Ons nuwe Naam

Julie 2021

Afrifiksie het dit amper nie gemaak nie…

Ons het dit oorleef!  Ons was so amper permanent van die lug af.

Een oggend, toe ons na ons webwerf wou kyk, was hy af…

Ons webwerf (Afrifiksie) se naam was geregistreer by SiteGround en die werf self was bedryf deur Dreamhost.  Met ander woorde, ons het twee afsonderlike rekeninge gehad vir fooie t.o.v. die webwerf.  Toe die registrasie van ons naam verval, kon die kredietkaart nie verwerk word nie, want die nuwe kaart het ‘n nuwe sekuriteitskode gehad wat nie wou deurgaan nie.  Weens ‘n spelfout in ons e-pos-adres kon ons nie in ons eie rekening inkom om die besonderhede by te werk nie.  Wat ‘n fiasko!

Teen die tyd dat ons uiteindelik in ons rekening kon inkom, het SiteGround reeds ons naam op ‘n veiling laat verkoop – en ons kon niks verder doen om die situasie te red nie.

Ons het gewonder of ons moet voortgaan met die werf, of dit maar as ‘n teken sien dat ons tyd gekom het om die hoofstuk af te sluit.  Maar, uiteindelik het ons besluit dat daar eenvoudig net té veel materiaal en té veel geskiedenis was om sommer so maklik maar net op te gee.

Einde ten laaste het ons besluit om maar noodgedwonge ‘n nuwe naam te registreer en ons inhoud na die nuwe naam oor te dra.  Ons het besluit om ons verhouding met SiteGround te beëindig en beide ons naamregistrasie en die bedryf van ons webwerf na Dreamhost oor te skuif.

Ons nuwe naam – afrifiksie-nova.com – is gekies om die naam Afrifiksie steeds as deel van ons nuwe naam te behou.  Die woord NOVA, wat uit die sterrekunde kom, beteken “nuut”, en ons het gevoel dat dit geskik sal wees vir hierdie nuwe fase van Afrifiksie se bestaan.

Ongelukkig is baie van die skakels tussen webblaaie of na die media-lêers (soos foto’s) gebreek tydens die oordrag.  Ons is besig om dit reg te stel, maar dit sal ‘n taamlike tyd neem om dit alles uit te sorteer – wees asseblief tog geduldig, en aanvaar ons verskoning vir die gemors waarin ons onsself tans bevind.  Ons werk hard daaraan om alles weer reg te stel.

Ons gaan egter steeds na onsself verwys as Afrifiksie – ongeag wat ons webwerf-adres is.  Laat weet asseblief almal wat dalk mag belangstel in ons materiaal dat ons adres verander het – maar dat ons definitief nie weg of dood is nie.  Ons het soos ‘n feniks uit die as uit opgestaan…