Onsigbaarheid

Van die heel gunsteling vorme van wensdenkery van die mens, naas die begeerte om te kan vlieg, is om onsigbaar te wees. Hierdie idee het oor tyd ‘n beduidende impak gemaak in die fantastika. En dit kom beide as ‘n troop in fantasie en in wetenskapfiksie voor.

In die uiters gewilde en ouer fantasie soos Heer van die Ringe kry ons vroeg reeds daarmee te doen as een van die eienskappe van die ring – die sentrale element waaroor die ganse werk handel. Die ring gee die draer daarvan onmiddellike onsigbaarheid sodra dit aan die vinger geplaas word, soos hier gesien kan word in die toneel waar Frodo op dié wyse oënskynlik verdwyn.

Maar natuurlik is onsigbaarheid so ‘n tydlose element, dat dit selfs in die relatief resente Harry Potter gebruik word met die Mantel van Onsigbaarheid, soos in hierdie videogreep gesien kan word.

Maar natuurlik is hierdie verskynsel nie beperk tot fantasie alleenlik nie. In die fliek Predator gebruik die hoofkarakter ‘n tipe dinamiese kamoeflering om sy sigbaarheid te verminder – hy is derhalwe nie geheel en al onsigbaar nie, maar uiters moeilik om waar te neem.

Of wat selfs nog beter waargeneem kan word in hierdie videogreep waar die tegnologie besig is om te faal.

Dit is egter selfs moontlik om onsigbaarheid op groot skaal toe te pas, en selfs in ruimte-WF soos wat gesien kan word in die Star Trek voorbeeld waar die Enterprise hier toegerus is met ‘n sluiertoestel en homself ontsluier sodat dit gesien kan word.

In ‘n meer onlangse wetenskapfiksiefliek word rekenaartegnieke gebruik om feitlik onsigbaar te wees, soos gesien kan word in die greep uit The Ghost in the Shell.

In Afrikaans is daar ook oor tyd met hierdie verskynsel geëksperimenteer. In 1955 verskyn die interessante werk van H G Wells, vertaal in Afrikaans deur J Kromhout, Die Onsigbare Man. Hierdie boek spreek nie net tot die ongelooflikheid van onsigbaarheid nie, maar verken ook die sosiale implikasies daarvan. Dis ‘n merkwaardige boek en word sterk aanbeveel.

‘n Meer onlangse boek wat spesifiek oor hierdie onderwerp handel en wat in Afrikaans geskryf is, is JB Botes se Kobus en die Wasem. Hierin word die verhaal van twee jong seuns gevolg met hul wedervaringe met onsigbaarheid.

Selfs op vroeë Suid-Afrikaanse televisie was daar die oorgeklankte Amerikaanse TV-reeks, Die Man van Intersek (Gemini Man, in Engels) wat in 1976 uitgesaai is en wat redelike gewildheid ervaar het.

Afrikaanse Terme:

Engels Afrikaans Engels Afrikaans
Invisible Onsigbaar Transparent Deursigtig
Translucent Deurskynend Opaque Ondeursigtig
Murky Troebel Cloak (s.nw.) Sluier, sigsluier
Cloaking device Sluiertoestel Cloak (ww.) Versluier
Decloak (ww.) Ontsluier Disappear Verdwyn
Appear Verskyn Materialize Materialiseer
Dematerialize Dematerialiseer Phantom Skim
Camouflage Kamoefleer Vanish Verdwyn
Clear Helder