Skryfkompetisie 2021

Wenners: Aankondiging

Dit was werklik ‘n uitdaging dié jaar – dit neem ‘n baie lang tyd om deur verhale te lees wat ongeveer 100 bladsye lank is en hulle dan teen mekaar op te weeg.  Maar ons is uiteindelik klaar en ons kan nou die wenners aankondig.

Dit was toe vir ons onmoontlik om ‘n enkele wenner aan te kondig, en die eerste plek op die podium van 2021 word gedeel deur twee inskrywings wat gesamentlik bo uitgekom het.  Hulle is:

Baie geluk Jaco en Chantal – julle bydraes was uitsonderlik!

Ons wil graag almal bedank wat deelgeneem het, dit was moeilik om uiteindelik die beste inskrywings uit te sif.

Kompetisie Aankondiging

Almal hoop en wens dat daar ‘n einde sal kom aan die grendeltyd wat deur die COVID affêre op ons almal afgedwing het.  Gelukkig is daar vir mense wat skeppend genoeg is maniere om die spanning ‘n bietjie te verlig – en dis waar Afrifiksie se skryfkompetisie weereens ter sprake kom.

Hierdie jaar gaan ons kompetisie twee bene hê.

Die eerste deel van die kompetisie is iets nuuts vir Afrifiksie – ‘n WF-fotoverhaal (besoek ons bladsy oor fotoverhale om  voorbeelde hiervan te sien).  Die kompetisie verlang van deelnemers om ‘n storie te bedink, en dan “akteurs” (kinders, familie, wie ook al) te kry om tonele na te boots en telkens ‘n foto daarvan te neem.  Die storie moet dan uiteengesit word deur die verskillende foto’s in die regte volgorde te plaas.  Spraakborrels en gedagteborrels moet natuurlik op elke foto geplaas word sodat dialoog en konteks oorgedra kan word aan die leser van die storie.

Om die fotoverhaal vloeiend genoeg te maak moet daar natuurlik genoeg foto’s wees sodat die leser die storie maklik kan volg.  As algemene riglyn stel ons ‘n minimum van 30 foto’s voor – heelwat meer sal waarskynlik nodig wees.

Die inskrywing kan uiteindelik gemaak word deur die verhaal in te dien met behulp van e-pos, deur die lêer(s) aan te heg.

Die tweede been gaan weer, net soos verlede jaar, skrywers uitdaag om ‘n volwaardige wetenskapfiksiestorie in te skryf – ‘n storie waarop ons min beperkings plaas met betrekking tot lengte solank dit nie sowat 100 bladsye se teks oorskry nie.  Só ‘n storie is tipies ‘n novelle, maar dit kan natuurlik korter ook wees – afhangend van die geval.

Net soos verlede jaar sal die wenner van hierdie tweede deel eers in die daaropvolgende jaar aangekondig word om geleentheid te gee aan beoordelaars om al die stories behoorlik te lees.

Die sluitingsdatum vir beide dele van die kompetisie vir 2021 sal die laaste dag van November wees.  Alle inskrywings moet deur e-pos ingedien word by afrifiksie@outlook.com.

_____________________________________

Vorige jare se besonderhede (nie vir 2021 nie)…

Welkom by ons skryfkompetisie van 2020.  En met die nuwe dekade kom daar ook ‘n nuwe vorm van kompetisie wat ons vir Afrifiksie afskop.

Ons doen vir eers afstand van die kortverhaal.  Vir die eerste keer gaan ons eksperimenteer met die konsep van ‘n novelle.

Vir 2020 kan daar slegs in een enkele kategorie deelgeneem word, naamlik wetenskapfiksie.  Geen fantasie, superhelde, mitologie, spookstories, ensovoorts nie.  Die inskrywings kan alleenlik wetenskapfiksie wees.

Elke persoon wat wil deelneem kan presies een inskrywing doen – ‘n wetenskapfiksieverhaal in novelle formaat – dit wil sê ‘n storie van ongeveer 100 bladsye.  Met ander woorde ‘n storie van die omvang van een van Wille Martin se boekies in die Kaptrein Kristin-reeks, of Robert A Heinlein se Beheerkamer Onbeman of Krygsheer van die Melkweg deur Douglas Hill.

Al die inskrywings sal teen 16 Desember 2020 ingedien moet wees, en die wenners sal aan die einde van 2021 aangekondig word – ‘n jaar om al die inskrywings deur die beoordelaars te laat lees en te beoordeel.

Soos altyd in vorige jare moet daar weggebly word van enige Engelse of anglisistiese terme, en die geleentheid moet juis gebruik word om goeie nuutskeppinge te vorm waar goeie Afrikaanse woorde nie bestaan nie.

Elke inskrywing moet reeds geproeflees wees voor dit ingeskryf kan word.  Indien daar besef word dat die verhaal basiese taal- en spelfoute bevat, of ooglopende sinskonstruksiefoute wat maklik deur ‘n leser uitgewys sou kon word, sal die storie bloot gediskwalifiseer word.  Dis gans en al te sieldodend om deur so iets te probeer worstel tot aan die einde…

En soos altyd sal die kopiereg van alle inskrywings gedeel word tussen die skrywer en Afrifiksie.  Die inskrywings sal beskikbaar gemaak word op Afrifiksie se webblad, en die wenverhaal sal permanent op die webblad gehou kan word – van die beter inskrywings dalk ook.

Baie sterkte aan almal wat vir dié uitdaging kans sien.  Ons wil graag jou skepping lees…