem wanneer dit aan die donker kant van die planeet is.

‘n Totaal ander idee is om ‘n gebied binne ‘n beskawing af te sper en as ‘n tronk te gebruik.  In die 1981 fliek, Escape from New York word die hele stad basies ‘n tronk waar geen vorm van regeringsbeheer meer plaasvind nie – behalwe om seker te maak dat niemand daaruit ontsnap nie. Die stad is gevolglik ‘n hel waar bendes wreedaardig met mekaar meeding om beheer oor die stad te hê.

Hierdie idee word ook in die Afrikaanse literatuur verken met die 2011 e-boek van Hugo lê Roux, Helkruin, waar die ganse Hillbrow ‘n reuse tronk in die middel van Johannesburg vorm.

Selfs in fantasieverhale kom tronke geredelik voor. Dink maar byvoorbeeld aan Azkaban – die tronk wat in Harry Potter figureer. Dit is in die Noordsee en word gebruik vir die magiese gevangenis van Brittanje aan te hou. Deur towery is dit onsigbaar vir dié wat nie kan toor nie. Dit word bewaak deur dementours, gevaarlike towerwesens, om te verhoed dat iemand ontsnap.

En dan is daar die stoompunk weergawe van ‘n tronk wat ons in Mortal Engines (2018) teëkom, naamlik Sharkmoor.  Hierdie tronk wat op bene in die see rondbeweeg maak die uiters moeilik vir gevangenes om te ontsnap of vir iemand om hulle te probeer red…