Afrifiksie


Dis nie van hier nie . . . 

Kol. 1:16 “…want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge…”

Wetenskapfiksie

+

Fantasie. . . .


11 Maart 2024

‘n Wetenskapfiksiefonds uit die verre verlede

Mens sou dink dat as jy iets te wete wil kom oor wetenskapfiksie in Afrikaans, dat jy op Afrifiksie se webwerf moet gaan kyk – en 90% van die tyd sal jy reg wees.  Maar soms gebeur dit tog dat ons van iets bewus word wat vir jare lank reeds ons aandag ontduik het.  En glo my – ons is self stom van verbasing wanneer dit gebeur.

En só is dit toe dat Heini Kotze in Februarie 2024, ons wakkerskud en ons aandag vestig op ‘n vroeë kortverhaal wat reeds in 1933 gepubliseer was.  En nie bloot ‘n verlore wetenskapfiksiewerk nie, maar deur een van die mees prominente Afrikaner-skrywers van alle tye, naamlik Eugene Marais.  Die titel van die verhaal is Ondergang van die Tweede Wêreld, en Marais het dit aanvanklik in drie aflewerings in die destydse koerant, Die Vaderland gepubliseer.

Dit is ‘n ontstellende apokaliptiese (en veral post-apokaliptiese) verhaal wat in Suid-Afrika afspeel maar wat die hele aarde insluit.  Die skryfwerk, sinsbou en woordeskat is oud, maar dit dra by tot die atmosfeer wat deur die storie geskep word.  Die storie is absoluut merkwaardig, en ons voel verleë dat ons dit nie eerder al ingesluit en gelys het nie.  Hoe dit ook al sy, ons het dit goedgedink om dit nou sommer regstreeks hier op ons webblad beskikbaar te maak.

Die storie het ‘n reuse indruk op ons hier by Afrifiksie gemaak, en ons beveel dit sterk aan vir enigeen wat nie te maklik ontsteld raak deur rampspoed en geweld nie.  Lees dit gerus hier deur die skakel hieronder te klik.  En bring asseblief materiaal wat ons misgekyk het, onder ons aandag.  Baie dankie Heini, ons het groot waardering vir jou bydra tot ons rekord van Afrikaanse fantastika

Skakel na Ondergang van die Tweede Wêreld

29 Februarie 2024

Skrikkeljaar – CCXXIV

Daar is altyd iets mistiek aan ‘n skrikkeljaar – iets wat jou laat besef dat niks regtig volmaak is nie.  Veral nie ons konsep van tyd nie.  En ‘n skrikkeljaar is presies die poging van die mens om die beweging van ons planeet om ons naaste ster te probeer regstel en te laat tred hou met die seisoene.

En in ‘n onvolmaakte wêreld met onvolmaakte tyd is ons eie lewens maar ‘n holderstebolder poging om orde in die chaos te probeer bewerkstellig.  Dit is vir elk van ons nodig om te kan ontvlug uit die gewone gedreun van ‘n onvolmaakte werklikheid.

Vir baie van ons is die enigste ware ontvlugting die verbeeldingswêreld wat ons toelaat om ‘n vakansie te neem.  Nie by die see of ‘n ander land nie, maar ‘n wêreld ver hiervandaan – op ‘n ander planeet of in ‘n ander eeu.

Gelukkig is daar ander soos ons – sommige wat self uitreik en iets nuuts skep waarin ons almal kan deel en saam reis deur die newels van tyd oor vreemde lande heen.

Ons vind onsself op ‘n oomblik in die tydlyn van geskiedenis waar baie interessante dinge besig is om te gebeur.  Aan die positiewe kant kan ons uitsien na meer visuele media in Afrikaans, danksy mediaplatforms soos Showmax en sekere ander, wat van tyd tot tyd inhoud skep vir die Afrikaanse kyker.

Ons is verder bederf met die tweede Dune fliek wat vroeg reeds hierdie jaar uitgereik is – en dis baie, baie indrukwekkend.  Hier by Afrifiksie hou ons, ons asem op vir alles wat hierdie jaar nog gaan gebeur.  Hou aan hoop en hou aan droom – in Afrikaans natuurlik…

24 Desember 2023

Vir oulaas in 2023 – ‘n fabel in Afrikaans

Nuwe boeke in Afrikaans bly nou maar een van die hoogtepunte in baie van ons se bestaan. Sprokies en fantasieë word egter dikwels nie juis as leesstof vir volwassenes gesien nie. Tog, het daar ‘n baie verbeeldingryke fabel teen die einde van 2023 op die rakke van die boekhandelaars verskyn, naamlik Mosela en die Drie Koninkryke, deur Luke Calder en wat in Afrikaans vertaal is deur Zoë Calder.

Hier volg ‘n lusmakertjie van die rugkant van die boek af…

“Die Drie Koninkryke van die bekende wêreld word deur sinnelose stryery verdeel. Die slinkse muise van Rodentia, die intellektuele Toweruile van Navia en die magtige vegskilpaaie van Phibië kon nog nooit saamstem nie. En nou is Kaptein Scraw en sy gewetenlose seerowerpikkewyne ‘n bedreiging vir hulle almal.

Wanneer Mosela se dorpie vernietig word deur die seerowers en hulle angswekkende nuwe wapen, pak die jong meerkat ‘n gevaarlike reis aan om die Muiskoning te waarsku dat Rodentia binnegeval word. Sy moet die Uitverkorene vind wat bestem is om die Drie Koninkryke te verenig en hulle te red. Khova, die magtige Toweruil wat sy op pad teëkom, het op die oog af al die regte eienskappe. Daar is net een probleem: Khova is die irriterendste, mees arrogante dier wat sy nog ooit ontmoet het! Sal hulle Mosela se gesin kan bevry en die drie nasies oortuig om saam te staan teen die vyand?”

9 December 2023

Vroeë kinderfantasie

Was daar ooit ‘n groot, regtig uiters prominente Afrikaanse skrywer oor fantasie?  Meeste van ons sal moet mooi dink, en selfs dán dalk ‘n bloutjie loop.  Wel, in die vroeë dae van Afrikaans was daar wel só ‘n persoon – iemand waarna verwys sou word as die Hans Christian Anderson van Afrikaans.  Gaan lees ons bladsy oor díe besondere skrywer van kinderfantasie van die 1920s en 1930s

25 September 2023

Nuwe Afrikaanse Fantasie

Ek was vriendelik verras toe ek laasweek die boekwinkel besoek en ‘n nuwe Afrikaanse fantasieboek opmerk – Weer deur Frenette van Wyk.  Haar nuwe boek is Die Woud van Sneeu & Ys wat in 2023 uitgegee is, na haar 2021 werk – Elikser.

“ … Ons noem jou Mysti,” sê Ravka, “dit pas by jou … dis misterieus en mooi.” Mysti word in die sneeu in Lapland wakker. Verkluim. Met geen idee wie sy is of waar presies sy is nie. Ravka ontferm hom oor haar. Hy en sy ma Tóva neem Mysti onder hulle vlerk terwyl sy haar geheue probeer herwin. Intussen help sy Ravka by die rendiersentrum in Menetetty om getraumatiseerde rendiere te versorg, en raak al liewer vir hom. Maar iets onverklaarbaar gebeur in die nag met haar. Haar lyf verander en vervorm. Sy verstaan nie wat met haar gebeur nie. Mysti besluit om die raad van ’n heks in die vervloekte Iselande woud te gaan opsoek – voor Ravka uitvind daar is iets fout met haar. Wanneer Mysti moet kies waar sy wil bly, daag Cosmo, iemand uit haar verlede, op. Hy het haar kom haal om terug te neem na die woud waar sy vandaan kom. Saam met hom onthou sy al meer wie sy is. Is Ravka regtig wie hy sê hy is? Wie is Ozymoz? En hoe pas die legende van Joulupukki by die raaisel in?

27 Julie 2023

Wenners – Uitslag Bekend

Dit het langer geneem as wat ons gehoop het, maar die uitslag van ons skryfkompetisie van 2022 is uiteindelik bekend.  Besoek ons  bladsy vir verlede jaar se kompetisie om te sien wie gewen het, en sommer van die stories te lees…

22 Maart 2023

Skeppingskompetisie 2023

Ons nuutste kompetisie vir hierdie eeufeesjaar van Afrifiksie is uitgeroep – kyk gerus na die besonderhede op ons kompetisiebladsy, en kyk of ons jou nie kan lus maak om deel te neem nie.  Ons weet hoe graag jy jou verbeeldingswêreld en vaardigheid met ander wil deel – hier is jou kans…

21 Maart 2023

‘n Distopie – ‘n Spieël vir ons tyd

Soms glip daar ‘n storie deur die krakies en kom dit nie dadelik op Afrifiksie se radar nie.  Alleen onder die maan deur Willem Krog is só ‘n geval.  Dis ‘n relatief onlangse distopie in die vorm van ‘n roman wat sterk ondertone bevat wan wetenskapfiksie.

Johannesburg, iewers in die nabye toekoms.  Feitlik elke aspek van die mense se lewens word deur ‘n sentrale rekenaarstelsel beheer – waar hulle mag bly, waarheen hulle mag reis en wat as sosiaal aanvaarbaar beskou word.  Polisie-drones maak jag op misdadigers en hofrekenaars lê vonnisse op.

Die jong Pieter Malan, wat hierdie nuwe orde onkrities aanvaar, bots gedurig met sy individualis van ‘n pa wat volhou dat daar in hierdie distopiese wêreld net skynvryheid heers.  Saam vertrek hulle op ‘n afskeidbesoek aan die familieplaas in Kroonstad wat intussen in ‘n megaplaas omskep is waar robotte al die werk doen.

Op hul reis probeer pa en seun hul weg vind tussen nostalgie en dit wat werklik verlore is.

Dis verseker nie suiwer wetenskapfiksie nie, maar weens die toekomselemente kan dit in talle van ons gemeenskap se smaak val – daar is per slot van rekening veels te min werklike wetenskapfiksie wat in Afrikaans die lig sien, en hierdie is darem in tipe troosprys…

2 Maart 2023

Afrikaanse Strokiesprent

Soos altyd is dit lekker om nuwe bydraes in Afrikaans aan te kondig.  Vandag s’n is egter effens anders as gewoonlik – dis nie ‘n boek as sodanig nie, maar eerder ‘n strokiesprentboekie.  Danksy Francois Bloemhof en Shaun Sameul het ons nou Kaptein PipSkwiek op die rakke.  ‘n Prettige boekie wat min of meer in A5-formaat beskikbaar is en wat selfs deur volwasse lesers geniet kan word.

15 Januarie 2023

KykNET – ‘n Kinderverhaal

Wetenskapfiksie is skaars genoeg soos dit is in Afrikaans, maar vir kinders is dit selfs nog skaarser.  In Engels is dit egter algemeen en kom dit maar al te dikwels voor.  Dis om dié rede dat KykNET besluit het om nuwe materiaal by hul versamelings te voeg deur weer reekse uit ander tale na Afrikaans te oor te klank.  Een van hul onlangse pogings is Vonk: ‘n Ruimteverhaal wat die eerste keer in 2020 uitgesaai is maar wat tans weer op KykNET te sien is.  Dit is ‘n baie vermaaklike storie wat nogal taamlik snaaks is en lekker is om te kyk – selfs vir volwasse kykers.  Indien jy DSTV het, gaan kyk gerus wanneer Vonk weer uitgesaai word, en gaan kyk ‘n bietjie…

3 Januarie 2023

MMXXIII

‘n Nuwe jaar.  Mens kan nie glo hoe vinnig 2022 verby gevlieg het nie – maar hier is ons nou!

En voorwaar is hierdie een van die groter jare in ons eie geskiedenis van Afrifiksie.  In hierdie jaar, eenhonderd jaar gelede, is die eerste Afrikaanse wetenskapfiksieboek uitgegee.  Ja, natuurlik, C.J. Langenhoven se Loeloeraai wat in 1923 vir die eerste keer uitgegee is.  Afrikaanse sou eers twee jaar later as amptelike taal erken word – maar wetenskapfiksie het reeds twee jaar voor dít afgeskop.

En hier is ons nou.  100 Jaar na die eerste Afrikaanse wetenskapfiksieboek.

So, vir Afrifiksie is hierdie jaar, die jaar 2023, ons 100-jarige viering van Afrikaanse fantastika – en ‘n jaar waarvoor ons groot planne het.  En om die stemming daar te stel, haal ons een van die treffendste gedigte in Afrikaans hier aan – ‘n gedig wat baie raakvlakke met Afrifiksie deel.  Dit is natuurlik N.P. van Wyk Louw se gedig,

Die Beiteltjie

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ‘n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hóé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

Welkom in 2023, en só begin die volgende 100 jaar van wetenskapfiksie in Afrikaans…

5 Desember 2022

Wetenskap Fantasie

Ons almal weet dat fantastika ‘n versamelnaam is vir ‘n groot, en ‘n baie uiteenlopende versameling van sub-genres – wat almal deel uitmaak van spekulatiewe fiksie.  Die mees bekende vertakkings onder fantastika is natuurlik wetenskapfiksie en fantasie.  Maar die versameling sluit uiteindelik ook dinge in soos superhelde, die bonatuurlike, die paranormale en verskeie ander.

Daar is egter een spesifieke tipe (of sub-genre) wat besonder seldsaam is en wat dikwels nie deel uitmaak van die hoofstroom stories en media onder die fantastika-sambreel nie – naamlik Wetenskap-Fantasie.

Hierdie besondere tipe is verskillend van beide wetenskapfiksie en fantasie – dis eerder ‘n kombinasie van die twee.  Stories wat deel uitmaak van wetenskap-fantasie bevat gewoonlik elemente van wetenskapfiksie as ook elemente van fantasie, en die verhaal is dus ‘n vermenging van twee sub-genres om ‘n nuwe hibriede sub-genre te vorm, naamlik wetenskap-fantasie.

Omdat dit nie so algemeen voorkom as die meeste van die ander sub-genres onder die sambreel van fantastika nie, is voorbeelde daarvan nie so algemeen en volop nie.  Die fliek John Carter, wat in 2012 deur Disney uitgereik is, is ‘n baie goeie voorbeeld van wetenskap-fantasie.

Daar is definitief elemente uit die wetenskapfiksie, soos vliegskepe en bewegende stede wat op planeet Mars gebruik word, maar dan is daar verskeie elemente uit die fantasie soos om bonatuurlike krag te hê op Mars, nie suurstof te benodig nie, ensovoorts.  Derhalwe behoort hierdie tipe verhale tot die klas van wetenskap-fantasie.

Edgar Rice Burroughs was die skrywer van John Carter, en verskeie ander hoogs suksesvolle reekse van avontuur en wetenskap-fantasie.  Onder andere was hy die skepper van die Tarzan-reeks wat een van die mees geslaagde avontuurreekse van alle tye is.  Ongelukkig is daar nie veel van sy werke in Afrikaans vertaal nie, behalwe vir Tarzan.  Gelukkig is daar ten minste twee titels uit hierdie reeks wat wel behoort tot die sub-genre van wetenskap-fantasie.

Die eerste hiervan is die boek Tarzan in die hart van die aarde wat in 1930 gepubliseer is en in 1950 in Afrikaans verskyn het – vertaal deur A.M. van Schoor.  Die storie wat 227 bladsye beslaan lees lekker en bind mens van die begin af.  Die lusmaker op die stofblad lees as volg.

Erens by die Noordpool lê ‘n ingang na ‘n wêreld binne ons aardkors . . . Hierdie teorie het Tarzan en sy maats gestuur op een van die avontuurlikste togte van sy ganse loopbaan.  En in Pellucidar, die wêreld onder die aardkors, waar die son ewigdurend skyn en die evolusie van dier en mens stilgestaan het, het hulle die merkwaardigste ervaringe van hulle lewens deurgemaak.

Daar vlieg nog die reuse-reptiele van die Steentyd rond; daar voer die dinosauri van die oer-oertye nog die heerskappy; daar leef die Horibs, ‘n kruising tussen die slang en die mens!

Die tweede boek is Tarzan en die miermense (1949) – ‘n verhaal wat ewe aangrypend is en wat eweneens behoort tot die vertakking van wetenskap-fantasie.

Eintlik, om tegnies korrek te wees, is stoompunk ook maar net ‘n baie spesifieke vorm van wetenskap-fantasie.  Dit is tog ook nie eintlik moontlik om groot stoomskepe te laat vlieg nie, of om lugballonne uit metaal te bou nie!

Wetenskap-fantasie is ‘n heerlike, dog ongewone vertakking van die verbeelding – een van die vele juwele van fantastika…

9 September 2022

Na-aap op sy beste

Dit is daai tyd van die jaar.  Die Comic con is net ‘n paar dae weg en die uitdaaging is wie gaan jy naboots by die lekker geleentheid.  Al ooit gedink die kostuums wat hulle op die doek dra is maklik om te maak?

Wel in daai geval, kom wys ons wat jy kan doen.  Kom kyk of jy ons geheimsinnige agente kan opspoor by die jaar se geleentheid.  As jy die logo op die agent se rug gewaar, kom neem ‘n foto en wen dalk ‘n prys

11 Augustus 2022

Suid-Afrikaanse Distopie

Dis interessant dat mens telkens nog afkom om werke waarvan ons nie voorheen kennis geneem het nie, maar wat tog deel uitmaak van die wêreld van spekulatiewe fiksie.  So het ons weer op ‘n nuwe fonds afgekom – Ouers van die Gode deur Coen Vermaak.

Dis ‘n tipe distopiese verhaal wat in die toekoms afspeel wanneer daar ‘n radikale polarisasie tussen wit en swart volke plaasgevind het.  Dis ‘n ware distopie met al die wanhoop en desperaatheid wat tipies is aan dié soort verhaal.  Maar daar is definitiewe elemente van wetenskapfiksie daarin vervat, soos bioniese tegnologieë, futuristiese wapentuig, ensovoorts.

Die verhaal sal definitief nie in elkeen se smaak val nie, en kan maklik afgemaak word as ‘n tipe regse propaganda.  Maar, indien jy jouself sover kan kry om dit tog te lees is daar baie tipiese elemente van ‘n onderdrukkende gesag wat mens laat nadink oor ons eie oortuigings.  Nie vir almal nie, maar tog ‘n interessante perspektief en toevoeging tot ons versameling van Afrikaanse wetenskapfiksie…

26 Junie 2022

Die Wetenskap in Wetenskapfiksie

Ons het ‘n bladsy saamgestel oor materie – een van die basiese aspekte waarmee mens te doen kry in die wêreld van wetenskapfiksie.  Die bladsy gee ‘n eenvoudige oorsig oor die wetenskaplike model wat ons gebruik om materie te verstaan – geskryf sodat almal dit behoort te kan snap – lees meer oor materie

8 Junie 2022

Aankondiging van wenners

Na baie aande se werk, kan ons uiteindelik die wenners aankondig van die 2021 skryfkompetisie van Afrifiksie.  Gaan lees wie dit is op ons 2021 Kompetisie bladsy...

9 April 2022

Nuwe Fantasie in Afrikaans

Dis goed om te weet dat daar mense is wat hulself besig hou om boeke uit ander tale te vertaal na Afrikaans.  So ‘n jaar of twee terug het ‘n boek van die Duitse skrywer Michael Ende op die Afrikaanse winkelrakke verskyn – sy baie bekende Die Eindelose Storie.  Dit het besondere bekendheid omdat daar oor tyd drie vollengte flieks in Hollywood vervaardig is wat op hierdie boek gebasseer was.

Nou, het ‘n tweede een van die skrywer se boeke in Afrikaans verskyn.  Weereens een van sy fantasieë – dié een se naam is Momo en handel oor die towerkrag van tyd.  Hier volg ‘n kort beskrywing van die storie…

Momo, ’n klein, verflenterde dogtertjie, woon aan die rand van ’n groot stad in die ruïne van ’n amfiteater.

Sy besit niks buiten dit wat sy vind of wat sy van ander ontvang nie, maar sy het ’n buitengewone gawe: Sy luister werklik na ander en gee vir hulle tyd. Een dag ruk die gruwelike grys menere met hulle loodgrys aktetasse en sigare in die groot stad op en begin om die kosbare tyd van die mense te steel.

Momo is die enigste een wat die donker mag van die tyddiewe kan beteuel.

3 Maart 2022

MMXXII – Dis die jaar 2022

Dis weereens lekker om te rapporteer oor die verskyning van ‘n nuwe Afrikaanse wetenskapfiksieboek wat onlangs die lig gesien het.  Die boek is Spel deur Annerle Barnard, waarvoor sy die Sanlam boekprys in 2021 jeugkompetisie gewen het.

“Die sewentienjarige Lukas is een van ’n handjievol oorblywende mense ná die aarde deur kuborge, transterrane en robotte oorgeneem is. Hy en sy beste vriend Dimpho en Dimpho se ouers boer op Lukas-hulle se plaas in die Bloemfontein-omgewing.

Wanneer hongersnood die voortbestaan van die superwesens bedreig, stel die wrede heerser Dakian ’n bose plan in werking om Lukas te vang en toegang tot sy oorlewingstrategieë te verkry.  Hy lei Lukas suksesvol om die bos en Lukas en ’n paar nuwe vriende vertrek in sy pa se ou Datsun om sy jonger broer, wat voor sy ouers se dood veiligheidshalwe na familie gestuur is, te gaan haal.

Een van hulle reismaats is egter ’n informant…”

23 Desember 2021

‘n Fonds uit vergange dae…

‘n Onverwagse ontdekking – uit hunter en gunter se dae.  ‘n Leesboekie vir die laerskool wat dateer uit 1938 en wat deur Elizabeth Saunders geskryf is – Kasper se besoek aan die Maan?

Dis ‘n verbeeldingryke storietjie met ‘n sedelessie wat daarin verweef is – maar vol WF-elemente.  Ons het die hele boekie afgetas en hier op die webwerf beskikbaar gemaak.  Gaan lees dit gou, dit vat net enkele minute en dis heel oulik – klik met die muis op die prentjie van die voorblad van die boekie hieronder om die storie te lees…

12 Desember 2021

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie’s die grootste in die land?

Al ooit gewonder watter van die talle groot name in die Wetenskapfiksie of Fantasie nou eintlik die grootste of die meer suksesvol is.  Wel, ons het die moeite gaan doen en ‘n bladsy daaroor saamgestel.  Gaan kyk ‘n bietjie na ons Fantastiese Statistiek bladsy om meer oor hierdie saak te wete te kom…

23 Oktober 2021

DUNE

Sjoe, 2021 is só ‘n verbetering op die vorige jaar wat WF betref.  DUNE is hierdie week uitgereik en wat ‘n rolprent!  Dis was werklik die moeite werd om daarvoor te wag.  Ons het ‘n bietjie na die hele DUNE-sage gaan kyk en dit ‘n bietjie uiteen gesit.  Gaan kyk ‘n bietjie na ons bladsy wat spesifiek handel oor hierdie groot naam in wetenskapfiksie…

3 Oktober 2021

Weer ‘n idee wat net voortspruit, maar waar kom dit vandaan?

So ‘n rukkie terug het ons julle bewus gemaak van die oulike reeks wat deur Wille Martin geskryf is, genaamd: Kaptein Kristin Reeks.  Die boeke (gepubliseer in die jaar 1981) het ‘n wêreld geskep wat baie anders as ons sin is, maar nie in die normale WF-maniere nie.  Nee, die wêreld verskil op ‘n kulturele manier.  Vroue regeer en beheer alles, maar hulle besef ook dat biologie eintlik lank terug bepaal het wie werklik moet regeer.

En net nou die dag toe sien ons ‘n fliek wat so eenders is as die temas van die Kaptein Kristin Reeks

Hoe snaaks die fliek ook al mag wees, kom dit nie naby aan om die boeke in jou moeder taal te lees nie.

10 September 2021

‘n Fonds uit toeka se dae…

Dit gebeur van tyd tot tyd dat ‘n verlore skat ontdek word.  In die geval van hierdie webwerf is dit gewoonlik die ontdekking van iets uit die Fantastika wat niemand meer kon onthou nie of meer van geweet het nie.

Ons het so wrintiewaar só ‘n ontdekking gemaak‼

Wie weet van die wetenskapfiksieskrywer genaamd Kobus Maritz?  Wel, ons weet ook nie van hom nie.  En tog blyk dit dat hy ‘n Afrikaanse wetenskapfiksieboek geskryf het.  Reeds in 1966 – en ons almal was gans en al onbewus van hom en sy boek.

Dankie tog vir papierboeke wat êrens op ‘n rak staan en stof vergader om eendag in die tweedehandse boekhandel te beland.  En dis op dié manier wat ons, ons hande daarop kon kry.

Die boek se naam is Tydvlug 2200, en gaan oor ‘n tydreis (soos die naam aandui).  Ons kan nie wag om dit te lees en om binnekort meer daarvan te verklap in ons boekafdeling nie – maar sover lyk die storie baie belowend…

6 September 2021

‘n Hartseer bladsy in WF

Na baie tyd se kritiese ondersoek het ons hier by Afrifiksie besluit dat dié reeks, Discovery die heel swakste in die geskiedenis van die Star Trek heelal.

2 Agustus 2021

Koekeloer tyd!

Dit was dalk ‘n rukkie, maar moenie vergeet om so nou en dan na ons Resensie-Bladsy te gaan besigtig nie!

21 July 2021

Afrifiksie het dit amper nie gemaak nie…

Ons het dit oorleef!  Ons was so amper permanent van die lug af.

Een oggend, toe ons na ons webwerf wou kyk, was hy af…

Ons webwerf (Afrifiksie) se naam was geregistreer by SiteGround en die werf self was bedryf deur Dreamhost.  Met ander woorde, ons het twee afsonderlike rekeninge gehad vir fooie t.o.v. die webwerf.  Toe die registrasie van ons naam verval, kon die kredietkaart nie verwerk word nie, want die nuwe kaart het ‘n nuwe sekuriteitskode gehad wat nie wou deurgaan nie.  Weens ‘n spelfout in ons e-pos-adres kon ons nie in ons eie rekening inkom om die besonderhede by te werk nie.  Wat ‘n fiasko!

Teen die tyd dat ons uiteindelik in ons rekening kon inkom, het SiteGround reeds ons naam op ‘n veiling laat verkoop – en ons kon niks verder doen om die situasie te red nie.

Ons het gewonder of ons moet voortgaan met die werf, of dit maar as ‘n teken sien dat ons tyd gekom het om die hoofstuk af te sluit.  Maar, uiteindelik het ons besluit dat daar eenvoudig net té veel materiaal en té veel geskiedenis was om sommer so maklik maar net op te gee.

Einde ten laaste het ons besluit om maar noodgedwonge ‘n nuwe naam te registreer en ons inhoud na die nuwe naam oor te dra.  Ons het besluit om ons verhouding met SiteGround te beëindig en beide ons naamregistrasie en die bedryf van ons webwerf na Dreamhost oor te skuif.

Ons nuwe naam – afrifiksie-nova.com – is gekies om die naam Afrifiksie steeds as deel van ons nuwe naam te behou.  Die woord NOVA, wat uit die sterrekunde kom, beteken “nuut”, en ons het gevoel dat dit geskik sal wees vir hierdie nuwe fase van Afrifiksie se bestaan.

Ongelukkig is baie van die skakels tussen webblaaie of na die media-lêers (soos foto’s) gebreek tydens die oordrag.  Ons is besig om dit reg te stel, maar dit sal ‘n taamlike tyd neem om dit alles uit te sorteer – wees asseblief tog geduldig, en aanvaar ons verskoning vir die gemors waarin ons onsself tans bevind.  Ons werk hard daaraan om alles weer reg te stel.

Ons gaan egter steeds na onsself verwys as Afrifiksie – ongeag wat ons webwerf-adres is.  Laat weet asseblief almal wat dalk mag belangstel in ons materiaal dat ons adres verander het – maar dat ons definitief nie weg of dood is nie.  Ons het soos ‘n feniks uit die as uit opgestaan…

3 Mei 2021

Die Vulcan van Seville

Star Trek is nie net, knoppies en baie praat nie.  Soms kry jy die heel aangenaamste verrassings daar…

22 April 2021

VVV vandag nog

Al gehoor van VVV (of soos die Engelse sê, ‘UFO’).  Die afkorting word gebruik om te verwys na Vreemde Vliënde Voorwerpe.  Ja, julle het reg gehoor…

Daar is weer ‘n keer een gewaar, maar die keer nie deur amateurs nie, maar deur die vloot van Amerika.  Die VVV’s lyk soos ‘n groot peramide wat in die lug rond vlieg.  Gaan kyk gerus na die nuusberigte daaroor…

14 April 2021

gewemel, Geraas, GEDAGTES en nog GEDAGTES

Laat die ratte draai en die stoom uit julle ore stroom, soos julle die fliek verslind.

6 April 2021

Vertaalde fantasie

Soos altyd is dit lekker om kennis te neem van nuwe boeke in Afrikaans – al is dit nou ook vertaalde werke.  Dié keer is dit van die gewilde Percy Jackson reeks – Engelse werke waarvan daar ook groot en uiters gewilde rolprente vervaardig was – deur Rick Riordan.  Specifiek is die een Percy Jackson en die Olimpiërs – ‘n eerste uit ‘n reeks waarvan daar dalk later meer sal volg.  Hierdie een is getitel Die Weerligdief.

“Percy Jackson is op die punt om uit sy kosskool geskop te word … al weer. En dis die minste van sy probleme. Die afgelope tyd maak allerhande mitologiese monsters en die gode van Olimpus hul opwagting in Percy se lewe, asof hulle so reg uit die blaaie van ’n handboek oor die Griekse mitologie gestap kom. Boonop is ’n paar van hulle woedend vir hom. Zeus se meesterweerligstraal is gesteel, en Percy is die hoofverdagte.

Nou het Percy en sy vriende net tien dae om Zeus se gesteelde eiendom op te spoor en terug te besorg, anders gaan daar oorlog op die berg Olimpus uitbreek. Maar as hy sy heldetaak wil voltooi, sal Percy meer moet doen as net die dief vastrek hy sal vrede moet maak met die pa wat hom nie wou hê nie; hy sal die raaisel van die Orakel moet oplos, wat hom waarsku dat ’n vriend hom gaan verraai, en hy sal ’n konkelplan moet probeer fnuik wat magtiger as die gode self is.”

4 April 2021

Instandhouding

Ons het ‘n bietjie ons bladsy oor musiek in die wêreld van WF+F afgestof en bygewerk met nuwe materiaal.  Gaan kyk (of miskien liewer, luister) gerus na wat ons daar aangevang het.  Dis onder die Media-skakel in die boonste kieslys.  Party van die toevoegings is nogal heel snaaks en oulik – maak seker die klank van die rekenaar of selfoon se volume is aangeskakel…

25 Maart 2021

Kompetisie…

Besonderhede vir ons kompetisie van 2021 is op die kompetisieblad geplaas.  Daag jouself uit en doen iets wat jy nog nie van tevore gedoen het nie.

Ons brand van nuuskierigheid om te sien hoe kreatief jy is…

10 Februarie 2021

Wat gebeur in Welkom

Iets nuuts om te lees in Afrikaans – wat afspeel in die Vrystaatse dorp (eintlik ‘n stad) Welkom.  Dis die nuwe boek van Anton Roodt genaamd Weerlose Meganika.

‘n Tydjie terug is ’n merkwaardige vonds gemaak: ’n koperplaatfoto wat tydens die Slag van Bloedrivier geneem is . .  en dit wys drie engele teen die oggendmis! Die neerdaal van die engele word die hoogtepunt van die jaarlikse gedenkopvoering in Welkom. Maar vanjaar, tydens die kleedrepetisie, word die hoofengel vermoor . . . en die koperplaatfoto het verdwyn! ’n Heerlik aweregse roman, sowel ryke verbeeldingsvlug as skerp satire.”
Dis ‘n interessante boek wat ryk is aan verbeeldingsvlugte en wat wemel met  androïde en klone – definitief sterk aanbeveel.

27 Januarie 2021

Welkom in MMXXI

Sjoe, mens kan kwalik glo dat 2020 reeds verby is.  Dit het behoorlik gevlieg.  En die hele pandemie-affêre het sake nie juis verbeter nie.  En nog is dit die einde nie.  Dinge sleep voort en ons bly ingeperk of ons nou wil of nie.

Oor die jare heen het ons talle wetenskapfiksiewerke gelees of gekyk en soms gewonder hoe dit sou voel om self daarvan deel te wees.  En nou het dit gebeur.  Daardie flieks waar daar die een of ander kiem die mensdom tref en almal afgesonder moet bly om te oorleef, het sowaar in ons eie lewens gebeur.  Maar ek dink elkeen sal saamstem dat die werklikheid daarvan baie anders is as wat ons onsself ooit sou kon voorstel.

Daar is ‘n magdom perspektiewe oor hierdie saak en almal is dit nie eens dat dit bloot ‘n uitbraak van ‘n siekte is nie, maar hang een of meer alternatiewe sienings aan wat gepaard gaan met eie bewysstukke en vrae.  En dis natuurlik goed so.  Niemand behoort iets bloot te aanvaar net omdat iemand jou daarvan probeer wysmaak nie.  Maar ongeag van wat jy glo of nie glo nie, dit maak nie die staat van opsluiting enigsins lekkerder of meer draaglik nie – so, vasbyt almal, ons wag dit saam met julle uit.

Ten minste gee dit ons meer tyd om dinge tuis te probeer doen.  Mens kan ‘n bietjie opvang op agterstallige leeswerk, kykwerk, speelwerk of wat ook al.  Maar ons wil almal aanmoedig om self ‘n bietjie tyd te spandeer om dalk ‘n bydra te maak.  Waarom nie dalk iets skryf en vir ons stuur nie?  Ons gaan wel weer ‘n skryfkompetisie hê hierdie jaar.  Ons gaan dit so vry en oop maak as wat ons kan – enige wetenskapfiksiestorie van tussen 10 en 110 bladsye.  Ons sal die reëls later op die webblad plaas, maar begin solank dink, potlode skerpmaak en wegspring met die skrywery.

Terloops, ek het onlangs aan ‘n onderhoud oor Afrikaanse wetenskapfiksie deelgeneem wat uiteindelik op die Praag-aanlynnuusblad geplaas is, so as jy dalk belangstel aan wat gesê is hieroor, besoek asseblief die nuusblad by praag.co.za.

12 Januarie 2021

Met of sonder ‘n masker?

Is julle nie ook al moeg vir al die maskers nie?  Raak dit nie soms te veel vir jou nie, so asof jy dit net wil afhaal en nooit weer terug opsit nie?  Wel, elke keer wanneer jy so voel dink gerus terug na die fliek…

Let wel: Die fliek is nie geskik vir kinders sonder ouer toesig nie!

21 Desember 2020

Nuwe Sprokie in Afrikaans

Soos altyd is dit lekker om te vertel van iets nuuts wat in Afrikaans beskikbaar geraak het in die wêreld van fantastika.  En ja, dis weer sulke tyd.  Uit die pen van een van die heel grootste skeppers in fantasie uit ons tyd, kom ‘n nuut vertaalde werk, Die Ickabog. En dit nogal deur dieselfde persoon wat vir ons Harry Potter geskep het – J.K. Rowling.

Dié keer is dit ‘n sprokie wat die verbeelding aangryp…

“Die koninkryk van Kornukopië was eens op ’n tyd die gelukkigste in die wêreld. Daar was baie goud, ’n koning met die spoggerigste snor, slagters, bakkers en kaasmakers wie se uitsonderlike kos mense laat jubel en juig het.

Alles was perfek – behalwe vir die mistige Moerasland in die noorde wat, volgens legende, die tuiste van die monsteragtige Ickabog was. Mense met gesonde verstand weet dat die Ickabog net ’n mite is, ’n bangmaakstorie vir kinders. Maar soms neem so ’n storie ’n lewe van sy eie aan.

Kan ’n mite veroorsaak dat ’n geliefde koning sy titel kwyt raak? Kan ’n mite ’n eens gelukkige land op sy knieë bring? Kan ’n mite twee brawe kinders op ’n avontuur stuur waarvoor hulle nie gevra het nie en wat hulle nooit sou kon verwag nie?”

9 November 2020

Die hoender of die eier

‘n Juweel is onlangs in die WF-wêreld ondek.  Een wat die fondasie van Star Trek geruk het…

Die bekende en inspireerende woorde van Star Trek wat ons almal al telke male gehoor het en nou weer, want dis Star Trek

Space: the final frontier: These are the voyages of the star ship Enterprise.  Its five-year mission:  To explore strange new worlds.  To seek out new life and new civilization
To boldly go where no man has gone before!

Die woorde het by ons vas gesteek toe ons ‘n ou Afrikaanse WF-stroieboek gelees het.  Nadat ons die datums vergelyk het kan daar geen meer twyfel wees nie.  Die moontlikheid dat Star Trek die woorde gevat en gedraai het, bestaan wel .

Ons almal hou van Star Trek,tog is die twee stelle woorde net so baie dieselfde dat ons nie oor dit kon kyk nie.  In die jaar 1961 (‘n goeie 5 jaar voor Star Trek) het daar ‘n Afrikaanse boek uit gekom, nl. Reisigers in die Ruim deur prof. Arthur Bleksley.  In die boek verskyn daar toe die volgende legendariese woorde:

As u my sou vra waarom die mens die ruimte wil verken, kan ek dit net so stel:

Dit was daardie begeerte om te kom waar niemand nog ooit was nie, om te ondervind wat niemand nog ooit ondervind het nie, om die onmoontlike aan te durf, wat die mens gebring het waar hy nou staan – meester van die planet waarop sy ras ontstaan het.

 – deur prof. Arthur Bleksley.

Niemand sal ooit kan bewys aan wie die juweel van oorspronklikheid behoort nie. Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat Afrikaans vir Engels ore aangesit het, aangesien dié woorde eerste is Afrikaans op papier vasgelê is…

4 November 2020

Nuut op die rakke

Dis altyd spesiaal om nuwe Afrikaanse werke van wetenskapfiksie in die handel te sien. Hier is ‘n nuwe boek wat onlangs verskyn het – Toekomsmens deur Isa Konrad.

Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid–Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In–Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In chaos wat volg, aktiveer Kel In–Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.

7 – 12 September 2020

dromme, Dromme, DROMME, DROMME, DROMME!!!

…en ons wenner is…

Ons het eindelik tot ‘n besluit gekom.  Een wat ons glo dat geen fantastika aanhangers sal kan betwis of betwyfel nie.  Vir ‘n volledige lys besoek gerus die Beste Fantastika Akteur bladsy.

20 Julie 2020

Opwarming op sy beste

Kom ons sê dit nou maar een maal vir mekaar, WF groot of klein – is orals

Nie net in die literature- of rolprente wêrelde nie, maar sommer ook vir opwarming. So het die Spaanse Soprano Laura Ruhì Vidal ons gewys …

Mag sy lank lewe en floreer.

17 Junie 2020

Nuwe Leesstof

Dis altyd lekker om te kan rapporteer dat daar nuwe wetenskapfiksie in Afrikaans beskikbaar geraak het.  En ja, dis weer sulke tyd.  Hierdie keer is dit ‘n bundel van Afrikaanse wetenskapfiksiestories uit die pen van Schalk Schoombie getiteld Die Nag Ruik na Spoed.  Die verhale is verbeeldingryk en ‘n aanwins op jou rak van Afrikaanse fiksie – tans in die handel beskikbaar by Loot.

13 Mei 2020

Rook en Spieëls

Alles is nie altyd soos dit voorkom nie.  Dit is moontlik dat die wol doelbewus oor jou oë getrek word.  Ons het ‘n bietjie gaan kyk na gevalle in WF waar omstandighede gemanipuleer word om jou te laat glo aan ‘n sekere werklikheid wat eintlik nooit werklik was nie.  Loer ‘n bietjie na ons bladsy oor Nagebootsde Wêrelde om na sulke voorbeelde te kyk…

9 Mei 2020

Skryfkompetisie 2020

Ons het uiteindelik eenstemmigheid bereik oor die skryfkompetisie vir 2020.  Gaan kyk gerus na die bladsy daaroor en besluit of jy kans sien…

2 April 2020

Veels te verveeld

Te verveeld by die huis?

4 Maart 2020

Eerder laat as ter nooit…

Dit voel amper onwerklik.  So lank terug het ‘n werklike goeie kaptein die leisels oor geneem van die reeds beroemde skip U.S.S. Enterprise.  Die kapteine wat ons tans mee te doen kry in die reeks Star Trek is goed en maak die reeks heel vermaaklik, maar niemand is spyt om die herkoms van een van die bestes te aanskou nie…

Op die 23ste Januarie 2020 is die nuutste Star Trek reeks uitgeryk… Ons hou ons duime vas in die hoop dat die reeks net so goed soos die voriges sal wees, indien nie beter nie.

14 Februarie 2020

Laat die wielle rol…

Nou ja!  Dis weer daai tyd van die jaar, waar liefde en idees die wêreld vol is.  Ons hoop almal van julle het ‘n geseënde dag saam met julle geliefdes en dat die idees sal bly vloei.

Aangesien ons die kompetisie wenners wil geluk wens en ook al die ander deelnemers bedank.  Julle het dit glad nie maklik vir die beoordeellaars gemaak nie.  Tog is dit wat WF en Fantasie so ‘n besonderse veld in Fantastika maak.  Daar is altyd so baie aspekte wat in ag geneem moet word en daarom wil ons julle die inspurasie gee om aan te hou met die kreatiewe denke.

Gaan kyk gerus na die volgende skakel wat deur NASA moontlik gemaak is.

27 Januarie 2020

Geheime skatte, ja selfs in Afrikaanse musiek…

Waar is die kunstenaars van ouds?   Met hul treffende musiek en verbeelding aangrypende musiek video’s.  Tog is daar ‘n paar video’s wat soos skatte in vandag se wêreld geag moet word.  Hulle is video’s wat nie oor die aledaagse dinge gaan nie(soos so baie video’s doen) en waarvan die musiek en beeldmateriaal net Buite Die Wêreld is…

So ‘n video is Lê Bietjie Langer deur Jay…

Goed gedaan Jay!  ‘n Oulike suiwer Afrikaanse liedjie, met nog ‘n ouliker video daar by.  Oorspronklik en met ‘n lekker WF kinkeltjie, kan die video as een van die beste musiek bydreas in Afrikaanse WF geag word…

16 Januarie 2020

Floreerende Fantasie … 

So anders as wat fantasie van ons realiteit is, soveel verskil die dekades se fantasie flieks van mekaar af.

Van helde sonder grimering met goeie woorde:   (The Princess Bride)

Na ‘n dekade van vreemde helde en min woorde:  (Pirates of the Caribbean)

En as ons dink aan die huidige dekade, duik daar net een vraag op:

“Wat sal die volgende een inhou?”

13 Januarie 2020

Die tyd stap vinnig aan, die vraag is net: “Hou jy by?”

Het jy al ooit gedink hoe vinnig stap die tyd?  Net nou die dag was Avatar die grootste fliek, maar nie meer nie

9 Desember 2019

Waarvan ons nie in die Bybel lees nie…

Al gewonder waar al die idees ontstaan waarvan ons in die legendes lees.  Dis dalk maar net dat die mens se verbeelding geen perke het nie – of is dit?  Dalk is daar tog idees wat veel ouer is as wat ons ooit sou kon raai.  Ons het hierdie saak van nader beskou en ‘n bietjie huiswerk daaroor gedoen.  Gaan loer gerus…

18 November 2019

Kompetisie kortlys

Ons het hierdie jaar die inskrywings eers deur ‘n vooraf siftingsproses laat gaan en ‘n kortlys daaruit saamgestel.  Die Kortlys is nou beskikbaar vir almal om te geniet.

Gaan lees gerus die stories wat nou finaal beoordeel gaan word…

1 November 2019

Wat hulle nie alles sal eet nie…

Ons wil graag almal bedank wat inskrywings ingestuur het vir ons skryfkompetisie – ons sal dit eersdaags op die werf gelaai kry sodat almal dit kan geniet.

In die tussentyd het ons nog ‘n resep uit die toekoms opgediep en op ons lys bygevoeg.  Gaan kyk gerus na een van die meer omstrede disse uit die reeks Babylon 5 – dit behoort jou mond te laat water…

27 Oktober 2019

Hekse

Ons het weer na die elemente van fantasie gaan kyk, en ‘n toevoeging gemaak tot ons versameling van besprekings daaroor.  Die karakter van ‘n heks kom algemeen in sprokies, fantasie en selfs onder superhelde voor.  Ons het ‘n paar van hulle van nader gaan beskou – lees gerus ons bladsy oor hekse

7 Oktober 2019

Willem wie?

Dit is jammer dat ons soms die bydraes van sekere persone miskyk.  Nou wie sou kon dink dat die skrywer van Romeo en Juliet ook die genre van fantasie bemeester het.  Gaan lees ons bydra oor William Shakespeare tot die fantasie…

24 September 2019

Maskerspel vir almal

Ek onthou nog die dag toe ek vir die eerste keer Star Wars gesien het – dit was natuurlik A New Hope soos ons nou weet.  Op daardie stadium was ek op laerskool, maar die indruk wat daardie eerste tonele in die kroeg op Tatoïen op my gemaak het was so absoluut verstommend.  Wesens van talle wêrelde is bymekaar in ‘n kuierplek êrens in die gopse waar allerlei booshede aan die gang is.

Vir die eerste keer het ek hierdie jaar self ‘n kaartjie gekoop en na die groot Comic Con wat by Gallagher in Midrand was, gaan kyk – en dit was amper weer ‘n soortgelyke indruk as daardie eerste Star Wars fliek…

Comic Con raak al gewilder dwarsoor die wêreld, en dis nogal verstaanbaar wanneer jy self daar is.  Die hoeveelheid moeite wat mense bereid is om te doen om soos die een of ander karakter uit die talle vertakkings van fantastika aan te trek en hulself op te maak is oorweldigend.  Mense wíl eenvoudig vir ‘n dag soos Superman of Darth Vader of Lara Croft of Harry Potter lyk, en sal geen moeite of koste spaar om dit so realisties as moontlik te laat doen nie.

Daar is karakters uit elke denkbare skepping in die fantastika. Die meeste van hulle kom uit flieks en televisiereekse, maar daar was verstommend baie uit die wêreld van strokiesprente.  En moenie van videospeletjies vergeet nie – daar was talle karakters uit God of War, Halo en ‘n spul ander.

Nou om jou ‘n idee te gee van wat daar aangaan, dis basies ‘n reuse skou – en die duisende der duisende mense wat dit gaan bywoon neem vrywillig deel aan maskerspel deur soos die een of ander karakter aan te trek.  Die skou self het hordes stalletjies waar jy allerhande goed kan koop, soos kostuums, juwele, boeke, kunswerke (oor WF+F natuurlik), speletjies, getekende plakkate van ouer en nuwer flieks, T-hemde, ens. ens. ens.

Maar dan is daar sale vol speletjies waar spanne teen mekaar speel en die spel op reuse skerms vir toeskouers vertoon word.  Of jyself kan sommer iets speel by die talle gratis masjiene.  Of dalk ‘n speletjie op virtuele realiteit.  Of op ‘n outydse arkade masjien of dalk Pinball.

‘n Heel ander saal is geheel en al afgesonder om bordspeletjies te speel – goed soos Warhammer 40k, ens.  En natuurlik is daar werklike beroemdes soos kaptein Kirk wat handtekeninge uitdeel en aan gesprekke met die gehoor deelneem.

Dit is duidelik dat hierdie affêre net groter en groter gaan word.  Ek wonder reeds of ek volgende jaar dalk self in ‘n gepaste mondering daar sal opdaag.  Miskien ontmoet ons mekaar nog daar…

3 September 2019

Om verstaan te kan word

Mens wonder soms hoe op des aarde kan daar met wesens van ander wêrelde gepraat word indien ons hul sou ontmoet.  Ons het ‘n bietjie na hierdie saak van naderby gaan kyk om ‘n bietjie meer perspektief hieroor te kry…

24 Augustus 2019

‘n Lekker lusmaker

Die skrywer van die boeke oor die avonture van die kinders Grim, JM van Zyl, het ingestem dat ons die eerste hoofstukke van sy boeke hier op Afrifiksie kan beskikbaar maak vir ons lede om te kan geniet (en miskien aan te skaf :-)).

Gaan lees en geniet dit gerus saam met ons en kyk of jy daarvan hou.

12 Augustus 2019

‘n Suid-Afrikaanse utopie

Baie mense is van mening dat utopiese verhale nie juis tuishoort op ‘n webwerf soos Afrifiksie nie.  En mens kan nogal maklik verstaan waarom iemand dalk só sou voel – baie utopiese verhale het min met die ander elemente van òf wetenskapfiksie òf fantasie te doen.  Maar die een groot eienskap wat tot die redding kom van utopieë, is die feit dat hulle inderdaad behoort tot die groter genre van fiksie wat as spekulatief beskryf kan word.  Dit wil sê dat sulke stories gewoonlik nuwe wêrelde skep waar dinge nie is soos ons dit ken nie.

In ‘n splinternuwe werk van Harry Kalmer skep hy juis so ‘n nuwe wêreld, en dit nogal in Suid-Afrika spesifiek.  In ‘n werklikheid waar die aarde ‘n volgende ystydperk binnegegaan het, is die suidelike halfrond darem redelik uitgespaar – wat die gevolg het dat talle rykes vanuit die noorde juis na Suid-Afrika trek om hier ‘n gemaklike lewe te lei.  Dié wat ryk genoeg is bly in veiligheidskomplekse en gholflandgoedere.  Die regering is egter uitgekontrakteer en word bestuur van buite.  Maar soos ons weet, is elke utopie bloot die kopkant van ‘n muntstuk waaraan die distopiese stertkant onlosmaaklik verbind is.  En dít word meesterlik uitgebeeld in In ‘n land sonder voëls.

En die boek het ook genoeg wetenskapfiksie in vir dié wat maar langtand hieroor voel, soos skeertuie, bio-inplantings, ens.

Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie.  Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het.  Die politiek is geprivatiseer.  Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied.  Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek.  So het ons geglo, of so is aan ons vertel.  Maar nou leer ek ’n nuwe taal.  Die taal van onthou.  En dit maak my gevaarlik.

Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug.  In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is. Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie.

In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

2 Augustus 2019

Ietsie nuut

Dis altyd lekker om te kan rapporteer dat daar ‘n nuwe Afrikaanse werk beskikbaar is, en vandag kan ons dit weer vir ‘n slag sê.  ZAK, die Blou Planeet deur Theresa van Baalen wat deur Lapa uitgegee word is tans op die rakke van boekwinkels.

Twee wêrelde is op die punt om te bots …

Mitch het ’n knop op sy maag, hy weet iéts gaan gebeur. Iets sleg.

En dan land die ruimtewesens in Deltaville en ontvoer inwoners van die dorp. 

Mitch en sy beste vriend, Lionel, besef dat dit hulle taak sal wees om die inwoners te red. 

Op die planeet Zenkion is Imke besig om oor die Blou Planeet, Aarde, te leer. Haar ma was ’n Aardling en dit beteken Imke is half-Blou Planeter, half-Zenkioniet. Al wat Imke wil doen, is om die blou waters van die Blou Planeet te sien. Sal sy die kans aangryp om na hierdie planeet te gaan? 

Al is die planeet besig om aangeval te word …

Mitch en Imke se wêrelde ontmoet in hierdie verhaal oor ruimtereise, ruimtewesens en ’n soeke na die plek waar elkeen behoort.

23 Julie 2019

Kom woon in die buitenste woonbuurte van ons sonnestelsel

Kan ons dalk ‘n nedersetting vestig op ‘n planeet wat selfs verder weg is as Mars?  In die gewilde televisiereeks The Expanse is dit juis wat die mensdom aangevang het.  Maar is daar werklik sulke moontlikhede?

Een so ‘n moontlikheid is dalk by een van die grootste planete in ons stelsel.  Om meer hieroor te lees besoek ons skakel oor verre horisonne, en kyk wat jy daarvan dink…

22 Julie 2019

Dis dalk te swaar om te verstaan…

Met die maanlanding wat hierdie week so pas 50 jaar gelede plaasgevind het, het ons almal weer gesien hoe vreemd die ruimtevaarders op die oppervlak van die maan rondbeweeg het.  Dit lyk vreemd, en die rede is natuurlik dat die hoeveelheid swaartekrag op die maan heelwat minder is as op die aarde – slegs sowat 17% van die aarde s’n.

Ons het ‘n bietjie gaan kyk na die idee van swaartekrag en hoe dit in die wetenskapfiksie voorkom – gaan kyk ‘n bietjie na ons bladsy oor hierdie onderwerp…

5 Julie 2019

‘n Goedkoop DVD of twee…

‘n Mens dink gewoonlik nie aan wetenskapfiksie of fantasie in terme van godsdiens nie.  Daar is wel ‘n aantal sulke werke, maar dis gewoonlik nie deel van die hoofstroom nie.  Ek was nogal verbaas toe ek verlede week by my plaaslike DVD-winkel instap en hulle ‘n groot uitverkoping het op tweedehandse flieks – nogal vir vrek goedkoop.  Twee van die flieks wat ek daar vir ‘n appel en ‘n ei aangeskaf het, is egter die moeite werd om hier genoem te word.

Die eerste fliek is The Remaining (2014).  Die storie begin by ‘n alledaagse toneel, maar dan is daar skielik ‘n oorverdowende lawaai – soos ‘n trompetgeskal.  ‘n Aantal mense is dan dood – net dood, sonder enige ooglopende rede.

Skielik gaan die fliek oor na ‘n volwaardige gruwel terwyl elke volgende trompet meer en meer bose elemente op die aarde loslaat wat die oorlewendes teister.  Dié wat oorleef besef geleidelik dat hul nou voor ‘n keuse staan – dit lyk of die dood gou en onvermydelik is, so wil jy in geloof hierdie aarde verlaat, of daarsonder.

Die fliek laat mens dink – daar is baie karakters wat gedink het dat hul wel godsdienstig was, maar wat nie saam met die ander weggeraap was nie.  Is my geloof wel volkome, of sal ek dalk ook die monsters moes trotseer indien so iets nou sou gebeur?

Die tweede fliek is Six: The Mark Unleashed (2004).  Duidelik ‘n ouer fliek met ‘n kleiner begroting, maar die verhaal daarin is nogtans indrukwekkend.  Dis ‘n distopiese toekoms waarin ‘n totalitêre regering alle vryhede onderdruk.  Dié wat nie die inplanting ontvang nie, word in die tronk gegooi om teregstelling af te wag – maar nie voordat hulle aan grusame marteling onderwerp is nie.

‘n Voormalige polisieman probeer die “rebelle” infiltreer, en word self in die tronk gegooi vir dié rede.  Hy word egter gekonfronteer deur ‘n groep in die tronk wat skynbaar geen vrees openbaar vir die marteling of dood wat vir hul wag nie.  Hulle het slegs één ding in gemeen – hulle glo in Jesus, ‘n tipe fantasiekarakter waarvan sleg in enkele van die min oorblywende boeke vertel word.

Skepties en agterdogtig oor die motiewe van hierdie volgelinge van Jesus, probeer hy by hul leier uitkom, maar uiteindelik besef hy dat sy eie verlede nooit uitgewis of verander kan word nie, en dat sy eie lot ook, òf die dood, òf die inplanting van algehele beheer deur die regering is.

Weereens wonder ek – sou ék maar die inplanting neem, of sou ek die foltering verduur met slegs die belofte van ‘n karakter uit ‘n antieke storieboek om aan vas te klou?

28 June 2019

Kyk en luister

Ons het ‘n bietjie gaan kyk na die voorkoms van wetenskapfiksie en fantasie in die wêreld van musiek.  Gaan kyk ‘n bietjie na van die materiaal wat ons daaroor op ons musiek-skakel bymekaargesit het…

20 Junie 2019

Nuwe e-boek beskikbaar

Ons is bly om te verneem van ‘n splinternuwe e-boek in Afrikaans wat tans beskikbaar is.  Die boek deur JM van Zyl is fantasie, getiteld Die kinders Grim en die Oergaai se Geheim.

Die arme kinders Grim.  Hulle ouers het spoorloos verdwyn en na hulle vir jare by Ouma Annie gebly het moet hulle nou weeshuis toe gaan want Ouma Annie het siek geword.  Die weeshuis is egter nie wat hulle verwag het nie.  Dit is ‘n vreemde gebou wat eerder soos drie huise lyk wat sommer opmekaar gestapel is en stadig in die wind rond draai.  Agter die ou, grys planke skuil daar dinge wat die kinders nog nooit voorheen gesien het nie, gevaarlike dinge.  Dinge wat hulle wens nooit hulle pad gekruis het nie.

Kom saam met Bella en haar sibbe op hulle avontuur deur die fantasie wêreld van Nimmermeer waar hulle talle vreemde dinge teëkom wat hulle soms in benarde situasies dompel.  Daar is vreemde diere en plante, selfs mensvreters en gevaarlike monsters, om van die orkwortelsop nie eers te praat nie!

As jy opskud, kan jy die boek tot 1 Julie nog gratis by Amazon bekom, of daarna teen ‘n geringe fooi, soos wat dit in die e-boek-wêreld werk.

9 Junie 2019

Wat ons nie dood maak nie, maak ons sterker

Dis moeilik om te glo dat die helfte van hierdie jaar reeds verby is.  Op die front van WF+F was dit maar ‘n droewige jaar in die flieks en in die boekwinkel.  Om die gemoedere ‘n bietjie te lig het ons besluit om dalk iets totaal anders aan te bied.

‘n Mens kan nie net van liefde lewe nie.  Kos is maar al te belangrik.

Ons het besluit om resepte uit die wêrelde van die wetenskapfiksie en fantasie te soek, en hier op Afrifiksie te deel.  Gaan loer gerus na die eerste van die resepte uit die wêreld van die verbeelding, en kyk of jy sterk genoeg is vir ‘n Klingon happie…

26 Mei 2019

Die Koningin van die hekse

Fantasie is vol van karakters uit legendes, sprokies maar ook uit die mitologie.  Een van die kleurvolste van hierdie laaste kategorie is Medusa, wat amper enigiemand in sy spore kan stuit.  Vind meer uit oor hierdie nare affêre…

10 Mei 2019

Weer in druk

Twee van die Kuifie strokiesprentboekies wat voorheen reeds in Afrikaans beskikbaar was maar wat lank nie meer beskikbaar was nie, is nou weer in die handel beskikbaar.  Die twee Kuifie boekies Bestemming Maan en Verkenners op die Maan kan nou by handelaars soos Loot aangekoop word.

2 Mei 2019

Hondagtige wesens

Is die honde soos ons hulle algemeen ken dalk familie van die weerwolwe wat ons in die fantasie aantref.  In ons bladsy oor Hondagtiges kyk ons ‘n bietjie na hierdie element in die fantastika.  Kyk gerus daarna om meet te wete te kom…

8 April 2019

Kompetisie 2019

Ons het uiteindelik die kompetisie vir 2019 uitgesorteer.  Indien jy graag wil deelneem en self jou skeppende vaardighede op die proef wil stel, gaan kyk gerus na die kompetisiebladsy.

Ons is gretig om te sien wat jy uit jou duim kan suig – en om saam met jou in Afrikaans te droom…

27 Maart 2019

Vir die liefde van die saak…

Dis ongelooflik wat sommige mense bereid is om te doen.  Stel jouself voor, iemand dink aan ‘n oorspronklike WF+F-storie, skryf die verhaal en gee dit dan weg aan Afrifiksie om dit na goeddunke te gebruik.

Klink dit ‘n bietjie vergesog?  Wel, dis presies wat sommige mense bereid is om te doen.  Ons het besluit om sulke gevalle, as ‘n proefneming, gratis op ons blad beskikbaar te maak om hier gelees te word.  Die eerste storie wat ons beskikbaar maak is die boek Afrikana: Die Begin wat deur Casper Coetzee geskryf is.

20 Maart 2019

Waarheen sou ons kon gaan?

Al gewonder of daar dalk ‘n ander heenkome vir die mens sou wees indien dinge regtig verkeerd loop hier op aarde.  Wel, miskien is daar reeds vir ons ‘n adres gegee – net vir ingeval.  In dieselfde kategorie as Atlantis, is die mite (of legende) van die Swart Ridder – gaan kyk ‘n bietjie na hierdie interessante verhaaltjie wat nie in die Broers Grimm se sprokies vervat is nie…

9 Maart 2019

Kan jy ‘n supermens wees?

Almal droom soms om “beter” te wees as wat werklik die geval is. Om ons eie noodwendige swakhede uit die weg te ruim.  En dit raak nog ‘n dieper begeerte soos ons ouer en swakker word of indien ons met ‘n gestremdheid moet saamleef.  In wetenskapfiksie kry ons toenemend te doen met die idee van ‘n eksoskelet, en die vordering in die mediese en militêre navorsing maak van hierdie element al hoe meer ‘n werklikheid.

Gaan kyk ‘n bietjie na ‘n perspektief op hierdie onderwerp – naamlik die eksoskelet.

2 Maart 2019

Allerlei…

Twee toevoegings waarna daar gekyk kan word:

‘n Bladsy oor die gevreesde karakters wat as demone bekend staan, en ‘n regtig ou akademiese bydra oor Afrikaanse volksgeloof wat vertel van spoke, dwaalgeeste, om met die helm gebore te wees, ens. – baie interessant.

21 Februarie 2019

Sy leef voort…

Op 25 Junie 2016 is een van die grootste WF-skrywers vir Afrikaanse lesers oorlede.  Die bydra wat sy gemaak het tot hierdie veld is van onskatbare waarde.  Ons het haar bladsy ‘n bietjie gaan opknap want dit het nie genoeg gesê oor hierdie besondere skryfster nie.  Gaan kyk ‘n bietjie na dít wat Wille Martin vir ons gedoen het…

8 Februarie 2019

Die put is regtig diep…

Ons het besluit om vir ‘n slag dieper in dinge rond te krap as gewoonlik. Baie van die wetenskapfiksie is maar bloot die spookasem van skrywers met eenvoudige stories – maar ernstige wetenskapfiksie krap dikwels aan diep filosofiese dinge.  Die Fermi-parakoks is ‘n voorbeeld van só ‘n onderwerp.  Indien jy regtig wonder oor dinge, is hierdie artikel dalk iets waarin jy belang sal stel.

5 Februarie 2019

Utopieë – selfs in Afrikaans…

1 Februarie 2019

Grootse Fantasie

Hoewel ‘n mens met reg sou kon hoop dat daar meer fantasie in Afrikaans geskryf sal word, veral vir volwasse lesers, is daar gelukkig ‘n volgehoue poging deur die groot uitgewers om internasionale werke in Afrikaase te laat vertaal en uit te gee. Een van die mees onlangse pogings in dié verband is die boek (of liewer die reeks) van Michael Ende, The Neverending Story, wat ook ‘n uiters suksesvolle stel flieks laat voortspruit het.

Protea Boeke het hierdie boek (die eerste een) nou in Afrikaans uitgegee as Die Eindelose Storie wat tans op boekwinkels se rakke te kry is.

As jy lief is vir fantasie, kry gerus hierdie een vir jou versameling…

18 Januarie 2019

Nuwe strokiesprent opgelaai

Daar is ‘n nuwe strokiesprent van Jet Jungle opgelaai – besoek ‘n bietjie dié eg Suid-Afrikaanse superheld se bladsy…

17Januarie 2019

Wanneer jou vryheid ontneem word

Ons nuwe bladsy oor die konsep van ‘n gevangenis in die konteks van WF+F is nou beskikbaar – lees gerus oor die idee van ‘n tronk waar die verbeelding nie grense het nie.

7 Januarie 2019

Dis die Jaar van onse Heer MMXIX

Welkom by die 7de jaar van Afrifiksie – ons is trots om steeds te groei en steeds as tuiste te dien vir talle van ons lojale lede wat die passie deel van ‘n wêreld waarin daar geen grense bestaan wat die verbeelding inperk nie.

Ons program vir 2019 is propvol nuwe idees en ons hoop om steeds deel te bly van jou lysie van webwerwe wat gereeld besoek moet word om van die nuutste gebeure, nuus en uitbreidings tot ons werf kennis te neem.

Om die jaar af te skop het ons ‘n bladsy saamgestel oor die fassinerende onderwerp van onsigbaarheid en die voorkoms daarvan in die fantastika. As ‘n nuwe inisiatief sal ons voortaan poog om van die relevante woorde oor elke onderwerp vir elke bladsy by te voeg om as hulpmiddel te dien vir dié wat in hierdie veld wil skep. Gaan besoek gerus ons bladsy en gaan kyk ‘n bietjie na die woordelys aan die onderkant daarvan.

Mag God se seën en genade hierdie jaar op jou rus en sigbaar wees in jou lewe…

24 Desember 2018

Uitslag van die 2018 kompetisie

Baie dankie vir almal se geduld. Die uitslag van ons 2018 kompetisie is uiteindelik bekend. Besoek gerus ons bladsy om te sien wie die Wenners van 2018 is.

19 Desember 2018

2018 Afrifiksie WF+F kompetisie

Ons is bykans klaar met die beoordeling van die 2018 kompetisie. Die uitslag sal binne die volgende dag of twee bekend gemaak word – ons is regtig jammer oor die vertraging, daar was net soveel dinge wat in ag geneem moes word.

Louise Viljoen, een van die beoordelaars hierdie jaar, het egter die volgende te sê as algemene kommentaar oor haar indrukke van die inskrywings vir hierdie kompetisie.

Baie dankie vir die geleentheid om die inskrywings vir Afrifiksie se 2018 WF-kortverhaalkompetisie te kon beoordeel. Alhoewel ek baie lekker aan die inskrywings gelees het, is dit duidelik dat voornemende Afrikaanse skrywers steeds heelwat te leer het oor die uitdagende wetenskapsfiksie genre. Skrywers ontbreek weliswaar nie aan talent, verbeelding en ywer nie, maar behoort die dissipline van kortverhaalskryf aan te leer. Skrywers moet die belangrikheid van ’n goed versorgde manuskrip op die hart gedruk word. Ek stel ook voor dat skrywers soveel moontlik wetenskapsfiksie lees. Dis altyd ’n goeie idee om kortverhale in enige genre te lees om vertroud te raak met die kuns om ’n storie in ’n beperkte aantal woorde te vertel. Skaf gerus ook ’n paar woordeboeke en die nuwe AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) aan. Moenie net aan ’n skryfkompetisie deelneem in die hoop om ’n paar rand los te skryf nie. Doen jou huiswerk. Lees op oor die genre (dankie tog vir ’n webblad soos Afrifiksie!) , bestudeer die riglyne, reëls en voorwaardes van die kompetisie. Moet nooit jou eerste probeerslag inskryf nie. Skaaf daaraan totdat jy dit so perfek as moontlik geskryf het volgens jou vermoë. Moenie vergeet om die skryfproses te geniet nie!
Ons is baie dankbaar teenoor ons beoordelaars vir die baie moeite en tyd wat hulle afstaan om hierdie taak te voltooi…

3 Desember 2018

‘n Nuut vertaalde werk in Afrikaans

Hierdie werk deur Mark Huckerby en Nick Ostler is in Afrikaans vertaal deur Kobus GeldenhuysRedder van die Ryk, en is nou by boekwinkels beskikbaar.

Sê nou oeroue mites is glad nie mites nie, en daar bestaan regtig iets soos monsters en towerkuns? Alfie is die troonopvolger, maar op veertien sukkel hy nog om skool te oorleef. Terwyl ‘n oeroue vyand probeer om Brittanje in sy bose mag te kry, besef hy dit gaan baie meer gaan verg as wat hy ooit gedink het om koning te word: Hy moet ook die Redder van die Redder van die Ryk wees.

2 Desember 2018

Elke man se droom

Kortverhale oor wetenskapfiksie kom nie juis deesdae gereeld in tydskrifte voor nie. Daarom is dit regtig ‘n plesier om te rapporteer dat die heel nuutste Huisgenoot wel so ‘n kortverhaal bevat – en dis tans op die rakke.

Hierdie illustrasie deur Michael de Lucchi, wat die kortverhaal vergesel, tesame met die titel van die verhaal, Elke man se Droom deur Berto Hardt, gee reeds ‘n voorsmakie van die inhou van die verhaal.

Die skrywer is duidelik uiters vaardig in die kunsvorm van kortverhaalskepping en toor onmiddelik beelde uit ‘n toekomwêreld op wat ‘n mens se verbeelding aangryp, en kry dit selfs reg om ‘n emosionele reaksie uit te lok. Afrifiksie beveel hierdie kortverhaal sterk aan – raap ‘n Huisgenoot op en geniet hierdie juweeltjie van moderne WF.

22 November 2018

JRR Tolkien

JRR Tolkien se volgende boek het in 2018 in Afrikaans verskyn – Kameraadskap van die Ring. Gaan lees oor hierdie fassinerende skrywer op die bladsy wat ons vir hom geskep het.

16 November 2018

Ag my engel…

Daar is kwalik iets meer interessant as die hemelwesens – gaan kyk ‘n bietjie na die voorkoms van die idee van ‘n engel in die WF.

12 November 2018

Vars fantasie in Afrikaans

Op die internasionale front word ons  taamlik chronies blootgestel aan wetenskapfiksie, maar fantasie is nogal minder algemeen – behalwe vir die gruwelkategorie. Dis lekker dat daar egter wel in Afrikaans fantasie geksep word.

Carina Stander het onlangs (2017) ‘n boek in dié kategorie vrygestel – Die Bergengel.

In Gabriëllië het dertien jaar reeds verloop sedert daar enige teken was van ’n Bergengel en glo die jonger generasie byna nie meer aan die bestaan van dié mitiese kreature nie. Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie én werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n lewensveranderende avontuur vertrek. Wie is die misterieuse Reënboogmaker met wie hulle pad elke nou en dan kruis? Is die brande wat deur die land trek werklik net vure van vernuwende “skoonbrand”, soos die Regiohoofde beweer, of is dit die gevreesde Vuurstorms waarvan die geskiedenis vertel?

’n Mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse lesers sal spreek.

“ … daar is sekere vermoëns wat alle Bergengele oor alle eeue heen in hul wese moes inweef. Vermoëns soos die Dissipline van Feesviering (om elke klein vredesverdrag te vier), die Dissipline van Geheimhouding (om vir twee dekades aaneen die nasie sonder erkenning te dien, vermom as gewone werker) en die Dissipline van Gemeenskap en Afsondering. Vir ’n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: of hy is ’n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, of hy is ’n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as ’n eenkantling. Om ’n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ’n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toe”

10 November 2018

Waar pas wat in?

Die nie altyd ewe maklik om presies te verstaan waar elk van die verskillende vertakkings van die fantastika in mekaar inpas nie. Om hierdie probleem ‘n bietjie meer duidelik te maak het ons hierdie grafiese voorstelling van die spekulatief-fiktiewe veld van fantastika saamgestel, en van die meer algemene sub-vertakkings daarop aangedui.

Natuurlik is die twee hoofvelde wetenskapfiksie en fantasie onderskeidelik. Die kleiner vertakkings bevat soms elemente van slegs één hiervan, maar dit kom tog redelik algemeen voor dat sekere daarvan met ander kan oorvleuel. Van die algemeenste voorkomste hiervan het ons hieronder grafies probeer aandui, maar dit is natuurlik nie altyd soos dit hier gewys word nie – skeppers van WF+F is soms baie meer kreatief en dan kan hul werke sterk hiervan afwyk.

Tog is dit duidelik dat die algemene struktuur redelik duidelik voorgestel kan word, en dit help om hierdie struktuur in gedagte te hou wanneer daar oor hierdie interessante rigting gedink word.

2 November 2018

Wat ons laat bloos of wegkyk…

Daar is altyd maar dinge wat nie so maklik afgaan nie, veral as jy in ‘n gemengde geselskap is. Naaktheid en erotiese beskrywings en tonele laat mens altyd maar ongemaklik voel, maar dis toenemend meer algemeen in die fiksie. Ons het gaan kyk na hierdie aspek in die WF+F en die verskillende elemente daarvan toegelig.

Dis egter nie vir almal bedoel nie. As jy maklik ontsteld raak oor naaktheid, seksualiteit of eksplisiete materiaal, wil ons jou graag vra om nie na hierdie bladsy te gaan kyk nie. Minderjariges mag ook nie die bladsy besoek nie.

Indien jy egter oud genoeg is en graag wil gaan kyk na hierdie bladsy wat definitief naaktheid en seksuele materiaal bevat, kan jy ons bladsy hieroor besoek.

26 Oktober 2018

Al ooit gewonder oor zombies – Afrifiksie se Zombie-skakel

22 Oktober 2018

Hoe op Aarde kom ‘n mens daar?

Hoe is dit moontlik dat daar mense voorkom in so baie van die wetenskapfiksie wat ons telkens sien?

Ons het ondersoek gaan instel na wetenskapfiksie waar daar antwoorde (of leidrade) vir hierdie vrae bestaan en ‘n bladsy daaroor geskep. Besoek ons bladsy oor die mens se voorkoms in wetenskapfiksie.

10 Oktober 2018

Klasieke Wetenskapfiksie

Ons het onlangs een van die vroegste kortverhale oor wetenskapfiksie wat in ‘n Afrikaanse jaarblad gepubliseer was, opgespoor. Met moderne teksherkenning het ons dit omgeskakel om hier gelees te kan word. Gaan lees gerus oom Willie Sutherland se storie, Verstekeling na Mars wat in die 1954 Jaarboek vir Seuns verskyn het – een van Patrys se publikasies.

8 Oktober 2018

Om te loop of om te ry

In die wetenskapfiksie (en selfs in fantasie) bestaan daar baie meer maniere om van punt A na punt B te beweeg as vir ons gewone mense. Die Japanese is veral lief daarvoor om gebruik te maak van voertuire wat loop eerder as om te ry. Hierdie deel van wetenskapfiksie staan bekend as mekka en vind baie wyer byval as wat mens dalk mag dink.

Ons het hierdie interessante veld ‘n bietjie van nader gaan bekyk, en ‘n bladsy daaroor geskep – gaan verbreed jou eie kennis op ons bladsy oor mekka

28 September 2018

Vergete Bundels

Dit lyk asof daar telkens weer opnuut ‘n wetenskapfiksieboek opduik waarvan ons nie voorheen bewus was nie. En ja – so gebeur dit toe weer. Hierdie keer is dit in die vorm van ‘n versameling kortverhalde deur Lochner de Kock wat as ‘n enkele boek deur Perskor gedruk en uitgegee is in 1987 onder die titel ‘n Mens kan ‘n masjien nie vertrou nie.

En van die spul kortverhale is daar talle wat handel oor wetenskapfiksie en fantasie.

En soos mens vir Lochner ken, is die taalgebruik voortreflik en die stories verbeeldingryk en oorspronklik. Indien u dit regkry om hierdie boek in die tweedehandse handel te vind, beveel ons dit sterk aan…

13 September 2018

‘n Foto spreek ‘n duisend woorde…

Dis moeilik om vir iemand te verduidelik wat die bekoring was van ‘n fotoverhaal. Om die waarheid te sê, meeste jongmense weet nie eens wat dit is of dat dit ooit bestaan het nie. Maar vir dié van ons wat wel lank genoeg in die tand is, weet presies wat hierdie tipe fiksie was en hoe ongelooflik gewild dit onder sekere dele van die samelewing was.

Dit word nie oor die algemeen met wetenskapfiksie geassosieer nie, maar daar is tog uitsonderings. Gaan kyk na wat ons opgediep het uit die kelders van die verlede – ‘n interessante kykie in vroeë Afrikaanse fantastika – Die Fotoverhaal

6 September 2018

Die reis gaan voort…

In 2011 het Eben van Renen se aangrypende boek, Arwantië 2953 verskyn, en almal wat dit gelees het is dit eens dat dit een van die heel verbeeldingrykste werke in die Afrikaanse wetenskapfiksie is, wat bestaan. Sedertdien het die hardebaard boek Engel van die nag verskyn wat nie vir jonger (of sensitiewe) lesers aanbeveel word nie. Maar nou, in 2018, het die nuutste van sy werke verskyn  – Die Skoppensboer. En die lekkerste hiervan is dat dit ‘n uitbreiding is van die Arwantynse heelal.

Indien jy belangstel, is hierdie boek beide in papier en as ‘n e-boek by Groep 7 se aanlynboekwinkel beskikbaar.

Die bemanning van die Skoppensboer, ’n ou Albatros II ruimteskip, bestaan uit ’n Obie-tweeling, ’n samoerai, ’n dwelmverslaafde dokter en ’n oorlogsveteraan as kaptein.

Soms word die grootste geheime van die buitenste ruim deur die mees onwaarskynlike mense oopgevlek.

Bespreek ’n G-kapsule op die Skoppensboer en reis saam op hulle eerste sending in die Arwantynse ruim.

Ons voel opreg bederf, en hoop dat daar nog vele boeke uit Eben te pen (of toetsbord) sal verskyn…

27 Augustus 2018

Uit die Bloute

Chanette Paul is nie ‘n skryfster wat ‘n mens gewoonlik met wetenskapfiksie assosieer nie. Tog het sy hierdie jaar vir die eerste keer haar hand gewaag aan hierdie genre, en is ons bly om te kan sê dat haar boek Uit die Bloute nou in die boekhandel beskikbaar is as beide ‘n e-boek en in papier.

 

“Sy bars van nuuskierigheid oor die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip van die Pleiade-sterrestelsel. Sy weier egter om weer saam met Irene en Valk te werk, tot ʼn boogskutter op rolskaatse ʼn bekende regter vermoor en die vermoede ontstaan dat dit moontlik verband kan hou met die VVV-groep.

Toe sy weer sien, konkel sy saam met Irene agter Valk se rug om die raaisel te probeer oplos. Iets wat haar verhouding met Joachim tot die uiterste beproef.

Vir Ayla is haar verlede ʼn verleentheid. Nes haar liggaamsbou. Maak nie saak wat sy doen nie, die stigma van haar ma se bewering dat sy ʼn vlieënde piering gesien het bly net so aan haar kleef soos die groot heupe wat sy by haar ouma oorgeërf het. Sy het egter haar lewe so ingerig dat sy uit die oog kan bly – totdat sy as grafoloog ʼn handskrif moet ontleed en besef haar suster verkeer in wesenlike gevaar. Jojo Richter sal haar kan help om Nimue op te spoor, maar Jojo werk reeds vir Irene en dis Irene se suster wat vir Nimue gevaar inhou. En Strach Serfontein met sy liederlike handskrif wat integriteit, maar ook misleiding verklap, is nou weer ʼn ander tameletjie.”

21 Augustus 2018

Wat is ‘n stad? (in wetenskaspfiksie)

Wanneer ons aan wetenskapfiksie dink, dink ons gewoonlik aan ruimteskepe en buiteaardse wesens. Maar die alledaagse dinge voel nie juis asof dit spesifiek wetenskapfiksie kan wees nie. ‘n Eenvoudige idee soos ‘n stad byvoorbeeld, voel maar bloot soos iets waarmee ons elke dag meer te doen kry en nie soos iets ongeloofliks of futuristies nie.

Maar die stad het baie meer om die lyf as wat ons dink – al is dit bloot uit die oogpunt van ‘n wetenskapfiksieskrywer. Met die nuwe fliek wat in Desember uitgereik gaan word, Mortal Engines, is dit dalk tyd dat ons ‘n bietjie aandag skenk aan die wese van ‘n stad vanuit ‘n wetenskapfiksie perspektief.

1 Augustus 2018

Met Suid-Afrikaanse bloed in sy are

Hoewel hy tans in Kanada woon, is Neill Blomkamp in Suid-Afrika gebore. Kry ‘n bietjie meer agtergrond oor hom in ons bladsy oor hierdie besondere persoon.

24 Julie 2018

Verborge skatte

Dit is werklik verstommend dat ons steeds, na jare se volgehoue pogings, steeds wetenskapfiksieboeke opspoor waarvan ons nie kennis gedra het nie en wat nooit op die Afrifiksie-radar was nie. En so het ons wraggies weer só ‘n fonds ontdek.

Hierdie keer het ‘n tweedehandse boekhandelaar ons atent gemaak op hierdie werk wat hy per toeval op straat in 2015 by ‘n boeksmous aangeskaf het vir ‘n skamele R4,00 nadat dit deur die biblioteekdies geskrap is. Die boek is uitgegee in 1965 deur Voortrekkerpers en is geskryf deur Elmar Steyn – ‘n skoolonderwyser wat ‘n besonder produktiewe skrywer was met baie boeke op sy kerfstok. Hierdie een is getiteld Hilgar se Helde.

” Wat gebeur wanneer twee vlieëniers uit die twintigste eeu in die vreemde wêreld van die Scyttare en die Scyttjorge beland? ‘n Land omring deur onbegaanbare berge waar tyd stil gestaan het en die Afrikaner Harm Francen en sy Amerikaanse makker Don Dempsey, hulle terug in die elfde eeu bevind!

Teen die agtergrond van edelmanne, landhere, kastele, krygslustige soldate, skone dames, hoëpriesters en gode, speel hierdie spanningsvolle verhaal af.”

Kyk gerus of jy hierdie werk in die tweedehandse handel kan vind – stories oor tydreise is altyd ‘n interessante vertakking van die WF.

21 Julie 2018

Sjoe, dit was so amper…

Jammer oor die lang tyd wat verloop het sedert ons vorige opdatering. Ons het so amper die hele Afrifiksie-webwerf verloor. Die diensverskaffer het wysigings aan sekere ander webwerwe aangebring wat veroorsaak het dat ons eie Afrifiksie vir omtrent ‘n week van lyn af was.

En, ja – ons het groot geskrik. Dankie vir al die navrae hieroor. En ‘n besondere woord van dank aan Alex Trup vir hulle hulp vanuit die buiteland om tot ons redding te kom – soos superhelde in ons tyd van nood. Baie, baie dankie Alex.

Ons is nou besig om planne te maak sodat dit nie so maklik weer sou kon gebeur nie, maar dit sal tyd neem om dit ten volle te implementeer.

Maar hier is ons weer – herrys soos ‘n feniks, en beoog om steeds ‘n prominente rol te speel in die wêreld van Afrikaanse fantastika…

27 Junie 2018

Nog fantastiese wesens

Ons het ‘n tyd gelede besluit om ‘n bietjie aandag te gee aan sekere van die wesens uit die wêreld van fantasie, om ‘n bietjie meer insig in hierdie kleurvolle genre te kry. Dis nog maar ‘n projek in sy kinderskoene, maar gaan kyk gerus na wat ons tot nou toe daar gedoen het – Fantastiese Wesens.

Ons nuutste toevoeging in hierdie verband is die gedierte wat in Afrikaans bekend staan as ‘n Griffioen – ‘n wese wat menige stories al opgekukker het. Gaan lees ‘n bietjie meer oor hierdie wese uit die oerverbeelding van die mensdom.

20 Junie 2018

Begrawe onder die stof

Dit gebeur van tyd-tot-tyd dat stories uit die geskiedenis van die Afrikaanse fantastika verlore of vergete raak en niemand later eers meer daarvan kennis dra nie. En hoewel ons ‘n volgehoue poging aanwend om alles daarvan oor tyd aan die hande te kry, is dit steeds ‘n uitdaging en kom daar nou-en-dan nuwe verhale aan die lig.

So byvoorbeeld, het ons onlangs ‘n Jeugbundel, Knapsak, van kort stories in die tweedehandse handel bekom – en so wrintie, een van die sowat 17 stories wat daarin voorkom is toe werklik wetenskapfiksie.

Die storie, Manne van die Maan, deur J.J.G. Grobbelaar en Pieter W. Grobbelaar gaan juis oor die maan, en is in 1965 uitgegee. As ‘n proefneming het ons besluit om die hele storie hier op Afrifiksie te plaas sodat almal dit kan lees – dit is natuurlik slegs moontlik omdat dit reeds meer as 50 jaar oud is en kopiereg dus nie ‘n probleem is nie. Ons het aanlyn teksherkenningsagteware gebruik – so daar mag dalk ‘n foutjie hier-en-daar deurggeglip het. Lees asb. die storie (dis lekker kort) en laat ons weet of julle ander stories ook op die webwerf sou wou lees.

11 Junie 2018

Kraakvars WF in 2018

In 2065, na vele natuurrampe, rig geo-ingenieurs ‘n virtuele koepel oor Kaapstad op en dit word HuiGaeb. Maar in 2315 begin die krake wys; krake in die koepel, maar ook sypel daar in die ultragereguleerde samelewing van HuiGaeb invloede van die buitewêreld in. Vele inwoners lê in droomhospitale, onverklaarbaar aan die slaap, maar lewend. ‘n Groep jongmense besluit om die koepel te verlaat en ‘n reis na die noorde van Chinafrika aan te pak op soek na antwoorde.

2315. Aan die voet van Leeukop, aan die suidpunt van Chinafrika, lê die koepelstad ||Hui !Gaeb, met haar lugskepe, gondels, gragte en die ou kasteel. ‘n Virtuele koepel beskerm die inwoners teen die giftige see en die gevaarlike, onbekende buitewêreld. Dis ‘n oase in die ruwe Chinafrika en ‘n baken van vooruitgang in die onstuimige 24ste eeu. Maar wanneer ‘n nuwe eiland uit die see verrys en gerugte die ronde begin doen dat die koepel aan die kraak is, sypel onrys onder die bevolking in.

Die nuwe boek Kraak van Rouxnette Meiring wat deur Tafelberg uitgegee word het onlangs op die rakke van boekwinkels verskyn, en is aangedui as Boek 1 wat die belofte van nog boeke in ‘n reeks inhou. Laat weet ons wat jy hiervan dink.

4 Junie 2018

Die Heelal van Superhelde en Superheldinne

Een van die vertakkings in die wonderwêreld van fantastika wat seker die minste aandag geniet deur volwassenes, is die ongelooflike karakter van die superheld. En dit is ook seker geen wonder nie. Van kleins af was die strokiesprentboekies waarin hulle voorgekom het gesien as blote leesstof vir kinders.

Maar hierdie wêreld het die afgelope aantal dekades ontplof tot ‘n reuse genre in eie reg met baie vleis om die bene – lees ons superheldbladsy om meer hieroor te wete te kom.

25 Mei 2018

‘n Solo-vlug van die verbeelding

Wat ‘n fees – nog ‘n episode in die grootste suksesverhaal in die geskiedenis van wetenskapfiksie.

Hierdie reeks is waarskynlik verantwoordelik vir meer bekeerlinge tot die wonderwêreld van wetenskapfiksie as enige ander skepping in die geskiedenis. Besoek ons Star Wars-bladsy oor hierdie merkwaardige heelal om meer hieroor te wete te kom.

21 Mei 2018

‘n Neus vir die fantastiese

Vir baie kinders, en veral baie jong seuns, is toegang tot gedrukte WF+F in die form van strokiesprente – en spesifiek superhelde. Afrikaans is egter nie ‘n gewilde taal vir die meeste wat skep in die wêreld van moderne strokiesprente nie.

Dit is vir dié rede dat dit besonder verblydend is dat François Bloemhof saam met Alistair Ackermann ‘n reeks uitgebring het wat juis hierdie leemte aanspreek, naamlik Agent Snoet.

Hierdie stories is goed uitgedink, pragtig uitgebeeld en ‘n plesier om te lees vir kinders en hul pa’s. Gedruk op glanspapier is hierdie boekies ‘n plesier van begin tot einde en ‘n baie lekker toevoeging tot die WF+F genre wat toeganklik is vir alle ouderdomsgroepe. Dit word sterk aanbeveel vir alle kinders – veral dié wat op skool was voor die jaar 2000…

4 Mei 2018

Alle grappies op ‘n stokkie

Is dit aanvaarbaar om vir wetenskapfiksie of fantasie te lag?

Almal mag dalk nie so dink nie, maar die meeste van ons geniet dit om nou en dan die snaaks in ‘n ding raak te sien en ja – daarvoor te lag. Dit is nie so ongewoon om humor in WF+F aan te tref nie, gaan lees ‘n bietjie ons bladsy oor die humor in hierdie veld vir agtergrond hieroor.

29 April 2018

Die enigste toekoms is nie in die ruimte nie

Wanneer ons dink aan oplossings vir die vele probleme van die mens, dink ons gewoonlik aan iets soos ‘n kolonie op Mars. Dít is egter nie die enigste moontlikheid wat ons moet oorweeg nie – dalk kan ons onsself wend tot die dieptes. WF gebruik dikwels die mootnlikhede van die see as ‘n agtergrond vir ‘n fantastiese verhaal onder die water.

17 April 2018

Begin ons belangstelling verloor?

Hoewel daar jaarliks meer en meer episodes uitgereik word van die groot handelsmerke in die veld van WF, is dit opmerklik dat die nuwe wetenskapfiksie al hoe “harder” word. Dit lyk amper asof die WF-aanhangers uitgeput begin raak vir die werklik onmoontlike en eerder wil afkom aarde toe. Gaan lees ons blad oor Harde WF om te kyk na van die onlangse verwikkelinge op hierdie gebied.

9 April 2018

Waar die grense dof word…

Of dit nou ‘n geldige siening is of nie, ons dink gewoonlik aan wetenskapfiksie as ‘n tipe verhaal wat in die ruimte afspeel of wat te doen het met wesens wat uit die ruimte na die aarde gekom het vir die een of ander rede. En hoewel dit gewoonlik waar is, is daar ‘n toenemende neiging dat die grense van WF verskuif en dat elemente wat tradisioneel in ander van die sub-genres tuis was nou begin oorspoel na wetenskapfiksie toe – of andersom.

Anna Erishkigal is ‘n skryfster wat in Engels skryf maar wat haar werke heel suksesvol in ander tale laat vertaal en bemark. Haar werk, Die Horlosiemaker (2016) het ons reeds vroeër hier op Afrifiksie genoem, maar daar het nou onlangs ‘n aantal van haar ander werke ook in Afrikaans verskyn. Gaan kyk na ons bladsy oor hierdie skryfster en na die boeke van haar wat tans in Afrikaans as e-boeke beskikbaar is by Smashwords.

26 Maart 2018

Om aan die agterspeen te suig…

Dit is werklik jammer om te sien hoe Afrikaans afgeskeep word. Wanneer mens ‘n nuwe fliek op ‘n laserskyf koop, is daar gewoonlik ‘n hele spul keuses wat die kyker kan uitoefen. Byskrifte onder op die skerm kan gekies word, die klankstelsel se eienskappe en selfs die taal waarin die klankbaan moet speel. En, afhangend van die fliek, kan daar uit hordes verskillende tale gekies word – Spaans, Engels, Russies, ens.

En Afrikaans? Nee. Nooit nie! Mens wonder wat van die vele oorklankers uit die vroeë dae van TV geword het. Nie eens die byskrifte kan in Afrikaans aangeskakel word nie – tensy die fliek natuurlik in Afrikaans vervaardig was. Dit is werklik betreurenswaardig.

Gelukkig kan ek iets opwindends aankondig. Johan van Wyk het die taak aangepak en ‘n vollengte wetenskapfiksiefliek met Afrikaanse byskrifte aangepas. Die fliek het ‘n Nederlandse klankbaan wat in die meeste gevalle heel verstaanbaar is, maar vir waar dit nie so duidelik is nie, of waar die Nederlandse gammatika wil lol, is die Afrikaanse voetnota’s byderhand.

Ons opregte dank aan Johan vir sy harde werk. Gaan kyk asseblief die fliek en laat ons weet wat julle hiervan dink.

Nederlandse fliek met Afrikaanse byskrifte – Seun 7.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”14″]

22 Maart 2018

Afrifiksie 2018 – Skryfkompetisie

Ons is trots om die beoordelaars vir die kortverhaalskryfkompetisie vir 2018 aan te kondig. Soos vroeër vermeld staan die kompetisie vir 2018 weer op die twee hoofpilare van fantasie en wetenskpfiksie onderskeidelik.

Hierdie jaar sal die kortverhaalinskrywings in fantasie beoordeel word deur Nelia Engelbrecht. Nelia is ‘n bekende in die wêreld van Afrifiksie en het groot sukses behaal met haar reeks – Die Poort.

Nelia besit ‘n B.A. graad en is ‘n bekroonde skrywer wat talle pryse gewen het in haar skryfloopbaan. Ook sy het aanvanklik gefokus op die skryf van kortverhale waarvan daar ‘n aantal in bundels opgeneem is. Sedert 2003 het haar werke op die rakke van die boekhandelaars begin verskyn en word sy tans geag as ‘n waardevolle toevoeging tot die skat van skeppende skrywers in Afrikaans.

Vir wetenskapfiksie gaan Louise Viljoen hierdie jaar die oordeel vel. Louise is ‘n bekende by Afrifiksie en het self in die verlede deelgeneem en gewen.

Louise is veral bekend vir haar fantasieverhaal Kinders van die Feniks wat in 2015 die lig gesien het.

Ons is bevoorreg dat Louise en Nelia ingestem het om hierdie jaar se beoordelaars te wees – baie dankie aan beide van julle.

En baie voorspoed aan al die voornemende deelnemers…

9 Maart 2018

Om in die ruimte te woon en werk

Een van die interessantste plekke waar die werklikheid en wetenskapfiksie mekaar ontmoet, is in die konsep om in die ruimte self te woon eerder as op ‘n planeet of ‘n maan. En die een plek waaraan die mensdom al vir dekades lank werk, is ‘n ruimtehabitat in die vorm van ‘n ruimtestasie.

Ons het ‘n bietjie gaan kyk na hierdie fassinerende konsep om perspektief te kry oor hierdie kruispad tussen werklikheid en WF….

23 Februarie 2018

Alle ruimtewesens is nie grys nie…

Inderdaad nie! Party is uiters gevaarlik en kan slegs telepaties kommunikeer. Maar planeet Melmac is ‘n ander tipe plek waar die dominante spesie ‘n wollerige en hoogs vermaaklike affêre is. En ons sou nooit van hul bestaan geweet het nie tensy een van hulle ‘n noodlanding op die aarde moes uitvoer en toe by ‘n tipiese gesin in die VSA ingetrek en die Tanner-gesin se lewens permanent omgekrap het.

En vir Afrikaans was hulle verlore, tot ons uiteindelik ‘n ou VHS-kasset gevind het waarvan ons ‘n halfdosyn episodes kon red. As jy ook ‘n aanhanger was van hierdie vreemde wese uit die ruimte wat ons in die 1980s en 1990s leer ken het, kyk gerus na hierdie materiaal wat in ‘n ou kas lê en stof vergader het vir ‘n paar dekades.

[Total_Soft_Gallery_Video id=”5″]

20 Februarie 2018

Splinternuwe Leesstof

So uit die bloute het ons kennis geneem van ‘n nuwe skrywer wat ‘n reeks boeke (e-boeke) in wetenskapfiksie geskryf het. Franz Ludick se reeks oor ‘n WF-karakter Gawie Botha is beskikbaar op smashword.com as e-boeke teen $4,99 elk. Die reeks bestaan uit drie boeke sover en hy is besig om aan die vierde een te skryf.

Besoek gerus ons bladsy oor hierdie stories en hul skrywer – Franz Ludick en die reeks oor Gawie Botha se avonture

15 Februarie 2018

Weet jy wat jy weet?

Ons almal leef in ‘n wêreld waaroor ons redelik seker is. Dinge gebeur op ‘n sekere manier, en ons dink nie eers daaroor nie. Niemand van ons het vanoggend gewonder waarom die son opgekom het nie, want sonder dat ons daaroor hoef te gedink het, het ons geweet dat die aarde gedraai het – soos wat dit elke dag gebeur.

Maar wat as dit alles ‘n leuen was – ja, elke liewe ding wat jy gedink het jy weet of verstaan. Dit klink dalk vreemd maar daar is nogal baie mense wat juis dít glo – dat dinge juis nie is soos jy dink nie. En dit is ‘n goeie ding want dit laat mense druk en beur teen die wande van ons realiteit – en dit is juis wanneer die mure van ons realiteit wil wankel dat ons aan nuwe moontlikhede begin dink. Nuwe moontlikhede is die saadjies van die wetenskapfiksie en fantasie.

Kyk na ons nuwe blad oor samesweringsteorieë – dalk weet jy nie wat jy weet nie…

7 Februarie 2018

Erotika

Volwasse temas of ‘n erotiese agtergrond of ondertoon is niks ongewoon op die internasionale verhoog van wetenskapfiksie en fantasie nie, maar in Afrikaans is daar maar nog altyd ‘n versigtigheid jeens dit. Hoewel Wille Martin en enkele ander tog elemente daarvan in hul werk aangeroer het, was dit grootliks beperk tot romantiese verhoudings wat uitsluitlik op die verbeelding van die leser gesteun het – eerder as om fisies verwoord te word. En dit is seker niks vreemds nie – histories is die Afrikaans-sprekende relatief konserwatief in vergelyking met ander van Europese afkoms.

Engels is natuurlik ‘n ander saak, en kan daar lang lyste saamgestel word van blote erotiese tot hoogs eksplisiete werke wat die grense toets met pornografie.

Die Franse het natuurlik ‘n selfs oper benadering tot seksualiteit. ‘n Voorbeeld hiervan is die strokiesprentkarakter Barbarella van Jean-Claude Forest wat al in 1962 verskyn het en waarvan daar ‘n vollengte Engelse fliek met dieselfde naam in 1968 uitgereik was en wat uiters opspraakwekkend in sy tyd was.

In Japanees is dit nog meer blatant met ‘n kulturele benadering waarin seksualiteit veel meer geïntegreerd is met hul alledaagse lewens – ten minste uit die oogpunt van hul kommersiële fiksie.

Tog bestaan daar enkele voorbeelde hiervan in Afrikaans. Ken Follett wat ‘n uiters geslaagde skrywer in die fantastika-genre is, se een boek The Key to Rebecca is vier jaar later in 1984 in Afrikaans uitgegee as Die Geheime Kode van Rebecca.

Dit is nogal raar in Afrikaans, maar die verhaal is nie besonder eksplisiet nie en is redelik geslaagd – en taamlik vermaaklik. Indien jy dit in ‘n biblioteek of in die tweedehandse handel kan vind, lees dit gerus – dit gee ‘n nuwe insig in op ‘n aspek waarvoor ons dikwels maar uiters huiwerig is.

5 Februarie 2018

2018 Kompetisie

Ja, dis weer tyd. Ons stel graag ons nuwe kompetisie vir 2018 bekend. Daar is geringe klemverskuiwing teenoor die vorige een in ‘n volgehoue poging om deelname te bevorder en dit uit te brei.

Besoek asb. ons bladsy vir die 2018 kompetisie om die besonderhede te sien. En baie voorspoed as jy hierdie jaar gaan deelneem…

19 Januarie 2018

Jy speel seker…

Van al die vorme waarin wetenskapfiksie opgedis kan word, is daar een vorm wat verg dat jy self moet deeleem – en jou eie vaardigheid is belangrik as jy nie ontydig wil sterf nie. Dit is natuurlik die wonderwêreld van die videospeletjie. En jy kan maar sê wat jy wil – jou mening is onbelangrik as jy dit nie al self probeer het nie.

Ons het ‘n kort afdeling afgestaan aan hierdie vorm van media waarin jy self ‘n deelnemer kan wees – en nie bloot ‘n waarnemer nie. Gaan lees gerus ons blad oor die verskynsel van die videospeletjie.

Kyk gerus na ons argief vir vroeëre plasings op hierdie blad…

34 thoughts on “

  1. Gerhardus, die gedeelte wat jy vertel het van die Loeloeraai sal ek dit graag wil kry en lees want dit klink nogal baie lekker. Hou aan met die goeie werk my broer.

  2. Anike Kirsten, Weereens welkom hier by ons. Hoop jy sal dit geniet hier. Ons almal is nog nuut hier en skrikerig om te gesels maar sodra iemand gaan begin, glo ek die vonke sal spat. Weereens welkom daar van my tuis dorp se wêreld af.

  3. Ons is opsoek na enige aantekeninge oor Loeloeraai (milieu, intertekstuele verwysings). Kan iemand ons help?

    • Beste Naomi. Die beste raad wat ek kan gee is kyk of jy 1972 (negentiende druk) in die hande kan kry. Daar is geweldig baie aantekeninge siende dat dit vir ‘n tyd ‘n voorgeskrewe boek was op skool en die aantekening was vir die leerlinge geplaas agter in die boek.
      Hoop jy kom reg.

  4. Dankie aan Johan van wyk vir my AFRIFIKSIE Tshirt wat ek ontvang het. Dit pas my perfek. En ek is nie net ‘n bietjie trots daarop nie.

    • Groort plesier ou maat – kom ons maak seker dat hierdie genre vlam vat in Afrikaans

  5. Ek wonder wie is ons nuwe WF en F beoordelaards vir volgende jaar se WF en F- kortverhaal kompetisie?

  6. Ek het die Afrikaanse Skryfgids gekoop, in 2015. Wat ‘n ongelooflike boek! Maar wil van volgende maand begin om e-boeke te koop en te lees by AfriFiksie. Maar ek het net een probleem. My rekenaar ken nie Epub nie? Te oud of iets. Is daar dalk ‘n manier hoe ek van die boeke in pdf kan aflaai, nadat ek dit gekoop het? Want op my slimfoon het ek onlangs ‘n ‘UB Reader App’ afgelaai. En hy kan e-boeke in pdf formaat lees. Kan AfriFiksie dit doen?

    • Hallo Chantal. Jy kan op SourceForge.net gaan kyk, daar is ‘n programmetjie genaamd Cool Reader. Dit word gereken om ‘n hele klompie elektroniese drukke te kan lees.

      • Dankie vir die inligting. Ek you ook van die ice cream been wat jy gratis kan aflaai op jou rekenaar. Jy werk net in Epub format.

  7. Dankie Gerhardus Thompson vir die WF- woordeboek. Dis uitstekend en briljant beplan. Het die boek gisteraand begin deurlees. Groete.

  8. Dis vir my ‘n groot skok om te verneem van die ontrekking van my groot vriend Joe Botha. Ek stem volkome daarmee saam dat ons defnitief ‘n groot reus in die letterkunde verloor het. Ek is bevoorreg om hom persoonlik te ken en noem hom met trots, “boeta Joe”. Hy is ook die een wat my van raad voorsien rakende my skrywes.
    Boeta Joe, jy is soos ‘n ‘broer’ wat ek hier in ons ‘familie’ verloor het. Jy gaan beslis hier gemis word.

  9. Baie geluk aan Machiel Viljoen! Ek’s opgewonde om te lees dat Afrifiksie gaan voort leef!

    • Dankie Chantal, ons sal doen wat nodig is om die wiel aan die rol te hou…

  10. Baie dankie Chantal, ons sal doen wat ons moet om die wiele aan die rol te hou…

  11. Machiel, het jy dalk ‘n idee wanneer die kortverhaal kompetisie uitslae bekend gemaak gaan word. Volgens di einskrywings reëls sou dit al die 31 Aug gewees het.

  12. Beste Machiel. Ek is bly jy sit die werk van Afrifiksie voort. Ek het ‘n opvolgverhaal op my wetenskapsfiksie boek “Leo” geskryf en dit self gepubliseer, aangesien Thompson Boekdrukkery gesluit het. Ek noem dit, aangesien julle vra na ongelyste boeke. Die boek “Stellamarie” is verkrygbaar in die webwinkel van Groep7Drukkers.

    • Dankie Anna, dit klink fantasties – ek is bly jy bring dit onder ons aandag. Kontak my asseblief by machiel.viljoen@afrifiksie.com met meer inligting. Ek sal graag verder met jou hieroor wil gesels….

  13. Baie dankie, Machiel, vir die waarskuwing oor die masjienvertaalde boeke. Ek hoop dit bereik genoeg mense betyds, want dit kan baie skade doen aan die belangstelling in Afrikaanse wetenskapsfiksie.

    • Ja, Anna – dis skokkend hoe swak dit is. Baie is onleesbaar. ‘n Mens moet maar hou by boeke wat in Afrikaans geskryf is of wat deur ‘n bekwame PERSOON vertaal is…

  14. Afrifiksie lyk baie goed! Hou so aan met die goeie werk Machiel Viljoen!

  15. Om te gaan fliek kos ‘n fortuin. Wag DAT dit op DVD kom.

    • Ja Chantal, dit is omtrent duur. Mens moet maar mooi dink of dit die moeite werd is…

  16. Ekskuus as ek jou pla Machiel, maar my korverhaal (Die advertensie) is nog glad nie gepubliseer op die webbblad nie. Ek begin bekommerd te raak.

  17. Ek hou baie van die Fantastika idee. Dit is heel intereesant. En ek hoop daar gaan binnekort ook ‘n wetenskapfiksie skakel wees!

  18. Ek het al oulike kinderboeke gelees. Wat ek by die biblioteek uitgeneem met deur verskeie skrywers, soos bv. Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Francios Bloemhof, ens.

  19. Geluk aan al die wenners van Afrifiksie! Voorspoedige Nuwe Jaar aan almal!

  20. Ek het na all die Insidious DVDs al gekyk. Hulle is goeie flieks. Ek sien nogals uit na die laaste een. Justice League is net so goed en die kinderfliek Coco, is baie oulik.

  21. Scientology is ook besig om ‘n tol oor die wereld te neem. Op ‘n stadium het die TV advertensies gewemel met sulke goed. Om nou glo te wys hoe kan Scientology jou gesin help met sukses. Gelukkig het Tom Cruise wakker geskrik en die Scientology gelos, omdat sy huwelik met Katie Holmes gesink het asgevolg daarvan. Waar het jy all ooit gehoor die aarde het ontstaan deur ‘n big bang? Nonsense.

  22. Beste Machiel Nog n kinderboek deur Human & Rousseau 1996 uitgegee Sending na Planeet55-7 Die Artaarse koffiekrisis deur Yvonne Botha.Dan is daar n boek wat so pas verskyn het uitgegee deur skryfster self nl. Why I was born in AFRICA deur JUDITH KUSEL wat neerkom op Wetenskap fiksie miljoene jare gelede toe die aarde ontstaan het.

Comments are closed.