Engele

Dis altemit vreemd om ‘n bladsy oor engele in ‘n webwerf oor wetenskapfiksie en fantasie in te sluit, maar feitlik alle wesens en karakters wat die verbeelding aangryp word uiteindelik deur die WF+F-skeppers ingetrek in die wonderwêreld van spekulatiewe fiksie. En min karakters is so ongelooflik as engele – dalk juis omdat, anders as die meeste van die ander tipe WF+F-wesens, baie mense wel in die bestaan van hierdie ongelooflike wesens glo. Derhalwe kom hulle dikwels voor en kan hulle deesdae uiters realisties voorgestel word deur gebruik te maak van rekenaartegnieke, soos hier gesien kan word in hierdie snit uit die 2005 fliek Constantine.

Vir die meeste van ons is die idee van ‘n engel niks vreemd nie. Indien jy godsdienstig grootgemaak is, kom jy baie vroeg reeds onder die indruk dat behalwe vir die mens en vir God, daar skynbaar ‘n derde vorm van intelligensie bestaan – naamlik dié van ‘n engel.

Die engel is ‘n wese wat oor groter mag as mense beskik en wat klaarblyklik nie aan dieselfde beperkings as mense onderhewig is nie. Die eienskappe wat oor die algemeen met engele geassosieer word sluit die volgende in:

  • Engele kan nie sterf nie en lewe vir ewig
  • Alle engele is manlik
  • Daar is ‘n vaste aantal engele geskep en hulle word nie meer nie (daar bestaan gevolglik nie iets soos ‘n engelkind of engelbaba nie)
  • Engele is anatomies soos mense (mans, meer spesifiek) maar het bykomstig twee vlerke waarmee hulle kan vlieg
  • Hulle is intelligent en nie immuun teen sekere van die menslike begeertes nie, en is dus in staat tot sonde
  • Engele kan onsigbaar wees of verskyn na willekeur
  • Engele kan soos gewone mense voorkom indien hul wil
  • Engele het bonatuurlike mag en kan byvoorbeeld mense doodmaak of met blindheid slaan
  • Engele word dikwels uitgebeeld met ‘n swaard as wapen
  • Engele het name

Engele is geskape om God te verheerlik, as Sy boodskappers op te tree of ander take uit te voer volgens die wil van God – byvoorbeeld om iemand te beskerm.

Die idee van ‘n engel is deel van die gedeelde geloofsheelal van Christene, Moesliems en Jode, en kom in die ou en nuwe testament van die Bybel voor sowel as die Koran – wat kwalik ‘n verrassing is siende dat al drie dié groepe dieselfde God in die persoon van God die Vader (oftewel Allah in die Islam-geval) aanbid.

Daar bestaan ook ‘n hiërargiese orde van engele, en ‘n aartsengel is ‘n meer verhewe wese in status – Mígael en Gabriël is twee voorbeelde van aartsengele wat in die Bybel aangetref word.

Die meer verstommende is egter dat die idee van engele ook wel in ander godsdienste voorkom. In beide Hindoeïsme en Boeddhisme kom die konsep van iets soos ‘n engel ook voor, ‘n geestelike wese waarvoor die woord “dewa” gebruik word, hoewel hul rol nie geheel en al ooreenstem met dié van ‘n engel soos dit algemeen verstaan word nie.

En dan in die Noorse mitologie kom ‘n soortgelyke idee voor, naamlik dié van ‘n Walkure – ‘n spesifiek vroulike wese met vleuels wat oor die slagveld vlieg en die siele van die dapperste soldate neem na die banketsaal op Valhalla – sodat daar fees gevier kan word saam met Odin. Hier is ‘n voorstelling van ‘n Walkure uit die 2008 fliek Max Payne.

Maar natuurlik sal die skeppers meer kreatief raak as bloot die bestaan van “natuurlike” engele en walkure. Een so ‘n moontlikheid is genetiese ingenieurswese – dit wil sê om spesifieke eienskappe in wesens te “skep” deur genetiese manipulasie. In dié snit uit die 2015 Jupiter Acsending kan so ‘n kryger gesien word.

Of, die vlerke kan dalk deel wees van ‘n gemuteerde wese, soos in die 2016 X-Men: Apocalypse snit, waar twee sulke mutante met mekaar veg.

Die begeerte om te kan vlieg is ‘n besonder vroeë hunkering van die mens, en daarom is dit seker geen wonder dat hierdie beeld van ‘n menslike vorm met vlerke so bekoorlik is nie, en juis daarom sal ons seker nog hordes van hierdie wesens in die toekoms op televisie, flieks en in speletjies teëkom…