Strokiesprente

Een van die algemene en baie populêre vorme van wetenskapfiksie wat ‘n hoë mate van toeganklikheid vir die massas het, is die medium van strokiesprente of strokiesverhale. Dit geniet grootskaalse ondersteuning in veral die Vereenigde State van Amerika en Japan waar dit eintlik ‘n kultuur in eie reg begin vorm het. In Amerika word strokiesprente veral gebruik om die sub-genre van superhelde te dra, terwyl Japan dikwels bloot fantastiese stories in hierdie medium uitbeeld.

Tans is dit nie juis ‘n medium wat veel aandag geniet in Afrikaans nie, maar in vroeëre tye het dit tog wel bestaan. Baie min van hierdie werke bestaan vandag in die handel, maar sekere van die werke het tog die vergetelheid ontsnap. Daar was basies twee vorme van hierdie tipe skeppings, naamlik die tipe wat as alleenstaande publikasies uitgegee was, en die tipe wat as klein stukkies op ‘n slag as deel van ‘n ander publikasie, soos ‘n koerant of ‘n tydskrif, uitgegee is.

Die bekendste superheld van almal is seker Superman van (DC Comics), en ja – dit is wel op ‘n stadium in Afrikaans uitgegee.

Dit is duidelik op die voorblad van hierdie boekie dat ‘n ander superheld kombinasie ook bestaan het, naamlik Akwaman en Akwaseun – waarskynlik as karakters wat tuis was in water. Niks is egter oor hulle bekend nie. As jy dalk inligting daaroor het, kontak ons asseblief.

Natuurlik kan Superman die alleen bestaan nie, en is Lois Lane ‘n noodsaaklikheid in sy lewe – ook in Afrikaans…

En dan natuurlik, as daar in Engels ‘n Supergirl bestaan, moet daar seker in Afrikaans ‘n Supermeisie wees – of hoe?

Die bekende Batman was byvoorbeeld in Afrikaans uitgegee as Mantelman gedurende die 1950s, as alleenstaande publikasies.

Omtrent drie dekades later was dit steeds vrygestel in Afrikaans, maar hierdie keer onder die Engelse naam – Batman.

Nie alleen was hierdie superheld beperk tot sy eie storielyne nie, maar sy Engelse mede-held Robin het in Afrikaans bestaan as Robbie.

‘n Effens minder bekende superheld was die Amerikaanse Luke Cage – Hero for Hire, wat redelik direk in Afrikaans bestaan het as Luke Cage – Held te Huur.

Meer bekend was Die Blits wat die Afrikaanse weergawe van The Flash was – soos hierdie twee voorbeelde uit 1963.

In sekere gevalle is daar van die meer klassieke verhale uitgegee as strokiesprente, wat sodoende gemik was om die jeug te bereik of ‘n gehoor wat nie spesifiek ‘n boek sou lees nie. Die Jules Verne verhaal 20,000 Myl onder die See is ‘n voorbeeld hiervan wat opgebreek was in klein een-bladsy dele en in ‘n ander publikasie verskyn het.

Hierdie verhaal het grafies verskyn alhoewel dit ook in Afrikaans in boekvorm beskikbaar was.

Ander klassieke verhale het ook só verskyn, grafies, en soms wel as alleenstaande soos Stevenson se Dr. Jekyll en Mnr. Hyde.

Ook in hierdie geval was die verhaal in boekformaat ook in Afrikaans beskikbaar.

Een van die klassieke werke  van Jules Verne wat slegs as ‘n strokiesverhaal uitgegee was, Geheimsinnige Eiland.

Dan was ook Arthur Conan Doyle se The Lost World in 1962 as episodes in Huisgenoot uitgegee as Die Verlore Vasteland.

Van die meer bekende voorbeelde van strokiesprente wat in Afrikaans beskikbaar was (en steeds is), is Kuifie se avonture waarvan sekeres wel wetenskapfiksie is, soos die volgende drie voorbeelde.

In hierdie groep publikasies kan Asterix ook genoem word wat sekere fantasie-elemente bevat, en wat steeds geredelik beskikbaar is in Afrikaans.

Ander voorbeelde van WF wat periodiek in ander publikasies verskyn het as episodes, het gewoonlik van die populêre internasionale strokiesprente gebruik en in Afrikaans vertaal. Flash Gordon van Alex Raymond is byvoorbeeld uitgegee as Blits Gordon wat in 1975 in die Huisgenoot verskyn het.

‘n Ander baie gewilde karakter was Buck Rogers (van Nowlan & Calkins) waarvan die televisiereeks selfs later in Afrikaans oorgeklank was. In 1960 het dit egter in die Keur verskyn as Die Arend.

So was Garth deur Steve Dowling and Gordon Boshell in 1955 in Brandwag uitgegee as Die Avonture van Adriaan.

Soortgelyk was The Phantom van Lee Falk na Afrikaans vertaal as Die Skim wat ‘n tipe superheld karakter is…

‘n Meer opskure voorbeeld waarvan baie min bekend is, is Miggie die marsmannetjie wat in Pronk in 1973 verskyn het.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n internasionale held Brick Bradford deur Paul Norris het in die 1960s in Huisgenoot Afrikaanse gestalte gekry as Briek Breekman.

‘n Eg Suid-Afrikaanse skepping, wat ook grootliks as advertensie gedien het, is Jet Jungle wat ook ‘n superheld was wat in Patrys verskyn het (1979).

Dit is tog jammer dat hierdie veld nie tans in Afrikaans aanhang geniet nie – siende dat daar ‘n taamlike lang geskiedenis hiervan reeds bestaan…

Met opregte dank en erkenning aan http://southafricancomicbooks.blogspot.co.za/ waaruit baie van die materiaal verkry kon word.

Van die enkele uitsonderings is Francois Bloemhof en Shaun Sameul se 21ste eeuse strokiesprentboekie – Kaptein PipSkwiek.

Dis regtig lekker om te sien dat daar darem steeds werke in dié spesiale mediavorm voortgebring word.  Ons hoop dat Francois en ander skrywers verdere bydraes vir ons sal maak…