JRR Tolkien

Die pad hou ewig aan en aan,

Vanaf die oorsprong voor die deur,

Vêr vooruit het dit gegaan,

En ek sal volg, as niks my keer.

                                – J.R.R. Tolkien

Daar is baie min skrywers wat so bekend is as Tolkien, en dit oor een enkele skepping wat deur hom voortgebring is – die heelal van Die Heer van die Ringe.

En mens sou kwalik oordryf deur te sê dat John Ronald Reuel Tolkien grootliks die fantasie-genre geskep het soos ons tans ken.  En, ja, hy het ‘n sweempie Suid-Afrikaanse bloed in sy are.  Hy is op 3 Januarie 1892 in Bloemfontein gebore, waar sy pa, Arthur, as ‘n bankklerk gewerk het by die Afrika Bank.  Toe hy egter vier jaar oud is, sterf sy pa en word (interessant genoeg) in die Heldeakker in Bloemfontein begrawe waar sy graf eers weer in 1990 herontdek is – dieselfde begraafplaas waar talle Suid-Afrikaanse staatshoofde begrawe is.

Na die dood van sy pa, keer sy ma terug na Engeland waar hulle oorspronklik vandaan was en neem haar twee seuntjies saam.  Hulle het baie swaar gekry, en die twee seuns se ma sterf in 1904 aan suikersiekte (wat toe nog ‘n dodelike siekte was omdat dit nie effektief behandel of beheer kon word nie).  Vanaf dié punt in hul lewens word hul deur hul Rooms-Katolieke priester versorg wat toesien dat hul opleiding ontvang.

JRR Tolkien is reeds van vroegs af uiters vaardig in tale, en bemeester Grieks en Latyn terwyl hy nog op skool is.  Op 16 raak hy en Edith Brad verlief op mekaar, maar omdat sy toe reeds 19 was, word ‘n verhouding (en selfs korrespondensie) deur sy priester en voog verbied – en aanvaar hy die verbod gedweë.  Toe hy mondig is en op Oxford studeer, maak hy vir Edith die hof en uiteindelik vat sy hom terug.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek word hy later, na hy sy graad in 1915 met lof voltooi het, ook daarby ingetrek en word hy operasioneel ontplooi op die westelike front.  Hy doen egter ‘n siekte op wat algemeen was onder soldate wat in loopgrawe geveg het en wat met swak higiëniese toestande verbind word.  Weens dié siekte word hy teruggeneem na Engeland waar hy uiteindelik herstel, maar die siekte vlam telkens weer in hom op.  Hy neem egter steeds deel in die oorlog – al is dit op tuisgrond en word bevorder tot die rang van luitenant.

Die egpaar het uiteindelik twee seuns en ‘n dogter.  JRR Tolkien word uiteindelik as professor by Oxford aangestel in Engels en Letterkunde na voltooiing van sy doktorsgraad.  Deur sy ganse lewe werk en ontwikkel hy sy fantasieheelal van Midde-aarde (wat selfs ‘n eie taal wat hy ontwikkel het insluit), met verskeie boeke wat oor tyd verskyn.  Sy Legindarium is die verhaal van Lúthien en Beren in ‘n werk wat die agtergrond skets vir die wêreld van verhale wat later in die Midde-aarde sou afspeel, soos Die Hobbit en Die Heer van die Ringe (soms vertaal as “Heerser van die Ringe“). Op ‘n romantiese piekniek dans Edith vir hom in die bos en kry hy inspirasie vir sekere romantiese temas wat herhaaldelik in sy werke na vore kom, en begin hy vir Edith sien as Lúthien en vir homself as Beren.

Sy werke bereik uiteindelik reuse internasionale sukses en dit word in vele tale vertaal. Selfs sy goeie vriend, C.S. Lewis (die skrywer van Narnia) het hom by geleentheid vir ‘n Nobelprys in Letterkunde genomineer.

In 1972, een jaar voor sy dood, vereer koningin Elizabeth II hom met die Orde van die Britse Ryk en ontvang hy later in dieselfde jaar die Orde van Buckingham Paleis. Hy ontvang ook in dieselfde jaar ‘n eredoktorsgraad van Oxford Universiteit.

Toe hy sterf in 1973, twee jaar na Edith se dood, word hy in dieselfde enkelgraf as sy begrawe.  Die inskripsie op hul grafsteen lui as volg:

Edith Mary Tolkien
Lúthien
1889–1971
John Ronald
Reuel Tolkien
Beren 
1892–1973

Van sy geskrifte is selfs na sy dood eers gepubliseer.

Die heelal wat JRR Tolkien geskep het is asemrowend.  Dis deel van ons letterkunde, televisie, rolprente en selfs videospeletjies. Dis ‘n wêreld van elwe, dwerge, orks, towenaars, fantastiese wesens, towerwoude waar bome kan praat, drake, feë, en die ewige donker bose teenoor die edel en rein goeie.

Danksy onlangse ondernemings het ons tans reeds van sy werke in Afrikaans beskikbaar, soos Die Hobbit in 2017,

Die Kameraadskap van die Ring in 2018, …

Die Twee Torings in 2019, …

…en laastens Die Koning Keer Terug in 2020.

Die wêreld van fantasie wat ons vandag ken sou kwalik dieselfde gewees het indien JRR Tolkien dit nie vir ons geskep het nie, en sy werke sal vir geslagte lank nog gelees word.

So onthou ons dié Suid-Afrikaans gebore skrywer wat ‘n wêreld geskep het wat groter is as meeste, en wat ‘n waardige plek beklee as een van die heel grootste heelalle in fantastika.