WF Stede

Die konsep van ‘n stad is ‘n oeroue idee wat al deel van die mensdom se geskiedenis is vir duisende jare. Nedersettings waar daar in groepe saamgewoon word, word later as dorpe bestempel en steeds later as stede.

In gevalle van primitiewe omstandighede met ‘n eenvoudige samestelling van ‘n homogeen etniese bevolking, kan daar na ‘n stat eerder as ‘n stad verwys word (spesifieke Afrikaanse verskynsel), waarvan die meervoudsvorm dan statte is eerder as stede.

Maar die idee van stede is iets wat uiters dikwels as ‘n agtergrondselement en soms as die primêre fokus van ‘n WF-storie voorkom.

Wanneer ‘n stad baie groot word, kry dit soms die status van ‘n metropolis – dit bestaan gewoonlik oor meer as een afsonderlike dorpe of kleiner stede wat sodanig uitgebrei het dat hulle aan mekaar begin raak sodat dit in wese as ‘n enkele entiteit gesien kan word.

In 1927 (omtrent met die verskyning van Loeloeraai deur C.J. Langenhoven) word die distopiese, Duitse stilfliek Metropolis deur Fritz Lang uitgereik – juis met die fokus op ‘n stad en die spanning wat bestaan tussen twee klasse wat in die stad teenwoordigheid het.

Die idee van ‘n stad wat uit ‘n groot aantal verskillende nasionaliteite bestaan word in die onlangse fliek (2017) Valarian and the city of a thousand planets op uiters vermaaklike wyse getoon. Die stad, Alfa, wat in ‘n reuse ruimtestasie bestaan word bewoon deur verskeie spesies – onder andere wesens wat onder water lewe.

En natuurlik sal stede dikwels in die hoofstroom van wetenskapfiksie voorkom, soos die Wolkestad wat dryf (of dalk sweef) in die atmosfeer van die planeet Bespin in die Star Wars heelal.

Drywende stede kom verstommend dikwels voor in WF+F, met nog so ‘n voorbeeld in die fliek Alita: Battle Angel, waar die stad Zalem hoog, buite bereik van die mense op die bodem dryf.

‘n Ander interessante stad-idee wat ook in Star Wars voorkom, is die idee van ‘n ekumenopolis – ‘n stad wat só reusagtig is dat dit die totale oppervlak van die planeet bedek. Planeet Coruscant is ‘n voorbeeld hiervan wat dus ‘n planeetstad is.

En dan is daar natuurlik die onderwaterstad Otoh Gunga (of Gunganstad) op planeet Naboo wat versteek is in ‘n meer Paonga vir beskerming.

Uiteindelik kry ons skielik te doen met die idee van ‘n bewegende stad in die fliek John Carter (2012) waar die stad Zodanga op Mars oor die oppervlak van die planeet loop met reuse meganiese pote – kompleet soos ‘n massiewe insek.

‘n Nuwe fliek is egter tans in die pyplyn en word bestem vir uitreiking in Desember 2018, naamlik Mortal Engines. Hierdie fliek is ‘n stoompunk uitbeelding van ‘n post-apokaliptiese aarde waar daar desperaat gespook word om te oorleef in die lig van ‘n voortdurende tekort aan hulpbronne. In hierdie storie is stede mobiele entiteite wat soos organismes optree in ‘n stryd op oorlewing. Kyk gerus die lokprent hieronder om meer oor hierdie fliek te wete te kom.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”17″]

Een ding is seker, dat die idees vir interessante tipe stede nog lank nie uitgeput is nie, en ons sal waarskynlik nog baie tipes in die toekoms sien.