Mitologie en Legende

Die wêreld van die mite en die legende is ‘n noodwendige insluiting in die fantastika. As daar al ooit verhale was wat die verbeelding aangryp, dan is dit nou stories uit die mitologie. En die idee van gode wat magtig is – dog onvolmaak met emosies soos wellus, haat, wraak, ens. is vrugbare grond vir ongelooflike verhale wat soos vuurwerke in die verbeelding ontplof.

En in die Engelse vorme van wetenskapfiksie en strokiesverhale kom hierdie karakters al te dikwels voor. Dink nou maar aan die Noorse god Donnar (Thor in Engels) wat sy eie strokiesprenttitel het en as deel van die Avengers-rolprente se span helde, telkens die wêreld van ‘n gewisse ondergang red.  Dan is daar ook talle mitologiese wesens (nie gode nie) wat self ook die verbeelding aangryp en wat telkens in fiksie, soos flieks, voorkom.  Voorbeelde hiervan is ‘n griffioen of Medusa.

In Afrikaans kom dit egter nie juis in meer kontemporêre inkarnasies voor nie, maar bestaan daar darem verskeie werke waarin die oorspronklike stories vertaal is – wat in sigself baie aangrypend en vermaaklik is. Hier volg boeke wat hieroor handel.

‘n Boek wat verskeie van die klassieke stories uit die antieke mitologie vertel is Verhale uit die Mitologie deur Rodger Lancelyn Green.

Odusseus – die groot swerwer van Cor Bruijn is deur Leon Rousseau van Fritz Deelman faam, na Afrikaans vertaal.

Legendes is natuurlik ook so oud soos die mensdom self, en die draak is ‘n taamlik algemente legendariese wese wat in talle sprokies voorkom.

Effens nader aan Suid-Afrika, beide in tyd en afstand, Minnie Martin se Legendes uit Basoetoland wat reeds in 1942 uitgegee is.

Vir ‘n besonder interessante boek oor Atlantis en die herkoms van Afrikaans, lees gerus Die Oera Linda boek wat deur Adriaan Snyman vertaal is.

Aangehaal vanaf die Goodreads-webwerf: Daar bestaan al sedert 2193 v.C. ‘n oeroue dokument (Die Oera Linda Boek) wat handel oor ‘n 4 000 jaar oue beskawing. Hierdie handgeskrewe teks bevat ook talle verstaanbare Afrikaanse woorde en uitdrukkings! En hoewel dit reeds in 1872 in Nederland gepubliseer is, word die inhoud daarvan nog doelbewus doodgeswyg. Tydens ‘n Volkekundige Kongres in Parys, Frankryk, het ‘n taalkenner uit Istanboel die kongreslede laat regop sit toe hy aan die hand van Die Oera Linda Boek ‘bewys’ het dat Afrikaans se wortels direk na hierdie ou beskawing teruggevoer kan word.

Maar hoekom geniet hierdie uitsonderlike teks dan nie die aandag wat dit verdien nie? Is dit oor die kontroversiële godsdienstige uitsprake daarin? Of is dit omdat die inhoud ons huidige politici en kerklui tot in sy fondamente sal skud?

Lees nou Die Oera Linda in Afrikaans en maak kennis met die magtige Friese Ryk wat die destydse beskaafde wêreld oorheers het; maar maak ook kennis met hul taal wat ‘n duidelike voorloper van Afrikaans is. In Die Oera Linda is daar ‘n verstommende profesie wat oor dertige eeue strek, en eers in ons dag finaal gaan afloop.

‘n Moderne verhaal deur ‘n Europese skryfster en wat na vertaling nou ook in Afrikaanse beskikbaar is (hoewel daar onsekerheid bestaan oor die gehalte van die vertaalwerk) is die boek van Anna Erishkigal in haar werk Swaard van die Gode.

Aangehaal vanaf die Goodreads-webwerf: Van die begin van tyd, is twee antieke teëstanders in ʼn stryd vir beheer van die aarde. Een man het opgestaan om te staan by die mensdom. ‘n Soldaat wie se naam ons steeds onthou vandag…

Engelagtige magte Kolonel Mikhail Mannuki’ili word wakker, noodlottig gewond, in sy skip wat neergestort het. Die vrou wat sy lewe red het vermoëns wat bekend lyk, maar met geen geheue van sy verlede, kan hy nie onthou hoekom nie!

Ninsianna se mense het profesieë van ‘n gevlekte Kampioen, ‘n swaard van die gode wat haar mense teen ‘n bose een sal verdedig. Mikhail dring aan hy is geen halfgod, maar sy geheimsinnige vermoë om dood te maak sê anders.

Intussen, in die hemele, vluister boosheid vir ‘n stuurse Prins. ‘n Sterwende spesie poog om uitwissing te verhoed. En twee keisers, gevestig in hul antieke ideologieë, kan nie die groter bedreiging in hierdie wetenskapfiksie-fantasie oorvertelling van mensdom se mees epiese verhaal oor die stryd tussen goed en kwaad, die botsing van keiserryk en ideologieë, sien nie en die grootste superheld op die aarde, die Aartsengel Mikhail.

Maar daar is natuurlik ook van die bekende legendes in Afrikaans beskikbaar. Die bekende verhaal van Rip van Winkel word uitstekend vertel deur Alba Bouwer en maak die storie van Washington Irving toeganklik vir kinders.