Mekka

Een van die mees ongelooflike elemente wat soms in wetenskapfiksie voorkom, is mekka (of meg). Die woord is eenvoudig ‘n transliterasie van die Japanese woord, en dis nie verbasend nie want die Japanese WF-skeppers maak baie dikwels hiervan gebruik.

Mekka is ‘n woord wat in Japannees afgelei is van die woord “meganies” of “gemeganiseerd”, en dit dui spesifiek op wapens of voertuie (of soms ‘n kombinasie daarvan) wat nie spesifiek vlieg of vaar of ry nie. Dis eerder wapens of voertuie wat met bene of pote rondbeweeg soos ‘n tipe landdier of mens.

Die hele idee en voorkoms van hierdie tipe voertuie is uiters vreemd vir ons, die inwoners van hierdie planeet, omdat die verloop van die tegnologie van die mensdom nie verloop het om sulke voertuie of wapentuig te ontwikkel nie. Die mensdom se tegnologie het eerder ontwikkel om draaibeweging te benut, en feitlik al ons enjins en tegnologiese aandrywing maak gebruik daarvan om met wiele te beweeg. En juis daarom lyk enige fliek of strokiesprent besonder wetenskapfiksieagtig wanneer daar met wiele weggedoen word en daar van lopende voertuie gebruik gemaak word.

Die meerderheid van hierdie voertuie, veral in die Japanese wetenskapfiksie, is reuse mensagtige robotte wat ‘n kajuit bevat waarin die vegter of bestuurder klim om dan daarmee te veg of rond te beweeg. In die Japanese vorme hiervan is hierdie reuse robotte gewoonlik baie swaar gewapen en gepantser om aan skouspelagtige tweegevegte deel te neem.

Selfs van die groot WF-handelsmerke maak van die idee van mekka gebruik – dink byvoorbeeld aan Star Wars se imperiale magte. In Star Wars word die mekka-eenhede meestal gebruik as swaar pantser wat offensief aangewend word.

Dis nie maklik om aan ‘n goeie rede te dink waarom sulke lopende wapens ‘n goeie idee is nie, want die instandhouding moet skrikwekkend wees. Moontlik is dit rede om die vyand te intimideer, want hierdie wapens boesem vrees in en lyk werklik soos monsters wanneer hulle op ‘n teiken afpyl.

Ander flieks wat onlangs van mekka gebruik gemaak het is Avatar waar soldate in hierdie tipe wapentuig beweeg om hul sterker en meer weerbaar te maak.

In The Ghost in the Shell word ‘n sogenaamde spinnekoptenk gebruik – dis ‘n tipe ge-outomatiseerde wapen wat outonoom optree en met die vyand slaags raak.

In War of the Worlds maak die mensdom ook kennis met die verkeerde kant van hierdie tipe tegnologie.

En dan in die Alien-reeks word ‘n lopende laaikraan gebruik om te werk en later in die fliek teen die monster te veg.

Hoewel daar enkele voorbeelde in die geskiedenis van die mens is waar daar lopende masjiene ontwikkel is, is die meeste daarvan maar bloot eksperimenteel gewees of gebou deur entoesiaste wat daarin belangstel as ‘n stokperdjie. John Deere het egter relatief onlangs ‘n lopende implement bekend gestel om in bosbou gebruik te word. Die tegniese uitdagings is vermoedelik geregverdig in die lig van die besonder uitdagende omgewing waarin sulke masjiene gebruik word.

Daar is ook verskeie militêre projekte tans in ontwikkeling om dieragtige wapens te ontwikkel om troepe te ondersteun en wat self aan ‘n geveg kan deelneem. Hoe dit ook al uitspeel, dit sal nog vir ‘n lang tyd in die besit van wetenskapfiksie bly voor dit in algemene gebruik op aarde gesien sal word.