Musiek

Een van die mees algemene vorme van vermaak waaraan die meeste mense deelneem, is musiek.  En dis nie regtig verbasend nie, want dis een van die min vorme van vermaak waarna ons maar bloot kan luister en nie spesifiek ook voor hoef te kyk nie.

Maar sedert ongeveer die 1980s (en selfs ‘n bietjie vroeër reeds) het gewilde liedjies, wat algemeen as popmusiek bekend gestaan het, heel dikwels ook ‘n amptelike musiekvideo gehad wat saam met die liedjie uitgereik was.  Hierdie musiekvideo’s was soms maar eenvoudig bloot tonele waar die groep die liedjie uitgevoer het, maar in ander gevalle was die musiekvideo ‘n goed versorgde stukkie beeldmateriaal wat soms selfs ‘n kort storie of boodskap aan die gehoor sou oordra.

Dis seker dan ook geen wonder dat sekere van hierdie musiekvideo’s aspekte van wetenskapfiksie of fantasie uitgebeeld het nie – en daar is nogal meer daarvan as wat mens dink.  Een van die vroeëre video’s in dié verband is Mr Roboto wat deur die groep Styx in 1983 vrygestel was.  Soos daar uit die naam afgelei kan word, het dit te doen met robottegnologie – kyk gerus na die video wat op dié bladsy omsluit is.

 

Ook in 1983 word Major Tom van Peter Schilling vrygestel op die album Error in the System.

 

Maar met verloop van tyd het die effekte, en moontlik ook die verbeelding in hierdie vorm van vermaak aansienlik uitgebrei en het meer en meer groepe dit in hierdie spekulatiewe speelveld gewaag.  Die Imagine Dragons se Thunder wat in 2017 vrygestel is verken ‘n bietjie die idee van ‘n besoek aan die aarde deur buiteaardse wesens.

 

In 2019 is ‘n musiekvideo vrygestel genaamd 365 wat die uitvloeisel was van ‘n samewerking tussen twee partye, naamlik Zedd en Katy Perry.  Hierdie liedjie fokus op die idee van ‘n androïed wat as die perfekte vrou vir ‘n man geskep was, maar waarin die verhouding nie so volmaak was soos beplan nie.

 

Hierdie is maar enkele voorbeelde waar die wêreld van fantastika insyfer tot binne in die musiekwêreld.  Dit is lekker om hierna te kyk en dis verstommend hoeveel ooglopende moeite daaraan bestee moes word om hierdie skeppings beskikbaar te maak.  Daar is natuurlik geen twyfel dat daar nog baie hiervan in die toekoms gesien sal word nie.

 

Selfs in Afrikaans is daar seker voorbeelde hiervan.  In dié liedjie van Jay, genaamd Lê bietjie langer, kom die fantastika-idee van superhelde na vore, en maak die beeldmateriaal nogal baie vermaaklik.

 

Dikwels, egter, is die musiek ‘n parodie of ‘n gespot met die een of ander fliek uit wetenskapfiksie of fantasie – soos die volgende stukkie wat die spot dryf met Star Wars deur Bad Lip Reading.

 

En natuurlik sal Al Yankovic ook die draak steek met Star Wars met sy liedjie The saga begins.

 

Maar dis nie altyd in die musiekvideo waar die elemente van WF+F lê nie.  Baie keer is dit in die woorde of klanke van die musiek self.  Dink byvoorbeeld aan die spookstorie van die Vliënde Hollander waarvan ons almal op skool reeds gehoor het.  Gebasseer op daardie selfde idee is die volgende stukkie musiek voortgebring en gee ‘n heel ander kinkel aan die verhaal vanuit ‘n wetenskapfiksieperspektief. Dawson’s Christian

 

Banned from Margo is die volgende liedjie (deur Leslie Fish) wat vir ‘n slag spot met die omstandighede binne die Star Trek heelal.  Dit veronderstel hoe dinge afloop vir bemanning van dié reeks tydens hul naweekpas en is gebasseer om gebeure wat in die oorspronklike reeks voorgekom het.  Dis nogal rof, maar snaaks genoeg om mens te laat lag…

 

Die volgende liedjie (Space Hero) is ‘n tipies militêre liedjie wat manne sing terwyl hulle marseer – daardie tipe liedjies is gewoonlik nogal snaaks en effens skurf…

 

Liedjies wat matrose saam sing is oor die eeue heen ‘n bekende aspek van seelewe.  Die groep The Senate het by geleentheid hierdie volgende matroosliedjie op die verhoog opgevoer waar hulle ruimtevaart, eerder as seevaart gebruik vir die liedjie – Space Shanty.

 

Hierdie laaste klompie liedjies staan bekend as filk – ‘n tipe musiek wat spesifiek handel oor wetenskapfiksie, fantasie en gruwels.  Dit het reeds ontstaan in die 1950s maar het gewild geraak vanaf die 1970s.  Dit sluit ‘n wye versameling van musiekstyle in, en net soos “folk” (waarvan dit afgelei is deur per ongeluk ‘n spelfout te begaan) is dit meestal ‘n vertelling van gebeure wat in die liedjie deurgegee word.  En dis veel groter as wat mens dink, met kompetisies, feeste en pryse in die filkkategorie.  Wie weet, dalk kan iemand vir ons ‘n Afrikaanse filk-nommertjie stuur wat ons op die bladsy kan byvoeg…