Seldsame Aarde

Wanneer mense gevra word of hulle dink dat daar lewe elders in die heelal is, is die meeste mense gewoonlik oortuig daarvan. Dit klik eenvoudig te ondenkbaar om aan te neem dat ons werklik alleen is. Die groot wetenskapfiksieskrywer Arthur C. Clarke het in 1999 die vraag as volg geantwoord.

Daar is slegs twee moontlikhede – òf ons is alleen in die heelal, òf ons is nie. En beide moontlikhede is ewe skrikwekkend.

En ja – die idee dat ons dalk totaal alleen is, is amper meer skrikwekkend as die alternatief. Mens sou met reg kon wonder waarom die hele affêre so groot moet wees indien dit slegs maar bedoel is vir ons ou klompie wesens op hierdie kleinerige planeetjie wat om ‘n baie algemene en doodgewone ster wentel. Daar skyn werklik niks spesiaals te wees aan ons of ons plekkie in die magtige ruimte nie.

Die argument lui gewoonlik iets soos volg: “Daar is ‘n honderdmiljard sterre in die Melkwegstelsel. Indien slegs 10% daarvan planete bevat, is daar steeds ‘n tienmiljard sterre met planete. Indien slegs 10% van dié sterre wat wel planete het, planete het wat ‘n gunstige afstand van die son af is, is daar dus ‘n miljard planete wat gunstig is vir lewe om te ontstaan. Indien daar slegs op 10% van hiérdie planete wat gunstig is, wel lewe ontstaan, sal daar dus ‘n honderdmiljoen planete met lewe in die Melkwegstelsel wees met lewe. Indien slegs 10% van die planete met lewe dan verder ontwikkel om intelligente lewe voort te bring, is daar dus tienmiljoen planete met intelligensie daarop. En dis slegs maar in die Melkwegstelsel – dink net hoeveel daar in die ganse heelal moet wees…

En hierdie tipe argument klink nogal heel oortuigend wanneer mens daarna kyk. Om die waarheid te sê, dis dalk ‘n bietjie konserwatief – daar kan dalk selfs meer wees.

Die antwoord vir die ooglopende afwesigheid van buiteaardse wesens, of tekens van hul bestaan kan dalk wees in die onwaarskynlikheid vir sekere stappe van die ontwikkeling van lewe of van ‘n spesie. Hierdie onwaarskynlikhede (of hindernisse) staan bekend as die Groot Filters.

As voorbeeld kan ons kyk na die posisie van ‘n planeet rondom die sentrale ster van die sonnestelsel waarin dit bestaan. Ten eerste kan daar gesê word dat ‘n baie groot aantal sterre wat in stelsels bestaan, deel is van ‘n stelsel waarin daar meer as een ster is – amper die helfte van alle gevalle. Dit skakel reeds baie stelsels uit, aangesien die wentelbane van liggame in sulke stelsels nie ‘n vaste patroon volg nie of totaal chaoties is. Indien lewe moes ontstaan, en oor ‘n baie groot tydskaal moes ontwikkel, is dit nie waarskynlik dat dit kon gebeur in ‘n omgewing wat nie inherent stabiel is nie.

Onvoorspelbare (chaotiese) bane van
‘n 3-liggaam stelsel

Tweedens, indien die planeet te naby aan die son is, of te ver daarvandaan, sou vloeibare water (of ander vloeistowwe) nie daarop bestaan nie. Die rede waarom hierdie feit belangrik is, is dat chemiese reaksies juis maklik kan plaasvind binne ‘n vloeistof – in ‘n vaste stof (soos ys) is die molekule nie vry om te beweeg en met ander te verbind nie en in ‘n damp of gas is die digtheid so laag dat die interaksies tussen molekule (of atome) veel minder voorkom as in ‘n vloeistof. In ons sonnestelsel is hierdie slegs waar vir die Aarde. Hierdie gebied wat net reg is vir die temperatuur om nie té laag of té hoog te wees nie staan bekend as die Gouelokkies-gebied.

Gouelokkies-sone in groen

Maar dis nog nie genoeg gesê oor hierdie onderwerp nie. Behalwe dat die gebied reg moet wees, moet die massa van die planeet groot genoeg wees dat dit ‘n atmosfeer kan behou. In die geval van Mars byvoorbeeld, het dit wel vir ‘n tyd lank ‘n atmosfeer gehad, maar dit gaandeweg verloor sodat lewe, al sou dit dalk daar kon ontstaan, weer sou uitsterf weens die verlies aan atmosfeer.

En dan, behalwe vir die massa van die planeet, is dit voorts ook nodig vir die planeet om ‘n genoegsame magneetveld te hê sodat die hoë energie deeltjies en die hoë energie elektromagnetiese straling van die son nie die molekule (of lewende organismes) vernietig nie.

Aarde se magnetiese afskerming

Daarby is dit ook nodig vir ‘n genoegsame versameling chemiese stowwe wat op die planeet teenwoordig moet wees. In die geval van die vroegste sterre (die eerste paar generasies sterre) is die chemiese samestelling onvoldoende want die stowwe moet nog eers deur die opeenvolgende generasies van sterre vervaardig word.

Maar selfs as al hierdie dinge wat tot nou toe genoem is wel reg is, is dit onwaarskynlik dat lewe sou kon ontstaan (of aanhou om te bestaan) indien die klimaat op die planeet nie oor baie (regtig vreeslik baie) eeue relatief konstant sou bly nie. In dié opsig is die maan se grootte en posisie ten opsigte van die Aarde baie belangrik. Studies het getoon dat selfs relatief klein veranderings in die grootte, massa en posisie van die maan sou lei tot baie groot variasie in die langtermyn klimaatspatrone van die Aarde – wat op sy beurt die ontstaan en oorlewing daarvan onwaarskynlik sou maak. Ook sou tektoniese effekte dalk só wisselvallig wees met chroniese aardbewings en vulkaniese aktiwiteite dat lewe of beskawings onwaarskynlik sou raak. Gekoppel met hierdie punt is die feit dat die Aarde se wentelbaan uiters sirkelvormig is om die son – die meeste ander planete s’n is meer ellipties. Weereens sou ‘n elliptiese baan aanleiding gee tot weerpatroon ekstreme wat weer by sou dra tot die onwaarskynlikheid vir die ontstaan, ontwikkeling en behoud van lewe.

Maar nou, selfs al sou ‘n planeet vorm wat voldoen aan alles wat ons tot dusver gesê het, wag ons vir die grootste onwaarskynlikheid van almal. Abiogenese.

Abiogenese is die ontstaan van iets wat lewe uit stowwe wat nie lewe of gelewe het nie. Dít verg niks minder as ‘n wonderwerk nie. Om die waarheid te sê, ten spyte van honderde proefnemings wat oor baie dekades lank deur wetenskaplikes gedoen is, kon dit nog nooit deur die mens in ‘n proefneming reggekry word nie – selfs in die mees gunstige omstandighede. Tewens, dit is só ongelooflik skaars, dat genetiese toetse wat gedoen is op al die lewensvorme wat ooit op die Aarde voorgekom het, aantoon dat selfs hier op Aarde hierdie gebeurtenis slegs een keer in die geskiedenis plaasgevind het. Hierdie feit beteken dat elke liewe lewensvorm (of organisme) familie van elke ander lewensvorm op Aarde is – van ‘n mens tot ‘n perdeby tot ‘n padastoel.

As abiogenese vanself in die natuur kan voorkom, moet ons dus aanvaar dat dit ongelooflik raar is, en dat dit in sigself maklik só seldsaam is dat dit waarskynlik nie ‘n tweede keer in dieselfde heelal kan plaasvind nie. Dis natuurlik nie te sê dat net omdat dit nie vanself ‘n tweede keer kan gebeur nie, dat lewe daarom net op een planeet in ‘n heelal sal kan bestaan nie. Dit beteken bloot dat dit nie vanself daar kan ontstaan nie – dit kan egter doelbewus of per ongeluk versprei van een plek na ‘n ander. Ons het al meteore hier op die Aarde gevind wat van Mars afkomstig is. Maar hoewel dit moontlik is, is dit hóógs onwaarskynlik. Lewende materiaal oorleef nie juis in die ekstreme omstandighede van die buitenste ruimte nie.

En hierdie argument kan aanhou en aanhou. Van die ander Groot Filters sluit onder ander die volgende in:

  • Die plek van die sonnestelsel in die groter sterrestelsel
  • Die ontwikkeling van multisellulêre lewe
  • Die ontwikkeling van ‘n brein en intellek
  • Die ontwikkeling van taal
  • Die ontwikkeling van wetenskap en wiskunde
  • Die ontwikkeling van tegnologie
  • Die uitwissing van predatore (soos dinosourusse)
  • Die oorlewing van rampe (en nie óók uitgewis te word nie)
  • Die weerhouding van selfuitwissing
  • Ens.

Wanneer ‘n mens hierdie tipe argument voer en weer die somme begin maak, kom ‘n mens gou agter dat die statistiese waarskynlikhede vinnig met mekaar begin vermenigvuldig om uit te werk op ‘n antwoord wat ongelooflik onwaarskynlik is. Onthou dat hierdie vereistes nie die een óf die ander is nie, maar eerder die een én die ander is. Met ander woorde, wat is die kans dat ‘n organisme ontstaan wat multisellulêr is EN wat dan ‘n brein ontwikkel EN

In sulke gevalle raak dit toenemend minder waarskynlik. Wat is die kans van kop of ‘n stert op ‘n muntstuk – 50%. Wat is die kans van twee koppe na mekaar – 25%. En van tien na mekaar – 0,1%. Dit is duidelik dat die een vereiste nie outomaties lei tot die volgende nie. Daar is byvoorbeeld baie multisellulêre organismes wat nié ‘n brein het nie – ‘n boom, ‘n jellievis of ‘n bakterie byvoorbeeld. Soortgelyk is daar baie met ‘n brein maar wat nie intelligensie ontwikkel nie – insekte, slakke, ensovoorts.

So, is dit nou te sê dat daar nooit lewe elders in die heelal sal kan wees nie? Nee, daar is wel moontlikhede daarvoor. Hoewel dit UITERS onwaarskynlik is, is dit nie onmoontlik nie. Dan kan die Aarde dalk self lewe versprei – opsetlik met kolonisasie of per ongeluk (of nalatig).

Al wat ons wel weet is dat Galileo Galilei amper ter dood veroordeel was toe hy gewaag het om te dink dat die Aarde nié die middelpunt van die heelal was nie. Miskien was hy tog wel verkeerd. Miskien is ons nie meetkundig die middelpunt nie – maar as ons die enigste plek in die heelal is waar daar lewe is, wil dit tog voorkom of ons plek baie, baie spesiaal is. En miskien is ons totaal alleen omdat God maar een maal geskep het – en omdat die mens dalk werklik die kroon van die skepping is. Dalk is ons wel die middelpunt van dit als…