Griffioen

Die griffioen, of ook soms ‘n griffoen genoem, is ‘n hibriede mitologiese wese. Dit wil sê dat dit ‘n samestelling is wat uit meer as een tradisionele wese bestaan – in dié geval het dit die agterlyf van ‘n leeu en die voorlyf van ‘n arend (wat wel ook die vlerke insluit).

Hierdie verbeeldingryke wesens dateer terug in die geskiedenis van Egipte en die Midde-Ooste tot 3 000 v.C. Aangesien die leeu as die koning van die diere beskou word en die arend as die koning van die voëls, word die griffioen gesien as die koning van alle diere.

Afbeeldings van griffioene kom selfs in sekere Christen kerke voor. Die dier was klaarblyklik gesien as ‘n sinnebeeld van Jesus Christus deurdat dit ‘n menslike aardse wese het in die aardgebonde leeu en ‘n geestelike wese in die arend. En natuurlik word altwee in die Bybel aangetref as wesens waarmee God (of Jesus spesifiek) vergelyk word.

Hierdie diere is algemeen uitgebeeld as edel en feitlik nooit as boos nie. Hulle neem slegs een lewensmaat waaraan hul lewenslank getrou bly – indien een sterf sal die ander ‘n alleenloper bly vir die res van sy (of haar) lewensduur.

Met die koms van gerekenariseerde spesiale effekte is die wesens so realisties dat mens sou sweer dat hierdie diere werklik bestaan. Die besonderhede is so sorgvuldig uitgebeeld en die bewegings so lewensgetrou dat dit kwalik geglo kan word dat hulle eintlik maar bloot in die verbeelding kan bestaan.

In Narnia sien ons hoe hierdie wesens ‘n formidabele wapen kan wees in ‘n konflik – behoorlik soos bomwerpers wat ‘n groot strategiese voordeel in ‘n oorlog kan wees.

En selfs in The Spiderwick Chronicles word hierdie magiese wese aangetref.

In Harry Potter kry ons te doen met ‘n aanverwante wese wat baie soortgelyk is aan die griffioen, naamlik die hippogrief. ‘n Hippogrief is ‘n dier met die agterlyf van ‘n perd en die voorste deel van ‘n arend. Hulle is blykbaar die produk van ‘n kruising tussen ‘n perdemerrie en ‘n griffioen.

Hulle is trotse diere wat respek vereis, en wat gevaarlik en humerig is wanneer hulle dit nie ontvang nie – soos Draco Malfoy wel uitvind voor Hagrid hom red.

Daar is geen twyfel dat ons nog lank nie die einde van hierdie fantastiese diere gesien het nie – nie met skeppers soos J.K. Rowling wat steeds nuwe materiaal met fantastiese wesens uitdink nie…