Star Wars

Daar is oomblikke in die geskiedenis wat die wêreld vir altyd verander, sodat niks ooit daarna weer dieselfde sal wees nie. Dink byvoorbeeld aan die dag toe die eerste atoombom op die stomme Hirosjima gebruik is. Van daardie oomblik af sou die mensdom nooit weer ‘n wêreld ken waarin ons nie vrees dat die een of ander mal wetenskaplike of staatshoof  ons op ‘n pad sou plaas wat noodwendig sou lei tot die uitwissing van die ganse mensdom, of minstens die beskawing soos ons dit ken nie. En kyk gerus na die magdom wetenskapfiksie wat juis oor hierdie vrees van die mens handel en die een distopia na die ander optower.

In 1977 ontplof die atoombom, of dalk eerder die antimateriebom, in die verbeelding van ‘n hele geslag aanhangers van die wetenskapfiktiewe wêreld met die fliek Star Wars. Nuus oor hierdie skouspelagtige en aangrypende verhaal van lank gelede in ‘n sterrestelsel wat baie, baie ver weg is, het soos ‘n veldbrand versprei. In baie fliekteaters het dit nuwe rekords opgestel vir die langste wat ‘n fliek bly draai het – vir maande aaneen, en in sekere gevalle vir jare.

In Suid-Afrika was dit geen uitsondering nie. Geen seun wat op laer- of hoërskool was kon dit bekostig om te erken dat hy dit níe gesien het nie. Die karakters se name was op almal se lippe en absoluut almal wou ‘n Jedi wees.

Maar was Star Wars werklik so groot, of oordryf ons nou die ware stand van sake? Die werklikheid is selfs groter as wat die meeste van ons besef. Star Wars was die eerste wat karakters en storielyne oor die grense van ‘n enkele fliek laat strek het sodat dieselfde karakters in volgende flieks met ‘n avontuur kan voortgaan. Baie van die spesiale effekte en later digitale skepping van geanimeerde tonele was geskep spesifiek vir hierdie reeks van flieks – tegnieke wat later deur ander grootse flieks soos Die Heer van die Ringe gebruik sou word.

En dan is daar die hele idee om handelsmerkware aan die kykers en entoesiaste te verkoop, soos klere, speelgoed, tydskrifte, ens. – iets wat nooit van tevore bestaan het nie en wat vandag ‘n reuse industrie in eie reg geword het.

Maar dit alles kom uiteindelik neer op die visioenêre insig van ‘n enkele individu – in die geval Geore Lucas wat eiehandig waarskynlik die enkel grootste bydra gemaak het tot die moderne film-industrie.

Vandag leef ons in ‘n wêreld waarin Star Wars een van die bekendste elemente van ons bestaan geword het.

Die Star Wars-heelal het amper so groot geword soos die sterrestelsel waarbinne dit afspeel. Dink jy miskien jy ken Star Wars? Die meeste mense sal “ja” op die vraag antwoord, maar sal totaal verkeerd wees (klik op die prent om dit te vergroot).

Ja, soos gesien kan word bestaan die handelsmerk, en selfs die kanon daarvan, uit flieks, boeke, jeugboeke, strokiesprente, TV-speletjies en animasie TV-reekse. En baie van dit wat Star Wars werklik is, word alleenlik maar in van die ander media as die flieks teëgekom. So byvoorbeeld kom die kleurvolle Ashoka Tano (die Jedi-student (padawan) van Anakin Skywalker) tot nou toe nie in die flieks voor nie maar wel in die animasiereekse, die strokiesverhale en in van die boeke. Maar moenie ‘n fout maak nie – sy word wel gereken as deel van die kanon te wees.

Dan is daar die ongelooflike wêreld wat deur ander (aanhangers en entoesiaste) geskep word oor Star Wars, soos die Wookieepedia – ‘n tipe aanlyn-ensiklopidie oor dinge in Star Wars, selfs dinge wat buite die kanon geskep word. Of die ongelooflike groepe mense wat hulself graag op karakters van die handelsmerk modeleer of bloot by geleentheid hulself optooi en die rol van ‘n karakter aanneem in die volle mondering – sogenaamde maskerspel.

Maar dis die ongelooflike wêreld van George Lucas wat die verbeelding aangryp. Die tegnologie, die baie spesies en volke, die bonatuulike element van Die Fors, die skouspelagtige boosheid van die boewe, ens.

Daar is skynbaar geen grense vir dié genie se verbeelding nie, en selfs die sterrestelsel waarin die verhaal afspeel is regtig indrukwekkend – kyk gerus na die Star Wars-sterrestelsel soos dit voorgestel word (klik op die prent om dit te vergroot).

Star Wars het ‘n tipe parallelle werklikheid met ons eie ingeneem. Dis ‘n diep put van inligting en karakters, stories en intrige en werklike boosheid teenoor hoop en die goeie. Elke element wat die verbeelding kan hanteer is deel van hierdie verhaal, en nou dat Disney die handelsmerk bekom het word ons bederf met gereelde nuwe aflewerings in hierdie WF-sprokie wat in ons eie lewe besig is om voor ons oë te ontvou. Mag die verbeelding nooit ophou nie, en mag die Fors met jou wees…