Spesies

Baie van die boeke, flieks en videospeletjies wat oor wetenskapfiksie handel stel gewoonlik sy eie stel wesens voor wat ‘n rol in die verhaal gaan speel. Daar is letterlik te veel om op te noem. ‘n Vinnige soektog in die wêreldwye web sal verskeie hulpbronne oplewer wat poog om die spesies te lys – daar is derduisende spesies met hul eie eienskappe wat oor tyd uit die verbeelding van WF-skeppers voortgevloei het.

Sommige is natuurlik gering in grootte of uiters abstrak uit hoër dimensies. Ander weer bestaan nie uit sellulêre lewe nie, maar is suiwer energie of dalk anorganiese materiaal. In WF is daar natuurlik oorgenoeg plek vir hul almal, maar sekere spesies maak eenvoudig ‘n groter indruk as ander, en daarom gaan ons van die meer kleurryke spesies van nader beskou. Baie van die spesies wat ons in WF teëkom lyk anders as mense en het dalk ander gebruike, gelowe en kultuur – maar in wese is daar wynig verskil tussen ons en hulle. In ander gevalle het spesies baie spesifiek ander eienskappe as mense en dit lei dikwels tot ‘n fasinering deur die volgerskorps dat verskeie daaropvolgende uitreikings deur vervaardigers geskep word – en dit is hierdie “gewilde” (of dalk “gevreesde”) spesies wat ons hier wil bekyk.

Xenomorf XX121

Dit kan nie ontken word dat sekere van die wesens wat ons die meeste fassineer juis die gevaarlikstes is nie. En een van die heel gevaarlikstes is natuurlik die buiteaardse wese wat ons in 1979 ontmoet in die trefferfliek Alien.

Hierdie wese was so populêr (of miskier eerder vreesaanjaend) dat daar opvolg flieks uitgereik is in 1986, 1992, 1997, 2004, 2007, 2012 en 2017 – agt in totaal waarin hierdie spesie ‘n sentrale rol speel. Die spesie se oorsprong word nooit ontdek nie, maar dit het die vermoë om ander spesies as ‘n gasheer te gebruik waarin daar ‘n eier gelê word deur een van die stadiums van die wese se bestaan wat ‘n kombinasie is tussen ‘n spinnekop en ‘n seekat. Wanneer die wese uiteindelik genoeg ontwikkel het om self te bestaan, maak dit die gasheer dood en begin vinnig groei – wat natuurlik voedsel benodig wat dan lei tot verdere slagoffers.

Dit klink nie te erg nie, maar dit moet gesien word in die lig van ‘n wese met ‘n skelet van vlekvrye staal en ‘n uiters sterk suur vir bloed. Daarby het dit ‘n sterk en vinnige stert wat met presisie beheer kan word en wat in ‘n skerp lem eindig wat kan steek, sny of kap. Die wese is vinnig op land en in water en baie sterk – en kan vir lang tye hiberneer indien daar nie kos beskikbaar is nie. Die wese se temperatuur is dieselfde as dié van die omgewing en kan daarom nie deur termiese opsporingstoerusting gesien of verklik word nie.

Hulle kom nie besonder intelligent voor nie maar is van die gevaarlikste predatore wat selfs swaar gewapende magte kan oorrompel. Gelukkig is die wese andersins primitief met geen tegnologie nie.

Hierdie wesens leef saam in ‘n tipe kolonie met ‘n koningin wat eiers lê en wat deur die ander versorg en beskerm word.

Predator

‘n Ander wese wat eweneens die verbeelding aangryp, is die sogenaamde Predator uit die 1987 fliek met dié naam.

In teenstelling met die eerste wese, is hierdie wese uiters intelligent en beskik dit oor ongelooflike tegnologie wat kernwapens insluit. Hulle kom gewoonlik een-een voor en is dan amper ‘n totale aanvalsmag bestaande uit een enkele wese. Een van die ongelooflikste tegnologiese eienskappe van die wese is ‘n tipe dinamiese kamoeflering wat dit feitlik onsigbaar maak ongeag die omgewing waarin die bevind word.

Die wese is besonder vinnig, rats en sterk ten spyte van sy grootte wat dié van ‘n mens oorskry. Hulle kom in twee variante voor en het ingewikkelde kulturele gebruike, maar is in wese jagters wat ander jag. Maar hulle wil juis ‘n uitdagende prooi jag en maak dus nie jag op swakkelinge nie maar eerder hoogsopgeleide soldate of gevaarlike wesens soos die xenomorf uit die fliek Alien.

Die gewildheid van hierdie wese is weereens hoog, met opvolgflieks wat uitgereik is in 1990, 2004, 2007, 2010 en een wat beplan word vir 2018.

Borg

‘n Spesie wat absoluut fassinerend is, is die Borg uit die Star Trek TV-reeks. Hierdie spesie assimileer die persone, tegnologie, kennis en wêrelde van ander beskawings.

Die naam is afgelei uit die wetenskapfiksiewoord “kuborg“, wat op sy beurt ‘n samevoeging is uit twee woordelemente, naamlik “kuber” en “organisme” (Engels “cyborg”). Die wesens het gewoonlik nie ‘n eie beskouing nie en bestaan as ‘n enkele eenheid – die kollektief. In die kollektief is die individue soos selle in ‘n enkele organisme wat wel afsondelike take kan uitvoer maar nooit in eie belang optree nie. As lewensvorme bestaan hulle uit die biologiese liggame van spesies wat geassimileer is en wat geïntegreer is met tegnologie sodat dit nie geredelik weer daarsonder kan bestaan of daarvan geskei kan word nie. Een eienskap hiervan is dat die Borg nie hoef te eet nie, maar energie gebruik om direk die nodige nutriënte in hul biologiese stelsels te laat repliseer soos benodig.

Die individue leef saam in ‘n tipe korf waar hulle met energie herlaai word. Hulle gedagtes is nie afsonderlik nie maar hulle dink saam as ‘n eenheid. Sodra een van hulle met ‘n wapen beseer of gedood word, maak die kollektief onmiddelik aanpassings sodat volgende gebruike van dieselfde wapen ondoeltreffend raak en geen skade aanrig nie.

Die Borg maak nie oorlog met ander nie – hulle assimileer hulle eenvoudig, natuurlik teen hul wil. Die Borg se bekendste mantra is: “weerstand is nutteloos – julle sal geassimileer word“, en enige ander poging, soos om te probeer onderhandel, is “irrelevant“.

Die Borg met hul reuse kubiese ruimteskepe was só gewild dat dit nadat dit in The Next Generation vir die eerste keer verskyn het, weer in die volgende reeks Voyager gebruik is en later in die fliek Star Trek: First Contact.

Spesie 8472

Dit is moeilik om te glo dat die Borg maklik getroef sou kon word. En dan, skielik in Star Trek Voyager kom die federasie se ruimteskip af op ‘n slagveld waar die Borg behoorlik hul Moses teëgekom het. Hulle het paaie gekruis met ‘n wese uit ‘n deel van die subruim wat fluïdiese ruimte genoem word en wat toe deur die Borg as Spesie 8472 geïdentifiseer word.

Nie bloot was die Borg onsuksesvol om Spesie 8472 te assimileer nie, maar hul hoogs aanpasbare vermoë om hulself teen vyandige wapens te verdedig het hul in die steek gelaat. Die spesifieke lewensvorm se tegnologie, soos hul ruimteskepe, is self ook lewende organismes wat bestaan om hul tegnologiese rol te vervul. Hul kan hulself effektief verdedig want aanraking met ‘n ander lewensvorm skei onmiddelik ‘n dodelike stof af wat die ander wese se biologiese stelsels binnedring en vernietig.

 Na’vi

Uit ‘n ander vertakking in die WF kom ‘n totaal ander spesie uit die 2009 fliek Avatar – die Na’vi. Hierdie is ‘n relatief primitiewe spesie wat op ‘n maan van planeet Pandora woon. Hul tegnologie is beperk tot spiese, byle en ‘n variasie op die pyl-en-boog. Die oorweldigende gewildheid van die fliek het gelei tot planne vir die vervaardiging van verskeie volgendes.

Na’vi is lank – omtrent drie meter. Dié spesie is ook humanoïed van aard maar beskik oor ‘n beweegbare stert wat swiepend beweeg en aan katte herhinner. In die hare op die punt van die lang vlegsel hare is daar ‘n spesifieke stel biologiese vesels wat as ‘n gestandariseerde koppelvlak dien waarmee die Na’vi met enige ander lewensvorm op die betrokke maan (ook plante) kan kommunikeer en selfs beheer kan uitoefen. Hul kultuur is gesofistikeerd en stel die interafhanklike verband tussen alle lewe as hoogste prioriteit en grondslag vir hul godsdiens om Eywa te aanbid. Hoewel primitief, is hul sterk en rats en het lugvaart bemeester deur op van die reuse voëltipes wat op die maan voorkom te ry.

Om ‘n idee van grootte te kry, kyk ‘n bietjie na hierdie samestelling van sommige van die meer algemene wesens waarmee ons in die populêre WF te doen kry.

Soos gesien kan word is die mens (heel links) maar ‘n tengerige wese teen van die ander wat hier uitgebeeld word. Maar in ‘n kleiner versameling word die kontras meer sigbaar.

Spock wat ‘n Vulcan is, is omtrent dieselfde grootte as ‘n mens…

Necromonger

In twee van die Riddick-flieks (2004 & 2013) kom ons die Necromongers tee. Hierdie fanatiese groep beweeg van planeet tot planeet en van stelsel tot stelsel om hulle godsdiens, Nekroïsme, deur die heelal te versprei.

Die godsdiens kom basies daarop neer dat alle mense wat kan veg deel gemaak word van hul weermag, en dat die res van alle lewe op die planeet daarna uitgewis word in ‘n laaste handeling wat as die Finale Protokol bekend staan. Die Nekromongers se leier is die Lord Marshal wat skrikwekkende kragte het en die siel van ‘n wese kan doodmaak.

Die Armada van skepe en oorlogstuig is skrikwekkend en asemrowend – en dit doen mee om die Necromongers een van die mees moordlustige rasse te maak in wetenskapfiksie.