Wetenskapfiksie vir Tieners

  1. AS ONS DIE MAAN MIS RY – Amelia Kellerman (1993)
  2. ATLAN PRINS VAN ATLANTIS – Jan Combrink (1980)
  3. ATLANTIS – Helena Hugo (1979)
  4. AVONTUUR OP MARS – Empie Maritz (1980)
  5. BESTEMMING MARS – Schoonraad (onbekend)
  6. BESTEMMING XENOS – Helena Hugo (1981)
  7. DIE GEDOENTE OP PLANEET BORIS – John Coetzee (1996)
  8. DIE HART VAN ZEEBAK – Martie Preller (2004)
  9. DIE OORLEWENDES – Johan Bredell (1984)
  10. DIE REKENAARKOMPLOT – Johan Kock (1983)
  11. DIE VYF-MILLIMETER-AVONTUUR – De Waal Venter (1984)
  12. DIE WIT PLANEET – Carol Main (1984)
  13. GALAPAGOS – Helena Hugo (1980)
  14. GEVANGE OP DIE METAALPLANEET – Eben de Jager (1969)
  15. IN DIE TYD VAN ESOB – Martie Preller (1996)
  16. LANG HENNING EN DIE TOEKOMSMENSE – Mary Sadler (2009)
  17. MEGAN SE STER – Allan Baillie (1989)
  18. MIEG SE KORT EN LANG MIDDAG – De Waal Venter (1992)
  19. MONSTERDUIWE – Lien Roux-de Jager (2001)
  20. NAG VAN DIE KOMEET – Allen Sharp (1995)
  21. NOVA: DIE BEGIN – Fanie Viljoen (2010)
  22. NOVA: VUURDOOP – Fanie Viljoen (2011)
  23. NOVA: BLOEDBROERS – Fanie Viljoen (2012)
  24. NOVA: STERRELOPER – Fanie Viljoen (2013)
  25. NOVA: EINDSPEL – Fanie Viljoen (2014)
  26. ONHEIL IN DIE RUIMTE – Cobus van Wyk (1983)
  27. ONTMOETING OP ‘N ROOI PLANEET – Allen Sharp (1991)
  28. OUMA HESTER EN DIE INTERGALACTIC V-919 SUPERCOMET  – Janie Oosthuysen (2004)
  29. OPERASIE BOM: ‘N STERVERKENNER-AVONTUUR – Andries de Wit (1989)
  30. PLANEET MALUSTRA – Juan Sadie (1981)
  31. PROJEK X: OP EIE RISIKO – Martin Labuschagne (1998)
  32. RICKY ERASMUS EN DIE INTER-DIMENSIONELE ROLSTOEL – J.V. van Wyk (2015)
  33. RIKUS EN DIE DING MET DIE DUKSE – Frans Coetzee (1986)
  34. RUIMTESKIP CELESTE – Johann Bredell (1982)
  35. SAAD VAN ONHEIL – G.J. Combrink (onbekend)
  36. SENDING KOSMOS – I.D. Lamprecht (1980)
  37. SENDING NA PLANEET 55-7: DIE ARTAARSE KOFFIEKRISIS – Yvonne Botha (1996)
  38. SEUNS VAN DIE WOLKEAugust van Oordt (1931)
  39. SIAS SE RUIMTETUIG (Sias se Spoetnik) – Mikro (1982)
  40. STAD AAN DIE EINDE VAN DIE WÊRELD – François Bloemhof (2007)
  41. SWAARTEKRAG EEN KOMMA EEN – De Waal Venter (1995)
  42. TERRA PIERING 1 – Juan Sadie (1979)
  43. UIT ‘N ANDER WÊRELD – P.C. Haarhoff (1987)
  44. VREES IN DIE VIERDE DIMENSIE – Allen Sharp (1994)
  45. VYFFFF – De Waal Venter (1988)
  46. WINDVLUG – Empie Maritz (1995)
  47. WINTER VAN DIE NOVA – Pets Marais (1984)
  48. ‘N REIS NA DIE OERTYD – J.C. Froelich (1963)
  49. EMMA EN DIE GEHEIME GANG – Marianna Brandt (2012)

AS ONS DIE MAAN MIS RY – Amelia Kellerman

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 1993.

“Man, ek skiet jou nog Amerika toe in jou eie vuurpyl!” dreig tant Flaterja die wetenskaplike wat haar by haar bakfabriek help, sonder dat sy enigsins glo in hierdie uitvindsel van oom Eksil. En haar man is oortuig dat die vuurpyl nie eers oor die Magaliesberg sal kom nie. Maar daar wag ‘n groot verrassing vir hulle en vir Bethuel en Paul, wat skottelgoed was in die bakkery om sakgeld te verdien. Tydens ‘n onbeplande reis in oom Eksil se vuurpyl ontdek Paul en Bethuel ‘n paar dinge wat hulle met nuwe oë laat kyk na die wetenskap en die beskerming van die aarde.

ATLAN PRINS VAN ATLANTIS – Jan Combrink

TAFELBERG UITGEWERS, 1979.

Toe die sestienjarige Albert Marais hoor dat hy die vakansie by sy argeoloog-pa in Egipte kan deurbring, kan hy sy geluk skaars glo. Dink net watter foto’s kan hy neem terwyl wêreldberoemde argeoloë die Sfinks die eerste keer heeltemal uit die sand grawe! Maar sy foto-nemery bring hom byna in groot moeilikheid toe hy die eeueoue graf suil van Tothmes met sy kamera omstamp. Sy pa is briesend, maar sy woede verander in opwinding toe Albert hom die vlak opening agter in die grafsuil wys. Aan die agterkant van die vierkantige klip wat daarin pas, is ‘n goue plaatjie met die woorde, in hiërogliewe daarin uitgekap: DIE SEËL VAN ATLAN, PRINS VAN ATLANTIS. Daarna gebeur dinge vinnig; Albert weet nie mooi of hy kom of gaan nie. Prof. Marais en sy vriend, die beroemde Egiptoloog dr. Abu Sharif, ontdek onder die goue plaatjie ‘n plat goue dosie met ‘n fyn deurskynende glasplaatjie daarin. Dit blyk ‘n laserskyfie of holograaf te wees wat die bouplan van die Sfinks wys – met ‘n deur voor die kolos se bors waarvan niemand geweet het nie. Ná etlike ure se swoeg in die warm woestynson, slaag die Egiptiese weermag se deskundiges daarin om die deur oop te breek. Terwyl dr. Sharif en prof. Marais in die maag van die sfinks rondkruip, verken Albert op sy eie. Groot is sy verbasing toe hy op ‘n goue troon in ‘n sy-kamertjie afkom. Moeg sak hy daarop neer. ‘n Sagte suising en ‘n klikgeluid volg. Só begin die vreemdste avontuur denkbaar…

ATLANTIS – Helena Hugo

PERSKOR UITGEWERS, 1979.

Die Du Toits gaan elke Juliemaand Suidkus toe. Die kéér is dit anders as gewoonlik, want die jong klomp vertrek ‘n week vroeër. Alleen. Frans. Johan. Flip en Ilse neem die kans waar om hul duikapparaat in te pak sodat hulle die diepsee in vrede kan verken. Wat hulle op Klipbaai ervaar, oortref hul stoutste verwagtings. Wie is die vreemde paddamanne en waarom vlug hulle die water in? Wat soek ‘n moderne kontrolekamer in die wrak van die Katriena? En waarheen het die vissersbote, die Sunflower en die Seagull verdwyn? Kan dit waar wees dat ‘n reuse inkvis hulle ingetrek het? Daar is iets vreemds in die see by Klipbaai.

AVONTUUR OP MARS – Empie Maritz

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1980.

HOOFSTUK EEN “Taraboemdery, my vaalhaarnooientjie…” sing Gerrit Gouws onderwyl hy met die tuinpaadjie opstap huis toe. Sy voetbalklere is vol stof en vuil kolle, soos hy op die rugbyveld geval het. Maar die drie wat hy gedruk het, is genoeg vergoeding daarvoor. Sy ma sal natuurlik weer raas as sy die skeur in sy broek sien, maar daaraan kan hy nou niks doen nie; dit is die materiaal wat so sleg is! Hy wens hulle wil sterker materiaal weef, wat spesiaal vir voetbalklere gebruik kan word. Verlede week was daar ook ‘n skeur in sy broek en tóé was sy ma al ontevrede. Ag wat, daar sal ook maar gedurig iets wees waaroor vroumense wil raas. As dit nie sy ma is nie, dan is dit Elsa. Dit is dié dat hy en sy pa verplig is om saam te staan, anders regeer die vroumense die huis. “Teraboem…” …

BESTEMMING MARS – Schoonraad

J.P. VAN DER WALT EN SEUN UITGEWERS, ONBEKEND.

Hoofstuk 1 “Kan en nie maar saamgaan nie, Vader?” Casper kyk sy vader smekend aan. “Jy weet tog dis absoluut buite die kwessie, Casper. Gert Viviers en Hendrik Coetzer gaan omdat hulle my van die begin af moet help, anders sou ek verkies het om alleen te gaan…” Doktor Albert Hibbert kyk sy seun aandagtig aan. ‘n Gevoel van ongewone medelye wel skielik in sy vader-hart op. Hy het so ‘n besonderse teer plekkie vir Casper, nie net omdat Casper sy enigste seun is en so moederloos moes grootword nie, maar ook omdat die seun si buitengewoon tingerig is. “Hoe oud is jy nou weer, Casper?” vra doktor Hibbert terwyl hy na sy seun se maer skouertjies en skraal armpies kyk.

BESTEMMING XENOS – Helena Hugo

PERSKOR UITGEWERS, 1980.

Annelida van Atlantis was die ongelukkigste meisie op aarde – tot sy Doran van die planeet Xenos ontmoet. Om saam met hom en sy robot, Alexander-7 die ruimte in te vaar, sou wonderlik wees. Maar die ruimte is onbekend, onmeetlik groot en vol verrassings – alte dikwels onaangenaam en angswekkend. Gou bevind hulle hulle midde in ‘n oorlog teen die ruimterowers. Sy, Doran en die robotte word gevange geneem. Hulle beland op die planeet van die Bondels – miermense wat geen genade ken nie – in ‘n ondergrondse stad omring deur ‘n dorre woestyn. Sal hulle ooit en dit sonder ‘n ruimteskip by Xenos uitkom?

DIE GEDOENTE OP PLANEET BORIS – John Coetzee

TAFELBERG UITGEWERS, 1996.

Ek sit nog so en dink oor Iwan en sy oom Boris se ruimteskip toe Iwan in die deuropening verskyn. “Aa, ek het gedink ek sal julle hier kry!” sê hy opgewonde. “Ek het nuus vir julle ouens: die ruimte is vol wurmtonnels!” Dis nou tipies ou Iwan. Met sy alewige ruimtepraatjies en swaar Russiese aksent bly hy maar koddig. Ons bars tegelyk uit van die lag. “Wurmtonnels in die ruimte? Ag nee, Iwan, wie moet dit nou glo?” terg ek. Hy kyk my aan asof en die grootste stommerik is. “Wel, darem nou nie tonnels soos wat wurms deur appels en pere vreet nie, Nols! Ek praat van ultra-lang bondels energie wat oral deur die heelal uitstraal. As mens die ruimteskip op ‘n swart gat in die sentrum van die Melkweg sou rig, kan jy deur middel van ‘n wurmtonnel anderkant uit vaar na enige ander groot sterrestelsel in die ruimte. Dus: Wie van julle kom saam Andromeda toe?” “Andromeda?” sê Santie oorbluf. “Wees tog ernstig, man!” sê Jabulani. “Ek was nog nooit in my lewe ernstiger nie. Ek het eindelik al oom Boris se navigasie-programme in die ruimteskip se rekenaars ingevoer gekry – net so goed as wat hy dit sou kon doen. Hy het my mos nie al die jare verniet geleer nie!” Ek knipoog stilletjies vir die ander. “Wel, wanneer vertrek ons, Ivan?” “Môreoggend. Sorg dat julle stiptelik nege-uur by my plek is,” antwoord hy kortweg en stap haastig uit. Voor Nols en kie hulle nog kan bedink, is hulle saam met Iwan op pad na Andromeda. Maar dan begin dinge skeefloop, en hulle beleef avonture wat selfs hulle wildste drome oortref…

DIE HART VAN ZEEBAK – Martie Preller

TAFELBERG UITGEWERS, 2004.

Toe Ferdinant bykom, lê hy op die naat van sy rug. Hy kyk na die dowwe sterre en die volmaan wat rond en rooi bokant hom hang. Hy het in die lig ingeloop. Dis al wat hy kan onthou. Hy kom stram orent, draai sy kop heen en weer en roer sy skouers. Skielik ruk sy kop op. Dit was dan netnou sekelmaan. Hy soek die Suiderkruis. G’n teken daarvan nie. Wat op aarde…? Die volmaan verlig alles met ‘n skemerige dynserigheid. Hy loop tussen ruie bosse deur – g’n doringbome nie. Hy snuif die lug. Ruik vars. Daar’s ‘n veraf dreuning. Dit klink soos die see. Dit klink nes golwe wat op rotse slaan. Hy was tog in die middel van die Bosveld…? Hier kan nie see wees nie! Maar dit klink so, ruik so, voel ook so. Selfs die lug is klam op sy vel. Hy raak van sy stewels ontslae en begin te hardloop. Ferdinant, sê ‘n stukkie rasionaliteit in sy agterkop, “you are loosing it” [jy is besig om dit te verloor]. Maar hy ignoreer dit. Hy is hier. Waar hier ook al is. Hy is agttien jaar oud. En hier êrens is die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het.

DIE OORLEWENDES – Johan Bredell

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1984.

HOOFSTUK 1 ADAM “Jy weet, Adam,” merk Willem de Beer op, “ek het nog nooit iemand teëgekom wat so ‘n versameling onbruikbare kennis in sy kop ronddra soos jy nie! Waar op aarde kry jy dit alles vandaan?” Adam Fouché is vyftien jaar oud en groot van liggaamsbou vir sy ouderdom. Hy het donker krulhare en intelligente blou oë. As die enigste seun van gesiene ouers, het hy tot ‘n groot mate tussen volwassenes grootgeword, met die gevolg dat hy dikwels meer soos ‘n grootmens as ‘n standerd agt-leerling optree. Die gebrek aan lewenservaring het veroorsaak dat hy dikwels onverdraagsaam teenoor sy maats optree, ‘n eienskap wat hom al die onmin van meer as een van hulle op die hals gehaal het. …

DIE REKENAARKOMPLOT – Johan Kock

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1983.

HOOFSTUK 1 Nie een van die twee het hulle agtervolgers gewaar nie. Die drie mans in die blitsige swart sportmotor volg hulle al vyf dae lank elke dag van hulle huise af tot by die skool en weer terug. Teen hierdie tyd ken hulle elke beweging van die twee skoolkinders. Hulle weet presies hoe laat hulle die bus haal skool toe, waar hulle afklim, waarlangs hulle stap en hoe laat die skool uitkom. Die twee skoolkinders steek voor hulle huise vas. Hulle woon langs mekaar. Die bestuurder skakel die swart sportmotor oor na ‘n hoër rat en trap die petrolpedaal effens dieper in. Met ‘n grom versnel die motor en ry vinnig by die twee geselsende kinders verby. …

DIE VYF-MILLIMETER-AVONTUUR – De Waal Venter

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 1984.

Kong en sy vriend, Theo, kan hul nuuskierigheid oor die geheimsinnige navorsing in die laboratorium van dr. Breda, Kong se oom, nie bedwing nie. Dit geluk hulle om op die regte kode vir die elektroniese kombinasieslot in die deur van dr. Breda se laboratorium af te kom. Maar was as ‘n kwajongstreek begin, word dodelike erns wanneer ‘n spioen hulle betrap en die ongelooflike nuwe uitvinding gebruik om die seuns buite aksie te probeer stel. Hy misgis hom egter met Kong en Theo se dapperheid en vindingrykheid. Die vyf-millimeter-avontuur is ‘n boeiende wetenskapfiksieverhaal met ‘n interessante nuwe “perspektief”!

DIE WIT PLANEET – Carol Main

VERTAAL UIT ENGELS DEUR DAVID BISHOP EN UITGEGEE IN 1984 DEUR PERSKOR UITGEWERS.

“Die duiwel haal julle as ek julle ooit naby my werkplaas agter daardie duine sien. Julle bly daar weg. Verstaan?” Min het doktor Hansman geweet dat sy waarskuwing juis vir Gawie en Paul as aansporing sou dien om ondersoek in te stel. Die twee seuns se nuuskierigheid lei tot ‘n ongelooflike ontdekking: ‘n ruimteskip! En dit in die middel van die Kalahari. Het hul nuuskierigheid maar daar opgehou… Dit was egter vir Gawie nie genoeg om net die onderste kamer van die tuig te verken nie. Hy móés, ondanks sy vrees, ook vasstel wat in die beheerkamer aangaan. Die onaardse gerammel, wat eers soos donderweer en toe soos ‘n skuurgeluid van metaal op metaal klink — en Paul se pleidooi dat hulle, moet wegkom — kon Gawie nie beweeg om gouer te maak nie. Byna met rampspoedige gevolge.

GALAPAGOS – Helena Hugo

PERSKOR UITGEWERS, 1980.

Flip, Ilse en Annelida van Atlantis-faam beleef nog ‘n hoendervleis-avontuur. Hulle kuier op hul oom se Karooplaas en gou ontdek hulle dat die rustigheid en stilte van die veld net oëverblindery is. Jakkalsfontein word maande al deur ‘n plaag vreemde skilpaaie geteister. Die werkmense het almal dorp toe gevlug en dit gaan hotagter, want dit is droogte en die plaaswerk staan nie stil nie. Om die kroon te span, het hulle ook nog sonde met hul eienaardige ou buurman, oom Botes. Hy kla, maar gewoonlik begin die moeilikheid by hom. En dan kom kruip Alexander, die nuuskierige en ‘n mens kan maar sê, die voor op die wa klein robotjie ook in almal se harte. Wanneer Annelida boonop haar hart verloor op die besoeker van die vreemde planeet, raak sake vir die jongklomp byna te veel. Dit word dringend noodsaaklik om een van die skilpaaie te vang. So gebeur dit toe dat die jong klomp dit een donker nag op die buurgrond waag — met rampspoedige gevolge.

GEVANGE OP DIE METAALPLANEET – Eben de Jager

UNIVERSITEITSUITGEWERS, 1969.

Vir die driemanskap Len, Hendrik en Nico begin die skoolvakansie soos alle ander. Hulle droom reeds van salige niksdoen en so ‘n ietsie hengel, toe Nico plotseling agterkom dat alles nie pluis is naby hul kampeerplek nie. Die ander twee is eers bra skepties, maar kom spoedig tot ander insigte wanneer hulle tot hul groot verbasing op ‘n geheimsinnige ruimteskip afkom! Hiervandaan gaan dit doller as kop-af en beland die driemanskap ná ‘n duiselingwekkende tog deur die ruimte op die misterieuse Metaalplaneet waar hulle ‘n offer moet bring wat deur die inwoners aldaar as ‘n “eer” bestempel word, maar vir Len, Hendrik en Nico gewisse dood beteken…!

IN DIE TYD VAN ESOB – Martie Preller

TAFELBERG UITGEWERS, 1996.

DIE ROOISON GOOI ‘n vreemde gloed oor die amfiteater en ons twee mane sit vaal bokant die groot bruin pilare van Deog weerskante van die ingang. Die amfiteater is gepak met mense, uitgenooide gaste alleenlik. Die vorige jare se wenners sit in die voorste sitplekke. Hulle het hulle rooi mantels bo-oor hulle gewone grys tuniekpakke aan. Dit is die groot dag, die dag waarop die bestes van hierdie jaar se leergroep aangewys sal word. Die tromme begin dreun. ‘n Sagte rolgeluid wat groei en uitswel totdat die slae oorverdowend die lug vol maak en dan weer kwyn en stil word. Zufar se donker stem dreun oor die klankversterker. Dan volg die hees stem van Zandra. Hulle sê die openingswoorde, soos hulle dit elke jaar doen. Die enkel, skel noot van die trompet roep ons op die verhoog. Die amfiteater is vol oë. Hulle wag. Elke jaar is dit so. Elke jaar weet almal reeds wie aangewys gaan word, en elke jaar wag hulle om dit amptelik uit die monde van Zufar en Zandra te hoor. Ons neem ons plekke in. Die trompette skeur die lug met die lied van ons land. Dis ‘n lied sonder woorde. Zandra en Zufar kondig om die beurt ons name aan: Nina, Daniël, Matilda en Leonard. Die tromme rol weer en dan is alles verby. Oormôre begin die finale toets. Die een wat dit slaag, sal die rooi mantel ontvang. Daardie een sal die wenner wees. Ek sal sorg dat dit ek is…

LANG HENNING EN DIE TOEKOMSMENSE – Mary Sadler

GROENHEIDE BOEKE, 2009.

Toe Lang Henning weer sien, verskyn daar twee wesens in die pad, wesens soos hy nog nooit eers van gedroom het nie. Wie en wat is hulle en waar kom hulle vandaan? Al gou kom hy en Boet egter te staan voor die uitdaging om hulle weer weg te help – maar nie sonder om ‘n smakie te kry van die lewe in die toekoms nie.

Lang Henning en die Toekomsmense is die 6de boek in Die Karoo Avonture Reeks.

MEGAN SE STER – Allan Baillie

VERTAAL UIT ENGELS DEUR MADELEINE VAN BILJON EN UITGEGEE IN 1989 DEUR DAAN RETIEF UITGEWERS.

1 Megan Megan is soos ‘n tier op die aanval. Sy wys haar tande. Haar neusgate sper wyd toe sy die klein knoppies van die korfbal onder haar vingers voel. Hier kom ‘n ding. ‘Mêeeg!’ Klein Pam hardloop wyd om die aanstromende spelers na die skewe hoepel. Maar Hornsey kom tussenbeide, ‘n snuiwende olifant, haar hardloopskoene skreeuend op die teer. Megan gooi die bal hard onder Hornsey se massiewe arm deur, spring sywaarts en skiet vorentoe. Hornsey aarsel maar sy is te groot en te vinnig om van rigting te verander. Sy storm verby. Pam gryp die bal in die hardloop en Megan mik na die hoepel. Megan grom amper. …

MIEG SE KORT EN LANG MIDDAG – De Waal Venter

QUEILLERIE UITGEWERS, 1992.

Toe Mieg sien dat die interessante vrou van die supermark met haar swaar winkelsakke sukkel, bied hy impulsief aan om haar te help dra. En hoekom sal hy nie saam met haar tee drink nie? Dis nog lank voor sesuur, en hy het niks anders die aand te doen as geskiedenis-huiswerk en TV-kyk nie. Maar toe hy agterkom sy kosbare polshorlosie is ‘n paar minute agter, word sy kort kuiertjie by Eva op ‘n vreemde manier ‘n lange. En in die proses doen hy allerlei ontdekkings: soos dat tyd op ‘n manier rond is, soos sirkels wat aan mekaar raak, en dat mense partykeer in ‘n ander sirkel kan beland. Hy leer ook dat daar net een manier is om weer terug te kom in jou eie sirkel, en dit is om aan te hou soek en nooit terug te deins nie. Maar die belangrikste ding wat hy leer, is dat mens nooit werklik iemand verloor vir wie jy lief is nie.

MONSTERDUIWE – Lien Roux-de Jager

LAPA UITGEWERS, 2001.

‘n Gesuis laat hom opkyk. Dit fladder en fluit in die lug bokant die geboue. Voëls! Die son blink op die grys vlerke toe die swerm ‘n wye draai oor die fabrieke maak. Dis mooi! Len wil nie die voëls skrikmaak nie, maar steek onwillekeurig sy hand na hulle uit. Dis asof ‘n swerm ‘n oomblik huiwer, dan duik hulle op hom af. Hulle gesamentlike gewig is genoeg om hom teen die grond te slinger. Hulle krap en pik na sy kop. Hy probeer met sy hande keer, maar gil van die pyn toe hulle sy hande ook toetakel. Met ‘n gesukkel kom hy orent, klap wild na die sagte, warm lywe om hom, ruik die stowwerige, vetterige voëlreuk. So skielik as wat hulle gekom het, is hulle weg. Len soek benoud in die lug rond. Hoog bokant die geboue maak die swerm ‘n draai. Te laat besef hy hulle is op pad terug. Hy hardloop soos nog nooit tevore in sy lewe nie…

NAG VAN DIE KOMEET – Allen Sharp

VERTAAL UIT ENGELS DEUR ETTIE WILLIAMS EN UITGEGEE IN 1995 DEUR TAFELBERG UITGEWERS.

‘n Snuffelstorie is ‘n storie met ‘n verskil, want jy, die leser, kies self wat volgende moet gebeur. Jy is met vakansie op ‘n klein eilandjie aan die kus van Skotland toe Loebertjef se Komeet, wat slegs een maal elke duisend jaar van die aarde af sigbaar is, verskyn. Aangesien sy wentelbaan baie naby aan die aarde is, word ‘n Amerikaanse ruimteprogram geloods om roeigasse van die komeetstert te tap. Maar iets loop verkeerd en die ruimtetuig bots teen die komeet, sodat dit van koers gedryf word. ‘n Hele aantal vreemde en vreesaanjaende dinge begin gebeur en die vrees bestaan dat dit die einde van de aarde kan beteken. Boonop word die eiland waarop jy jou bevind, ingeneem deur reusagtige vleisetende seemonsters… Sien jý kans om die seemonsters aan te durf – en te oorleef?

NOVA: DIE BEGIN – Fanie Viljoen

LAPA UITGEWERS, 2010.

“Hulle lieg almal vir ons. Ek dink hulle moet dit doen omdat hulle iets wegsteek.” Iets is nie pluis op die weermagdorp Nova nie. Wat is die vreemde ligte wat Lucas en die res van sy gesin een aand op pad terug van vakansie sien? Waarom jok sy pa vir hom? Hoekom is die weermag so geheimsinnig oor die projekte waarmee hulle agter hoë heinings besig is? En wat is die glibberige swart ding wat Lucas in die rivier gesien het? Voor hy sy oë uitvee, word Lucas en sy vriende deel van ‘n wilde avontuurrit vol tergende – en gevaarlike – raaisels.

NOVA: VUURDOOP – Fanie Viljoen

LAPA UITGEWERS, 2011.

“Hulle het die kinders geopereer. Kry al van hulle bymekaar. Ons vat hulle vanaand nog Eenheid toe.” Dis vir Lucas en sy vriende steeds onwerklik om te dink hulle is vroeër ontvoer. Deur ruimtewesens. Maar gelukkig is al vier van hulle nou veilig, en dinge kan terugkeer na normaal. Als is egter nie pluis nie. Watter geheime skuil nog agter die hoë heinings van die Nova-eenheid? Wat sal gebeur as Lucas se pa uitvind die ruimtewesens het hulle geopereer? Wat beteken die onTstellende beelde wat Lucas in sy vriende se oë sien? En hoe lank voor die geheimsinnige ruimteskepe weer hul verskyning maak?

NOVA: BLOEDBROERS – Fanie Viljoen

LAPA UITGEWERS, 2012.

Terwyl Lucas en sy vriende probeer om Ayanda se dood te verwerk, word hulle gekonfronteer met vreemde gebeure: ’n misterieuse bol lig, so groot soos ’n rugbybal, hang in die donker buite Brandon-hulle se huis; ’n massiewe swart trok ry Nova se strate binne en verdwyn in die Hok. Die skool word ook skielik ontruim wanneer ’n vuur uitbreek en dele van die skool ontplof. Al die leerders en onderwysers soek skuiling in ’n ondergrondse bunker. Om sake te vererger vertel Lucas se ma vir hom ’n geheim… Dit keer sy hele wêreld om en hy kan nie help as om anders na homself en sy vriende te kyk nie.

NOVA: STERRELOPER – Fanie Viljoen

LAPA UITGEWERS, 2013.

Lucas ken Nova-eenheid se geheime. Hy het met sy eie oë die eksperimente in die laboratoriums gesien: die monstermense, die verskrikte ruimtewesens in die tenks. En hy verstaan nou waar sy en sy vriende se spesiale kragte vandaan kom. Hulle was ook daar, in daardie laboratoriums, jare gelede. Hulle was ook eksperimente. Al verskil is, hulle was die suksesverhale… Maar daar is geheime wat Lucas steeds nie ontrafel het nie. Wie is die geheimsinnige Sterreloper wat gereeld vir hom boodskappe stuur? Wat beteken die vreemde visioen wat hy in sy broer se oë gesien het? En waarom wil die grootkoppe van Nova-eenheid hom en sy vriende skielik met vakansie see toe stuur? Lucas vermoed dit gaan nie net ’n gewone vakansie wees nie. Dit voel asof dinge nou op ’n manier in plek begin val. Eendag sal hy dalk die groter prentjie kan sien en nie meer net die legkaartstukke nie… Is Lucas en sy vriende gereed om die grootste geheim van almal te ontdek?

NOVA: EINDSPEL – Fanie Viljoen

LAPA UITGEWERS, 2014.

In elke spel is daar twee opponente. Elkeen dink die ander span is die vyand. Elkeen dink hy gaan wen. En as hy wen, is die titel – die mag – syne. Dis wat hier aan die gang is. Wie sal die sterkste wees? Die lig of die donker? Lucas Niemand keer terug na Nova, maar dan kom die skok. Sy vriende onthou glad nie meer van hulle ontmoetings met ruimtewesens of hulle spesiale kragte nie. Hulle weet ook nie waar Lucas al die tyd was nie – vasgevang in ʼn nagmerrieagtige donker ruimteskip waar aaklige goed met hom gebeur het nie. Die Eindspel het reeds begin, besef Lucas, maar sal hy uit die kloue van die donker ruimtewesens kan bly? Watter geheim dra Troy in hom? Waar kom die drie nuwe vreemde wesens (tieners) vandaan en wat wil hulle van Lucas hê? Maar die belangrikste van al die vrae: Sal Lucas Niemand die skrikwekkende Eindspel oorleef…?

ONHEIL IN DIE RUIMTE – Cobus van Wyk

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1983.

HOOFSTUK 1 Meneer Pieter Venter, jong onderwyser in Geskiedenis aan die Goudstadse Hoërskool, kyk geodkeurend na die standerd 9-klas voor hom. Almal is hard besig met hulle werkopdrag. Ou Willie Meyer se tong se punt steek glad by die regterkant van sy mond uit soos hy konsentreer. Meneer Venter glimlag. Hy weet goed hoeveel van sy rooi pen se ink hy weer op Willie se boek sal moet agterlaat wanneer hy die werkstuk nasien, maar nogtans waardeer hy dit dat die klas se leerlinge tot op die laaste dag nog so getrou werk. Dit is vandag die laaste dag van die eerste termyn en boonop die laaste periode van die dag. Meneer Venter kyk op sy horlosie.

ONTMOETING OP ‘N ROOI PLANEET – Allen Sharp

VERTAAL UIT ENGELS DEUR ETTIE WILLIAMS EN UITGEGEE IN 1991 DEUR TAFELBERG UITGEWERS.

‘n Snuffelstorie is ‘n storie met ‘n verskil, want jy, die leser, kies self wat volgende moet gebeur. Dit is die jaar 2066 n.C. ‘n Kernoorlog het op die aarde uitgebreek. Jy en jou kollegas vlug in ‘n reuse-ruimteskip na die veiligheid van die buitenste ruimte. Maar is dit werklik veilig? Die lede van die ruimtespan sterf een na die ander tot jy later alleen op die skip is saam met ‘n geheimsinnige ingenieur van wie die skip se pratende rekenaar niks weet nie. Dan beland jy op ‘n eienaardige planeet aan die ander kant van ‘n swart gat. Jy moet veg vir ‘n tweede kans – ‘n tweede kans vir jou én vir die aarde…

Operasie BOM: ‘n Sterverkenner-avontuur – Andries de Wit

TAFELBERG UITGEWERS 1989

Dit is die jaar 2088.  ‘n Ekspedisie bestaande uit drie ruimteskepe is van die Aarde af onderweg na planeet Vega 2.  Een van die verkenners aan boord van VS-1 Springbok is die agtienjarige Chris Adelaar, seun van die bevelvoerder van die eerste Vega-ekspedisie.  Die skepe en al die lede van dié ekspedisie het ‘n paar jaar tevore in hierdie sektor van die ruim spoorloos verdwyn.

Naby Vega beland Springbok in n asteroïde-gordel.  In die geweld van die botsing word van die bemanningslede ernstig beseer en een kragopwekker buite werking gelaat.  Hoewel die skip stabiel bly, is dit so te sê kragteloos nadat 98% van die brandstof in die vlamme ná die ongeluk verteer is.  As daar nie blitsvinnig iets gedoen word nie, wag rampspoed op hulle, want die swaartekrag van Vega trek hulle al nader en nader…

Maar die rooikop-verkenner Linda Louw het ‘n plan: met die planeet-ekskursie-module kan hulle die skip opstoot, weg van Vega af, en die vorm van hul wentelbaan herstel.  Chris, wat lankal ‘n ogie op haar het, bied aan om saam met haar te gaan.

Maar die PEM raak in die moeilikheid en stort op Vega neer…

Hoewel dit in die toekoms afspeel, raak Operasie Bom ook hedendaagse kwessies aan.  Dit is ‘n heerlik opwindende en oortuigende avontuurverhaal.

OUMA HESTER EN DIE INTERGALACTIC V-919 SUPERCOMET – Janie Oosthuysen

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 2004.

Meeluister-apparate, gesplitste olifantmis en geheime reaktors! Sabotasie, staatsgeheime en slymerige slakke!! Ouma Hester, Tian en Lisa word betrek by ‘n GEHEIME PAKT met ruimtewesens vanaf die planeet Molluskia – en allerhande vrae ontstaan: Wie is generaal Kerbhala? Hoekom is Spesiale Taakmag T-01 warm op Ouma se spoor? Hoe gaan die driestuks uit die boosaardige folteraar se kloue ontsnap? Spring aan boord… en tel die sekondes af! Dis tyd om die ruimte in te snel. Die monsteragtige Molluske wag…

PLANEET MALUSTRA – Juan Sadie

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1981.

HOOFSTUK 1 Sydney, Australië, 16 Junie 1979. Saterdagaand. ‘n Ysige windjie sny deur die strate van die stad. Die meeste mense het besluit om ‘n stil aandjie by die huis deur te bring. Diegene wat wel op straat is, het deeglik teen die koue voorsorg getref. Die nagklubs, waarheen die meerderheid plesiersoekers op ‘n koue Saterdagaand gaan, probeer die koue met lugversorging verdryf. Die lewendige musiek en ‘n dansie af en toe help ook om ‘n mens van die koue te laat vergeet. Een van die mees vooraanstaande nagklubs in Sydney volg ‘n ander patroon. …

PROJEK X: OP EIE RISIKO – Martin Labuschagne

PERSKOR BOEKDRUKKERY, 1998.

Ontdek ‘n wêreld vol geheime saam met Ruan, Chantel en Arend. Asof dit ‘n voorteken is, sing Battery 9 “Wees bevrees” oor die luidsprekers op pad na oom Dirk se plaas. Want die plaas is bekend vir voorwerpe wat in die lug rondsweef. En die mense in wit mantels wat daar ronddwaal ná die brand by die ou murasie. ‘n Pap wiel in ‘n reënstorm stuit nie vir Ruan, Chantel en Arend nie. Hulle is vasbeslote om die raaisel van die plaas op te los. Asof die vreemde hallusinasies nie scary [angswekkend] genoeg is nie, verdwyn kos uit die yskas en verbeel Ruan hom dat hy die “kolonel” in die dorp sien. Dieselfde “kolonel” wat hulle laas in die ondergrondse tonnel waar die alien [vreemdeling] vir hulle weggekruip het, gesien het. Ruan besluit om weer vir Zero, die hacker [kodebreker], te kontak, maar hulp kom uit ‘n onverwagse oord. Daar is ‘n man wat homself Vince noem, wat uit die bloute op die plaas aankom. ‘n Man in ‘n wit mantel en lang, bruin hare wat wild oor sy skouers hang. ‘n Man wat beweer dat hy onder sy mense as die Meester bekend staan…

RICKY ERASMUS EN DIE INTER-DIMENSIONELE ROLSTOEL – J.V. van Wyk

THOMPSON BOEKDRUKKERY, 2015.

Ricky Erasmus ontmoet die eienaardige professor Winterboer met sy asemrowende uitvindings, maar kort voor lank loop dinge skeef. Ricky en sy twee maats moet professor Winterboer gaan red uit ‘n ander dimensie met die hulp van die inter-dimensionele rolstoel. Gaan saam met Ricky Erasmus op ‘n avontuur wat jy nooit sal vergeet nie! 

RIKUS EN DIE DING MET DIE DUKSE – Frans Coetzee

DE JAGER-HAUM UITGEWERS, 1986.

Rikus en sy harige metgesel strand op die planeet Duksa en bevind hulle in ‘n oerwoud van rusiemakerige pienk slurpwesentjies, eienaardige boustrukture, rammelkas-ruimteskepe en wetenskaplike uitvindings van twyfelagtige aard… Hulle raak ongevraag kniediep betrokke by die Duksiaanse struwelinge en besef uiteindelik dat die moontlikheid om die planeet te verlaat, baie skraal is. Dit is nie wat Rikus in gedagte gehad het toe hy na sy pa begin soek het nie. En om aangesien te word vir ‘n geurige happie nagereg, was beslis ook nie wat Rikus se uitsonderlike troeteldier in gedagte gehad het toe hulle die soektog aangepak het nie… Maar dit was maar een van die wedervarings wat hulle op die onvergeetlike Duksa beleef het.

RUIMTESKIP CELESTE – Johann Bredell

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1982.

HOOFSTUK 1 DIE BERMUDA-DRIEHOEK Een van die geheimsinnigste plekke op aardeis ‘n deel van die Atlantiese Oseaan bekend as die Bermuda-driehoek. Dit strek vanaf Miami in Florida na die eiland Bermuda en daarvandaan na ‘n punt ongeveer 55° Wes en 15° Noord. Hiervandaan gaan die lyn terug na Miami. Deur die jare heen het stories die rondte begin doen van eienaardighede wat in hierdie driehoek plaasvind. Skepe verdwyn spoorloos, vliegtuie raak weg op die radarskerms van die lughawens in Florida en niemand hoor of sien ooit weer iets van hulle nie. ‘n Passasiersvliegtuig op pad na Miami het skielik spoorloos verdwyn nadat dit reeds die finale aanloop na die landingstrook begin maak het. Die beheertoring kon nie radioverbinding maak nie. Vir tien minute was die vliegtuig skoonveld. En toe, uit die bloute, verskyn dit weer en kom land asof daar niks gebeur het nie. …

SAAD VAN ONHEIL – G.J. Combrink

ONBEKEND, ONBEKEND.

Dit het alles begin met ‘n geheimsinnige pakkie wat Kokkie deur die pos ontvang het. Daardeur het by en sy twee maats, Daantjie en Sellie, betrokke geraak by ‘n avontuur wat rondom die wêreld gereik het — trouens, tot in die buiteruimte. Waar het die skrikaanjaende vlermuiswesens vandaan gekom? Wat was die doel van die vreemde apparaat wat die wesens by hulle gehad het? Hoe kon hulle beveg word om te keer dat hulle die hele aardbol oorneem? Op hierdie vrae het Kokkie en sy maats probeer antwoorde vind, met die hulp van hul vriendinne Alet en Salome. Maar voordat alles ontrafel was, het hulle dinge beleef waarvan ‘n skoolkind gewoonlik maar net droom — in heldedrome of nagmerries.

SENDING KOSMOS – I.D. Lamprecht

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1980.

HOOFSTUK EEN Die hoë, loodregte kranse wat byna honderd meter die hoogte in skiet, vang die moordende strale van die son in ‘n bakoond-hitte vas. Dit lyk kompleet asof ‘n klomp reusewurms vergadering gehou en toe in alle rigtings van mekaar af weggeseil het. En elkeen het ‘n ontsaglike diep voor agter hom gelaat. “Wie sou kon dink ons het ook ‘n Amerikaanse Grand Canyon in Suid-Afrika?” sê-vra Haas Viljoen en vee die sweet van sy voorkop af. “Grand Canyon of te nie,” kom dit van Okker de Wet. “Wat ek wil weet, is hoe ons so ver van Meneer en die ander klomp af kon gedwaal het.” “Julle wil weet,” spreek Valie Joubert hulle vrees uit, maar wat ek wél weet, is dat ons hotagter gaan kry as Meneer ‘n soektog na ons op tou moet sit.” …

SENDING NA PLANEET 55-7: DIE ARTAARSE KOFFIEKRISIS – Yvonne Botha

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 1996.

Toe die studente op Fraich opdragte vir hul eerste volwaardige sendings ontvang, is Xack een van die gelukkiges wat asteroïdes moet gaan kraak. Xenia moet ‘n bewoner van die nuutontdekte planeet 55-7 gaan haal vir navorsingsdoeleindes. Dinge verloop egter nie heeltemal volgens plan nie. Xack kraak sy eerste asteroïde suksesvol, maar bots net daarna teen ‘n towenaar en beland op een van Delta Sefkot se gevreesde vullisplanete. Xenia kry wel haar 55-7-bewoner in die Ysvoël, maar kort voor lank bevind hulle hulle op dieselfde planeet. Die Delta Sefkoters neem hulle gevange en die twee studente vrees vir die ergste. Maar die ergste ontdek hulle eers later: ‘n magsugtige towenaar Listoor het ‘n bose plan om die heelal onherroeplik te verander. Met net enkele ure oor om die heelal te red, moet hulle eers uitvind hóé…

SEUNS VAN DIE WOLKEAugust van Oordt

NASIONALE BOEKHANDEL BEPERK, 1931.

HOOFSTUK I PIET EN TOM “Tom is baie laat,” mompel Piet van der Merwe terwyl hy sy koffie insluk by die aandete op ‘n someraand in die maand November van die jaar 2034. “Jy is darem ‘n vreeslike ongeduldige skepsel,” sê sy suster Annie, alhoewel sy self die afgelope uur kort-kort uit die venster gekyk het. Hulle is nouliks klaar met ete of Piet is uit die huis uit en die tuin in. Daar staan hy en kyk in die rigting van die Paarl. Elke stippeltjie in die blou hemel, tussen die menigte ander stippeltjies, wat hy gedink het is sy vriend Tom se vliegmasjien, het al duideliker geword soos dit nader kom, maar helaas, het dan daar hoog oor hom heen weggeskiet – Kaapstad toe. Piet kyk en kyk totdat sy nek voel asof dit gaan breek. …

SIAS SE RUIMTETUIG (Sias se Spoetnik) – Mikro

PERSKOR UITGEWERS, 1982.

Sias hou hom deesdae met gewigtige sake besig. Hy het sy planne reeds mooi agtermekaar om die taal van die diere te bemeester. Dit is nou projek nommer een. En wanneer hy dit eers baasgeraak het, sal hy hom slaggereed maak vir die gevaarlike ontdekkingsreis na die maan in sy nuwe ruimtetuig, Colombia. Dit is nou operasie nommer twee. Volgens Koos Geyer is dit sommer kinderspeletjies om die taal van die diere aan te leer. Al wat Sias moet doen, is om een nag alleen op Boesmansberg deur te bring… nou ja, nie stokalleen nie, want hy sal die steekbaard Napoleon saam met hom neem. As Koos tog maar vooruit kon sien in watter yslike penarie dié argelose woorde hom sou laat beland. ‘n Onskuldige avontuur ontaard in ‘n nag van angs en verskrikking en ‘n botsing met die gereg. Die stof het nog skaars na hierdie opskudding gaan lê, toe breek Sias se groot dag aan. By Pienaarsrivier, wat in volle vloed afkom, sal ‘n Suid-Afrikaner binne enkele oomblikke na die maan vertrek. Sover het alles seepglad verloop. Napoleon en die ruimtereisiger sit reeds in Colombia, maar dan begin dinge skeef te loop, die onverwagte gebeur en onse maat verkeer in doodsgevaar…

STAD AAN DIE EINDE VAN DIE WÊRELD – François Bloemhof

MASKEW MILLER LONGMAN UITGEWERS, 2007.

“Hy is skaars terug in sy woonstel toe sy polsband ‘n biep gee. Die eerste boodskap! Hy weet sommer dit sal Jurg wees. Maar op die skerm staan: Onbekende sender. Hy is sat vir advertensies wat só by hom uitkom – maatskappye het allerhande maniere om polsbandnommers in die hande te kry en dan die draers met boodskappe te bombardeer, al probeer jy hulle blokkeer. Sy opgewondenheid sit om in irritasie. Maar dis nie ‘n advertensie nie: Wanneer jy in die stad kom, waarsku vir Ying Li dat iemand op pad is om haar dood te maak.” In 2084 behoort die wêreld aan tieners – en die gelukkiges onder hulle gaan stad toe. Stad, plek van groter plesier as wat jy jou kon voorstel. En groter gevaar as wat jy kon raai. George Logan se bestemming.

SWAARTEKRAG EEN KOMMA EEN – De Waal Venter

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 1995.

Wat gebeur as drie tieners deur vreemde wesens uit die ruimte ontvoer word na ‘n planeet ligjare ver van die aarde af? Pit, Alpha en Ovvie ervaar rillingsvreemde dinge in die skip van die “Taumi”. Met behulp van Ovvie se geniale tegnologiese vermoëns flans hulle ‘n laserstraal aanmekaar en die twee seuns veroorsaak byna ‘n ramp… Maar Pit se jonger sussie, Alpha, met haar naaldskerp verstand, vermoed gelukkig betyds dat Tilonlli, die wese wie se taak dit is om met hulle te kommunikeer, moontlik iemand is om te vertrou. In hierdie aksievolle en oorspronklike ruimteverhaal vir tieners is daar spanning en avontuur wat mens met jou voete plat op die aarde nooit sal raakloop nie. Veral as Pit, Ovvie en Alpha uiteindelik agterkom wat die werklike redes vir hul ontvoering is. Dit begin vir hulle ‘n al hoe sterker moontlikheid lyk dat die hele aarde se voortbestaan, op meer as een manier, in die weegskaal is…

TERRA PIERING 1 – Juan Sadie

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1979.

1 ‘Ai, al weer Maandag,’ gaap kaptein Albert van Rijn. Stadig gooi hy die komberse van hom af. Hy dink dat dit darem lekker sal wees om weer tussen die warm vere in te kruip wanneer hy die snerpende koue voel. Nadat hy sy pantoffels aangetrek het, loop hy badkamer toe en draai die kraan oop. Hy kyk in die spieël. Twee ligblou oë kyk na hom. Sy blonde hare sit soos ‘n kraaines op sy kop. ‘Ek moet darem ‘n bietjie gewig aansit’, sê hy hardop terwyl hy sy lang, lenige liggaam vanuit alle hoeke in die spieël bewonder. Hy was sy gesig met koue water en smeer daarna skeerroom aan. Nadat hy geskeer het, loop hy na die voorstoep en strek homself in ‘n stoel uit. ‘n Koel vars seebries streel sy hare. …

UIT ‘N ANDER WÊRELD – P.C. Haarhoff

HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS, 1987.

Reeds met die eerste verhaal word dit duidelik dat mens hier te doen het met verhale uit ‘n ander wêreld – die wêreld van die wetenskaplike; ‘n wêreld wat dikwels vir die gewone leser ontoeganklik is, maar nou skielik helder sigbaar word deur die “miljardplaatjies”. Gaandeweg besef mens egter dat die verhale nie net van die wetenskap vertel nie, maar van talle ander wêrelde én met ‘n lang prosessie besondere karakters. Daar is die orang-oetang-filosoof Prins Ran-U-Tan; Sweet Lena Lee met haar Dixieland jazz; Pikpik Pikkek en die ander kekkelhoenders van Stellasië; Hubert en Coenie Beuster wat worstel om een liggaam te deel en Stoffel en Madelief wat aromeer om hulle plasie teen indringers te beskerm, om maar enkeles te noem.

VREES IN DIE VIERDE DIMENSIE – Allen Sharp

VERTAAL UIT ENGELS DEUR ETTIE LABUSCHAGNE EN UITGEGEE IN 1994 DEUR TAFELBERG UITGEWERS.

‘n Snuffelstorie is ‘n storie met ‘n verskil, want jy, die leser, kies self wat volgende moet gebeur. Jy is lid van die navorsingspan wat met projek VITER werk. VITER staan vir “Verplasing In Tyd En Ruimte”. Julle belangrikste hulpmiddel is professor Carl Zuckermann se Tydvaarder, ‘n kragtige gerekenariseerde vaartuig wat deur beide tyd en ruimte kan beweeg. As eerste eksperiment het julle die projekleier se horlosie in die Tydvaarder geplaas en dit deur die tydgordyn na die vierde dimensie gestuur. Dit het aan flenters teruggekom. Daarna het julle twee muise gestuur. Hulle het glad nie teruggekom nie. Nou is dit jou beurt… Sien jy kans om met die Tydvaarder na óf die verre verlede óf die toekoms (of dalk albei!) te reis? Dink jy jy sal dit oorleef – én boonop na jou eie tyd kan terugkeer?

VYFFFF – De Waal Venter

TAFELBERG UITGEWERS, 1988.

Waldemar die Beskeie is ‘n sofont met die amp van Spesiale Agent. Hy is lid van die hemo sapiens-ras, het ‘n baie hoë graad van siob’horr, is manlik en beskik oor besondere intelligensie en indrukwekkende vermoëns. Dit is sy taak om Lox, die Voorsitter van Sdon en waarskynlike opvolger van die Keiser, op te spoor. Lox is ontvoer, vermoedelik deur die gehate Kliënte, wat tog so belangrik is vir geordende handel in die Keiserryk. Waldemar word bygestaan deur Fiff, ‘n Olfaktiaan, wat met geure kommunikeer en soos ‘n dubbelbedmatras lyk; die skone Penni, jongdame Van-die-eilande en ook ‘n Spesiale Agent; graaf André Slink, ‘n baie gesofistikeerde losbol wat in der waarheid ‘n Spesiale Spesiale Agent is; asook die se vriend, die reusagtige Barbar met sy wilde bos geel hare en harde lag. Hierdie gedugte span word later nog meer gedug toe die klein, donker Okei Mpanza hom by hulle aansluit. Die soektog neem hulle van een uithoek van die Melkwegstelsel na die ander. Op elke nuwe planeet kry hulle met ander sofonte te doen — elkeen met sy eie eienaardighede. Maar oral is daar Kliënt-robotte om die saak vir die vyf te bemoeilik.

WINDVLUG – Empie Maritz

BENEDIC BOEKE, 1995.

Ilse skrik haar boeglam toe sy ‘n vreemde, ietwat eienaardige meisie op die voetenent van haar bed gewaar. Haar twee maats, Paul en Saksak, asook Saksak se ouers by wie hulle kuier, glo dat sy gedroom het. Dat dit geen droom was nie, besef die drie tieners eers terdeë toe hulle hul in ‘n vreemde tuig die buitenste ruimtes in bevind, onderweg na ‘n onbekende planeet en die gevangenes van ruimtewesens wat hulle as aardbewoners voorgedoen het. Nou kan net die vreemde meisie, Joni, hulle red van ‘n aaklige lot waarin aardse dimensies vervaag en swartgate, vreemde galaktikas en ‘n robotwêreld aan die orde van die dag is.

WINTER VAN DIE NOVA – Pets Marais

DAAN RETIEF UITGEWERS, 1984.

Hierdie fassinerende wetenskapfiksieverhaal deur Pets Marais, ervare jeugverhaalskryfster van onder meer Die huis wat Jaap gebou het handel oor die ongeloofwaardigste – en tog die waarskynlikste-gebeurtenisse wat ‘n mens jou maar kan voorstel. Sou die Aardbewoners nie ook – as hulle tegnologies se ver ontwikkel was – ‘n noodoproep na ‘n buurplaneet stuur wanneer hulle besef dat ‘n onafwendbare ramp, naamlik ‘n nova of ontploffing van hulle son, hulle in die gesig staar nie? Lees in hierdie verhaal hoe die inwoners van die konstellasie van Perseus hulleself voorberei op so ‘n nova en eindelik op planeet Aarde aankom…

‘N REIS NA DIE OERTYD – J.C. Froelich

VERTAAL UIT FRANS DEUR E.P. DU PLESSIS EN UITGEGEE IN 1963 DEUR HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS.

Fantastiese avonture wag op die sewentienjarige Jean-Claude wanneer hy saam met twee ouer vriende op reis gaan. Want dit is ‘n fantastiese reis – ‘n reis na die aarde van twaalfduisend jaar gelede! Vir die slim prof. Liévin is dit kinderspeletjies: met sy tydkapsule kan hy sy menslike proefkonyne na enige tydstip in die aarde se verlede terugplaas. In hierdie verhaal gaan kyk die drie avonturiers hoe die mens gelewe het toe hy nog klipwerktuie gebruik het. Saam met die oermense belewe hulle lief en leed, en volop avonture wanneer daar op gevaarlike diere gejag word of hulle deur vyandige stamme aangeval word. Hierdie boek is egter nie alleen boeiend en spannend nie, maar ook besonder leersaam. Die skrywer is ‘n bekende volkekundige en het met sy vlot verteltrant ‘n getroue beskrywing van ons vroegste voorouers se leefwyse gegee.

3 thoughts on “Wetenskapfiksie vir Tieners

  1. Een wat nie hier genoem is nie: “Jasper en die ruimtemanne,” uit die Jasper-reeks van C.F. Beyers-Boshoff. En mens kan seker al die Fritz Deelman-boeke as wetenskapfiksie klassifiseer.

  2. Planeet Van Die Krygsheer, 1995, ISBN 0798124881, Douglas Hill

    • Beste François Coetzee,

      Baie dankie vir jou aanbeveling. Ek het ‘n voorblad opgespoor, en dit bygevoeg onder Wetenskapfiksie vir Volwassenes. Ongelukkig kon ek nie ‘n opsomming of ‘n uitreksel uit die boek kry nie.
      Is dit dalk moontlik vir jou om ons daarmee te kan help?

      Weereens baie dankie en vriendelike groete,
      Gerhardus Thompson

Comments are closed.