‘n Heelal van handelsmerke

Wetenskapfiksie en fantasie manifesteer dikwels as ‘n werk wat as ‘n enkele skepping ‘n reuse sprong maak en die WF+F-heelal uitbrei of bloot ‘n storie byvoeg. Só ‘n werk staan gewoonlik alleen en word nooit verder ontwikkel nie, hoewel daar dalk later ‘n hersiening kan plaasvind en dit weer uitgereik word – moontlik met nuwe materiaal of in ‘n meer moderne idioom.

Maar dit gebeur toenemend dat werke wat suksesvol is, uitgebrei word tot ‘n reeks wat  telkens die heelal van die spesifieke storie laat aangroei en dit groter maak. Hierdie verhale neem gevolglik toe in kompleksiteit maar ook in terme van die hoeveelheid aanhang wat dit geniet. Op ‘n stadium raak die aanhangerkorps só groot dat dit ‘n gemeenskap raak wat in sigself ‘n invloed begin uitoefen op die inhoud van die kollektiewe heelal en die toekoms van die storie.

Die verhaal raak gevolglik ‘n handelsmerk in eie reg wat binne ‘n heelal bestaan wat geskep word deur die verskillende episodes en werke wat geskep is oor die leeftyd (of tydperk van bestaan) van die reeks. Tipiese handelsmerke binne die veld van WF+F is Star Wars, Harry Potter, Star Trek, ens.

Elk van hierdie name beskik natuurlik oor sy eie heelal, byvoorbeeld Star Wars bestaan binne ‘n onbekende sterrestelsel tydens ‘n onbekende tydstip êrens in die verre verlede. Met elke volgende episode (elke nuwe boek of fliek) het die heelal groter geword deur meer planete, karakters, ruimtetuie, tegnologieë, ens. by te voeg – wat natuurlik totaal verskil van die heelal waarbinne Harry Potter bestaan.

Baie van die werke waaruit so ‘n reeks bestaan gebruik herhaaldelik dieselfde karakters en ander elemente van die heelal van die betrokke handelsmerk. Soms gebeur dit egter dat sekere van die werke, hoewel dit steeds binne die heelal van die handelsmerk afspeel, nie dieselfde karakters gebruik nie en nuwe (of ander) karakters aanwend. Só ‘n werk staan bekend as ‘n antologie-werk van die handelsmerk. Een so ‘n voorbeeld uit Star Wars was die fliek Rogue One wat wel dieselfde elemente gebruik en ‘n aanvullende storielyn van die reeks ontwikkel, maar uit karakters bestaan wat nie voorheen in die heelal van die handelsmerk gebruik was nie. Nog so ‘n voorbeeld is die fliek Fantastic Beasts and where to find them wat ‘n antologie-fliek was in die Harry Potter heelal. En hoewel daar na Hogwarts verwys word, kom geen van die karakters uit die res van die reeks daarin voor nie.

Twee antologieë uit onderskeidelik Star Wars en Harry Potter

Elke groot handelsmerk in WF+F het ‘n reuse ondersteunerstal wat dikwels kultus-afmetings aanneem. Aanhangers sal soms kostuums dra wat uit die heelal van ‘n betrokke handelsmerk ontleen is, praktyke naboots en selfs tale aanleer en praat – so byvoorbeeld is daar ‘n aantal aanhangers wat Klingon praat wat uit die Star Trek heelal dateer – bloot omdat dit bestaan en omdat hulle kan. Ongelooflik.

Hierdie kultusvorm van aanhang manifesteer ook op ‘n heel sigbare en demonstratiewe wyse deurdat aanhangers spesiaal klere laat maak, hare laat groei, grimering laat aanwend, bykomstighede soos wapens aanskaf – alles sodat hulle soos hul gunsteling karakter kan lyk en dan só in die openbaar verskyn of saam met ander byeenkomste kan bywoon. Soms sal hul selfs verhoudings aangaan met iemand wat op soortgelyke wyse die ooreenstemmende karakter uitleef teenoor wie hul eie karakter in die storie in ‘n romantiese verhouding staan sodat die fantasie in hul eie lewe ook uitgespeel kan word. Dié verskynsel staan bekend as maskerspel of kostuumspel, en daar bestaan ‘n ganse sub-industrie wat spesialiseer in uitrustings vir hierdie doel.

Maar die volgers is nie tevrede om bloot te kyk, te luister en na te volg nie. Toenemend raak dit die norm dat hulle ook begin bydra tot die heelal. Met die toenemende toegang tot tegnologie soos rekenaars, selfone, rolprentkamera’s en Photoshop, begin aanhangers hul eie strokiesprente, manuskripte en video’s vervaardig wat die karakters se lewens aanvul of toevoeg tot die storielyne wat reeds in die heelal van die handelsmerk geskep is. Hierdie volgerfiksie (volgerflieks, volgerstrokies, ens.) skep dus nuwe inhoud binne die heelal van ‘n handelsmerk wat soms die teenkanting van die handelsmerk tot gevolg het. Nietemin raak ander aanhangers dan ook bewus van hierdie bykomstige inhoud wat moontlik kan bots met toekomstige uitreikings deur die handelsmerk self. Om hierdie rede word sekere amptelike uitreikings deur die houers van die handelsmerk as die kanon (uitgespreek as kânon – soos vir die kanonieke boeke van die Bybel) beskou, en die res nie. Publikasies onder die handelsmerk sal gewoonlik die kanon in stand hou en nie daarvan afwyk nie.

Hoewel die meeste handelsmerke nie die skepping van materiaal deur buitepartye toelaat nie, of selfs so ver sal gaan om dit as ‘n skending van die handelsmerk te sien, begin hierdie benadering toenemend verander en word dit selfs in sekere gevalle aangemoedig deur kompetisies te hou en pryse toe te ken vir die beste volgerfiksie bydraes of skeppings.

Dit gebeur soms dat sekere van die aanhangers materiaal skep wat sekere van die elemente van die bestaande heelal verander, byvoorbeeld dat ‘n karakter in ‘n liefdesverhouding staan met ‘n ander karakter as in die kanon, of dat die seksuele oriëntasie van ‘n karakter verander word. Vir dié tipe volgerfiksie ontstaan daar dan dus ‘n gewysigde heelal.

Nog ‘n verskynsel kan soms die heelal van die handelsmerk aantas. Dit gebeur soms in ‘n episode van ‘n reeks, of deur volgerfiksie, dat die gewone heelal op verskeie maniere omgekeerd voorgestel word teenoor die normale. Goeie karakters kan boos wees, vredeliewende volke kan dalk oorloglustig wees, ens. om ‘n sogenaamde spieëlbeeld-heelal te skep.

In sekere gevalle dra verskeie skrywers (skeppers) by tot die materiaal van ‘n sekere storie, deur verskillende lyne van ‘n storie te ontwikkel binne ‘n spesifieke heelal. Daar word dan na so ‘n heelal verwys as ‘n gedeelde heelal.

‘n Handelsmerk begin gewoonlik met ‘n storie wat uitgebeeld word binne ‘n spesifieke medium, bv. Star Wars se primêre medium was ‘n fliek terwyl Superman s’n ‘n strokiesprent was. Namate ‘n handelsmerk groei in gewildheid word die media waarin dit uitgebou word meer talryk en kan dit oorgaan van ‘n fliek na storieboeke, volgerfiksie, videospeletjies, ens. – na gelang van die behoeftes van die volgerkorps. Die elemente van die storie wat deur ander media as die primêre medium bygelas word, word dan die uitgebreide heelal van die handelsmerk genoem.

Daar is sekere gevalle wanneer bykomende materiaal geskep word, maar sonder dat dit die heelal van die handelsmerk enigsins beïnvloed. ‘n Voorbeeld hiervan is wanneer ‘n parodie geskep word waarin daar ooglopend gespot word met elemente van die heelal of met spesifieke publikasies daarvan. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die fliek Spaceballs wat die spot dryf met Star Wars en wat internasionaal besonder gewild was.

In baie van die verhale gebeur dit oor tyd dat sekere tema’s herhaaldelik gebruik word, bv. variasies op ‘n Bybelse vervulling van ‘n wegraping, ‘n ontvoering deur buiteaardse wesens, die oorlewingstryd na ‘n apokaliptiese vernietiging van ‘n beskawing deur ‘n ramp, ens. So ‘n herhalende tema staan bekend as ‘n troop, en dit is verstommend hoeveel hiervan bestaan. Koors van Deon Meyer, Virus van Jaco Jacobs en Die Oorlewendes van Johan Bredell is almal voorbeelde van die “Oorleef die Einde“-troop uit die Afrikaanse WF. Natuurlik kom hierdie verskynsel in alle tale en sub-genres van WF+F voor.

Hierdie terme wat op hierdie webblad uitgelig is, is maar ‘n klein hoeveelheid van wat werklik bestaan. Die wêreld van groot handelsmerke neem ongelooflik vinnig toe en so ook die terme wat daarvoor gebruik word. En hoewel daar maar min direk op Afrikaans van toepassing is, kyk ons ook die flieks en lees die boeke van oorkant ons grense en help dit om ‘n basiese insig en perspektief oor hierdie elemente van WF+F te hê.