Alternatiewe Geskiedenis

‘n Minder algemene, maar tog baie interessante vertakking in die spekulatiewe fiksie, is die idee van ‘n alternatiewe geskiedenis. Dit gaan oor die moontlikheid dat die verlede ‘n ander roete gevolg het as die werklike verloop, en gevolglik is die hede (of toekoms) totaal anders.

Hoewel dit nie baie algemeen voorkom nie, is daar wel enkele voorbeelde in Afrikaans verkrygbaar. Die 2011 boek van Steve Hofmeyr, Die Verste Uur, is een voorbeeld hiervan. In die boek neem die geskiedenis ‘n onverwagte wending in die Anglo-Boereoorlog en skep ‘n hede wat grootliks met ons s’n verskil.

Jamie van der Merwe is ‘n jong eerstejaarstudent wat op die skrywes van ‘n vermiste professor, doktor Arnold du Plessis, afkom: sy biografie oor die komponis Rameau, en ‘n lang liefdesbrief aan sy vrou. 

Deur die lees van hierdie skrywes ontdek Jamie die geheim waarin die professor se verdwyning gehul is – dat hy vasgevang is in ‘n tydreis – en vind die sleutel tot sy bevryding, maar loop dan gevaar om die liefde van sy lewe te verloor. Die storie word aangebied in parallelle narratiewe (‘n struktuur wat herinner aan J.M. Coetzee se Diary of a Bad Year), deurdat elke bladsy verdeel word tussen Jamie se storie en die ander tekste: die professor se brief aan sy vrou, die biografie van Rameau, en ‘n “Tydlyn van die Nuwe Zuid-Afrikaansche Republiek”. 

Laasgenoemde narratief skets in breë trekke ‘n alternatiewe geskiedenis van Suid-Afrika nadat die Boere die Anglo-Boereoorlog wen te danke aan Jamie wat per ongeluk so ‘n bietjie aan die verloop van die verlede verander. 

Elk van hierdie narratiewe hou verband met die ander, en dwarsdeur die storie bou die spanning op tot ‘n opwindende slot waar Jamie in ‘n stryd teen tyd gewikkel is om die professor te red.

Nog ‘n voorbeeld in Afrikaans is J F de Waal se e-boek (2013) Wanneer dit reën – vir volwasse lesers.

Die Maritz-rebellie van 1914 was suksesvol. Die Afrikaner Republiek, ook die Nuwe Republiek genoem, kom daardeur tot stand. Die gevolge is verreikend. Die Tweede Wêreldoorlog eindig met Adolf Hitler steeds aan die stuur van ‘n nasionaal-sosialistiese Duitse Ryk. Geen atoombom ontplof oor Japan nie. Die Verenigde State van Amerika verbrokkel. Skotland wen sy onafhanklikheid. En die Engelse regeer deur middel van ‘n swart poppekas-regering oor die Unie van Suid-Afrika.

Wanneer dit reën is die verhaal van twee oud-soldate en jeugvriende soos hulle ses jaar na die beëindiging van die laaste grensoorlog steeds worstel om hulle voete binne ‘n vinnig veranderende wêreld te vind. Met die aanvang van die verhaal is die een speurder, die ander diplomaat, en die persoonlikhede en oortuigings van die twee kan nie meer uiteenlopend wees nie. 

Oor ‘n periode van vyf dae, waartydens die Duitse kansellier besoek aan die land aflê en ‘n reeksmoordenaar ‘n string verminkte lyke agterlaat, ontdek die twee hulself elk in vergelyking met die ander. En word elkeen om die beurt deur sy liefde vir ‘n vrou geïnspireer om sy lewe onherroeplik te verander.

Let wel, hierdie boek bevat temas, dialoog en handelinge wat oorwegend van ‘n volwasse aard is. Bogenoemde sluit in, maar is nie beperk nie tot, uitbeeldings van volwasse verhoudings, ‘n verskeidenheid, soms teenstrydige politieke en filosofiese oortuigings, en ‘n kritiese benadering teenoor gewisse maatskaplike en godsdienstige konvensies. Die voornemende leser word gemaan om goeie oordeel by die aankoop, promovering en bespreking van hierdie boek te gebruik.