Swart Ridder

Een van die aangrypendste verhale wat vertel word in die kringe van dié wat maklik glo in alternatiewe en maklik twyfel in dít wat populêr is, is die moderne mite van die Swart Ridder.  En natuurlik sou dit Afrifiksie ‘n oneer aandoen indien ons nie ook die aangrypende vertelling hier deel nie.

 

Die verhaal van die Swart Ridder lui as volg…

 

Eendag, lank, lank gelede – om die waarheid te sê 1300 jaar gelede, het daar ‘n gevorderde beskawing bestaan op die sesde planeet om die ster Upsilon Boötes in die konstellasie van die Veewagter.  Hulle het ‘n tipe uitreikprogram gehad om kontak te bewerkstellig met ander beskawings wanneer sulke beskawings ‘n voldoende vlak van tegnologie bereik het.  Ons weet nie presies hoe omvangryk hierdie program van hulle was nie, maar een van die gevolge van hul program is dat hulle ‘n satelliet na die aarde gestuur het wat nou reeds vir 1300 jaar lank om die aarde wentel.

Vir jare was die satelliet doodstil, tot Nikola Tesla in 1899 ‘n sensitiewe radio-ontvanger gebou het en seine vanuit die ruimte ontvang het (die seine is blykbaar ook deur Guglielmo Marconi waargeneem).  Dit het onmiddellik die fokus geplaas op die ruimte en in die 1920s het Noorweegse wetenskaplikes in Oslo ‘n vreemde waarneming gemaak – sogenaamde Lang Tydvertraagde Eggo’s.  Hierdie eggo’s sal ‘n radiosein wat uitgestuur word ‘n aantal sekondes later herhaal en terugstuur.  Met geen natuurlike verduideliking vir hierdie eggo’s nie, was die wetenskaplike gemeenskap dronkgeslaan.  In 1953 maak Dr. Lincon LaPaz van die Departement Wiskunde en Sterrekunde aan die Universiteit van Meksiko ‘n ontdekking gemaak met langafstand radar, dat daar ‘n vreemde voorwerp in ‘n wentelbaan om die aarde is wat hy nie kan verklaar nie.  In 1954 word daar in koerante aangekondig dat daar ten minste een satelliet in ‘n wentelbaan om die aarde is wat nié deur die VSA of die USSR (die enigste twee moondhede wat moontlik daartoe in staat sou kon wees) daar geplaas is nie – en die vermoede ontstaan toe dat dié satelliet die radioseine terugeggo.  Hierdie vreemde satelliet word ook onafhanklik in 1957 bevestig deur Dr. Luis Corralos van Venezuela terwyl hy waarnemings van Sputnik II gemaak het, en opgemerk dat die vreemde satelliet in ‘n retro-wentelbaan is – ‘n eienskap wat telkens bevestig is in latere waarnemings.

Toe, in 1960 is die satelliet gefotografeer deur die Gruman Vliegtuig Korporasie en in 1961 deur ook waargeneem deur die Smithsonian sterrewag in Cambridge.  Ander instansies oor die wêreld heen is versoek om te help om inligting hieroor te bekom deur waarnemings.  Een so ‘n geval was deur Jacques Vallée, werksaam by die Franse Ruimte Kommittee.  Hy en sy span het die “voorwerp” se waarneming in ‘n verslag gerapporteer, maar toe hul toesighouer dit sien het hy dit as onsin afgemaak en die band waarop die opname was doelbewus uitgevee – inderdaad vreemde gedrag…

Dit wil voorkom of die inwoners van Upsilon Boötes ‘n uitnodiging wou rig aan enige beskawing wat hulle satelliet sou teëkom.

In 1973 het ‘n Skotse sterrekundige, Duncan Lunan, van die oorspronklike opnames bestudeer en gepoog om die inligting te ontsyfer.  Hy het bekend gemaak dat hy die sein kon ontrafel wat blykbaar die volgende boodskap daarin bevat het.

…Ons tuiste is Upsilon Boötes – dit is ‘n dubbelster.  Ons woon op die sesde van sewe planete, beskou vanaf ons son (die groter een van die twee sterre).  Ons planeet het een maan – die vierde planeet het drie.  Die eerste en derde planeet het elk net een…

Hy het egter later hierdie bewering teruggetrek – mens wonder waarom hy dit in die eerste plek sou bekend maak om dit bloot later te onttrek.

Tydens ‘n ruimtesending in 1998, is die volgende foto geneem – moontlik van die Swart Ridder homself.

…of hierdie vergrote beeld van ‘n ander hoek af.

Natuurlik word daar verduidelikings aangebied deur die verskeie owerhede vir alles wat hier gesê is.  NASA sê byvoorbeeld dat die foto’s bloot ‘n termiese kombers is wat tydens ‘n vorige sending deur die ruimtevaarders verloor is, en dat die satelliet wat met radar waargeneem is dele van vorige vuurpyle is wat steeds om die aarde wentel.  Die vraag is wat wil jy glo oor hierdie saak.

Onder die moontlike verduidelikings wat al hiervoor voorgestel is, is die volgende:

  • Dat alles lawwigheid is en dat alles wat die owerhede vertel geglo kan word, want hulle sal tog nie vir Jan Alleman jok nie.
  • Dat dit werklik ‘n satelliet is van ‘n ander wêreld met ‘n uitnodiging vir ons, wat eers later sou ontwikkel, om dan wel kontak met hulle te maak.
  • Dat dit eintlik ‘n satelliet is wat deur die mensdom self geskep is voor daardie tegnologies gevorderde beskawing te gronde gegaan het.
  • Dat daar lankal buiteaardse wesens hier op aarde teenwoordig is, en dat owerhede (of dalk die illuminati) nie wil hê dat dié feit algemeen onder die bevolking bekend mag word nie – vandaar die verklarings wat telkens al te gerieflik verskaf word.

Dit bly dus ‘n ope vraag.  Dis altemit nie so ‘n ongelooflike idee om te dink dat iemand ‘n adres sal stuur vir ‘n onbekende party op ‘n ander tyd en plek om later kontak te maak nie, tewens ons het dit al self gedoen op diepruim peilers wat die mensdom die ruimte ingestuur het, soos hierdie vertoonplaat wat op Voyager II aangebring is en tans op pad is om ons sonnestelsel te verlaat en uiteindelik deur iemand daar doer ver gevind te word.

Een ding is verseker, die wetenskap kan tot vandag toe nog nie verklaar hoe Lang Tydvertraagde Eggo’s deur die natuur self veroorsaak word nie.  En buitendien, waarom sou mens uit vrye wil wou kies om iets wat so ‘n verbeeldingryke moontlikheid voorstel, af te maak as maar net ‘n klomp koue feite wat gerieflikheidshalwe deur dié in posisies van mag vir ons opgedis word…?