Hekse

Dis amper onnodig om vir iemand te probeer verduidelik wat vir ‘n ding ‘n heks is.  Vir die meeste van ons, is dit reeds van baie vroeg in ons lewe ‘n bekende en veral gevreesde affêre.  Gewoonlik is ‘n heks ‘n vrou wat in staat is (of opgelei is) om te kan toor – en sy is gewoonlik boos of sleg.

Die mees algemene idee van ‘n heks is ‘n vrou in ‘n lang swart gewaad met ‘n punthoed en wat op ‘n besem vlieg – en wat gewoonlik ‘n swart kat as troeteldier het.  Daar is natuurlik gevalle waar ‘n heks as onskadelik of selfs nimlik uitgebeeld word soos in Verna Vels se Liewe Heksie – ‘n reeks boekies vir kinders wat later tot ‘n televisiereeks vir kinders uitgebrei was.  Die storie is opgedeel in episodes van Levinia, ‘n onskadelike en onbekwame heks, wat saam met ander karakters in Blommeland woon en saam verskeie avonture beleef.

Die grootste gros van hekse (bekende en indrukwekkendste hekse) wat egter in die wêreld van fantasie aangetref word, is bose monsters.  Om die een of ander rede is daar ‘n geneigdheid in die genres van gruwels dat vroue wat boos en afskuwelik is, veel meer dikwels gebruik word as manlike karakters.  Dink byvoorbeeld aan die towenaars wat in fiksie aangetref word – wat maar op ‘n manier die manlike ekwivalent van hekse is.  Die meeste towenaars is nie spesifiek boos nie – baie van hulle is eerder goed.  Maar die wêreld van hekse word grootliks oorheers deur bose wesens wat in elke opsig verafsku moet word.

Een goeie voorbeeld van so ‘n afskrikwekkende wese, is koningin Bavmorda uit die 1988 fliek, Willow – nog ‘n skepping van die befaamde George Lucas.  Sy is die magtige heerser van die ryk en gebruik haar toordery om haar vyande te verslaan.

Hierdie heks was só magtig dat sy die ganse leër met perde en al in ‘n spul varke verander het met ‘n enkele towerspreuk – hoe’s daai…?

In die 2013 rolprentweergawe van die verhaal van Hansie en Grietjie, naamlik Hanzel and Grettel, kry ons met ‘n interessante perspektief op hierdie kinderstorie te doen.  Daar is naamlik nie net een heks wat in die storie voorkom nie, maar die twee kinders word groot en word dan professionele heksjagters.  Tydens hul avonture kruis hul paaie met talle hekse en kry ons ‘n beter idee van presies hóé erg sulke wesens kan wees.  Niks minder nie as die afgryslikste monsters wat jy jou kan voorstel!

En hoewel die skaal waarop hierdie hekse towery beoefen veel kleiner is as Bavmorda s’n, is dit verstommend hoe taai hulle is en hoe wild en bekwaam hulle teen volwasse mans kan baklei.

Maar natuurlik is hekse dikwels eintlik ‘n wesens wat spesifiek op kinders gemik is.  Hierdie idee kom telkens voor, en in die fliek Witches (1990) uit ‘n boek van Roald Dahl, sien ons hoe hierdie bose wesens op kinders teer.

Maar daar is darem ook ‘n aantal goeie hekse waarmee mens in fantasie te doen kry – die mees bekendstes hiervan kom in Harry Potter voor, en Harry se vriendin Hermione Granger is ‘n voorbeeld hiervan.  Maar dis professor Minerva McGonagall wat die mees aangrypende towery van al die hekse in die reeks beoefen, soos hierdie keer toe sy Hogwarts wou beskerm deur die klipbeelde laat lewendig word en teen die aanvalsmag laat veg.

Maar selfs in hierdie reeks moet mens nie vergeet dat een van die heel boosste karakters juis ook ‘n gewetenlose heks is nie, naamlik Bellatrix LeStrange – wat talle hekse en towenaars vermoor het…

‘n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat hekse bloot fiktief is nie.  Selfs in die Bybel lees ons van hulle, soos die heks van Endor. En selfs in die verligte eeu waarin ons tans leef, is daar baie wat steeds glo in hekse.  In 2013 is daar ‘n nuwe wet in Swaziland geproklameer wat hekse verbied om hoër as 150 meter te vlieg.  Volgens dié wet sou enige heks wat hoër as dit vlieg die gevaar loop om gearresteer te word en in ‘n hof verhoor te word.  Miskien is hulle bang dat sy dalk kon inmeng met lugverkeer – wie weet…?

Maar een ding is seker – goed of sleg, hierdie karakters is ‘n belangrike en kleurvolle toevoeging tot die wêreld van fantasie – en ons sal nog baie met hulle in stories en in ons verbeelding te doen kry…