Woordboeke

Vir die skrywer, die leser en selfs net die gebruiker wat Afrikaans as taal verkies is dit nodig om woorde te kan vind. Dit is ‘n feit dat die meeste van die tegnologiese vooruitgang in Engels gebeur weens die groot getal mense wat Engels-sprekend is of wat Engels magtig is en dit verkies om hul tegnologiese werk in Engels aan die wêreld bekend te maak.

Gelukkig het baie mense wat ‘n liefde vir Afrikaans koester oor tyd woordeboeke in ‘n groot aantal studievelde saamgestel sodat ons vandag meer Afrikaanse woorde in sulke velde besit as in baie (of dalk die meeste) ander tale buiten Engels. In hierdie deel stel ons ‘n aantal sulke woordeboeke bekend wat ‘n mate van oorvleuling het in die gebiede van WF+F.

Een van die velde wat seker onder die meeste druk verkeer as gevolg van die chroniese vooruitgang is die digitale wêreld van rekenaars. Gelukkig is daar reeds in hierdie veld al baie werk gedoen, en bestaan daar reeds sedert 1985 die Tweetalige Rekenaarwoordeboek deur Coetzee, Du Plooy en Cluver.

Daar bestaan egter ook ‘n meer onlangse publikasie in hierdie veld, naamlik die Kuberwoordeboek deur Prof. H C Viljoen et.al.

 Vir die baie werke van WF wat onder die water afspeel, is daar ‘n baie nuttige Oseanologiewoordeboek deur J R E Lutjeharms.

En dan is daar natuurlik die ruimte – die groot veld in wetenskapfiksie. ‘n Goeie woordeboek in hierdie veld is die Sterrekundewoordeboek deur J H de Klerk.

Vir die algemene terme van ‘n tegniese aard, is die Tegniese Woordeboek deur die taalkundige Dr. H J Terblanche die beste werk in sy veld.

En dan, natuurlik, is daar die Thompson Woordeboek vir Wetenskapfiksie. Dit is ‘n omvangryke werk wat baie woorde bevat wat andersins nie geredelik in die meeste woordeboeke voorkom nie.

 

Hierdie woordeboek ondergaan tans ‘n grootskaalse hersiening om dit aan te vul en uit te brei om selfs meer relevant te wees binne die Afrifiksie konteks.