Wetenskap

Wetenskapfiksie behels vele velde en studierigtings en dit sal onmoontlik wees om al die bronne vir al die velde te gee. Sekere vertakkings binne die natuurwetenskap kom egter meer algemmen binne die wetenskapfiksie voor as ander, en in hierdie deel sal ‘n daar op ‘n aantal goeie Afrikaanse bronne gefokus word.

Om wetenskapfiksie te verstaan en waardeer, is ‘n basiese kennis van die natuurwetenskap nodig. Skoolvlak wetenskap is gewoonlik voldoende om die meeste werke van WF te verstaan en geniet. Harde WF is gewoonlik meer akademies, en ‘n meer omvattende begrip van wetenskap is dan wenslik.

‘n Goeie werk in Afrikaans om ‘n redelik volledige kennis en agtergrond te verkry in sterrekunde, is die werk van JE van ZylOntsluier die Heelal.

Hierdie werk gee ‘n deeglike oorsig oor die belangrikste elemente van sterrekunde, en word op ‘n logiese en toeganklike manier aangebied.

Die groter wetenskaplike konteks van die wêreld waarin ons woon, kan gevind word in Die Groot GedagteAbstrakte Weefsel van die Kosmos deur Gideon Joubert. Hierdie topverkoper is verskeie kere herdruk weens die populariteit daarvan en gee ‘n perspektief op verskeie wetenskaplike aspekte van die twintigste eeu.

‘n Werk wat spesifiek oor die ewolusie van lewe op Aarde handel, en wat maklik toeganklik is vir die gewone, nie-wetenskaplikopgeleide, man op straat, is Die Groot Avontuur deur Leon Rousseau. Leon was ook, onder meer, een van die mees suksesvolle Afrikaanse wetenskapfiksieskrywers.

‘n Werk wat in goeie Afrikaans poog om ‘n begrip te skets van ons heelal en kwantumfisika, met redelike sukses, is die boek van Maryna BomerusMeer as ‘n Metafoor.

Hierdie boek gee ook baie interessante perspektiewe oor dít wat ons as die werklikheid beskou en mense wat die fliek The Matrix geniet het, sal hierdie boek baie stimulerend ervaar.

Ongelukkig is geen van hierdie boeke geskikte slaaptyd leesstof nie en ‘n hoë mate van konsentrasie is nodig om reg daaraan te laat geskied. Maar dit is verseker die moeite werd.