John Coetzee

John Coetzee (Christian Johannes Coetzee) is op 25 November 1931 in Florida in die Transvaal gebore. Hy was die seun van ‘n man wat uiteindelik die hoofvertaler by die Suid-Afrikaanse Spoorweë was, en sou later in sy pa se voetspore volg en sy korporatiewe loopbaan afsluit as hoofvertaler by Yskor. Beide sou uiteindelik meewerk tot die ontwikkeling van ‘n Afrikaans-Engelse woordeboek – elk in die vakgebied van die organisasie waar hul werksaam was. Hy behaal ‘n BA-graad aan UNISA in Afrikaans-Nederlands, Engels en Duits.

Foto: John Coetzee en sy vader – twee hoofvertalers van Afrikaans

John was ‘n baie produktiewe skrywer en het 29 boeke geskryf – sowat die helfte in Afrikaans en die ander in Engels. Omdat hy van uitgewers verander het, gee hy twee van sy boeke uit onder die skuilnaam John Quest. Hy wen verskeie pryse vir sekere van sy boeke, en vyf van sy boeke sou uiteindelik as Afrikaanse voorgeskrewe werke dien vir skole, universiteite en kolleges.

Van die baie boeke wat hy voortgebring het, is twee wetenskapfiksie, naamlik Agon en die Donker Planeet (1993),

 

en Die Gedoente op Planeet Boris (1996) – vir tieners.

John woon in Pretoria saam met sy vrou en seun tot sy afsterwe op 16 April 2023 op 92 jarige ouderdom.  Dankie vir jou bydrae John – jy het die verbeeldingswëreld van Afrikaans uitgebrei, en ons sal jou nie vergeet nie…