Samesweringsteorieë

Dit maak werklik nie saak wat jy glo of wat jy dink die waarheid is nie – iemand daar buite sal dit waarskynlik bevraagteken. Maar dit gebeur toenemend dat al hoe meer mense dink dat sekere van die opvattings wat die meeste mense algemeen as ‘n feit aanvaar, ‘n totale leuen is en dan is daar sommer gou-gou ‘n ganse gemeenskap van skeptici wat in die vertwyfeling opgeraap word en dit met ‘n passie navolg.

Baie van hierdie idees gee dan mettertyd aanleiding tot skeppings in die fantasie of die wetenskapfiksie, en dit is dan dié rede dat ons aan van die meer populêre teorieë van ons tyd hier aandag wil gee.

Teorie 1:  Die boosheid strek oor al die grense

Een van die heel oudste samesweringsteorieë is dat daar ‘n wêreldwye geldmag bestaan wat eintlik in beheer is van die hele wêreld en al die regerings van die verskillende lande beheer – gewoonlik bekend as die Illuminati wat as een van hul tekens of simbole Die Oog wat Alles Sien gebruik en wat op van die geld van die Verenigde State getoon word.

Die Vrymesselaars word gewoonlik hiermee verbind – ‘n geheimsinnige groep met ‘n indrukwekkende rangordestruktuur wat losies in die meeste lande op aarde en selfs die meeste dorpe en stede in Suid-Afrika bedryf – en wat met twyfelagtige serimonies en gebruike verbind word.

Die bewering is dan gewoonlik dat hierdie nuwe orde ‘n tipe wêreldregering tot stand wil bring waadeur almal beheer kan word. Nou is die logiese vraag seker “waarom?” Wel, behalwe vir die ooglopende mag wat daardeur moontlik is, word daar geglo dat dit die direkte bose werk van die duiwel self is en dat dit nog altyd sy plan was om oor die skepping, en veral die mensdom, te heers. Hierdie teorie gaan dan verder om te sê dat die Vatikaan (en eintlik die ganse Rooms-Katolieke kerk) deel is van hierdie sameswering en aktief meewerk tot die oorheersing van die mensdom – en bes moontlik self die Hoer van Babilon is soos wat dit aangedui word in Openbaring.

Hierdie nuwe wêreldorde is vervolgens reeds in beheer van die meeste (en definitief al die groot) regerings, die instansies wat geld hanteer (bankwese), die media in die breë en spesifiek ook die ganse wêreld van vermaaklikheid – insluitend die akteurs, sangers, ens. Die teorie lui verder dat hierdie kunstenaars hulle siele aan die duiwel self verkoop om ongekende sukses en gewildheid te bekom. Hulle moet natuurlik in ruil hiervoor ook die donker boodskap uitdra deur onder andere die simboliek en tekens van hierdie nuwe orde in hul optredes en lewens ten toon stel en daarmee assosiëer. Een hiervan is om Die Oog wat Alles Sien te gebruik deur hierdie hand-en-gesigsgebaar te wys.

Om deel te word hiervan en te deel in die geld, mag en gewildheid moet die nodige okkultiese funksies bygewoon word en word spesifieke afgode (of dalk gode) aanbid en vereer – ‘n vorm van aanbidding wat gebasseer is op die bring van offers en wat beloon word met bonatuurlike mag en sukses.

‘n Uitvloeisel van hierdie teorie is dan dat hierdie wêreldorde die mense se gedagtes en kennis beheer deur alles wat as wetenskaplik beskou word te besmet met leuens. So byvoorbeeld leef ons in ‘n fantastiese leuen deur te dink dat die aarde rond is. Die aarde is eintlik glad nie ‘n planeet nie maar eerder ‘n plat skyf – soos wat met die blote oog gesien kan word deur enige persoon wat buite staan en kyk. Maar hoe werk dit dan dat ‘n mens om die aarde kan vaar of dat ‘n mens nie dalk oor die rant kan afval nie?

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig – die aarde is ‘n ronde skyf was as volg lyk.

Die noordpool is in die middel van die skyf met die vastelande wat daarom rangskik is -presies soos die kenteken van die Verenigde Nasies.

Beide die son en maan is baie nader as wat normaalweg gedink word en draai in ‘n tipe baan bo die skyf in die rondte van oos na wes. Natuurlik kan die son net ‘n gedeelte van die skyf op ‘n slag verlig waar dit dan dag is, terwyl die res van die skyf nag het. As ‘n mens oos of wes sou vaar, volg jy eintlik ‘n ronde sirkelvormige baan om die aarde (amper soos die son self), en kom jy natuurlik weer op presies dieselfde plek uit. Die hele skyf word aan die buitekant begrens deur ys wat keer dat jy nie afval nie, en sommer ook keer dat die waters van die seë kan wegspoel. Suid is natuurlik direk weg van die noordpool en bring jou altyd by die ys van die “suidpool” uit wat natuurlik enige plek kan wees op die buiterant van die skyf. Nogal oulik uitgedink, nè…

So, as die aarde nie ‘n bal is nie het ons nie die konsep van swaartekrag nodig om te verduidelik waarom iets nie van die bal kan afval nie. Alles val eenvoudig terug na die skyf toe – dit gaan bloot oor digtheid. Indien iets ‘n laer digtheid het as die lug, soos ‘n heliumbalon, sal dit styg, maar iets wat ‘n hoër digtheid het soos ek of jy, sal dit natuurlik altyd terugval na die skyf toe. Dus is iets soos ‘n sateliet natuurlik ook nie moontlik nie, want dit sal terugval na die skyf toe – sateliete is bloot ‘n verdere versinsel. Ook die sterre is bloot liggies en nie sonne wat ver van ons af is nie.

Wel, nou dat ons weet dat die aarde ‘n skyf is en nie ‘n planeet nie, en dat die maan nie werklik ‘n bestemming is soos wat ons altyd gedink het nie, is die logiese volgende stap natuurlik om uiteindelik te besef dat ons, die mensdom, nooit op die maan geland het nie en dat ook dít deel van die leuen is.

Die hele ruimtewedloop en die ruimteprogramme van die verskillende lande is dus oëverblindery en die hele Apollo 11 was opgevoer soos ‘n tipe konsert om ons te laat glo dat dit werklik gebeur het. Maar waarom sou hulle soveel moeite doen om ons te probeer oortuig van iets wat ‘n leuen is? Wel, die teorie is eintlik eenvoudig – dit is om die waarheid van die Bybel te ontken sodat ons verder van God af kan wegraak en dat ons nie meer nodig het om in God te glo nie, want die wetenskap kan self alles verklaar.

En dan is die oerknal, ewolusie en swaartekrag natuurlik ook alles ‘n leuen. Dit raak eintlik nogal moeilik om aan iets te probeer dink wat nié ‘n leuen is nie. Seisoene, getye, ens. moet dus alles ander verduidelikings hê as wat ons nog altyd geglo het.

Maar wat dan van die vlieënde pierings en die buiteaardse wesens?

Wel, uit die aard van die saak is dit natuurlik ook ‘n leuen. Om die waarheid te sê, dit is deel van ‘n eindtyddelusie. Daar is natuurlik nie iets soos lewe elders in die ruimte nie, want daar is eintlik nie ‘n elders nie en daar is eintlik ook nie ‘n ruimte nie. Hierdie VVV-verskynsels wat deur hordes mense elke jaar gesien word is bloot ‘n manifestering van demone wat op die aarde teenwoordig was – min of meer van die vroegste tye al. Maar niemand sou kon glo dat hulle van elders af kom nie, en daarom moes ons as mense eers gewoond gemaak word aan die idee van ‘n reuse ruimte met planete waar ander lewe sou kon bestaan sodat wanneer ons met die demoniese elemente te doen kry, ons sal kan glo dat dit bloot wesens van ‘n ander wêreld af is.

Sjoe – genoeg om jou kop behoorlik te laat draai, of hoe?

Die probleem met al hierdie teorieë is dat dit voel of jy voor ‘n keuse met twee moontlikhede staan waarvan jy een moet kies, naamlik – glo alles wat vir jou gesê word, of glo nie ‘n woord daarvan nie. Die probleem is dat beide moontlikhede jou steeds met die leuen laat. Dit is duidelik dat sekere van die teorieë wel waar kan wees en dalk selfs werklike gevare kan inhou terwyl ander waarskynlik blote snert is. Dit is duidelik dat sekere waarhede van ons af weggehou word en dat elke plan deur mense in posisies van mag nie tot ons voordeel sal wees nie. Maar terselfdertyd is dit mal om alles wat ons weet te ontken en as boos te beskou. Elke saak moet op sy eie meriete beskou word en daar moet krities oor gedink word.

Hoe dit ook al mag sy, dit is altyd goed om na te dink oor nuwe idees of teorieë wat uitgedink word, en dit laat jou ‘n bietjie nadink oor dít wat jy self as die waarheid beskou. Maar meer nog as dit, dit bly ongelooflik vermaaklik en is ‘n ryk teelgrond vir nuwe wetenskapfiksie en fantasie…

Ons beoog om oor tyd van die ander samesweringsteorieë ook hier uit te lig – laat weet gerus of jy hiervan hou (of dalk nie)…