Paranormaal

 Die paranormale het te doen met al die vreemde verskynsels waarvan ons al gehoor het (maar gewoonlik nie self ervaar het nie), en wat boos en onheilspellend voorkom. Hierdie kategorie sluit onder andere dinge in soos vlieënde pierings, telepatie, buitesintuiglike waarneming, spoke, telekinese, heldersiendheid, die Bermuda-driehoek, astrale projeksie, die monster van die Vaaldam, en baie ander ook. Hierdie is die dinge wat die wetenskap nie tans kan verklaar nie, maar waarvoor daar (in alle waarskynlikheid) wel wetenskaplike verklarings bestaan of gevind sal kan word.

Die woord “paranormaal” het sy oorsprong in omtrent 1920 en beteken “wat  amper, maar nie heeltemal normaal is nie” of “wat ‘n nabootsing is van dít wat normaal is“.

Die paranormale, wanneer dit in spekulatiewe fiksie aangewend word, word gewoonlik beskou as wetenskapfiksie (WF).

Baie van die dinge wat as paranormaal beskou word, soos spoke en toekoms-voorspelling, kom onheilspellend voor en daarom is daar dikwels ‘n weersin in alles wat daarmee te doen het – insluitend wetenskapfiksie in sommige gevalle.

‘n Omvangryke, dog beperkte werk wat handel oor verskeie aspekete van die paranormale, is Thys Sadie se boek Reis na die Onsigbare Wêreld.

Die boek gaan op ‘n relatief kliniese wyse om met die materiaal sonder om die leser ongemaklik te laat voel of ‘n spesifieke siening hieroor op die leser te probeer afdruk. Die skrywer bied bloot materiaal aan wat uit ‘n omvattende ondersoek voortgespruit het en laat die leser self besluit wat nodig is om te glo. Indien jy ‘n kopie hiervan aan die hande kan kry, is dit verseker die moeite werd.

Nog ‘n werk wat met sekere ander elemente in hierdie verband handel is die boek van Peter HurkosSesde Sintuig.

Nog ‘n boek wat interessante perspektiewe in hierdie verband deel, is die boek In gesprek met Eugène Marais oor… Die Bonatuurlike wat deur die Eugène Marais Stigting uitgegee is.

Hoewel die titel dui op die bonatuurlike, is die inhoud inderdaad eerder van ‘n paranormale aard wat ‘n aantal verstommende verhale en sienings in hierdie veld met die leser deel.

Vir ‘n godsdienstige perspektief op hierdie sake, kan daar gerus gekyk word na Prof. F.J.M Potgieter se werk Heldersiendheid, Goëlery en ander Okkulte Verskynsels.

Die vlieënde piering oftewel ‘n vreemde vlieënde voorwerp (VVV) is van besondere belang in hierdie kategorie, omdat hierdie spesifieke verskynsel tot baie werke van wetenskapfiksie gelei het of as inspirasie daarvoor dien.