Televisie

Televisie, of TV, het in Suid-Afrika begin in 1976 en ‘n nuwe era van inligting en vermaak ingelei.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”12″]

Daar was in die begin slegs ‘n enkele kanaal wat analoog uitgesaai is, en wat net vir ‘n klompie ure per dag inhoud aan kykers gebied het. Die inhoud het aanvanklik bestaan uit ‘n verskeidenheid van internasionale programme wat gekoop is vir Suid-Afrika, waarvan baie in Afrikaans oorgeklank is omdat TV 50% Engels en 50% Afrikaans was. Aanvanklik was daar maar min plaaslike inhoud, hoewel dit algaande meer geword het.

Omdat oorgeklankte sprokies en fabels self ‘n groot TV-genre was, word ‘n afsonderlike afdeling spesifiek daaraan gewy – Sprokies en Fabels op TV.

Baie reekse is oorgeklank na Afrikaans – sommige wel van ‘n WF+F aard. Een van die heel eerste oorgeklankte reekse (1975 tot 1977) was Alpha 1999 (van die Britse Space 1999).

Dit beeld die avonture uit op ‘n sogenaamde maanbasis Alpha – ‘n mensgeboude basis op die maan van die Aarde wat bestaan om ‘n stortingsterrein vir die kernafval van die Aarde te voorsien. ‘n Kernongeluk het egter die maan uit die wentelbaan om die Aarde verwyder en wat van toe af swerf deur die sterrestelsel – en natuurlik beleef die inwoners van die basis in elke episode ‘n nuwe avontuur wat afspeel in die nuwe deel van die heelal waardeur die maan op daardie stadium beweeg.

‘n Britse TV-reeks wat aangekoop en in Afrikaans oorgeklank is, was Redding Internasionaal (Thunderbirds). Dit was ‘n kinderreeks wat met marionette gemaak is en gaan oor ‘n organisasie wat help in gevalle van nood. Hulle het tuie wat kon vlieg, in die ruimte reis of onder die water.

‘n Amerikaanse reeks uit die tagtigerjare met ‘n meer komiese aanslag was Alf, wat ‘n wese is van ‘n ander planeet (Melmac) wat op die Aarde skipbreuk gely het en wat deur die Tanner-gesin ingeneem word om by hulle te bly. Dit was besonder gewild en snaaks, en die Afrikaanse span het daarin geslaag om die dialoog selfs meer humoristies te maak as wat die oorspronklike Engelse klankbaan was.

En kyk gerus na hierdie paar episodes wat ons kon red.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”8″]

Ook in die 1980s was die Amerikaanse reeks Automan in Afrikaans in Suid-Afrika uitgereik, wat oor ‘n polisieman gaan wat ‘n rekenaarprogram geskep het wat holografies kan verskyn en snags uit die rekenaar ontsnap en help met misdaadbekamping – dit was egter nie baie gewild nie.

Daarteenoor was die Amerikaanse Buck Rogers in die 25ste eeu wat in die 1980s uitgesaai was, weer baie gewild. Dit gaan oor die avonture van Buck Rogers wat op ‘n ruimtesending vanaf die Aarde vertrek het en weens omstandighede eers weer in die 25ste eeu terugkeer. Dit sluit ook romanitese spanning in tussen Buck Rogers en die wulpse kolonel Wilma Deering.

Kaptein Skarlaken (Britse Captain Scarlet and the Mysterons) was nog ‘n oorgeklankte reeks vir kinders wat met poppe gemaak is en selfs deur volwassenes gevolg was – uitgesaai in die 1970s.

Kind van die sterre (Frans Omer et le fils de l’étoile) was ‘n animasie-reeks vir kinders en het elemente van wetenskapfiksie sowel as fantasie bevat – uitgesaai in die 1990s.

Manemarak was ‘n Suid-Afrikaans vervaardigde reeks vir kinders, wat handel oor ‘n ruimtewese wat die aarde besoek, net soos sy oupa blykbaar vroeër, en wat sy avonture deel met die rekenaar in sy ruimteskip. Dit is omstreeks 1986 uitgesaai en Ria Human was die regiseuse.

En hier is ‘n paar episodes van hierdie reeks wat oorleef het.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”3″]

Mann en Masjien (Amerikaans Mann & Machine) was ‘n speurreeks oor twee speurders – een ‘n man en die ander ‘n vroulike (en beeldskone) robot.

Die Man van Intersek (Amerikaans Gemini Man) was relatief gewild in Suid-Afrika (1976), en gaan oor die avonture van die held wat die vermoë het om onsigbaar te word…

Dan is daar die Man van Staal (Amerikaans The Six Million Dollar Man) wat uiters gewild was in Afrikaans. Dit gaan oor ‘n ruimtevaarder (Steve Austin) wat tydens sy terugkeer met sy ruimetuig verongeluk, maar dan weer ‘n kans op lewe kry deur verskeie ledemate en organe met tegnologiese onderdele te vervang. Die gevolg is ‘n bo-menslike persoon wat in vele avonture betrokke raak.

Oompie in die ruimte (Frans Il était une fois… l’espace) is ‘n animasie-reeks vir kinders wat geduerende die 1980s uitgesaai is.

Ongelukkig is geen van hierdie reekse tans in Afrikaans in die handel beskikbaar nie. Pogings om dit wel vry te stel was tot nou toe onsuksesvol, maar gaan steeds voort.

In 1982 is daar egter vir die eerste keer ‘n Suid-Afrikaans vervaardigde reeks in Afrikaans op TV1 vrygestel – Interster.

Dit was geskryf deur Dr. Johann Beukes en het uit twee reekse van 37 episodes in totaal bestaan, van ongeveer 25 minute per episode. Tans is slegs die eerste reeks in die handel beskikbaar, maar is besonder vermaaklik en staan nie terug vir die oorgeklankte reekse nie.

Kyk gerus na hierdie enkele episode – Die Proxima Voorval

[Total_Soft_Gallery_Video id=”13″]

Of na die hele eerste reeks wat in hierdie twee dele opgebreek is.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”19″]

Dit gaan oor die avonture van die Interster-organisasie (met hul hoofkantoor in Kaapstad) wat die Aarde probeer beskerm teen die bose planne van magte wat dit bedreig.

Vir die jongspan is Oscar en Knersus vervaardig as ‘n poppekas – maar was ewe gewild onder volwasse kykers.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”20″]

Ook vir die jongspan was hierdie kort episodes gemaak om ‘n bietjie humor in sekere programme in te voer.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”21″]

 

Met die koms van satelliet-TV in 1995 in Suid-Afrika, het die SAUK kanale ook na dié tegnologie toe gemigreer, in het MultiChoice ‘n DStv diens begin bemark wat later na talle ander Afrika-lande toe ook uitgebrei is.

In die vroeë dae van DStv , was ‘n wetenskapfiksiekanaal deel van die oorspronklike 17 kanale wat in Suid-Afrika beskikbaar was, naamlik ‘n kanaal met die naam Sci-Fi – uit die aard van die saak was dit volledig Engels.

Hierdie kanaal was nogal besonder populêr, maar weens die belangstellings van die meerderhede is die kanaal beëindig op 1 Julie 2004.

Tans is daar op sekere van die mediaplatforms ‘n kanaal beskikbaar met grootliks WF-inhoud, naamlik  Syfy (ook natuurlik Engels).

Die Afrikaanse kanaal op DStv was kykNET, en dié kanaal het oor tyd gegroei tot verskeie kanale.

Baie van die ouer televisiemateriaal is weer daarop uitgesaai, maar hoofsaaklik was daar gepoog om nuwe materiaal te skep.  Van tyd tot tyd was daar steeds oorseese materiaal oorgeklank in Afrikaans.  Een so ‘n voorbeeld is die kinderstorie van Vonk: ‘n Ruimteverhaal wat in 2020 die eerste keer uitgesaai is.

En dis ook nie net vir kinders nie.  In 2018 is die kortfilm Baai Baai Josef K aangebied wat op volwasse kykers gemik was.

Maar selfs satelliet-TV sou uiteindelik moes plek inruim vir data-gebaseerde dienste.  Dit is hoë spoed, hoë volume data stroming wat òf veselopties òf draadloos versprei sou word.  En deel van MultiChoice se aanbiedings is vervolgens Showmax – ‘n data-TV diens wat gestroom word enige tyd wat die kyker een van die flieks of programme daarop wil kyk.

En soos baie van die soortgelyke tipe platvorms wat oornag wêreldwyd opgeskiet het, het Showmax (en ander) ook plaaslike inhoud begin skep deur fondse beskikbaar te maak vir die vervaardiging van programme in plaaslike tale – insluitend Afrikaans.

‘n Aantal van hierdie programme is in die genre van wetenskapfiksie, en is nogal heel goed.  Een so ‘n skepping is ‘n verwerking van Jan Rabie se kortverhaal, Ek het jou gemaak.

In 2018 word die kortfilm Oorgang uitgereik en wen verskillende pryse vir beste kortfilm in  wetenskapfiksie.

Nog so ‘n skepping is ‘n kort storie getiteld My Beskermer waaroor ons ook ‘n resensie in 2023 geskryf het.

En ‘n totaal ander tipe storie is Soos Gister, wat oor spronge deur tyd handel en heel vermaaklik is.

Die wêreld van televisie bly voortdurend verander en sedert hierdie bladsy geskep is in 2016, is hierdie die vyfde hersiening wat nodig was.  Dit gee mens ‘n aanduiding van hoe vinning hierdie faset van ons lewe verander…