Titaan

Naas Mars sou mens maklik kon dink dat Jupiter dalk die volgende beste, of maklikste, plek sou wees om te gaan woon.  Dié gasreus het egter verskeie probleme wat dit nie eintlik baie geskik maak nie.

Jupiter het ‘n stelsel van stralingsbande daarom wat ongelooflike hoë vlakke van bestraling tot gevolg het.  Dit maak dat die planeet self, asook sy groter mane, uiterse gevare vir lewe inhou.  Daarmee saam het die planeet geen toeganklike landmassa waarop daar geland sou kon word nie.  ‘n Verdere probleem is dat selfs ‘n aërostaat (‘n ballonagtige tuig wat in die atmosfeer van die planeet kan dryf) nie eintlik ‘n moontlikheid is nie, omdat Jupiter se atmosfeer groot hoeveelhede waterstof bevat wat reeds ‘n baie lae digtheid het.

Mens sou maklik kon dink dat die swaartekrag van Jupiter self ook dodelik sou wees, maar weens die stowwe waaruit die planeet saamgestel is, is die swaartekrag op die oppervlak bloot maar sowat 2½ keer sterker as die aarde s’n – vlakke wat waarskynlik lewe sou kon onderhou…

Die volgende planeet na Jupiter beskik egter oor ‘n maan wat inderdaad ‘n goeie kandidaat sou wees om op te lewe, of ‘n kolonie op te vestig – dit is die maan Titaan wat om Saturnus wentel.

Titaan is die tweede grootste maan in die Sol-stelsel, met ‘n swaartekrag min-of-meer dieselfde as dié van die aarde se maan s’n.  Dit het egter ‘n digte atmosfeer wat uit omtrent 95% stikstof bestaan – sowat 80% van die aarde se atmosfeer bestaan ook uit stikstof.  Met die verkenning van die sonnestelsel deur ruimtepeilers (reisende satelliete) is daar water in bevrore vorm asook vloeibare vorm op Titaan se oppervlak ontdek, wat natuurlik uiters wenslik is vir menslike bewoning.  Dan is daar ook organiese stowwe op Titaan teenwoordig wat nie net ‘n boublok in die selle van lewensvorme is nie, maar ook voordeel inhou vir die langtermyn bewoning van dié maan.

In die kiekie hieronder is Titaan die grootste sfeer in die groep – let daarop dat dit wasig voorkom weens die atmosfeer, terwyl die oppervlaktes van die ander waargeneem kan word.

Die temperatuur op ‘n liggaam wat só ver van die son af is, is natuurlik baie laag – in dié geval is dit in die kriogeniese gebied teen sowat -180°C.  Dít is natuurlik self ‘n probleem, maar met ‘n betroubare energiebron sou ‘n basis op die oppervlak maklik verhit kon word tot by ‘n gemaklike vlak vir menslike lewe.  Op dié afstand vanaf die son, en weens die digte atmosfeer, kan daar egter nie van sonenergie gebruik gemaak word nie en sal ander moontlikhede, soos kernkrag, oorweeg moet word.

‘n Ander maan van Saturnus wat ook water bevat is Enkelados.  Hierdie maan is ook ‘n moontlikheid vir bewoning, maar die uiters lae swaartekrag (minder as 10% van dié van Titaan s’n) is ‘n veel groter probleem as in die geval van Titaan self.  Daarby is daar onstabiliteit van die oppervlak van dié maan wees vulkaniese aktiwiteit.

Dit is miskien nie ooglopend vanuit die staanspoor waarom ‘n mens in die eerste plek na ‘n bestemming sou wou gaan wat só verafgeleë as Titaan is nie, maar daar is ‘n aantal redes waarom dit altemit wenslik sou wees.  Byvoorbeeld, om die buitenste deel van die sonnestelsel te verken is moeilik.  Daar is ongelooflike lang tydvertragings tussen die stuur en ontvang van boodskappe, seine of instruksies om afstandbeheerde toerusting te beheer.  Indien daar ‘n nedersetting op Titaan sou bestaan, sou beheer daarvandaan gedoen kon word in plaas van die aarde.

En dan is daar die kwessie van brandstof.  Titaan sou ‘n nuttige plek wees waar stowwe ontgin kon word om ruimtesendings meer te voorsien.  En met die lae swaartekrag sou dit ook relatief maklik wees om die stowwe in die ruimte te kry – waar dit op aarde, of meeste planete, dit ‘n groot probleem is.

Een van die interessantste aspekte van die maan Titaan, is die digtheid van die atmosfeer.  Die hoë digtheid bring mee dat die vlerkspan van ‘n vliegtuig baie kleiner sou kon wees om steeds te kan vlieg.  Dit is immers só dig dat ‘n mens ‘n stel vlerke op die rug sou kon vasharnas en self kon vlieg – miskien met lang paddavoete amper soos dié van ‘n duiker om die nodige aandrywing vorentoe te verskaf (natuurlik in ‘n tipe ruimtepak)…..