Jaco van der Merwe – 2021 Wenner

“VAT JOU LANK GENOEG”

’n L7 storie

_______________________________

I’m a product of my anger

I’m the bullet in a loaded gun

 Seether, Nobody Praying for Me

Dramatis Personae

L7

Lashmi – Sameroeper

Logan – Veld Leier

Mayah – Siborg

Dago – Rakshasa

Tyesha – Kuber Aanpassings

Rowan – Bioniese Aanpassings

Mace – Swaar-lander

 

Ander persone van belang

Ardi – Huursoldaat

Farr – Huursoldaat

Kev Remus – Sekuriteit Hoof, Ozuru Stasie

Kaptein Ian Rosh – Huursoldaat

Kaptein Erick Faller – Alliansie

Daeshaun – Huursoldaat

Imran – Mense handelaar

 

Plekke

Corello

Docila, Kekona (stad) – L7 basis

Rutger III – Strafkolonie

Mercile – Huursoldaat Mekka

Ozuru stasie

Niven II – Ring Wêreld

Torrakis – Slawe kamp

Hubbard – Mitiese planeet

Scipion stelsel

 

“Vat jou lank genoeg”

1

“Prinses, tyd om huis toe te gaan.” Sy is nie regtig ’n prinses nie, maar hoog genoeg in die hiërargie van die Families om so te dink…

“Ek kan nie. Ek wil nie.”

…en te reageer.

Ek wys na die chaos om ons. “Hierdie gaan jou volg. Maak nie saak waar jy heengaan nie.”

“Die heelal is groot.”

Ek skud my kop. “Nie so groot soos jy dink nie. Of hoop nie.”

Sy vat ’n oomblik om haar omgewing in heroorweging te neem. Tien manskappe lê in verskillende stadiums van pyn oor die marmervloer gestrooi. Van ’n skaal van 1 (gebreekte gewrig) tot 10 (bene gebreek in verskeie plekke), het ons redelik konsekwent teen hulle opgetree.

Mayah staan teen een van die marmerpilare en speel met haar lang, pers hare terwyl sy ’n oog hou op die jong man wat verwese op die grond sit en ’n bloedneus vertroetel. Lyk of hy huil.  Mayah is ’n siborg met ’n talent om haar voorkoms te verander soos sy wil. Sy dra ’n vleis-pak (wat sy self vervaardig – dit is regtig beter om nie uit te vra nie) wat vandag ’n Oosterse voorkoms het. Laat haar dalk voel soos ’n ninja. Sy het beslis soos een opgetree so paar minute terug.

Rowan stap in van die oop stoep wat oor die hawe van Corello uitkyk. Haar lang blonde hare is styf na agter vasgemaak. Sy is ’n toonbeeld van grasie en lieflikheid. Dis net die metaal arms wat sommige mense bietjie afsit.

“Logan, ons vervoer is op pad. Twee minute.”

Ek knik en draai terug na die jong meisie wat voor my sit. “Jy het ’n besluit om te maak.”

Haar groot oë fokus op my. “Ek het ’n keuse?”

Ek knik. “Almal het ’n keuse. Dis egter die gevolge van daardie besluite wat in ag geneem moet word.”

“Jy sal my…ons… laat gaan?”

Die jong man se kop tel op. Hoop in sy oë.

“Natuurlik. Jy is volwasse. Ek gaan nie vir jou sê wat om te doen nie. Almal is ’n nuwe begin geregtig.”

Sy gee my ’n skeptiese kyk en wys na die gebreekte meubels…en  mense. “Jy kon dit dalk eerder gesê het.”

Ek glimlag, maar dink nie dit help enigsins nie. “Hulle het ons nie veel van ’n keuse gegee nie.”

Rowan gee ’n snork. “Mans slaan nie aan ’n dame nie.”

“Jy is als behalwe ’n da…” begin die meisie met ’n bietjie vuur in haar stem.

“Soos ek gesê het,” val ek haar vinnig in die rede, “Daar is gevolge vir besluite. Byvoorbeeld; indien julle besluit om eerder weg te hardloop en êrens buite die Gereguleerde Terreine te gaan vestig, gaan julle julle op ’n nuwe begin moet voorberei. Geen geld van jou Familie. Nuwe name. Planne vir ’n inkomste…”

“Wag.”

Ons draai na die jong man.

“Wat bedoel jy, geen geld?”

Ek haal my skouers op. “Beide Families gaan julle afsny. Julle gaan onder moet begin.”

“Nee, dit is nie so nie. My ouers sal nooit…”

“Mense soos hierdie,” ek wys na die vloer, “gaan julle heeltyd kom soek. Mense wat nie so vriendelik is soos ons nie. Julle gaan heeltyd moet beweeg. Nooit vestig op een plek nie.” Beide frons. Ek sak my kop om haar in die oë te kyk. “Hoekom dink jy is ons hier?” Lyk of ek deurdring. Ek smeer dit mooi dik aan. “Geen Familie-geld. Die Families se trots is baie meer werd as hulle kinders.” Ek gee die jong man ’n spesifieke kyk. Ons is hier vir die meisie. Die manskappe oor die vloer gestrooi, is deur sý Familie gestuur.

Die meisie kyk weer rond en sê: “Júlle is die vriendelike mense?”

Ek haal my skouers op.

Die jong man: “Ons kan nie sonder geld…”

“Ons kan,” sê sy. “Ons het mekaar. Ons liefde is sterker as geld.”

Rowan snork weer. Ek gee haar ’n waarskuwende kyk. Sy maak ’n wat-het-ek-verkeerd-gedoen gebaar voor sy weg draai.

Die jong man staan op – en gaan sit weer met die hulp van Mayah wat hom doodluiters aan die kop vat en terugdruk.

“Dit is nie so maklik nie,” sy stem raak al hoër. Kermend. Die facade is besig om af te kom. “My sekuriteit-mense sal…”

“Doen wat jou Pa sê hulle moet doen. Jy is alleen.”

“Maar ek kan nie…”

“Ons sal dit uitwerk.” Die meisie se oë water. “Ons kan alles saam uitwerk.”

Hy kyk na die vloer.

“Joras, asseblief. Ons het hieroor gepraat.”

Hy weier om na haar te kyk. Sy spring op, maar hardloop in my arms vas op pad na Joras.

“Moenie,” sê ek sag in haar oor.

“Maar hy is die liefde van my lewe.”

“Of die liefde van sy eie lewe?” Ek voel filosofies. Kom met ouderdom.

Sy slaan my herhaaldelik teen die bors, so ek laat haar gaan. Dit is amper tragies om te sien hoe hy wegdeins van haar af. Sy staan wankelrig met groot oë, asof skielik verdwaald.

My data-paneel flikker. Ek wys vir Mayah en Rowan om die twee lewendig te hou. Die meisie kyk met te veel aandag na die wapens wat op die vloer lê. Joras mag dalk agterkom wat dit beteken om ’n vrou se liefde te verwerp. Liefde is nie so blind soos mens soms wil hê nie.

Die stoep bestaan uit ’n rusplek vir humiditeit wat my liggaam omvou. Branders breek ’n halwe kilometer onder ons.

’n Holo-beeld spring op oor my voorarm. ’n Gesig uit my verlede.

“Ardi? Hey! Jy weer in die moeilikheid?” sê ek tergend.

“Logan? Dankie, tog.”

Sy klink nie goed nie. Gejaagd. En…bang.

Alle humor opsy: “Wat is fout?”

“Onthou jy vir John, Farr, Eli en Dorcas?” Val met die deur in die huis.

“Uhm, nee?”

“Jy het ons gekontrakteer op Rutger III?”

“O, ja.” Nie regtig aandag gegee aan die ander se name nie. Destyds het Ardi basies as spreek persoon opgetree en net my bevele oorgedra aan haar kollegas. Ek is nie ’n goeie leier nie. Ek het ’n kontrak deurgevoer om ’n dokter te red uit ’n straf-kolonie. Dinge het effe skeef gegaan en ons het ’n ondergrondse mensehandel operasie oopgevlek. Die mense betrokke was nou nie so gelukkig met ons nie.

“Hulle is dood, Logan.”

“Wat?” My brein hak vas. “Waar is jy?”

Dringend: “Almal behalwe Farr en ek. Die ander is almal dood.”

Paaiend: “Diep asem. Weet jy wat gebeur het? Miskien was dit…”

“Daeshaun.”

Dit is nie wat ek wou sê nie, maar dit is ’n goeie gevolgtrekking. Ons het ook nie op goeie voet paaie geskei met Daeshaun nie. Die leier van ’n groep huursoldate op dieselfde uitstappie.

“Waar is…Farr?”

“Ek weet nie.”

“Maar hy leef?”

“Ek…ek dink so. Daar is nog nie ’n verslag wat andersins sê nie.”

Huursoldate. Almal het kontak met mekaar op ’n manier. Forums. Werkslyste. Sulke goed.

“Waar is jy, Ardi? Ek kom haal jou.”

 

2

Ons kom bymekaar in die beheerkamer. Ofte wel, die Oorlog-kamer, soos Tyesha dit deesdae noem. Bietjie melodramaties. Die vertrek is egter uitgelê soos die beheerdek van ’n interplanetêre skip. ’n Geligte platform in die middel vorm die beheersentrum met rekenaar banke en Tyesha se stoel wat wel soos die van ’n skeepskaptein s’n lyk. Die omringende vloer is opgedeel in verskeie eilande met gemak stoele en rusbanke. ’n Panoramiese venster kyk uit oor die tropiese plantegroei en oseaan van die plesierstad Kekona en neem die grootste gedeelte van die muur spasie op om ons.

“Lekker kinders opgepas?” vra Mace met ’n grinnik. Ek gee hom ’n skewe kyk. Hy sien die uitdrukking in my oë en staan dreigend op. Hy is so lank soos ek. Die verskil is – hy is so breed soos hy lank is. Komende van ’n planeet met ’n swaarder swaartekrag as die Aarde-normaal, kan hy letterlik jou kop met een hand vat en dit inmekaar druk.

“As dit nie vir die…oppas…van daardie kinders was nie, sou jy moontlik nie nou so lekker geëet het nie,” sê ek sag.

Hy kyk stadig om na die tafel met die kos.

“Dan wil ek jou bedank vir die …oppas… van die kinders.”

“Jou bedanking word aanvaar,” sê ek ernstig. Ons gee dit nog ’n oomblik en hy bars uit van die lag. Ons grinnik selfvoldaan voor ek myself ook help aan kos.

“Kinders?” sê Rowan aan niemand besonders nie. “Júlle is nie veel meer as kinders nie.” Sy gooi ’n glinsterende glimlag in Mace se rigting. Hy streel saggies oor haar hare en soen haar teen die voorkop.

“Kry ’n kamer,” sê Tyesha.

“Sommer gou,” beaam Rowan.

“Ons het ’n nuwe kontrak gekry,” sê Lashmi van die kant af. Met die speelsheid onder mekaar, vergeet ons soms wanneer sy een van die samekomste bywoon. Vergadering klink meer professioneel as dit wat ons hier doen. Nie dat ons nie ernstige sake bespreek nie, ons doen dit net meer…gemaklik.

Ek draai na haar met ’n vraag op my lippe. Sy hou ’n hand op om my te stop en my mond gaan outomaties toe. Ten spyte van haar tingerige figuur, is haar persoonlikheid van so aard dat sy al lede van die Families laat stil bly het met niks meer as ’n gebaar nie. Die gedagte laat my beter voel. So bietjie.

“Ty?” Lashmi sit-lê op een van die rusbanke, skoene en al. Haar swart hare lê in ’n los vlegsel oor haar donker, ontblote skouer.

Holo-gramme spring op rondom Tyesha se werkstasie. Ardi se gesig is een van die beelde. Ek trek my asem in, draai vraend na Lashmi. Sy knipoog.

“Logan se groot liefde?” vra Rowan.

“Kom nou,” sê ek met minder bravado as wat ek wou. “Jy het destyds uitgewys sy hou nie van mans nie.”

“Nie wat ek gesê het nie.” Rowan skud haar kop stadig asof sy ’n punt probeer maak. “Ek het gesê sy het meer man as jy nodig.”

“Nee, jy het nie…” ek sien haar oë glinster en hou op praat. Ek gooi my hande op in oorgawe en mompel iets onwelvoeglik.

Sy lag. “Jy is soms so maklik!”

“Ja, ja. Kan ons voortgaan?”

’n Grom laat almal kyk in die rigting van die geel, sespotige Rakshasa wat op die vloer uitgestrek lê. Statig. Sy vier groen oë gly oor almal en hy maak ’n verdere geluid – laag en uit sy buik.

“Hy sê as enigeen weer disrespekvol teenoor my optree, sal hy iets daaromtrent doen,” sê ek met ’n voldane glimlag.

“Dis nie wat hy gesê het nie,” sê Tyesha saaklik. “Maar as julle nie ophou nie, gaan ék iets daaromtrent doen.”

Ek het haar nog nooit sien veg nie, maar Ty is gekoppel aan enige tipe tegnologie. Sy kan jou lewe baie moeilik maak. Of beëindig. Lewens-stelsels van ’n skip, is een voorbeeld wat opspring. Sy dra kabels in haar kop soos hare wat na agter gegooi is, haar donker vel glinsterend in die lig van die holo-projeksies.

“Sy het ons twee dae terug gekontak met ’n versoek,” sê sy. “Dit is ook maar goed so; want sekere mense sou dit verniet doen.”

Ek ignoreer haar. Dit beteken sy het die L7 gekontak so ’n dag na sy my gekontak het. Eina. Te min vertroue in my om te help?

“En ja, Logan, sy het geld.”

Ek sê niks. Maar in die stilligheid is ek bly. Al is dit net om weer van haar te hoor. Ons het nie weer kontak gemaak na die Rutger III insident nie. Dinge raak besig. Die lewe gaan aan.

“Iemand wil haar dood hê. Weerwraak is die aanname,” gaan Tyesha voort. “Rutger III. Weereens.”

“Niemand het my probeer doodmaak nie,” sê ek. “Is dit nie bietjie vêrgesog nie?”

“Miskien is jy nie belangrik genoeg nie,” sê Rowan.

“Of miskien is jy laer op die lys,” sê Lashmi.

Ek weet almal probeer dit lig hou, maar Lashmi se gedagte is dalk realiteit.

“Daeshaun, dan?”

Holo-gramme dans oor die vloer. “Hy was redelik besig in die afgelope twee jaar,” sê Tyesha. “Het sy gevegseenheid opgebou van amper niks tot so by die dertig.”

Ek maak ’n niksseggende gebaar. Ons is sewe. Soort van. Lashmi maak nie haar hande vuil in die veld nie, maar sy doen haar deel in die agtergrond.

“Hy is meestal bedrywig aan die buitewyke van die Terreine.”

“Bly uit die pad van die Families,” sê Lashmi. “Hy het ’n slegte reputasie opgetel. Van hulle wil dit met hom bespreek.”

Hom dood hê, met ander woorde.

“So hoe help ons? Persoonlike sekuriteit?” Nie wat ons gewoonlik doen nie, maar ons het al.

“Ondere andere,” sê Lashmi.

 

3

Mercile is vuil en vaal (newe effekte van industriële areas sowel as die planeet se digte vervoer) deur die dag. Meeste van die landmassa is omskep in beboude areas met geboue wat kilometers in die lug opreik. Groen-areas word meestal gegroei op sintetiese platforms, meeste so hoog as ’n paar kilometer bo die oorspronklike grondvlak van die planeet.  Verskeie orbitale-hysers is onder konstruksie in ’n poging om selfs nog meer huur areas te skep.

Mercile is ’n ryk planeet.

Die aanstoot van die beskawing word verander in iets meer eksoties saans. Holo-gramme wat soms kilometers hoog staan (alles word in kilometers geskat hier rond), beweeg en verlig die aand saam met miljoene ligte en lasers. Dit is letterlik ’n ander wêreld in die aand.

Ons word gelei deur die Kunsmatige Intelligensie van die sektor (naamloos, maar met ’n string kodes om dit te identifiseer van die ander KI’s) deur die digte aandverkeer. Nader aan ons bestemming, verlaat ons die slaaf-lyne wat die verkeer reguleer en begin landings prosedure.

“Maak jou mond toe, Ty,” sê ek. “Jou spoeg beskadig die leer van die sitplek.” Sy sit in die vlieëniers stoel met Mace, Rowan en myself twee-twee agter haar. Ek en Rowan ten minste – Mace het sy eie ry. Die aantal en tipe aanpassings aangebring aan Ty (self en ander klaarblyklik sonder haar noodwendige toestemming) is nie algemene kennis nie. Sy praat glad nie daaroor nie. Ek is egter oortuig sy beleef euphoria. En dit net deur die teenwoordigheid van hierdie tegnologiese paradys.

“So, waar is Mayah?” vra Mace. “Sy was opmerklik nie by die ontbyt nie.”

Opmerklik, sê ek aan Rowan, deur net my mond te beweeg.

Sy knik en raak met ’n oop hand aan haar hart. Baie trots.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Mace is nie dom nie. Vat dinge net stadiger as die res van ons. Gee gewig aan sy denke.

“Lashmi het haar tyd gegee,” sê Tyesha terwyl sy die skip behendig deur die landings protokolle vat. Sy sit met hande in haar skoot gevou. Vir alle doeleindes raak sy nie aan enige kontrole nie. Nie fisies nie.

“Tyd?”

“Persoonlike tyd.” Sy gee my ’n sydelingse kyk. “Ons kry almal persoonlike tyd. Om persoonlike dinge uit te sorteer.”

Ek sê niks. Ek is seker Lashmi het nie enige van my…persoonlike…uitstappies met die res bespreek nie. Ten spyte van die risiko vir die besigheid. Lashmi se ondersteuning is soms ’n verrassing. Soos hierdie sending. Tensy… Soms dink ek sy het ’n verskuilde agenda met sekere van die sendings wat ons aanpak. Sovêr lê dit nog buite my persepsie. Maar die gevoel is iets wat ek nie kan afskud nie.

Die skip land soos sagte botter op brood. Tyesha vee haar kabels na agter. Sy het nie nodig om fisies met tegnologie in te skakel nie, maar klein maniertjies bly by haar. Die vee van die kabels (asof dit haar hare is) is haar manier om oor te skakel.

’n Hele verwelkoming wag vir ons buite die skip. ’n Massiewe man, twee-derdes masjien, bekend as ’n Kondukteur, stap nader, holo-beelde speel oor die data-paneel in sy voorarm. Twee gewapende persone, totaal in swart met ligte pantser pakke, staan drie tree links en regs van hom. Hulle vat nie nonsens hier nie.

Tyesha betaal die parkering en toegang fooie sonder om te redekawel. Hierdie is nie ’n mark nie.

Die landingsplatform is omlyn met lig-stroke wat subtiel die pad aanwys na die breë ingang. Jy wil nie per ongeluk van die platform afval nie. Dit is ’n lang val. Die weer word gereguleer op Mercile. Wind is iets wat nie in die stad toegelaat word nie.

Ek het gesê hierdie is nie ’n mark nie, maar dit is nie heeltemal korrek nie. Die hele planeet is ’n mark. Ons betree die spilpunt vir huursoldate. Die gebou lê oor ’n area van ongeveer ’n kilometer en strek agthonderd vloere omhoog. Die hoofingang lê ongeveer in die middel van die gebou met wisselende landings platforms. Hierdie gebou bevat stalletjies en kantore vir enigeen wat kontrakte spekuleer. Koop en verkoop van wapens, byvoorbeeld, is te vinde in ander soortgelyke geboue. Holo-kaarte is oral beskikbaar met inligting en aanwysings na die regte vloer en persoon om te nader. Enige kontrak kan hier opgetel word; van ’n gade wat koue voete gekry het, tot ’n weermag (klein of  groot) om ’n regering êrens omvêr te werp. Huursoldaat kontrakte, koopjag kontrakte. Alles onder een dak. Daar is baie beweging. Goeie geld vir huursoldate. Altyd ’n skermutseling of oorlog êrens in die Terreine om jou gawes aan te bied. Nog meer in die Buite-Terreine. Minder reëls en regulasies daar, maar ook meer risiko.

Ons ignoreer die holo-kaarte. Ons het ’n Tyesha. Die antiswaartekrag hyser vat ons na die vloer wat ons soek. Of eerder, die vloer wat sy soek.

Privaat werkstasies is beskikbaar vir die besoekers wat meer privaatheid in gedagte het, of reeds besluit het en net die finale terme van ’n kontrak in plek wil sit. Sekere kontrakte word eksklusief aangebied en anonimiteit is deel van die aanvaarding. Kontrakte bly egter aktief op die stelsel tot afgehandel, of – indien onsuksesvol, word weer aangebied. Soms met ’n hersiene bedrag vir afhandeling. Dit is ’n gereelde gebeurtenis om ’n spesifieke kontrak dop te hou vir ’n statusverandering. Iemand besig daarmee mag egter aanstoot neem, so sekere inligting is nie beskikbaar vir die publiek nie. In hierdie besigheid is ’n lewe van ’n koop-jagter soms minder werd as die kontrak.

Die vloer is uitgelê in verskeie eilande, verdeel in honderde privaat selle. Tyesha kies ’n sel, groot genoeg om agt mense gemaklik te laat sit in mem-vorm stoele. Sy aktiveer die flikker-veld om die sel. Haar oë kry daardie groen skynsel wanneer sy uitreik met mening na ander tegnologie. Lyk of haar irisse gloei. Sy het op ’n keer verduidelik dit is ’n fout tussen die membraan oor haar brein en die koppeling met haar kabels wat dit veroorsaak. ’n Klein foutjie, iets wat sy kan reg maak. Persoonlik dink ek sy hou net van die eksotiese effek wat dit skep.

“Nou het ons beter privaatheid,” sê sy.

“Beter as die privaatheid wat hulle aanbied?” vra Rowan.

Tyesha haal haar skouers op. “Ek vertrou niemand nie.”

“Goed om te weet,” sê ek lakonies.

Sy glimlag net. “Gee my ’n oomblik.”

“Ons gaan in die moeilikheid kom,” sê Mace. Hy sukkel met die stoel wat nie heeltemal sy vorm wil aanneem nie.

“Volgende keer vat ons ’n groter een,” troos Rowan.

“Watter volgende keer?” Hy trek ’n gesig. Die stoel gee in.

Sy steek haar tong uit.

Kinders.

“Het hom,” sê Tyesha. Haar oë fluktueer terug na die normale bruin. “Daeshaun het ’n kontrak aanvaar op Niven II.”

Ek maak ’n kreungeluid.

“Mooi man,” sê Mace. “Wanneer gaan ons?”

 

4

Vier wapens is op ons gerig met die val van die flikker-veld.

“Julle gesê,” sê Mace. Rowan se hand rus op Mace se skouer.

“Kan ons help?” vra ek verontskuldigend.

Die offisier (enigste een sonder ’n wapen in die hand) se helm draai in my rigting. “Julle sal maar moet verduidelik,” sê sy.

“Wat ?” vra ek.

Sy skud haar kop stadig. “Kom saam.” Sy begin aanstap na die hysers. Ons volg met minder entoesiasme. Mace mompel iets. Rowan se hand bly op sy skouer. Meer om hom te kalmeer as iets anders. Ons het nie nou ’n insident nodig nie.

Die hyser neem ons terug na ’n ander vloer as die een waar ons begin het. My oë gly oor groepe mense wat lewens koop en verkoop. Daar is steeds mense wat eerder van aangesig tot aangesig wil ontmoet om sake te bespreek. Daar is selfs mense in boeie – kontrakte wat afgehandel is. Verslae of uitdagende blikke van daardie rigting. ’n Groep, moontlik oorblyfsels van ’n onsuksesvolle revolusie op een of ander planeet of kolonie, en gedink het die heelal is groot genoeg om weg te raak, staan in kettings met oë op die vloer. Hulle het ’n rowwe uitstappie gehad, as die wonde en onbekwame mediese behandeling enige aanduiding is. Hulle wag hulle beurt om in die rigting van die gevangenis selle gedryf te word. ’n Vrou met oormaat meganiese verbetering staar ons aan in die verbyloop. Sy het talle inhibeerders oor haar liggaam wat haar meganiese gedeeltes net genoeg kragtoevoer toelaat om haar op ’n sukkelpas te laat loop. Seker beter as om haar fisies self te moet vervoer. Of om ’n punt te bewys. Eers dink ek sy staar na my, maar haar oë is op Rowan. Miskien evalueer sy Rowan se arms.

’n Onrustigheid in die massa trek my aandag. Dit ruis vinnig na ’n gedruis, en dan na ’n verheffing van stemme. Ons wagte se helms flits tussen die offisier en die gebeure in wording. Hulle kommunikeer met interne tegnologie. Die gesprek raak duidelik hewig met arms wat begin swaai en vingers wat wys.

’n Projektiel wapen se knal laat mense wegskarrel uit die oog van die wordende storm.

Twee mans staan in die middel van die aandag. Geklee in swart, met ligte pantser gevegsuitrusting. Een het ’n handwapen laag op die bobeen gegespe. Die glimlag op sy gesig sê alles. Argeloos. Astrant. Min gepla oor die wapen wat nou op sy voorkop gerig word deur ’n man wat voor hom staan.

My aandag beweeg na sy maat, wat amper ’n kop langer is as hy. Anders as sy kollega wie se donker hare in sy nek vasgemaak is, is sy kop kaalgeskeer.

“Hier kom moeilikheid,” sê Rowan sag.

Wapens word toegelaat – dit is deel van die lewe van die mense hier. Maar die reëls is streng oor die gebruik daarvan. Hierdie is ’n heiligdom. Heilige grond. Van die mense hier het sélf kontrakte op hulle name.

“N’kai,” sê Tyesha sag. So bietjie ontsag in haar stem.

“Ons het nie daardie tipe nodig hier nie,” sê Rowan. Haar gesigsuitdrukking sê anders. Ontsag. Verwondering.

“Weet jy wie dit is?” vra ek. N’kai het ’n slegte geskiedenis. Oordeel wissel tussen heldeverering en haat.

“Ja,” sê Tyesha. “Nathan Ransom. Tim Sands. Alhoewel dit onseker is of Sands eenvoudig ’n baie gevorderde KI is.”

Na ’n oomblik sê ek: “Jy help op ’n baie onbehulpsame manier.”

Sy gee my ’n kyk. “Ransom is moontlik ’n Alpha. Sands dalk ook, maar niemand weet regtig nie. Wat Sands is nie.” Haar belangstelling lê duidelik by hierdie Sands.

“Wat maak hulle hier?” vra Mace. Hy het ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. Tussen verwondering en afsku.

“Hulle het ’n baie goeie reputasie. Doen baie kontrakte wat bietjie meer…eksoties is,” se Tyesha.

“Eksoties?” Ek kan nie help om te vra nie.

“Tydens, en selfs na die Groot Inkuiling, soos sekere Netwerke dit gedoop het, is N’kai gebruik om ander N’kai op te spoor.”

“Maak seker sin,” sê ek onseker. Dit voel nie heeltemal reg nie. Gebruik iemand met bomenslike vermoëns om ander van hulle eie soort uit te soek.

“Wat?” Haar oë bly op die twee.

Ek skud my kop. “Laat my ongemaklik voel.”

“Die feit dat daar nog vele van hulle hier rond is? Of omdat hulle hulleself uitroei?”

Ek gee toe: “Beide.”

“En TP’s en TK’s?” Sy probeer my in ’n hoek druk met die gesprek. Net nie seker hoekom nie.

“Wat van hulle?”

Sy geniet haarself. “Hoe voel jy oor hulle?”

“Telepate en Telekinete word gereguleer.”

“Presies,” sê sy. “Wat van ons?”

“Wat van ons?”

“Moet ons ook gereguleer word?”

“Ons word. In ’n mate. Maar ons is nie soos hulle nie.”

“Is ons nie?” Sy vat-vat aan haar kabels, knik na Rowan.

“Dis nie dieselfde nie.”

Sy knik stadig. “Dis waar die probleem begin. Wanneer ons dit sê.”

“Is nou ’n goeie tyd vir hierdie gesprek?” Ek voel ongemaklik.

Sy grinnik. “Nee. Maar ons gaan moontlik ’n uitkoms gegun word.”

Ek kyk in die rigting van haar blik.

Die man wat bekend staan as Ransom, styg twee meter op in die lug, sy oë gloei en energie vorm polsend in sy hande. Moontlik úít sy hande, dit is moeilik om te sê. Sy fokus is op die man voor hom, wat nou paniekerig wegskarrel.

“Vat hom lank genoeg,” sê Mace, gefassineerd.

“Hy moes seker maak almal weet hy het dit nie begin nie,” sê Tyesha.

Nog skote klap. Ons wagte sprei uit en beweeg nader na die aksie.

“Hierdie is moontlik ’n goeie tyd vir ons om te gaan,” sê Tyesha.

 

5

“Dit was interessant.” Tyesha vee haar kabels na agter. Die Motel waar ons ons tans bevind is een van duisende in die omgewing. Klein, maar skoon.

“Nie heeltemal hoe ek dit sou stel nie,” sê ek.

Sy lyk of sy my ignoreer, maar ek weet sy is wel bewus van die implikasies.

“Lashmi gaan moontlik ’n ligte beroerte kry as dit uitkom,” druk ek verder.

“As jy ophou om soos ’n klein meisie aan te gaan en my kans gee om dit reg te stel…”

“Okay, okay,” sê ek met hande omhoog. Na ’n halwe aand in die Motel raak ek ook bietjie omgeëllie. dit help nie om te wonder of (of nog erger – hoe) Mercile Sekuriteit agtergekom het ons het in die databanke rondgesnuffel nie. Sleg vir ons reputasie as dit uitkom. So sleg dat ons verban kan word.

“Vars lug,” beveel sy aan, sonder om op te kyk.

Ek kyk in Rowan se rigting. Mace lê en slaap.

Sy knik. “Kom ons gaan stap.”

 

6

Die reën het opgehou. Presies op tyd. Ons drentel rond, êrens in die vroeë ure van die oggend. Nieteenstaande die natuurlike donkerte, is dit helderder as dag met die ligte, lasers en holo-gramme wat die stad oorheers. Sintetiese verwesenlikheid wat weerkaats op die grond.

“Enige idees?” vra Rowan.

“Ek voel lus om onverskrokke te wees,” sê ek.

“Ty gaan die vloer met jou vee.”

“Miskien. Maar ek het meer die boorlinge se idee van kos in gedagte gehad,” sê ek met ’n glimlag.

Sy gee een van haar mooi glimlagte. Ons het nog altyd ’n goeie verhouding gehad. Geen seksuele spanning tussen ons nie. Haar arms sit my heeltemal af. Maak dit makliker om haar as ’n tipe suster te sien.

“Jy is snaaks,” sê sy.

“Vreemd. Almal vertel my andersins.”

“So. Ardi?”

“Ja? Wat van haar?”

“Jy en sy?”

Ek frons gemaak ernstig. “As ek reg onthou is jy die een wat my vertel het sy hou van vroue.” En voeg by: “Op daardie manier.”

“Jy moet nie alles so ernstig opneem nie.”

Ons stap in stilte deur die besige strate. Alles is te koop. Kos. Dwelms. Vlees. Rowan het spesifiek ’n moulose T-hemp aan om haar meganiese arms ten toon te stel. Mense los ons uit. Roep eerder uit van ’n afstand.

Ek lyk self nou nie na ’n papbroek nie. Jare in die besigheid het my hard gemaak. Beide fisies en geestelik. Ek vee my blonde hare terug uit my gesig.

“Ek is nie seker nie,” antwoord ek haar vraag. “Sy is…”

“Oulik?”

“Nie die woord wat ek sou gebruik nie, maar ja. Ek hou van haar.”

“Het vir my geklink of julle goed oor die weg kom.”

“Ons het. Maar daar was niks van haar kant af na Rutger III nie.”

“Miskien het sy vir jou gewag om iets te doen.”

“Ek was iets soos ’n werkgewer vir haar.”

“Ja, maar jy het haar uitgehelp uit ’n…ongemaklike situasie.”

“Presies.”

“Presies wat?”

Ek dink oor my antwoord. Verhoudings is nie my sterk punt nie. Dis hoekom ek en Dago goeie vriende is. Ons aanvaar mekaar vir wat ons is. Verhoudings anders as vriendskap is…gekompliseerd. Ek dink te lank. Te veel.

“Sy wag dalk vir jou om iets te sê of te doen.”

“Hoekom? As sy iets gevoel het…”

“Sy sal voel jy gaan dit verkeerd opneem as sy die eerste stap neem.”

“Ek verstaan nou nog minder,” gee ek toe. Ek koop vir ons iets wat gebraai is op stokkies van een van die stalletjies wat ’n tipe mark uitmaak tussen die besige grond verkeer. Ek vra nie wat dit is nie. Rowan vra ook nie. Ons het tien teen een al iets ergers geëet.

“Het jy al ooit seks gehad?” terg sy.

Ek klap haar liggies teen die kop en sy lag.

Ons is nie eens in ’n stegie nie. Geen donker gedeeltes tussen die geboue hier nie. Een oomblik stap ons en gesels, die volgende oomblik is daar vier bendelede voor ons. Ek het gehoor van die bendes. Almal dra helms in die vorm van die dier wat as totem van die bende aanvaar word. Roofdiere van verskeie planete. Ek kan nie dink die vier voor ons is vreeslik hoog op in die hiërargie nie. Ek meen…kort ore, afgestompte snoet. Nie eens behoorlike slagtande nie. Die helms het neon wat die kontoere van die dier uitbeeld met beligte oë. Lyk nie sleg nie. Nie erg intimiderend nie, maar steeds nie te sleg nie. Ligte aanval gewaad met verdere neon stroke oor die vloei van die liggame. Kort swaarde, maar nie vuurwapens nie.

Ek maak asof ek wil verbybeweeg. “Die feit dat ek skaam is, beteken nie ek is onkundig nie,” sê ek aan Rowan.

Sy volg my voorbeeld. Enigeen wat haar ken sou weet haar skewe glimlaggie het niks met humor te doen nie. Indien hierdie klomp haar geken het, sou hulle eerder hulleself uit die voete gemaak het.

Gelukkig ken hulle ons nie.

“Van wanneer af is jy skaam?” gaan sy voort in ’n ligte trant.

Ek hou my hande op. “As dit by vroue kom.”

Twee van die bendelede beweeg voor ons in, die ander twee systap na agter om ons te omsingel. Die direkte omgewing is skielik stil. Almal skimme op die agtergrond.

“En jy dink Mace kan jou help?”

Een bendelid sê iets wat moontlik ’n respekvolle navraag kon wees. Moontlik iets met ons huidige besittings te doen. Iets is verkeerd met sy stelsel, intern en verseker ekstern; net ’n elektroniese gebabbel kom uit. Rowan se hand het ’n mooi duik teen die kant van sy helm gemaak.

“Hy het jóú met sy sjarme oorrompel…lyk na ’n goeie leermeester vir my,” gaan ek voort.

Ek neem die kort swaard uit die hand wat aan ’n gebreekte gewrig gekoppel is. Die probleem met ’n geveg harnas wat panele bevat, is die dele wat beweging toelaat. Ek skop hom teen die bors en hy eindig op sy rug ’n paar meter verder.

“Aaw. Dis die mooiste ding wat jy nog vir my gesê het. Het jy ’n ogie op my?” Rowan swaai om en weer die kort swaard af met ’n arm. Sy draai haar kop skeef op ’n vraende wyse. Die bendelid is minder slim. Hy tree terug en swaai weer. Hy beland ook ’n paar meter vêrder terug op sy rug, sy arm gebuig op ’n manier wat ongemaklik lyk.

“Nie heeltemal nie,” sê ek versigtig. “Jy is regtig mooi, maar…”

Die laaste bendelid se kop beweeg tussen die twee van ons.

“Maar ek is nie goed genoeg nie?”

Die bendelid hou ’n hand op. “Ek dink julle kan dalk hierdie gesprek sonder my klaarmaak?” Hy neem ’n ek-is-verseker-nie-’n-bedreiging-nie-houding in en begin stadig agteruit loop.

Ek hou die man dop. In Rowan se rigting sê ek: “Jy is soos ’n suster.”

“Wel, dit maak meer sin vir my.” Sy maak ’n vuis voor haar gesig. Haar vingers gaan oop in ’n vinnige beweging in die man se rigting.

Hy draai om en hardloop. Slim man daardie.

Ons staan vir ’n oomblik en staar om ons. Ons gesamentlike lag weerklink teen die geboue op.

 

7

“Dit het ’n ruk gevat, maar die meeste inligting oor ons is…minder sigbaar.”

“Dit klink nie baie oortuigend nie,” sê Rowan.

“Ek doen wat ek kan,” sê Tyesha bitsig.

Mace maak sy oë groot van die kant af. Skud sy kop dringend.

Ek weet van beter as om iets verder te sê oor die onderwerp. “Kom ons gaan,” sê ek eerder. “Ek dink ons het genoeg gehad van hierdie plek.”

 

8

Ozuru stasie lê voor ons soos ’n knopperige naald (hoewel ’n kilometer lank) wat in ’n sampioen ingedruk is, teen die swart verweel van die ruimte. Die oponthoud deur die Spring-poort het ons tyd bietjie ingeperk. Ek hoop Ardi dink nie ons het haar vergeet nie.

“Hoekom hier?” vra Rowan.

Ek staar deur die skakel-glas na die naderende stasie. Tyesha doen weer haar weergawe van sit-en-lyk-verveeld-terwyl-ek-al-die-werk-doen. Iets krap aan haar, maar nie een van ons is tans dapper genoeg om dit aan te spreek nie.

“Ardi het van die plek gehou,” sê ek, met ’n tikkie verleentheid.

En daar kom dit: “Aaaaw. Dis so romanties.”

Mace lag hardop.

Ek sê iets lelik. Rowan glimlag liefies. Mace lag harder.

“As Dago hier was…” sê ek met ’n skewe glimlag.

“Sou daar nóg iemand wees om jou te spot,” sê Mace.

Ek gee toe en besef ek is opgewonde om Ardi weer te sien.

 

9

Soos die vorige besoek aan die stasie, is dit ’n miershoop van bedrywighede. Mace kry weer sy gedeelte van die aandag. Min van sy soort word oor die algemeen gesien. Nie dat hulle skaam is om weg van hulle tuis wêrelde te reis nie, maar hulle sien geen doel daarin nie. Mace het sy redes.

Ons beweeg deur die landings area, verby die skarrel van op- en aflaai deur robot en mens, na een van die massiewe hyser pilare. Iemand stap tussen ons deur net voor die hysers. Stamp tussen ons deur eerder. Ou truuk. Tyesha kry hom aan die nek beet en stuur hom in die rigting van die hyser deure. Hy protesteer luidrugtig tot Mace iets in sy oor fluister. Maak nie saak wat hy sê nie, mens is geneig om te luister wanneer Mace fluister.

Ons omsingel hom in die hyser. Die intimidasie faktor is aan ons kant. Mace maak seker niemand anders volg in die hyser in nie. Die flikker-veld spring op voor ’n paar ander mense wat skielik belangstel in die gebeure. Rowan staan met gevoude arms reg voor die man, aangesig tot aangesig. Sweet loop teen sy kaalgeskeerde kop af. Mace staan teen die kant en fluit toonloos in sy oor. Tyesha mompel iets en staar na die vloer. Ek maak my naels skoon met my mes. Rowan hou ’n hand uit.

“Julle gaan van sekuriteit hoor die oomblik as ek hier afklim,” sê die jong man met baie minder bravade as wat die woorde sou impliseer.

“As…” sê Rowan. Sy maak haar hand oop en toe in ’n gee-dit-maar gebaar.

Hy byt sy lip en haal ’n voorwerp so groot soos die lit van sy pinkie uit een van die sakke van sy los klere.

“Indien ons jou weer sien…” Rowan trek haar vinger stadig oor haar keel.

Tyesha laat die hyser stop op die volgende vloer en Mace help die man uit met ’n sagterige stamp teen die rug. Vir ’n oomblik lyk dit of hy op sy voete gaan bly.  Maar toe nie.

“Geen wonder Lashmi kom nooit saam nie,” sê Tyesha. “Julle is erger as kinders.”

“Uitkyker?” vra ek.

Tyesha draai haar kop effens. “Logan, regter skouer. Rowan linker heup.”

Ons soek en haal die geplante klikkers af.

“Hy was te onbeholpe. Moes ons uitwys aan iemand anders. Hierdie is net om ons gerus te stel,” sê Rowan. Sy oorhandig die toestel aan Tyesha.

“Maar nou weet ons hulle kyk uit vir ons,” sê Mace.

“Argaïes,” sê Tyesha terwyl sy die voorwerp bestudeer. “Ek kan dit nie spoor na die bron nie. Dink nie eens dit werk regtig nie. Hierdie is net om ons aandag af te lei.”

“Maar?” sê ek.

Sy gee my ’n verontwaardigde kyk. “Ek het wel ’n spoor op sy data paneel gesit. Die uitkykers is nie so slim nie.”

Ek knik. Glimlag vloer se kant toe sodat sy nie sien nie.

Die flikker veld val en ons stap uit. Tyesha het die plan van die stasie reeds afgelaai by ons aankoms en ons elk het ’n kopie op ons data panele. Dis net makliker om haar te volg. Sy weet mos waarheen ons gaan.

Die ru metaal vloere van die onderste gedeeltes van die stasie maak plek vir metaal vloere wat met sintetiese hout bedek is. Estetiese waarde. Of iets. Dit is ’n universele waarheid; hoe hoër jy op beweeg, hoe beter leef jy. Ons volg verskeie gange agter Tyesha aan.

“Wil jy die uitkyker gaan besoek?” vra Tyesha sonder om om te kyk na my. Sy volg die arme ou, moontlik op ’n persoonlike retina-skerm. Sy het mos nie data-panele nodig soos ons nie.

“O, beslis. Maar eers na ons Ardi gesien het.”

Sy knik. “Ek stuur die ligging en sommer ook die roete waar hy hom nou bevind. Wil nou nie hê jy moet verdwaal nie.”

Ons draai in ’n gang in, uitgelê in dik tapyt. ’n Groep van drie staan en gesels voor een van die deure. Twee mans en ’n vrou. Die man en vrou leun doodluiters teen die muur aan beide kante van ’n wye dubbeldeur. Lyk na regte hout. Niks uitsonderlik oor die kleredrag of voorkoms van die drie nie. Behalwe die aandag wat skielik op ons gevestig word. En die vinnige wegkyk met ’n ooglopende probeerslag om te maak of ons net terloops gesien is.

Hulle houding verander net so effens. Genoeg om vinnig te handel indien nodig.

“Sekuriteit?” sê ek sag, bedoelende die stasie s’n.

“In ’n baan. Die KI sal dit optel, maar ons het ’n paar minute,” sê Tyesha.

“Hoeveel in die kamer?”

Sy skud haar kop. “Sekuriteit kan dit nie optel nie.”

So sy kan ook nie. Die man wat weg van die deur staan beweeg verder in die gang in – versper ons weg tydsaam terwyl hy sy gesprek met sy makkers voortsit. Hy lag oor iets wat gesê word en vestig sy aandag op ons.

“Ek dink julle is op die verkeerde vloer.” Hy glimlag, maar sy hand is agter sy rug. Bietjie ooglopend.

“Wat laat jou so dink?” vra ek, ook met ’n glimlag.

Hy haal sy skouers op in ’n wat-kan-ek-nou-doen gebaar. “Net vier kamers in die afdeling. En ons het al vier bespreek.

Ek tuit my mond en gee toe met ’n knik. “Maak sin.”

Ons staar mekaar aan vir ’n oomblik. Sy oë word groot, maar hy is te stadig. Sy kamerade ook. Die knaldemper maak ’n fluitgeluid. Drie maal. Daar is ’n rede hoekom ek projektiel wapens verkies.

“Hel, Logan,” sê Rowan sag agter my.

“Enigiets?” ek swaai die wapen op en af met die gang. Die bloed gaan die duur mat ruïneer.

“Nee,” sê Tyesha na ’n oomblik. Sekuriteit het niks opgetel nie.

“Ek twyfel of hulle Ardi die deur sal laat antwoord,” sê ek aan Mace. Hy grinnik en stoot die twee liggame weg van die deur voor hy klop. Hy wag tot hy iemand hoor beweeg aan die ander kant en slaan sy vuis deur die deur. Hy hoef nie geweldig akkuraat te wees nie. Iemand val hard aan die ander kant. Glas breek. Mace vee die res van die deure uit die kosyn en storm in. Rowan is aan sy linkerskouer, ek aan die regter. Die kamer is groot. ’n Massiewe bed wat moontlik vier mense kan akkommodeer is reg voor ons. Aan die linkerkant ’n deur wat na ’n badkamer lei, groen teëls sigbaar deur die half-oop deur. En ’n man wat besig is om sy broek vas te maak. Aan die regterkant is twee eilande, een ingesink in die vloer met rusbanke en holo-skerms. Vermaaklikheid area. Die eiland wat bietjie hoër staan as die vloer bevat ’n lang tafel met verskeie stoele. ’n Outomatiese kos en drank toe-deler, in chroom en swart glas, is gemonteer in die muur.

Drie mense aan my kant. My wapen fluit weer drie keer. Die vrou voor die holo-skerm kom half-en-half orent voor sy weer terugval op die rusbank. Twee mans sit en eet aan die tafel. Hoop dit was iets lekkers. Beide val agteroor uit hulle stoele en bly lê.

Rowan se wapen maak ’n hoes geluid. Groter kaliber as myne. Haar arms is verbind met haar okulêre verbeterings. Die man wat besig was om uit die badkamer te kom, val terug en bemors die teëls met rooi. ’n Tweede man, wat in ’n gemakstoel gesit het teenoor Ardi, spring op. Hy is vinnig, wapen in sy hand voor hy Ardi gryp en agter haar in beweeg. Laag. Hy sien ons skiet om raak te skiet. My wapen is nou ook op Ardi gerig.

“Nuh uh,” sê hy. Geen vrees. “Kom ons wees nou nie oorhaastig hier nie.” Sy blik hardloop vinnig oor die verwoesting. Die enigste persoon wat nog beweeg andersins, is die man wat Mace deur ’n glas tafel laat val het voor die bed, stukke van die deur (en tafel) splinter sy lyf. Hoe hy nog leef is ’n wonder, aangesien sy voorkop ’n prominente duik het waar Mace hom getref het.

“Ek sien nie ’n maklike uitweg vir jou nie,” sê ek gesellig. My oë hou Ardi s’n vas. Geen uitdrukking. Ek oorweeg (en weet Rowan doen dieselfde) verskeie minder-dodelike areas om deur haar te skiet sodat ek die ou agter haar kan uithaal. Projektiel wapens se voordeel weereens. Met sekuriteit wat moontlik binnekort gaan opdaag, moet tyd onder ’n mediese KI vir haar in ag geneem word indien ons besluit om haar te kwes. Wat ons dalk nie die tyd voor sal hê nie – ons gaan moontlik baie binnekort moet begin hardloop.

“Ek weet nie,” sê hy met minder vrees, of selfs nood as wat ek verwag. Weet hy iets? Is iemand anders op pad? “Julle het groter ellende as wat julle besef.”

Uit die hoek van my oog sien ek Rowan loer so skuinsweg na my. Sy wag vir my leiding hierin. “Laat haar gaan.”

“Wat? Jy gee jou woord ek sal uitstap en niemand gaan my probeer keer of skiet nie?” Hy lag.

“Nee.”

Sy lag droog op. “Nee?”

“Ons gaan jou beslis skiet.”

Hy staar oor Ardi se skouer.

“Maar,” gaan ek voort, “ons gaan jou ’n oomblik of twee gee om te probeer wegkom.”

Sy oë vernou. “Hoe weet ek…?”

Ek gee ’n blaf-laggie. “Jy weet wie ons is.” Ek draai my kop skuins en glimlag sonder humor. “As ek belowe ons gaan jou laat gaan met geen nadraai, sou jy weet ek lieg.”

Hy oorweeg sy situasie. Die verskeie opsies wat hy in oënskou neem flits oor sy gesig. Die besluit kom vinnig. “Jy is reg. Ek weet genoeg. Genoeg om te weet wat my kanse is.” Sy oë flits deur die vertrek. “Hulle soek jóú in elk geval. Ek het gedoen wat gevra is.”

Ardi se kop verkrummel in ’n gloeiende massa van agter af. Haar oë is steeds in myne vasgevang. Lewe doof uit net voor haar oë gloei van plasma wat in haar kop ingepomp word.

Rowan sê iets lelik.

Die man laat Ardi val, bring sy hande omhoog met ’n uitdrukking van oorgawe en laat sy wapen val. Sy oë is toe. Hy wag vir ’n vinnige dood.

Ek hou ’n hand op om Rowan te keer. Sy kreun onderlangs, maar neem ’n tree terug. Mace is ’n skaduwee aan my regterkant. Ek laat sak my wapen. Stap nader aan die man.

“Ek is ongewapen,” sê hy, sy oë nou op my. Hy dink hy het ’n kans na hy nie onmiddellik middeldeur gesny is met blinde geweervuur nie.

“Ek weet.”

“Jy moet my aan Sekuriteit oorhandig.”

My oë vernou. Stap steeds nader. Om Ardi. Stadig. Hy retireer tot sy rug teen die muur druk. “Wat laat jou dit sê?” Ek holster my wapen, haal my mes uit.

“Jy het ’n kode. Ek weet genoeg van julle.”

My voorarm teen sy keel. “Jy is reg. Ek het ’n kode.”

Sy mond trek in ’n glimlag, arrogant, maar ook met ’n tikkie van verligting. Die lem gly stadig tussen sy ribbes in. Geen emosies. Ontoegeeflik. Hardvogtig. My oë bly op syne. Wat rek. Die lem beweeg stadig in en uit sy vleis.

“Hoekom het jy dit gedoen?” vra ek sag.

Sy mond beweeg maar geen klank bereik sy stembande nie.

Die lem beweeg ritmies.

In en uit.

“Hoekom?” My stem sag.

In en uit.

“Hoekom?” Ek wil regtig verstaan.

Sy liggaam word swaar teen my voorarm.

“Hoekom?” hou ek vol, teleurgesteld.

Hy gly af in ’n sittende posisie.

Ek tree terug.

“Hoekom…?”

 

10

 “Mace, kom ons gaan maak moeilikheid.” Toonloos. Ek voel dood.

Hy gee my ’n lang kyk, nie seker hoe om my te hanteer nie. Rowan se wapen is steeds in haar hand, maar sy lyk onseker of sy iemand moet gaan skiet of moet weghardloop. Ek hoop sy wil eerder iemand skiet.

Tyesha het op ’n stadium ingestap – staan met haar hand oor haar mond. “Logan…”

“Indien Farr nog leef, moet ons hom vind,” sê ek.

“Logan, jy kan nie…”

Ek draai na Tyesha. Ek voel niks.  Sag: “Kan nie wat nie?”

“Jy…”

Ek druk by haar verby. Tel ’n plasma karabyn op. “Rowan. Ons kry julle by die skip. Hou Ty veilig.”

 

11

Die deur vou in, net voor dit uit die skarniere spring. Mace kan ’n deur professioneel inskop. Metaal deur; ons is tans weer ’n paar vlakke na onder. Dit tref een van die mense in die kamer teen die skouer en beland dan op hom. ’n Bloutjie vir hom. Die ander gaap die deur aan met verwondering. Verwondering word verruil vir vrees binne ’n oomblik wanneer hulle fokus op die rede van die deur se toestand.

Vyf van hulle. Ses met die een onder die deur.

Die plasma karabyn in my hande haal drie uit voor hulle tot verhaal kom. Mace slaan een met die vuis. Die man verkleur die muur aan die oorkant grys en rooi. Mace gaan staan op die deur. Iets knak daaronder.

Ek nader die oorblywende man, wapen tussen sy oë gemik. Hy kriewel ongemaklik in die stoel.

“Hallo,” sê ek vriendelik. Ek voel nie vriendelik nie.

Sy hande skiet in die lug op.

“So. Vir wie is ons so interessant?”

Sy mond beweeg geluidloos. Sy oë beweeg ’n fraksie. Iets agter my. Ek duik kant toe en bring die wapen op in die rigting van die gang wat nou voor my uitstrek. My vinger ontspan van die sneller.

“Farr?”

Sy gesig is wasbleek. Kyk onseker rond deur die vertrek.

“Lyk of ons net betyds is,” sê ek stil.

Sy arms sak uit die afwerende posisie wat hy ingeneem het.

“Logan? Wat maak jy hier?”

“Ardi.”

“Ardi? Is sy hier?” Sy oë flits weer deur die vertrek.

“Jy is mos veronderstel om haar hier te ontmoet?”

Hy lyk onseker. “Ja. Maar ek kon haar nie in die hande kry nie. Ek het ’n boodskap gekry om…”

Ek swaai die wapen terug na die man op die stoel. “Ah, ah.”  Sy hande gaan weer op. Mace stap nader en frons neer op hom. My wapen swaai terug in Farr se rigting. Ek mik so amper-amper op hom.

“Ja?”

Hy skud sy kop. “Ek weet nie. Iemand het ons ou groep begin uitmoor.”

“Ardi sê so. Drie van julle is dood.”

“Drie? Nee. Agt.”

“Daeshaun se hele span?”

Hy knik. “Behalwe die Golem, ek dink nie iemand gaan hom opsoek nie. Weet ook nie waar Daeshaun is nie.”

“Ek hoop nie so nie,” sê ek, bedoelende die Golem. Ek hou van hom. Al het ons ’n effense misverstand gehad. “Hoekom wil iemand julle uithaal?”

Hy haal sy skouers op. “Mag dalk Imran wees. Hy was nie baie gelukkig met ons op Rutger III nie. En hy het kontakte in die Families.”

“Ek weet.” Na die genoemde insident het ek verder moeilikheid gaan soek.  Ek het ’n persoonlike wrewel teen mensehandel. Imran weet ek die oorsaak, al doen ek dit stil-stil. Kan nie die L7 inbring vir my persoonlike vendetta nie.

“Wie is nog betrokke?” Ek hou Farr dop.

Hy skud sy kop.

“Hoeveel?”

“Agt. Ek het mos gesê.”

“Jy verstaan my verkeerd,” sê ek. “Hoeveel betaal hulle jou.”

Sy oë rek net so bietjie. “Logan. Indien jy beweer ek het iets hiermee te doen…”

“Ek beweer niks. Ardi is dood.”

Sy oë raak groter. “Sy…”

“Ek begin dink sy was nie belangrik nie.” Geen emosie. Stem sag.

“Wat? Natuurlik was sy.”

“Hoe so?”

“Hoe…? Logan. Wat gaan aan?”

Ek rig my wapen op die man in die stoel. “Sien. Hierdie ou is nie belangrik nie.” Ek trek die sneller. Verkoolde vleis sink in sy skouer in. Hy skreeu tot Mace hom teen die kop tik. Mace se oë is op my gerig, vraend. Bekommerd.

“Hoekom is jy belangrik, Farr?”

“Wat?”

“Sien. Ek het begin dink.”

Sy oë bly op my gerig. “Logan. Ek weet nie wat jy dink nie, maar…”

“Hoekom nou? Daar was sekerlik baie geleenthede. Ek kruip nie heeltemal weg nie.” Ek hou ’n hand op. “Ek weet. Dit gaan nie alles oor my nie.” My wapen is weer op hom gerig. Meer presies. “Maar volgens een van die ander ouens, is dit klaarblyklik. Alles oor my.”

“Ander ouens?”

Ek knik. “Die een wat Ardi vermoor het. Sien, hy het gepraat voor hy ons verlaat het…”

“Ek weet nie wat hy gesê het nie,” Farr se hande is omhoog. “Ek is nie deel van hulle planne nie. Hulle het jou gesoek…”

“Snaaks,” sê ek sag. “Hy het jou nie genoem nie. Jy is ook nie belangrik nie.”

Farr kyk na Mace vir hulp. Mace se gesig is uitdrukkingloos. Farr se aandag is terug by my. “Logan, luister…”

“Ardi is dood, Farr. Sy is dood.”

“Ek het nie…”

Ek trek die sneller. Weer en weer.

 

***

Dis seker met minder verbasing wanneer ons in die lope van vele wapens vaskyk. Ozuru Stasie se sekuriteit het lank genoeg gevat om op te vang. Ook nie verbaas wanneer een van die wagte my teen die kop probeer slaan selfs na ek opgegee het nie. Mace haal twee sekuriteit robotte uit voor ek hom oortuig die geveg is reeds verby. Selfs voor dit begin het.

 

12

Ek luister na die lugversorging. Dis snaaks hoe mens dit nie hoor nie. Jy moet regtig konsentreer wanneer jy op ’n skip of stasie is. Maar wanneer jy dit eers hoor kan jy nie wegkom daarvan nie. ’n Ritme wat jou vasvang.

Die deur word van buite oopgemaak. Kan dit nie van binne doen nie, soos selle nou maar ontwerp word. Brandgevaar as ek my opinie mag lig.

Hy plaas ’n Coke op die tafel. Hy kyk af na sy data-paneel. “Logan Santiago.” Hy fluit tussen sy tande. “Een van dié Santiago’s?”

“Almal vra my,” sê ek.

Hy wag vir iets verder, maar ek werk nie saam nie. Hy knik ingedagte. “Ek het al met N’kai te doen gehad. En jou vriend staan nogal uit.”

“Hy is nie N’kai nie,” sê ek stil.

Hy neem plek in op die stoel oorkant my. Die metaal tafel tussen ons is die enigste ander meublement. Hy is ’n ouerige man, moontlik lank in die besigheid. Sekuriteit. Hy dra sy grys hare vasgemaak in sy nek, haarlyn wat reeds terugkruip van sy voorkop. Snor en baard. Kort en grys. Hy lyk na iemand wat al aksie gesien het. “Daar is baie mense dood. Die skade is…aansienlik.”

Ek reageer nie op die voor die hand liggende opmerkings nie, maak die Coke oop. Wonder of hy meer bekommerd is oor die skade aan die sekuriteit robotte. Nuwer modelle as enige wat ek voorheen gesien het. Duur.

“Dit laat my sleg lyk,” sê hy met ’n skouerophaal. “Ek wil nie sleg lyk nie.”

“Jy laat wapens toe en dinge gebeur,” sê ek.

“Presies,” sê hy met ’n knik. “Dis wat ek heeltyd vir hulle sê.”

“Wat wil jy hê?”

Hy gee my ’n lang kyk. “Ek wil weet wat het gebeur.”

Ek maak die Coke klaar, sit die leë blikkie op die tafel. Sy oë is op my hand wat dit steeds vashou. Miskien wonder hy of ek dit as ’n wapen kan gebruik. Ek oorweeg dieselfde. “Mense is dood. Hulle het dit verdien.”

Hy knik weer stadig. “Miskien sou hulle anders dink as ek hulle vra.”

“Vra hulle,” sê ek weerstrewig.

Hy sug. Dit gaan ’n lang dag wees. Vir hom. Lyk of hy die kripbyter moet wees, so ek dink nie sy welwillende teenvoeter gaan vreeslik goed vaar met my nie. Wanneer dié sy plek gaan inneem. Ons staar mekaar lank aan, nie een van ons laat val die oë nie. Dan sug hy weer en verlaat die partytjie. Maar niemand anders kom in om voor te gee om my vriend te wees nie. Om my te oortuig met samewerking sal ons hierdie stryd saam aanpak en oorbrug nie. Hy weet van beter. Ek sit vir die volgende paar uur in stilte met myself as geselskap. Ek is nie goeie geselskap op hierdie stadium nie. Meditasie bring jou net sovêr. Met toe-oë en ’n gly in konsentrasie sien ek weer…

Ardi se oë.

Die onsuksesvolle poging om weg te kom na ons gesprekkie met Farr en trawante.

Mace se ongemaklikheid met my. Ek het gedink hy sal verstaan.

Die sekuriteit wat ons inwag.

Mace se verdere verbasing toe ek ons laat opgee. Robotte is een ding. Mense wat verdien om heen te gaan, ook. Maar nie sekuriteit wat net hulle werk doen nie.

 

13

Die deur gaan oop. In gees staan ek op uit die hoek waar ek myself ingewurm het om van die emosies en skuldgevoel weg te kruip. Fisies lig ek my kop by die tafel.

Die ou man gaan staan aan die ander kant van die tafel. Sy oë val vinnig na die Coke blikkie wat steeds op die tafel staan. Ek glimlag amper. Wat het hy gedink gaan ek doen? Is hy dalk teleurgesteld?

“Kom,” sê hy.

“Ek gaan nie hardloop en in die rug geskiet word nie.”

Hy gaan staan by die deur, draai stadig. “Ou seun. Ek weet nie wat jy dink nie, maar ons is nie buite die Terreine nie.” Hy oorweeg. “As ek van jou wou ontslae raak sou ek dit vinniger en skoner gedoen het. Reeds. Ek het nie tyd vir speletjies nie.”

Ek aanvaar sy woord.

Die breë gang is besig. Sekuriteit personeel staan oral in hulle swart oorpakke, wantroue in die oë op my. Chroom geraamtes van sekuriteit-robotte, ingeboude wapens ontbloot. Ek voel amper gevly oor die aandag. Verkies eerder die teenoorgestelde. Maar dit gaan natuurlik nie oor my nie. Die gang is die fokuspunt van die selle. Rowan, Mace en Tyesha word uitgelei in die gang in. Ek lig my kop uit my eie selfverwyt en bejammering. Rowan se arms is afgehaal. Mace is oordek in ’n metaal borsstuk, arms vas langs sy sye. Holo-skerms hang oor hom. Gravitasie boeie. Die platform wat hom vervoer dreun sag. Hy sit op sy knieë, kop onderstebo. En Tyesha. Die kabels in haar kop is in ’n net vasgevat oor haar kop. Liggolwe vloei oor die net. ’n Inhibeerder. Haar oë is dof, asof sy blind is. Sy is seker op ’n manier, afgesny van haar wêreld van vloeiende inligting.

“Sê vir Lashmi ek skuld haar niks meer nie.”

Ek draai my kop na die grys Sekuriteit Hoof.

“Kev Remus. Sy sal weet.” Hy draai weg in ’n aangrensende gang, los ons in die hande van sy mense.

In stilte word ons begelei na die hysers. Ek vermy almal se oë. Insluitend my vriende s’n. Moontlik doen hulle dieselfde. Die vrag area is besonder leeg. Niemand anders. Industriële robotte staan rond, wag om weer te werk. Remus het die omgewing omskep in ’n sekuriteit area. Ons word aangepor na een van die skepe. ’n Interaksie tussen een van ons wagte en van die bemanning trek my aandag vir ’n oomblik, maar ek is te vêr om te hoor wat gesê word. Ons stap die laai-platform op in die dof beligte binneruim en neem ons aangewysde sitplekke in.

 

14

“Wel, hier is nou weer ’n mooi gemors,” sê Rowan uiteindelik na twee dae. Die ongemaklikheid tussen ons raak erger. Ek is te diep in my verdriet gedraai om iets daaromtrent te doen.

’n Massiewe vragskip onderskep en sluk ons in. Ons word begelei oor die leë vragruim in die maag daarvan na ’n ouer skip, groter as die een wat ons hierheen gebring het. Nie heeltemal gewone prosedure om aangehoudenes te vervoer nie. Ek begin dink Remus is dalk nie meer deel van die besluitneming hier nie. Selle word geallokeer in die pak area met flikker-veld afskortings. Mens sou dink hulle vervoer gereeld lewendige handel. Meublemente en ablusies is opmerklik afwesig. My sel is aangrensend tot Rowan wat op haar knieë sit, Mace aan die oorkant. Tyesha langs sy sel. Ons voel die vibrasies wanneer die skip die vragskip verlaat.

Voetstappe laat my opkyk. Die man loop met die gemaklikheid van iemand wat weet hy is in beheer. Holster laag teen die bobeen. Quasi militêre drag. Hare lank oor sy skouers, stoppelbaard so week oud. Hy kom staan voor my sel. Twee gewapendes, ’n man en ’n vrou, staan by die ingang tot ons selle. Verveeld. Hulle weet ons gaan nêrens nie.

“Nie heeltemal die standaard vervoer vir gevangenisse nie,” sê ek.

Hy grinnik. “Jy het ervaring?”

Ek haal my skouers op, staan op. Die flikker-veld is al wat ons skei.

“Ek het al ’n rukkie op ’n prisonier skip of twee spandeer. Die kos was nie sleg nie.”

Sy oë vernou, maar die glimlag bly. “Hierdie is nie heeltemal volgens die boek nie,” gee hy toe.

“Vreemd. Ek het die idee gekry die sekuriteit op Ozuru stasie is beter as op meeste plekke.”

Hy lag. “Remus! Hy probeer hard. Maar hy het niks met hierdie te doen nie.”

Dis waarvoor ek bang was. Burokrasie kan soms tot jou voordeel gebruik word. Nie vandag nie.

“Ek wonder…” begin hy, vriendelik.

Ek wag.

Hy tuit sy lippe met die besef ek gaan nie ingee nie. “Jy is so bietjie van ’n enigma, wie of wat is jy nou eintlik?”

“Geen voorspel nie? Ek is seergemaak.”

“Nuuskierigheid is soms ’n bietjie oorweldigend.”

“Miskien is jy net die hulp?” sê ek. Dit lyk of hy ’n ego aan hom het. Dit is altyd maklik om uit te buit.

Sy glimlag verbreed. My poging deursigtig. “Maak nie saak nie. Julle is binnekort van my hande af.”

Hy stap na Rowan se sel. Sy staar uitdagend na hom.

“Nie so sterk sonder die hardeware nie, skattie?”

Haar oë bly op hom. Ek byt hard op my tande.

“Wat van ons sit hierdie veld af en kuier so bietjie?”

“Jy vat aan haar en ek maak jou dood,” sê ek sag.

Hy draai na my toe. “Aaaw. Dis oulik. Sy joune?”

“Ek het nie jou hulp nodig nie, Logan,” sis Rowan.

“Ja, Logan,” sê hy met ’n skewe glimlag. “Sy is ’n groot meisie. Sy kan na haarself kyk.”

Hy skakel die flikker-veld af. Rowan staan behendig op en tree agteruit tot sy met haar rug teen die vêrste muur staan. Haar oë bly op hom, haar mond in ’n gryns getrek.

“Jy gaan baklei?” Sy stem verkleur met verwondering. “Ek is beïndruk.”

“Wat is jou naam?” vra ek.

Hy gaan staan stil, sy oë steeds op Rowan. “Hoekom is dit belangrik?”

Ek staan so na aan die flikker-veld tussen my en Rowan se sel as wat ek kan. “Dit is nodig om uit te vind wie jou naasbestaandes is.”

Hy huiwer vir ’n oomblik. Dan verbreed die glimlag. “Jy praat groot van daardie kant af.”

“Nee,” sê ek. “Ek sê dit soos dit is.”

Rowan se oë spring van my na die man. Die testosteroon paradering staan haar nie aan nie. Ek draai na Mace. Sy kop bly hang, maar hy is bewus wat om hom aangaan. Hy weet…

“Ian Rosh. Kaptein,” sê hy. “Miskien het jy al van my gehoor?”

Ek skud my kop stadig. “As jy moet vra…”

Sy mond trek skeef, maar net vir ’n oomblik. “Ek weet wie julle is.” Hy waai in die algemene rigting om ons almal in te sluit. “Nie beïndruk nie.”

“Ons ook nie,” gee ek toe. Hy interpreteer dit meer persoonlik en daardie skewe trek om die mond verdwyn en verskyn weer vlugtig. Mooi. Ek het weer iets om mee te werk. In ons besigheid is reputasie alles. Daar is egter ’n dun lyn tussen reputasie en ego. “As Daeshaun jou moes huur, moet jy redelik laag op die lys van talent lê.”

Sy hele aandag fokus op my. Rowan verander haar posisie effens. Ian blyk dit nie te sien nie.

“Daeshaun my gehuur?” hy lag. “Jy het nie regtig ’n idee wat aangaan nie, het jy?”

“Oortuig my.”

Hy skud sy kop. “Jy gaan maar moet uitvind.”

Rowan se voet tref hom in die waai van sy been. Hy knak grond toe, maar kry dit reg om verby haar te rol. Haar opvolg skop suis deur die lug. Sy draai en wag.

Ian is verbasend vlugtig op sy voete. Hy grinnik. “Dit was onverwags. Maar ek hou daarvan.”

Rowan sê niks.

Hy tree nader en blok twee skoppe met sy arms. Die derde skop tref hom op die bobeen. Hard. Hy kreun, maar bly staan.

“Dit is amper onregverdig,” sê hy. “Jy is nie heeltemal jouself nie, is jy?”

Rowan glimlag.

Ian gebruik sy grootte en arms tot sy voordeel en land ’n hou op haar skouer, opgevolg met ’n hou op die kakebeen. Rowan word teen die flikker-veld geslinger. Sy bons terug maar verloor haar balans en slaan neer. Haar kop klap op die metaal vloer. Ian is onmiddellik op haar, pen haar vas met sy gewig. Sy het dalk nie arms nie, maar sy is nie magteloos nie. Haar kop tref syne en hy deins outomaties weg. Sy kry ’n been uit en skop hom af. Hy rol tot op sy voete.

“Dis die meeste aksie wat ek in ’n lang ruk gehad het,” gryns hy.

Hy is besig om dit te geniet. Die einddoel is nie meer die sending vir hom nie. Dit is die pad tot daar. Dit beteken Rowan gaan seerkry.

Hy stap nader en val vir ’n skyn van die kant af. Rowan skop hom in die gesig. Hy val agteroor, maar rol weer tot op sy voete. Hy betrag die bloed wat hy afvee met sy hand.

“Okay,” Sy oë trek op skrefies. “Kom ons dans.”

 

15

Ek dwing myself. Ek weier om weg te kyk. Dit is moeilik, maar ek weet ek moet. Die woede brand deur my. Ek vertroetel dit – daardie woede. Ek sien elke hou wat op Rowan val. Ek sien die bloed wat spat, ander tye drup tot op die vloer. Ek sien hoe sy nie meer kan nie. Sy wil nie opgee nie, nie hier nie. Nie met hom nie. Maar sy kan net nie meer nie. Sy lê stil terwyl hy doen wat hy wil. Bly lê nadat hy klaar is.

 

16

Mace se oë is op my. Ek sien die trane loop. Dit is die magteloosheid. Ek kan geen vertroosting bied nie. Ek moet my eie woede onder beheer hou.

Rowan lê in ’n hoek sovêr as moontlik van ons af. Nie net oor wat gebeur het nie, maar ek weet hoe sy voel om weerloos voor te kom.

Iemand gaan seerkry hiervoor.

 

17

Vir die res van die vlug sien ons Ian nie weer nie. Kos word voorsien. Water. Mace sit egter magteloos en staar na die bord, nie in ’n posisie om te eet nie. Sy arms vasgepen. Sy liggaam in ’n regop posisie.

Tyesha staar net voor haar uit.

Rowan…

Ek eet nie. Want dit is nie regverdig nie.

Ian is beter met die speletjie as wat ek verwag het.

***

Geen dreuning wat wys op intrede tot ’n atmosfeer nie. Die sagte stamp geluide teen die skeepsromp vertel my ons is in ’n asteroïede veld. Dit voel nie of die vlieënier te veel moeite het om groter dele te vermy nie, so my aanname is moontlik ’n myn wat in onbruik verval het. Die loods is ’n massiewe uitgeholde rots. SK-panele. Laai krane en laaisones. Parkeerareas wat groterige skepe kan akkommodeer om wat-hulle-ook-al myn te vervoer na groter vragskepe buite. Daar staan moontlik so ’n dosyn skepe rond. Verskeie make en groottes.

Dis nie heeltemal ’n erewag nie, maar die aandag is op ons terwyl ons begelei word uit die skip. Almal gewapend. Skoon. Gedissiplineerd. Ian word in stille eerbiedigheid gegroet, iemand wat bietjie gesag dra (seker ’n groepleier) stap nader om hom met die hand te groet. ’n Stil gesprek met ’n blik in ons rigting. Vinnige bevele en ons volg ons nuwe wagte opwaarts na die geboue op die oppervlak. Ian draai weg in ’n ander gang sonder ’n verdere woord aan ons. ’n Lang stap wag vir ons aan die ander kant van ’n lugsluis. As ek reg is, is die uitleg ’n wiel vorm met ’n hoofgebou as die sentrale as. Ons volg een van die speke tot in die hoofgebou. Verskeie lugsluise op pad bied veiligheid vir die onwaarskynlike (of dalk nie) gebeurtenis van enige ongelukke. Ons ís immers op ’n rots. Die gange self is wyd genoeg om drie mense langs mekaar met gemak te laat loop. Pype in kleurkodes slang teen die plafon. Verskeie verdofte tekens teen die mure, sommige met veiligheidsaspekte te doen.

Vanaf die hoofgebou volg ons weereens ’n gang na een van die ander, kleiner, geboue. Gebrek aan ablusies is ’n vernedering op ’n vlug wat strek oor ’n paar dae. Ons word een vir een afgespuit en skoon oorpakke gegee. Selfs Rowan pak haar trots weg en eet iets, al beteken dit sy word soos ’n baba gevoer. Ons maak onsself tuis in behoorlike selle hierdie keer. Ou skool. Tralies. Seker die detensiebarak. Ek hoor die stemme van ten minste twee wagte vanuit die kamertjie aangrensend tot die selle. Die bed is gemakliker as die vloer wat ons moes gebruik op pad hierheen. Mace is net so ingetrollie. Sy spiere moet skreeu op hierdie stadium. Hulle het hom nie eens uit die boeie gehaal met die afspuit nie. Rowan lê met haar rug na die wêreld. Tyesha staar in die vêrte. Ek staar na die plafon.

 

18

“Logan?”

Ek spring op. Bedink myself en maak of ek strek. Net omdat ek nie kameras sien nie, beteken nie daar is nie enige nie.

Tyesha.

“Wel, dit het langer gevat as wat ek verwag het,” sê ek sag.

“Goeie tegnologie,” sê sy. Sy sit in ’n lotus posisie, maar haar oë is gefokus. “Daar is ’n paar dinge wat jy moet weet.”

“Ek luister. Maar kyk eers of ons veilig is?”

Sy beweeg nie. “Geen kameras of afluisterapparaat.” Sy frons. “Dis ’n ou myn hierdie.”

Ek knik.

Sy draai haar kop skeef. “Daar is iets hier…” Sy skud haar kop, peul die net van haar kop af.  In ’n stortvloed van woorde gooi sy inligting uit: “Ian is deel van een of ander program wat dateer uit die Inkuiling. Ek dink hy hou van die jag van mense wat potensieel beter is as hy. Miskien wil hy iets bewys. Kev Remus aan die ander kant is meer bekend – of gerug – in sekere kringe as die Sekuriteit Hoof van Hubbard.” Haar stem is sag en neutraal. Gee net inligting, geen emosies nie. Haar manier om stoom af te blaas.

Sy staan op en strek haar nek, haar hande gly oor die kabels in haar kop asof sy die gevoel daarvan terugroep. Iemand wat weer sien na ’n oog operasie.

“Toeval?”

Sy draai haar kop in my rigting. “Jy is nie so naïef nie. Maar miskien ’n gesprek vir later?” Sy speel met die net tussen haar vingers, frons. “Jy okay?”

Ek loer onderlangs na haar. Geen direkte oogkontak. “Hoekom vra jy?”

Sy bedink haarself. “Wanneer wil jy dit doen?”

 

19

Hulle roetine is redelik eenvoudig. Niemand stel veel in ons belang nie. Vir die oomblik. Hulle wag vir iets. Of iemand.

Tyesha sit weer regop op haar bed. Rowan hou ons dop van haar sel af. Tyesha knik. Sy monitor iets. Sy draai haar kop in Mace se rigting. Die boeie val swaar op die vloer. Hy wag nou al lank om fokus te gee aan sy woede. “Omtrent tyd,” sê Mace. Hy swaai sy arms om sirkulasie terug te kry. Sy seldeur volg die roete van die boeie binne oomblikke. “Waar is die mense wat gaan seerkry?”

“Miskien wil jy ons ook uitlaat?” sê ek.  Hy staan ’n oomblik voor my sel. Dan knik hy. Hy loop egter verby na Rowan se sel en ruk die deur af. Sy is in sy arms en hulle staan vir ’n lang ruk so.

“Mace,” sê ek ongeduldig.

“Los hom,” sê Tyesha sag.

Ons beskou die twee so deur die tralies. Dit lyk steeds vreemd om Rowan sonder arms te sien. Ek byt ’n lip en hou my ongeduld in toom.  ’n Geluid van die wagte se rigting, laat my amper op en af spring van ongeduld. “Mace!”

Hy draai sy kop na die deur en ignoreer my. Hy los Rowan sagkens en beweeg meedoënloos uit die sel.

“Mace? Laat ons help.”

Hy luister nie. Die deur gaan oop en twee wagte draf in. Hulle het moontlik lê en slaap. Iets gehoor en kom kyk. Mace is nie subtiel nie.

Die eerste sien nie eens die gevaar nie. Mace vat hom aan die kop en knak sy nek voor hy hom in ons rigting gooi. Hy is net ’n sak bene. Die tweede wag maak kennis met Mace se vuis. Hy bons teen die muur, sy ribbes fynhout. Mace ignoreer hom. Hy neem twee tree na die ingang.

“Mace!”

Hy ignoreer my steeds. Dit is nie goed nie. Ek ken berserker wanneer ek dit sien. Indien hy uitgaan in sy huidige blinde besetenheid, is die kanse goed hy gaan homself dood kry.

“Mace,” sê Rowan sag. Hy steek vas. “Laat ons help.”

Hy staan vir ’n oomblik en draai sy kop skeef.

“Asseblief?”

Sy skouers sak. Hy draai terug. Sy oë verloor die intense haat.

’n Skoot tref hom in die rug.

 

20

Mace sê nie ’n woord nie, ten spyte van die pyn wat hy moet voel. Die plasma brand in sy rug in en ons ruik die vleis brand. Hy draai sonder ’n woord, hardloop ’n paar treë terug en donder ’n vuis in die wag wat met die plasma aanvalsgeweer in die ingang staan. Die wag vlieg weg uit ons sig. Ek hoor ’n klap op die vloer. Mace stap onversetlik uit. Skote klap –projektiel sowel as plasma.

“Rowan!”

Sy kyk na die deur, dan na my.

“Ons gaan hom moet help. Jy weet hy gaan nie ophou nie.”

Sy pers haar lippe saam en kom tot ’n besluit. Sy drafstap na een wag op die vloer, skop-skop teen die liggaam. Sy voel iets wat moontlik bruikbaar kan wees, want sy begin om die liggaam nader aan my sel te sleep-skop. Dis nie so maklik nie, ’n dooie liggaam is nou nie heeltemal ’n bal nie. Maar Rowan is sterk. Ek reik deur die tralies en trek hom nader aan sy geveg harnas. Geen sleutel aan hom nie. Ek is ook nie seker of die sleutel aan die ander wag is nie. Vir ’n verandering is ek bly hy dra ’n plasma wapen. Ek trek dit uit en skiet die slot oop. Die deur slaan oop met behulp van my voet en swaai weer toe. Ek voel dom. Ek skop dit weer oop. Die tweede wag het toe wel ’n sleutel. Tyesha se sel is makliker. Ek kies koers in die rigting van die geluide van Mace se skrikbewind. Rowan het reeds deur die deur verdwyn.

 

21

“Twaalf?” vra Tyesha sag.

“Twaalf. Maar twee is nog lewendig,” sê ek. Ek vat haar skouer vas om haar terug te hou. “Jy wil nie.”

Haar oë lig na myne. “Wat?”

“Dis nie iets wat jy wil sien nie, vertrou my.”

Sy byt ’n lip, knik dan met begrip.

Ek staar deur die versterkte skakel-glas na die rotse buite die koepel. Die groot koepel wat die as vorm van die oppervlak geboue is sigbaar.

Tyesha gaan sit by een van die rekenaar konsoles, oë toe. Die stelsel gaan haar nie probleme gee nie. Dis ’n ou myn, hulle sou nie veel spandeer het op sekuriteit nie. Produksie- en lewens-stelsels is belangriker.

Ek loer in die gang af wat uit die beheerkamer loop. Mace staan amper verdwaas en staar na die vloer, gesig en klere vol bloed, vleis en wat stukke been kan wees.

“Mace?”

Hy kyk op.

“Maak jouself skoon,” sê ek met soveel empatie as moontlik.

Rowan stap nader van agter en rus haar kop op sy breë skouer. Hy knik.

“Ty?”

Sy kyk nie op nie. “Jy sal wil weet. Die kaptein – Ian – is nie in hierdie koepel nie.”

Ek het so afgelei, besef sy sê dit nie om my onthalwe nie. Rowan staar oral behalwe in ons rigting. Daar is nog iets in haar stem. “En?”

Sy kyk op. “Skepe op pad. Vegters. Ons is redelik vêr van enige stasie of planeet, so daar moet nog ’n groot skip of skepe naby wees. Die vegters het nie kapasiteit vir die afstand sonder ondersteunende skepe nie.”

“Alliansie?”

Sy trek haar skouers op. “Moeilik om te sê. Geen identifikasie nie.”

“Dit kan goed wees,” begin ek.

“Nee, Logan. Dit is nie. Sekerlik Jagters.”

Rowan staan nader. Dit is nie ongehoord om rowers uit te soek wat nes skrop in verlate myne of dergelike plekke wat maklik is om te omskep in basisse nie. Plekke waaraan niemand meer aandag gee nie.

Tyesha gaan voort: “Hulle weet nie van ons nie.”

Sy bedoel ons persoonlik. Die goeie ouens. “En dit sal nie help om te laat weet ons is hier nie, want hulle weet nie wie ons is nie. Of gee nie om nie,” sê ek.

“Ek is bevrees,” sê Tyesha. “Maar ek sal in elk geval probeer.”

“Gee net so oomblik,” sê ek.

 

22

“Kyk nou net,” sê ek met ’n skaduwee van ’n glimlag.

Mace stof sy hande af. Daar is natuurlik nie stof nie, maar dit gee hom die satisfaksie om almal te wys die staaldeur is nie Mace-bestand nie. Min dinge is. Data-panele. Wapens. Oorlewing pakke – lig gepanserd. Iets loop reg vir ons.

Tyesha stuur haar boodskap in die rigting van die aankomende skepe. Dit word net so vinnig afgesny. Dit was ’n risiko om mee te begin, maar soms is dit nodig om ’n kans te vat. Ian se mense is egter nou wel bewus van ons. Of eerder – van ons status. Die lewens-stelsels gaan een vir een af. Ons gereed, hoewel Mace met ’n aanmekaar-flans van die oorlewing pakke tevrede moet wees.

Dit is immers ’n myn. Suurstof is ’n integrale deel van die gereedskap en ons pakke is in werkende orde. Ian se mense s’n, ons sou nie die myn gereedskap vertrou het nie.

Tyesha se deursnit diagram van die myn, spring op oor my voorarm. Ons beweeg na een van die lugsluise om af te beweeg in die tonnels. Alle vervoer tonnels lei na die landings area uitgegrawe aan die kant van die asteroïed, natuurlik aan die ander kant van waar ons ons bevind. Ons volg die antieke magnetiese spoorlyn wat ouderwetse koekepanne akkommodeer. Swaartekrag panele is duur vir hierdie tipe myn projekte, so ons beweeg lomp na die metaal relings aan die kante en dak van die tonnel.  Gemotoriseerde klampe aan ons harnasse maak beweging makliker daarna. Rowan is gegespe aan Mace soos ’n baba in ’n drastoel. Sy sê niks. Maar ek weet sy kook van binne.

Ian se mense is nie dom nie. Hulle is natuurlik bewus van al die roetes en sal voorsorg tref, maar ek is oortuig hulle is te besig om op te pak voor die skepe opdaag om genoeg aandag aan alle roetes te gee. Dit is ’n redelike aanname dat die gange op die oppervlakte meer aandag sal kry van hulle. Hulle weet egter ook ons is nie dom nie. Die verlies aan suurstof is net ’n ongemaklikheid wat hulle geskep het.

Verskeie tonnels vloei saam in ’n massiewe laai area. Geen weerstand in die tonnel self nie. Nie regtig enige verwag nie. Die laai area het SK-panele en ons maak die klampe los. Twee wagte voor ons. Nie so paraat nie. Meer bekommerd oor die aankomende skepe en of hulle self betyds gaan wees om te ontvlug.

Tyesha bevestig die sekuriteitstelsels hier is ook onaktief.

Ek skiet die een aan die linkerkant deur die kop, twee skote om seker te maak. Die kopstuk smelt in sy kop in en los ’n gedeeltelike skedel, swart en rokend. Die een aan die regterkant kom nog tot verhaal wanneer ek hom uithaal.  Sy bors en alles bo dit verkrummel in ’n swart, rokende massa. Plasma is nie subtiel wanneer jy dit regtig ernstig aanwend nie. Ons wag vir alarms om af te gaan, maar na ’n paar minute blyk dit veilig te wees. Ons beweeg stadig uit die tonnel.  Ek dek die area met egalige vee-bewegings. Hulle het klaarblyklik nie regtig verwag ons gaan hierdie kant inkom nie. Net die twee wagte.

 

23

Massiewe deure versper die weg na die laai area waar skepe gewoonlik wag om gelaai te word. Aan die een kant van die deure is drie lugslotte in die rotsmuur ingebou. Ons het dalk swaartekrag hier, maar steeds nie atmosfeer nie.

Ek aktiveer die siklus van een van die lugslotte deur ’n ouderwetse paneel. Die helms van ons uitrustings verberg ons identiteit ten minste . Die binnekamer is ruim. En leeg.

“Veilig,” sê ek oor die data-paneel.

Mace en Tyesha volg, hoewel Mace bietjie lomp is met Rowan. Ek neem posisie in en wag vir die ander. Die deur na die binneruimte van die area is toe. Ek hou die helm aan en maak die deur oop, die ander bly buite sig. Daar is beweging – baie beweging. Paniekerige beweging. Ontruiming. Dinge loop mooi.

“Ons moet ’n skip kry,” sê ek oor my skouer. Onnodig, ek weet. ’n  Breë gang loop regs uit na die massiewe loods. Ons is weer waar ons begin het. Gedeeltes van die skepe is sigbaar van waar ek staan. Dit lyk nie of enigeen veel aandag gee aan enigiets behalwe om die skepe so vinnig as moontlik te laai nie. Die oorlewing pakke en helms gee ons ’n mate van eenvormigheid met die res van die mense, ook so geklee.   Hulle verwag die aanval binnekort.

Mace gaan ’n probleem wees. Hy staan uit.

“Rustige loop na die laai area,” sê ek. “Bondel om Rowan sodat haar arms versteek word. Mace, gee ons ’n oomblik om die skip te haal voor jy kom. Ons sal jou dek.”

Rowan se arms – of gebrek daaraan – is nie onmiddellik sigbaar nie, maar ek vat nie kanse nie. Ons beweeg oor die besige vloer. Laat dit lyk of ons weet waarheen ons gaan. Ons begin egter kyke optel. Miskien is daar ’n orde hier. Skepe toegestaan aan sekere groepe. Moontlik is ons kleredrag bestem vir iets anders. Iets wat ons nie weet nie.

“Blou vlerke,” sê ek.

Ons bestyg die laaivloer van die vragskip wat ek uitgewys het. Dit is leeg, maar helder verlig aan die binnekant.

“Ty?”

Sy mors nie tyd om te antwoord nie, maar stap deur en bestyg die metaal leer na die stuurkajuit.

“Hey. Die vrag moet nog klaar gelaai word. Vlieëniers se bevele word nog uitgereik.”

Ek draai na die stem agter ons. ’n Groep van vier stap nader. Almal lyk ’n bietjie onder druk hier rond. Ek lig my hande asof ek nie mooi gehoor het nie.

Dinge gebeur vinnig. Tyesha skakel die motore aan. Die klomp gryp na wapens, hoewel onseker. ’n Rumoer van agter trek hulle aandag weg van ons. Mace stoomroller deur die skare. Mense vlieg letterlik uit sy pad uit. Die loods skud en klippe poeier van die dak af. Die aanval deur die veg skepe het begin (vir ’n oomblik was ek beïndruk en het gedink Mace het die skudding veroorsaak). Die aanval trek dalk die aandag van ons af, maar maak ons kanse baie minder om hier uit te kom.

Plasma energie straal by my verby. Tyesha haal twee van die vier uit voor ek die res grond toe stuur. Voel nie eers sleg om hulle in die rug te skiet nie. Die skielike chaos om ons versteek die skietery.

Tyesha se gesig is wit. Die wapen bewe in haar hande. Ek nader haar stadig, my hand uitgestrek om die wapen af te neem.

“Dis okay,” sê ek. Sy knik aanhoudend, laat my toe om die wapen te vat.

Skote klap vanuit die loods. Die res het besef iets is verkeerd. Mace donder die skip in.

“Ty! Kry ons hier uit!”

 

24

“Skade?” vra Rowan van onder af. Dit is goed om te hoor sy is weer met ons. Sy het te lank teruggetrek in haarself. Wat te verstane is. Maar kommerwekkend.

“Ligte skade. Niks om oor bekommerd te wees nie.” Tyesha se oë staar in die vêrte. Sy is weer deel van die skip en loods dit direk.

Ek gespe myself los en gly teen die leer af vanuit die stuurkajuit. Die res is steeds vasgegespe in die paar passasier sitplekke aan die kante van die vragruim. Die skip het atmosfeer, maar almal hou hulle helms aan. Daar is ’n oorlog om ons.

“Mace?” vra ek.

“Hy is okay,” sê Rowan. “Paar brandwonde, niks wat ’n bietjie mediese behandeling nie sal reghelp nie.”

Verdere brandwonde. Ek kyk rond vir ’n mediese trommel en gooi dit oop voor Mace se voete. Breë mediese stroke trek styf oor die wonde na ek dit aan klap. ’n Ligte verdowingsmiddel wat dien as ’n pynstiller skop in deur sy vel. “Seer?”

“O, nee,” sê Mace dromerig.

Dalk is dit nie so ’n ligte verdowingsmiddel nie.

Rowan knik ’n dankie in my rigting.

“Hou Mace rustig,” sê ek.

Ek neem weer die mede-vlieënier stoel langs Tyesha en staar deur die versterkte skakel-glas. Sy haal alles uit die arme vragskip wat nie gebou was vir die tipe maneuvers vereis deur haar nie.

“Miskien dink hulle ons is nie so belangrik nie,” sê Tyesha. “Ek hou aan die kant van die gebeure. Die vegters konsentreer op die asteroïede. Die myn. Vir nou.”

“Wonder wat dit so belangrik maak.”

Tyesha sê niks. Spekulasie is ’n mors van tyd.

’n Laserstraal skyn rooi oor ons boeg. Waarskuwingskoot.

Ek swets, maar Tyesha glimlag.

“Omtrent tyd,” sê sy. “Ek stuur lank genoeg boodskappe.”

Ek kyk vraend na haar. Haar glimlag verstar en haar oë fokus. Dit is so buitengewoon dat ek vinnig na buite kyk. ’n Fregat verskyn voor ons, gevolg deur twee ander oomblikke later. Indien ek nie dit gesien het nie, sou ek nie die abnormaliteit gesien het nie. ’n Golwing oor die sterre veld wat inkolk en dan ontbind om die skepe daar te laat in die deining.

“Wat de hel?” sê sy.

“Waar kom hulle vandaan,” kan ek nie help om te vra nie.

Die drie skepe lê in die ruimte voor ons.

“As hulle…”

…op ons begin skiet het ons nie ’n kans nie.

Al drie verdwyn weer na ’n paar minute. Verdwyn is dalk nie die regte beskrywing nie. Dit is moeilik om te sien presies wat gebeur. Missiele krul weg van die skepe net voor al drie omvou word deur duisternis anders as die kosmiese stof om ons…dan is hulle weg.

“Kamoefleer tegnologie?” vra ek sag. Dit lyk nie na enigiets wat ek al gesien het nie.

“Nee,” sê sy sag, gefassineerd. Dan ruk sy ons skip skerp eenkant toe om ’n missiel te ontduik. Die vegter wat ons agterna gesit het, blom helder agter ons en verdwyn in ’n massa gloeiende puin. So ook elke skip van die voortvlugtende vloot wat ek kan sien.

Ons staar mekaar aan in stilte. Wat het sopas gebeur?

 

25

Die eetsaal van die Alliansie skip is nie bedrywig nie. Ons eet in stilte. Almal is honger.

Niemand maak beswaar oor die feit dat Dago homself tuis maak op die lang tafel nie. Mayah het nie net vir ons skoon klere bewerkstellig nie, maar ook ’n paar arms vir Rowan. Rowan loer na my oor ’n beker koffie. Ons ken mekaar lank genoeg. Hoe het Mayah geweet van die arms? Hoe het sy en Dago ons gevind? Ek en Rowan het geskiedenis. Stilswyend kom ons ooreen om later te gesels hieroor. Ek en Rowan sal ons eie nonsens mettertyd uitwerk, dit is nie die eerste keer dat ons bietjie koppe stamp nie.

Mace maak tans gebruik van die mediese boeg se fasiliteite. Tyesha eet in stilte, haar oë vêr weg. Daardie verdwynende skepe het haar volle aandag.

Mayah het gereël vir ’n tydgleuf met die kaptein. Tot dan is kos en slaap nie ’n slegte tydverdryf nie.

 

26

Ons wag in ’n relatiewe luukse wagkamer. Dit is luuks, ten spyte van geen praalvertoon. Metaal stoele op metaal vloer, omring deur metaal mure. Die luuksheid is die ontvangsklerk wat maak of hy besig is agter sy lessenaar, maar eintlik net probeer inluister.

“Ons was toe in goeie geselskap,” sê Tyesha uit die bloute. Haar stilte tydens ons tog na die Alliansie skip tot en met nou maak sin. Sy het natuurlik alles deur haar kop gespeel en daarna met die skip se KI geflirt. Bedoelende – sy het inligting probeer optel. “Kevin Remus is ’n legende.”

Die skielike wending van die gesprek vang my effe onkant. “Soos hy bestaan nie, of het ’n reputasie?”

Tyesha ignoreer my. “Klaarblyklik was hy die Sekuriteit Hoof by Hubbard,” herhaal sy.

“Hubbard is ’n legende,” sê Rowan. Sy frons. “Eerder ’n mite.”

“Daar is genoeg sameswering teorieë en stories wat die rondte doen om die egtheid daarvan aan te dui,” sê Tyesha.

Dago grom van die kant af. Ek knik. “Ek sal dit ook eers wil sien.” Ek kyk op na die plafon. “Dink daaraan … die geboorteplek van die N’kai.”

“Eerder die laboratorium waar op hulle geëksperimenteer is,” sê Tyesha.

Ek haal my skouers op. “So, hoekom kan niemand Hubbard kry nie?”

Dago maak ’n reeks gromgeluide. Ons draai in sy rigting.

“Regtig,” sê ek. “Waar het jy dit gehoor?”

Hy lig sy kop en vier groen oë gluur my aan. Ek is nie geïntimideerd nie. Dit is sy natuur om te gluur.

“Hy is reg,” sê Tyesha. “Net voor die Groot Inkuiling was daar gerugte van ’n planeet wat onder ’n erge bombardering deurgeloop het. Alle inligting daarna uitgevee.”

“Teorieë,” sê ek.

’n Nadenkende stilte sak neer oor ons. ’n Snydende soniese noot laat my kop opruk. Ek word koud, my maag draai. Niemand anders blyk bewus te wees van die geluid nie. Dago lig sy kop vraend in my rigting. Ek draai my kop stadig rond. Die deur na die kaptein se kwartiere swaai oop en ’n vrou stap uit tussen twee wagte. Sy gaan staan en staar my met groot oë aan. Sy het ’n skeep oorpak aan soos meeste van die bemanning, maar geen insignia. Dit is bietjie vreemd, want almal op ’n skip soos hierdie is deel van een of ander eenheid. Geen insignia beteken sy is net tydelik hier, of hulle het haar êrens opgetel. Dit is natuurlik baie interessant om te spekuleer. Niksseggend egter. Ek weet wat sy is. Daardie soniese noot beteken net een ding. ’n Telepaat. En sy het probeer om my gedagtes te lees. Miskien nie spesifiek dit so bedoel nie, want sy het my eers gesien met die uitstap. Moontlik haar opleiding. Iets opgetel voor sy by die deur uitstap en haar talent het ingeskop.

“Wat is jy?” vra sy sag.

Almal is stil om die drama te beskou, nie heeltemal seker wat aangaan nie.

Ek sê niks. Ek weet sy gaan niks uitrig nie. My kondisionering is te goed. Maar iets het deurgeskemer na haar. Iets wat naakte vrees ontboesem.

“Logan?” Rowan se stem is sag.

“Weet nie,” sê ek. Hou my oë op die vrou. Dan om die fokus weg te stoot: “Wat maak ’n TP hier?”

Die wagte saam met haar lyk ongemaklik. Miskien is niemand veronderstel om te weet wat sy is nie. Sy word aan die arm weggevat.

“Wel, dis interessant,” sê Rowan, haar oë op my.

 

27

“Daar het skepe weggekom?” vra Tyesha. Sy sit terug in die gemakstoel in die Kaptein se kwartiere.

“Ian,” raai ek. “Ons kan nie so gelukkig wees dat hy êrens in die vakuum daarbuite rond dryf nie.”

Die Kaptein knik. Erick Faller. Kort, stewig, met ’n kaalgeskeerde kop soos meeste kapteins van oorlogskepe. Drie ringe ingeplant in sy kop. “Ons is nie seker hoekom al die ander vernietig is nie.”

“Om weg te steek wat hier aangegaan het,” sê Rowan.

“Wat het hier aangegaan? vra Faller.

Ons sit in stilte.

“Niemand?” hy vou sy hande in sy skoot, sit terug. “Ek wil regtig nie voorkom of ek moeilik is nie. Ek sal ’n bietjie samewerking waardeer.”

Ons het almal diens gedoen in een of ander weermag in ons loopbane. Die respek vir gesag is steeds sterk in ons. “Ons weet nie,” gee ek in. “Ons het ’n kontrak opgetel en nie heeltemal beplan om hier op te eindig nie.”

Die kaptein staar ons aan om die beurt. Haal sy skouers op. “Ek het bevestiging gekry van julle weergawe. Julle ken ’n Lashmi?  Lyk of sy mense in hoë plekke ken.”

Ons sit in ongemaklike stilte.

Faller se gesig hou geen uitdrukking. “Niemand weet wat die belangrikheid van die asteroïed was nie?”

Tyesha reageer: “Jy sê was?”

Hy knik. “Vernietig. Forensiese KI’s sal kyk wat hulle bymekaar kan krap, maar die kanse om enige inligting uit die puin te trek is skraal. Teen hierdie tyd dryf meeste van die oorblywende klippe reeds honderde kilometers vêr.”

Die gebeure voel soos ’n driedimensionele legkaart waarvan al die stukke weggesteek word.

“Julle is geen hulp vir my nie,” sê die Kaptein, sonder ’n angel.  “Ons is binnekort by ’n Spring-poort. Julle is nie regtig welkom nie, maar het seker nie ’n keuse anders om aan te bly vir die twee dae nie. Dan is julle op julle eie. Ek is seker julle kan iets huur by die Poort Stasie.”

Ek knik stadig. “Kaptein?”

Hy verskuif sy aandag wat op Ty was na my.

“Wat was daardie skepe?”

“Fregat. Klas II aanval skepe. Geen registrasie wat ons kon optel nie.”

Ons staar mekaar aan vir ’n oomblik. “Dis nie wat ek vra nie.”

Hy knik. “Ek weet. Al het ek geweet, sou ek seker nie met jou gedeel het nie.”

Natuurlik.

Hy staan op. “As julle my sal verskoon.”

Geen doel om eers te vra oor die TP nie.

 

28

“Het dit iets met Daeshaun te doen?”

Ek loer oor die beker met stomende koffie na Mace. Die koffie is steeds sleg, maar die kafeïen is goed. “Ek kan hom nie regtig insien in so ’n diaboliese plan nie.”

“Diabolies? Regtig?” Rowan gee ’n baie vroulike snork.

Ons het weer ons hoekie ingeneem in die eetsaal. Ons kry nou meer kyke met Mace saam met ons. “Ek het geen idee nie.”

“Daar is stories,” sê Tyesha.

“Al klaar?” sê Rowan.

“Ons luister,” sê ek. Tyesha is goed met KI’s. Hulle is gefassineerd met haar. En sy met hulle. Skip KI’s praat natuurlik met mekaar, wat praat met stasie KI’s en Spring-poort KI’s. Ek is oortuig hulle sit soms in hulle virtuele omgewing en giggel oor mense.

Sy maak haar koffie klaar. “Ek het alles saamgevat uit verskeie bronne. Dit is nie so duidelik nie, maar my afleidings is korrek op ’n oorwig van waarskynlikhede.”

Ek wil nie eers probeer dink hoeveel bronne sy aan werk nie. Heeltyd. Haar kop skakel nooit af nie.

“Ons glo jou,” sê Rowan. “Vertel net.”

“Na die Rutger III insident, het Imran sy voelers uitgesteek in ander rigtings.”

“Steeds mensehandel?”

Sy knik in my rigting. “Jy het groot skade aangerig aan sy besigheid. Hy is sekerlik nog baie suur daaroor. Ek dink nie Daeshaun is agter die sluipmoord pogings nie. Ek dink hy is self ’n teiken.”

“Jy dink Imran is agter alles?” ’n Koue gevoel in my maag. Was Farr onskuldig? Nee, ek is seker…

Sy haal haar skouers op. “Maak logies sin.”

Dit klink omtrent reg. In my vrye tyd wend ek verdere pogings aan om daardie besigheid (en nie net Imran s’n nie) skade aan te rig. Maak seker nie veel verskil nie, die heelal is groot, maar dit laat my beter voel. “Hy het my nie geteiken nie.”

“Jy het so gesê. Dit maak nie sin nie. Ek sou dink jy is die eerste op sy lys.”

“Miskien het hy ander planne vir jou,” sê Mayah.

“Jy het ’n mooi manier om dinge erger te maak,” sê ek. “Wat het Daeshaun gaan doen op Niven II?” Stilte groet my. “Dalk niks met ons huidige probleme te doen nie, maar miskien moet ons gaan inloer?”

“Lekker, man,” sê Mace. “Wou nog altyd by een van die Ring-wêrelde inloer.”

 

29

“Jy weet Mace gaan een of ander tyd keelvol raak. Jy kan hom nie altyd agterlaat nie.” Rowan gee my ’n bottel water aan. Soos dit gewoonlik gebeur, het genoeg geld ons vinnig deur die Spring-poort stasie gekry. En ’n vinnige skip deur ’n huur agentskap.

“Ja, ek weet.” Ek sug. “Ek dink net Dago is beter toegerus.”

“Ek stem nie saam nie. Jy kan Mace nie net vir fisiese krag gebruik wanneer dit jou pas nie.”

Ek sug weer. “Nee, dis hoekom Dago daar is.” Ek koes vir die nie-so-speelse hou in my rigting. “Ek weet, ek weet. Jy moet ook nie hier wees nie.”

“Te emosioneel betrokke?”

Ek weet dit is ’n lokval. “Nee.”

“Wat dan?”

“Jy is te betrokke.”

Sy gee my ’n lang kyk. “Dis wat ek gesê het.”

“Nee. Jy het emosioneel gesê.”

“Dis dieselfde.”

Ek glimlag. Ek gaan nie daarvoor val nie. Dit is goed om die ou Rowan terug te hê. Al is dit net op die oppervlak. “Jy kan maar vir hom sê om uit te kom.”

“Wie?” Sy maak haar oë groot. Die onskuldigheid vanself.

Ek draai weg. “Dit moet nogal ongemaklik wees daar in die vragruim. Jy weet, grote in ag geneem.”

 

30

Bietjie geskiedenis: die Ring-wêrelde is iets om te aanskou. Ons weet van vyf. Met ’n diameter van ongeveer vyfduisend kilometer, die omtrek by die vyftienduisend, sewe honderd en sewe kilometer (dankie Ty!). Almal is ongeveer dieselfde grootte, hoewel drie in verskeie stadiums van verval gevind is. Net een is bewoonbaar. Niven II. Vernoem na iemand. Genommer in volgorde van ontdekking. Niven V is die enigste ander volle ring wat gevind is. Wel, moontlik gevind is. Die Ring het verdwyn. Die ontdekkers se verheugde kommunikasie oor hulle ontdekking is skielik kortgeknip en slegs die oorblyfsels van hulle skepe is later gevind. Geen Ring. Geen oorlewendes. Geen rekord van wat gebeur het nie. Niemand weet wie dit geskep het nie. Die sogenaamde Ingenieurs? Selfde spesie (want dis verseker nie mense gewees nie) wat die Poorte geskep het? Dalk selfs iets met die bestaan van die N’kai te doen. En toe alles net so gelos. Gevlug of eenvoudig vertrek na ’n ander deel van die heelal. Baie spekulasie daarbuite.

 

31

“Woooooow,” sê Mace. Selfs Mayah het uit haar afsondering gekom en vorm deel van die klein skare wat Tyesha half kant toe druk teen die skakel-glas. Sy weet van beter as om te protesteer en verdra die ongemak heldhaftig.

Mace glimlag soos ’n kind en staar met verwondering na die Ring. “Dink jy hulle kan ons sien as ons deur die ring vlieg?”

“Hang seker af hoe naby ons aan die rand is,” sê Rowan sag, oë vasgenael op die skouspel.

Verwondering is onmoontlik om te onderdruk wanneer mens na hierdie superstruktuur staar. Niemand weet hoe die wêreld werk nie. Ons weet nie eens wat dit laat spin om sy as nie. Groot gedeeltes is reeds gekoloniseer. Gedeeltes is onbewoonbaar, hetsy as gevolg van die omgewing (berge en watermassas – laasgenoemde nie heeltemal diep genoeg om werklik oseane genoem te word nie), hetsy as gevolg van die inheemse fauna en flora (sommige plante hier is ook dodelik). Hoewel daar ruïnes gestrooi lê in die binnekant van die Ring, het gereguleerde kolonisasie reeds digte gemeenskappe sien opspring.

’n Netwerk van verdediging-platforms lê om die wiel gesaai. Hierdie natuurlik Alliansie geborg en beman. Lashmi se kodes kry ons deur die sekuriteit web en ons betree die atmosfeer van Niven II.

 

32

“Is jy seker hiervan?” fluister Rowan.

Ek knik. Ons lieg nie rêrig nie. By ons aankoms is ’n inligting-pakket ontvang wat moontlike terroriste aktiwiteite ontbloot. Verseker ’n lokval. Hulle volg ons moontlik al van Mercile af. Tegnies, egter, is dit moontlik wel ’n situasie wat die veiligheid van Niven II raak. Hulle neem dit nie té ernstig op nie. Ons volg die taktiese span aan ons toegeken deur die Alliansie. Ses in sluier-drag. Die kleding verander heeltyd om met die omgewing saam te smelt. Beter as normale kamoefleerdrag. Beste Alliansie tegnologie. Die slinger-skip het ons amper ’n kilometer terug afgegooi en ons werk deur ’n woud in die rigting van ons bestemming. Die huisie staan aan die rand van die woud, ’n spieëlgladde meer aan die regterkant. Die ses nader die huis van twee kante, wapens reg. As ek regtig gedink het dit gaan ’n probleem wees, sou ek Dago gevra het om te gaan skoonmaak. Hy sit in sy normale sesbenige, katagtige vorm langs my. Rowan en Mace staan en hou die omgewing dop, gretig vir ’n bietjie aksie. Skote klap. Ek verstel my greep op die aanvalsgeweer en hou die huis dop. ’n Skerpskutter geweer sou nogal handig wees nou. Die geweervuur hou vir ’n paar sekondes aan en stilte daal neer.

“Sal ons ingaan?” vra Rowan.

“Nee,” sê ek. Ek kry kyke van almal behalwe Dago wat steeds rustig sit. Ek streel oor sy kop. “Dit gaan nie ’n verskil maak nie.”

“Wat bedoel jy?” Rowan se stem verskerp na ’n meer aggressiewe toon.

“Wag net,” sê ek paaiend. Paaiend, maar nie neerbuigend nie. Ek is nie dom nie.

“Wat weet jy, Logan?”

Ek skud net my kop.

“Iets het met jou gebeur. Vandat die TP met jou gepraat het,” hou sy vol.

“Die TP?” sê Mace. Hy tree weg. “Ek hoor hulle kan in jou kop inkom en jou oorneem. Is jy nog Logan?”

“Ek is nog Logan,” sê ek met ’n glimlag.

Vier van die ses stap uit op die stoep, vingers gevleg agter hulle koppe. Agt huursoldate neem posisie in vanuit die huis, wapens op die vier gerig.

“Niemand is dood nie,” roep iemand van die huis af. “Ons is ook nie begerig om verder bloed te verspil nie.”

Dago grom onderlangs.

Ek plaas ’n hand op sy rug. “Kom ons hoor wat hy te sê het.”

“Wat? Is jy mal?” Rowan rig haar wapen op Ian wat nonchalant uitgestap het.

Die skoot wat hom moontlik sou dood tref die grond so paar treë voor die stoep.

“Logan? Wat de hel?”

Ek draai die wapen uit haar hande – nie ’n maklike prestasie nie. Haar oë spuug haat in my rigting.

“Is jy deel hiervan?” Haar metaal vuis suis rakelings by my kop verby. “Ek sal jou doodmaak Logan!”

“Rowan!” Mayah staan skielik tussen ons.

Die twee vroue staar mekaar aan.

“Ek wil met Logan praat,” roep Ian van die huis af. “Ek belowe geen verdere bloedvergieting van my kant af nie.”

“Jy is baie spesifiek,” roep ek terug, my oë op Rowan en Mayah. “Ek sal geen geweld verkies van jou mense af ook nie. Nie teen my of enigeen in my geselskap nie.”

Hy lag. “Ek sweer. Solank niemand iets dom doen nie.”

“Dago. Hou hulle veilig. En uit die moeilikheid.”

Dago knor.

“Vertrou my, ou vriend. Mayah, as jy nie omgee nie?”

Sy knik en val in langs my. Dis afdraande na die huis. “Jy seker, Logan?”

“Ek is.”

 

33

Die twee gewonde soldate word tussen hulle makkers op die skouer gedra na waar Rowan-hulle wag.

“Ek dink sy haat my,” sê Ian, starende in Rowan en Dago se rigting teen die heuwel.

“Ons almal haat jou,” sê ek.

“Ek dink sy haat jou ook. Wel, miskien nie haat nie, maar sy hou nie baie van jou op hierdie oomblik nie.” Hy het die interaksie tussen my en Rowan geniet.

“Dis meer ’n vraag oor wie jou gaan doodmaak. Sy dink ek gaan die eer uit haar hande neem.”

Hy grinnik. “Staan in die ry, Logan Santiago.”

“Wat wil jy hê?”

“Niks nie. Gaan in. Iemand wil met jou praat.”

Mayah plaas ’n hand op my arm. Ek glimlag styf in haar rigting en knik net. Sy los my arm en ek loop die skemerte van die huis in.

 

34

Daeshaun sit in die middel van die vertrek, ken op sy bors. Sy stoel is die enigste meublement. Dit lyk nie of hy onlangs van klere gewissel het nie. Of gewas het nie. Daar is ’n swaar reuk van sweet in die lug. En iets anders.

“Hallo, Logan Santiago.”

“Steeds in die moeilikheid,” sê ek. “Ek is verbaas jy leef nog.”

“O, nee. Daeshaun is lankal nie meer met ons nie.”

Ek staar hom aan vir ’n oomblik. Hy lig sy kop en ek moet hard baklei om nie ’n tree terug te neem nie. Eers dink ek sy oë is uitgehaal, maar besef dan dit is net swart. Heeltemal swart. Hy sien my egter, so hy is nie blind nie. “Wie is jy?” Om te vra ‘wat’ hy is, voel net té dramaties.

Hy lag, ’n diep stadige lag. “Dit gaan te lank vat om te verduidelik.”

Ek hoor ’n skip ons posisie nader en kyk om na die deur.

“Moenie. Ons moet gesels,” sê hy. “Dit is Ian en sy mense se vervoer.”

“Oor wat moet ons gesels?”

“Jou toekoms.”

“Jy weet. Ek is redelik gelukkig waar ek my nou bevind.”

“Jy is dood saam met die res van hulle. Ons het ’n uitweg vir jou.”

“Dit klink…interessant. Maar suspisieus soos iemand wat ’n uitnodiging na ’n kultus aanbied.”

Hy gee weer daardie stadige lag. “Hulle weet nie wat jy regtig is nie.” ’n Stelling.

“Dit maak nie saak nie.”

“Dit maak saak vir ons.”

Ek tuit my lippe, skielik bly Mayah staan buite. “Wie is ‘ons’?”

“Soos ek gesê het, dit is gekompliseerd. Dit maak nie nou heeltemal saak nie.”

“Ek voel al hoe meer ek het iets anders om te gaan doen,” sê ek en draai doelgerig om.

“Jy sal nie weer ’n geleentheid kry nie, Logan Santiago. Alles het ’n begin. Hierdie kan jou begin wees.”

As hy geskreeu het, of selfs sy stem verhef het, sou ek uitgestap het. Die stil wyse van die stelling laat my egter in my spore vassteek. “Wat wil jy hê?”

“Ons het vaartuie nodig.” Hy wys na sy liggaam. “Sterker as hierdie.”

Ek probeer om nie skepties voor te kom nie. “Lyk nie of hy enige voordeel hieruit kry nie.”

“Nee. Maar jy sal. En ander soos jy. Ons is nie onregverdig nie. Ons is bereid om te deel.”

“Deel?”

“Jy sal steeds beheer hê. Tot ’n groot mate.” Hy lig sy hande in ’n toegewende gebaar. “Dis nie so erg soos dit klink nie. Dink so daaraan – om inligting en mag te hê op aanvraag. Vir jou gebruik. Ons is soos toerusting wat deel uitmaak van jou. Die voordele is onbeskryflik.” Hy leun vooroor. “Meer mag as selfs ’n Alpha N’kai.”

Hoekom noem hy spesifiek die N’kai? “So kry vir jou ’n paar troetel N’kai.”

Hy grinnik. Dit lyk of sy mond verder rek as wat dit gemaklik kan wees. “Van nature sien hulle nie ons bestaan as fundamenteel of samelopend met die lewe hier nie.”

Lewe hier? Wat beteken dit? “Julle wil Niven II hê?”

Hy lag weer. “Julle wêrelde is klein. Verbygaande. Ons bied onsterflikheid. Die mag van gode. Onmiddellike verplasing. Enige plek in die heelal. Julle huidige kennis is…” hy draai sy kop asof hy iets soek, “…’n sandkorrel op ’n strand. Ons bied…ALLES.”

Ek hoor die hoofletters. Ek glo hom. Ten minste dit wat hy sê. Maar hy vertel my nie alles nie.  En dit jaag vrees aan in my. Koue beklemmings. Wie is hulle? Dan: “Dit was julle skepe? By die asteroïede?”

Sy mond trek eenkant toe. Ek besef hy probeer glimlag. Die mond werk nie heeltemal saam nie. “Hoe gaan enigeen teen ons staan?”

“Hoekom moet enigeen teen julle staan?”

Hy knik. “Jy begin sien.”

“Nee. Ek bedoel hoekom wil julle teen iemand staan? Wat wil julle hê?”

“Dit is nie ons natuur nie.”

Die gesprek gaan te vinnig. Te min tyd. Te veel inligting. Ek moet dink. “Maar jy maak ’n aanbod?”

“Ons het natuurlike vyande. Ons moet onsself eers vestig.”

Vestig? As ek reg verstaan is die N’kai hulle vyande? Maar die N’kai het goeie en slegte ‘mense’. My kop pyn. Meer mag as ’n N’kai Alpha. Die idee is … fassinerend. Wat ek kan doen met soveel… “Ek het moontlik nog ’n rukkie nodig om hieroor te dink.”

“Jy het een minuut.”

Ek hoor die skip vertrek teen hoë spoed. Ian en sy mense. Hoekom los hulle vir Daeshaun (of wat Daeshaun was) hier? Tensy…onmiddellike verplasing…“Mayah!”

Sy verskyn in die deuropening.

“Hardloop! Beskerm die ander!” Haar arms vou om my. Ek word van my voete gelig. “Die ander…” probeer ek weer uitkry.

Die ontploffing ruk ons van ons (eerder Mayah) se voete af. Vir ’n lang oomblik beteken bo en onder niks. Ons is blare in ’n sikloon. Alles wit om ons. Klank verdwyn.  Bloed en stukkies vleis om my. Selfsugtig hoop ek dis nie myne nie. Haar raamwerk sluit beskermend om my. Panele rits uit en omvou my soos ’n kokon. Ons tref iets hard en rol. Ek voel geen pyn nie, maar dit beteken nie veel nie. My ore is nat (bloed?). My oë voel…leeg.

’n Steek van paniek.

En ek dink…hy het gelieg oor die minuut…

 

35

Wit lig.

Nat geluide en ek voel hoe voorwerpe uit my onttrek. Die omgewing verskerp met elke oogknip. Gehoor keer terug vanuit ’n lang tonnel. Die mediese robot trek terug in die behuising bo die bed; lang, silwer spinnekop pote met rooi aan die punte. Dink eerder nie te veel daaraan nie. Ligte steekpyn in my arm. Ek is vinnig genoeg om die naald te sien verdwyn in een van die bande wat my arms in plek hou. Vlieswolke kolk oor my visie en ek val weer weg in donkerte.

 

36

“Hallo Lashmi,” sê ek met ’n stem wat redelik normaal uitkom.

Sy glimlag in my rigting, maak die holo-skerm voor haar toe. “Vat jou lank genoeg.” Sy staan op uit die gemakstoel.

“Mediese dienste is nie meer wat dit was nie.”

Die glimlag bly, maar my poging tot humor faal. Haar hand rus op my bors. Daar is niks seksueel in die gebaar nie. Haar oë gly van my een oog na die ander.

“Waar is ons?”

Haar kop draai ’n fraksie na die kant. “Scipion stelsel.”

“Ken dit nie.”

“Basies ’n planetêre begraafplaas. Niemand kom hierheen nie.”

Okay. “En ons is hier…?”

Sy gaan sit weer. Die mediese boeg lyk nuut. Beste tegnologie as die glas-en holo-skerms aanduidend is. “Dit sal ’n goeie basis maak.”

Ek sit regop. My gesig het ’n branderige gevoel na die chirurgiese behandeling, maar niks ernstig nie. My liggaam dra ook ’n stywe na-chirurgiese gevoel. “Ek luister,” sê ek, nie lus vir woordspeletjies nie.

“Die bom het ’n krater in Niven II gepons. ’n Grote. Grond en plantegroei weg. Skoongemaak tot op die fondasie van die Ring. Die materiaal is gelukkig amper onvernietigbaar, anders sou die atmosfeer sekerlik uitgekolk het in die ruimte in.”

My hart val deur my maag. “Dago? Rowan en Mace?” Ek sluk. “Mayah?”

Sy hou ’n hand op. “Almal het oorleef. Selfs die Alliansie soldate.”

My kop sak. Verligting laat my oë brand.

“Mayah gaan lank vat om te herstel, maar sy is letterlik uit sterk materiaal gemaak.”

Ek probeer sien of sy ’n grap probeer maak. Nie seker nie.

“Die ander?”

“Dago het hulle beskerm.”

Natuurlik.

“’n Vorm aangeneem wat hulle omvou het. Gepantser teen die skokgolf en daaropvolgende vuur storm.”

Dis die manier wat sy dit sê. “Dago is okay?”

“Hy sal wees. Soos Mayah, gaan hy ernstige mediese behandeling moet verduur.”

Ek verwerk die inligting.

“Dit is alles jou skuld,” sê sy sag.

“Ekskuus?” Ek kyk haar in die oë.

“Ardi. Farr. Jou vriende.”

“Farr het ons verraai.”

“Het hy? Hoe seker is jy?”

“Ek is seker.” Maar is ek? Ek onthou die oë op my. Van my vriende. Na Ardi se dood. Na Farr se…eksekusie. Êrens agter in my kop weet ek Lashmi manipuleer my. Maar die waarheid maak seer. Meer so vir die skuldgevoel wat ek koester.

Sy los dit daar. Die saad is geplant. “Ek het jou ingeneem toe jy niemand gehad het nie.”

“Ek het jou nooit teleurgestel nie.” Hierdie gesprek gaan nie goed eindig nie. Daardie dooie gevoel weer binne my. Asof iets belangrik weggeneem word.

“Nee, jy het nie.”

“Maar?”

Sy kyk nie weg nie. Alles reeds uitgewerk. “Jy het vyande gemaak.”

“Ons maak heeltyd vyande…”

“Jy het aandag getrek van mense. Mense wat toegang het tot iets baie gevaarliker as wat ons dink.”

“Van wanneer af is jy bang?” Dit kom snediger uit as wat ek wou. Maar ek voel ook lus om ’n hou of twee toe te dien.

“Wat laat jou dink ek is bang?”

My verdere tirade droog op op my lippe. “Jy weet van die…swart-oë?” Dit klink dom, maar sy knik.

“Dit is nie die eerste insident nie.”

Die gesprek het ’n ander wending geneem as wat ek gedink het. “En nou?”

“Dit is tyd vir jou om te gaan.”

Ek kyk weg en weer terug. Wil nie hê sy moet die emosies sien nie. “Waarheen?”

Sy glimlag. “Die L7…” haar oë dop om, “…kan nie hierdie situasie aanpak nie.” Sy hou ’n hand op. “Julle is goed, maar hierdie is op ’n ander vlak.”

Ek oorweeg haar woorde. “Maar ek kan?”

“Met die regte hulp.” Sy staan op. “Hierdie is ’n begin vir jou, Logan.” Sy aanvaar ek sal instem. Soos ek sê, reeds alles uitgewerk.

Ek onthou iets. “Voor jy gaan…”

Sy vou haar arms.

“Kev Remus…”

***

Dago se mediese tenk is massief. Die verslae gly oor die skakel-glaswand. Dit lyk of hy ongedeerd hier gaan uitklim.

Binnekort.

***

Mayah ontmoet my in ’n kleinerige restaurant met ’n uitsig oor die oseaan. Sy lyk soos ’n jong toeris in haar sonrokkie.

“Veilig?” vra ek terwyl ek iets bestel op die glaspaneel wat voor my opspring. Ek het reeds die omgewing uitgekyk.

“Sovêr ek kan vasstel, maar…”

Ek knik. Ons is nie Tyesha nie. “Kan ek Lashmi vertrou?”

Sy staar lank na die branders. “As ons mekaar begin bevraagteken…”

“Soos hoe julle ons opgespoor het by daardie asteroïed myn.”

Sy glimlag. “Lashmi het kontakte. Sy was ingelig oor die moontlikheid van ’n ontvoering.”

“En julle was in die omgewing?”

“Ons het julle gevolg van die begin af. Lashmi waag niks.”

Altyd twee treë voor ons. “Jy bevraagteken my nie?”

Sy draai haar kop na my. Ek is weereens in verwondering met haar talent. En herstel na die Niven II insident. Sy is slegs ’n mooi jong vrou met lang bene, lang bruin hare, iemand wat kyke steel van die mans en vroue wat verbyloop.

“Ek het jou gesprek gehoor met…Daeshaun.”

“Alles?”

Sy knik.

So dis hoe Lashmi ook weet. Nuuskierig: “En steeds het jy my gered.”

Sy knik weer. “Juis daarom. Wat ook al aan die gang is, is groot. Lyk of jy iets daarmee te doen het.” Haar kop draai skeef. “Jy is ’n vreemde mens, Logan. Met jou geheime. Maar jy gee om vir ander. Dit is iets raar.”

Ek is nie seker hoe om te reageer daarop nie. Ek vermy ’n antwoord deur aan die kos te begin peusel wat intussen uit die tafel opgestoot het. “Ek gaan verdwyn vir eers.”

Sy knik. “Lashmi het iets in daardie lyn gesê. Maar nie hoekom nie.”

“Beter so.”

Sy glimlag. “Jy weet waar om my te kry.”

***

’n Moeras is erg genoeg, maar om ’n basis op te stel op ’n moeras-wêreld? Elke asemteug is ’n potensiële siekte. Die fauna en flora is in ’n aaneenlopende stryd om mekaar (en alles anders) op te eet. Selfs die lig is ’n siek groen.

Twee slinger-skepe draai lui in die vêrte om die rookkolom wat Ian Rosh se eertydse basis was. Ek sit op ’n krat teen die voorraad skip en betrag die verwoesting krities oor die direkte uitsending wat voor my hang. Hierdie was nie my geveg nie.

Mace stap ons tydelike kamp binne en glimlag wit deur swart modder. Ek kry ’n klop op die skouer wat my amper van die krat af lig.

Rowan kom tot stilstand aan die rand van die keratiek panele wat die kamp afbaken (vir ’n vinnige vind-en-verwoes sending soos hierdie, is nie eens tyd gemors om ’n flikker-veld op te stel nie) en laat die terugkerende huursoldate by haar verbybeweeg. Hulle gee haar baie ruimte. Ek is nie verbaas nie. Haar arms is vol modder. En bloed. Ons staar mekaar aan.

Sy knik.

So. Van die bloed is Ian Rosh s’n.

Ek knik terug.

 

***

“Scipion Basis, Lima Siërra Alpha, aanlyn.”

“Dankie, Ty,” sê ek.

“Enige tyd. Moenie ’n vreemdeling word nie.”

 

Epiloog

Vyf jaar. Miskien meer. Tyd bestee in koue slaap tussen wêrelde. Pogings om sin te maak van my obsessie met die skamele inligting wat ek destyds van Daeshaun gekry het. Verdere inligting wat Lashmi laat deursyfer. Laat mens soms sin van tyd verloor. Hou my besig met kleinerige huursoldaat werk. Hou my kop reg. Ek het intussen my eie groep begin bymekaar maak. Ons doen nie te sleg nie. Niks hoë profiel nie. Ek gebruik die bronne tot my beskikking om my obsessie na te streef. Beide obsessies.

Op die buitewyke van die Gereguleerde Terreine volg ek ’n vae gerug – iets wat my moontlik op ’n ander vlak kan plaas. Ek vind wat ek soek op die planeet Torrakis.

Die lug is droog, warm en helder. Grotendeels woestynvlaktes.

Die slawe hokke is binne loopafstand van die kleinerige ruimtehawe. Geen tot min behoorlike sekuriteit, planetêr of lokaal. Slegs lokale drek. Ons is vêr van die Alliansie en haar patrollies.

Die hokke is basies metaal tralies ingerig oor ingesakte selle, uitgegrawe uit rots. Die selle is groot, bevat maklik twintig mense elk. Mans en vroue is nie geskei nie, tensy van die vroue in besonder vir seks-handel uitgekeer word.

Ons volg ons gids op die paadjie tussen die selle. Die mense in die selle is maar mistroostig. Opgetel van kolonies wat nie sterk genoeg is om die slawehandelaars af te weer nie. Soms selfs van skepe wat geroof word. Slawehandel is groot hier.

Ek gaan iets doen daaromtrent. Binnekort.

Ons bereik die sel waaroor ek navraag gedoen het. Aan een kant is al die slawe saamgebondel. Hulle sit letterlik op mekaar. Aan die ander kant sit een man langs ’n jong meisie. Hy eet rustig uit ’n bord en gee stukkies aan haar. Sy kan nie ouer as agtien wees nie. Nie uitsonderlik mooi nie, maar lenig en gespierd soos ’n vegter. Miskien sal ’n was of twee haar beter laat lyk. Sy is die enigste vrou in die sel. Bietjie onregverdig teenoor haar, na my mening.

“Daar is hy,” sê die slawehandelaar. “Moeilikheidmaker.”

“Vir wie?” vra ek met ’n grinnik.

“Almal.” Die slawehandelaar het nie ’n sin vir humor nie. “Hy het reeds vyf doodgemaak.”

“Hoekom?”

“Hoekom wat?”

Ek haal diep asem. “Hoekom het hy die ander gedood?”

Hy haal sy skouers op. Gee nie regtig om nie. Dit sny net diep in sy winste.

“Hoeveel?”

Hy noem ’n bedrag.

Ek noem ’n ander bedrag, die helfte minder.

Hy redekawel. Ek gee in op ’n bedrag wat die meisie insluit. Steeds minder as sy oorspronklike aanbod. Iets vertel my die man daaronder gaan haar nie hier los nie.

Hy kyk op na ons. Sy gesig uitdrukkingloos.

Nathan Ransom.

N’kai.

Hy kan enige tyd uitbreek. Moontlik die hele opset hier platvee sonder om selfs veel van ’n sweet uit te slaan. En tog sit hy in die sel. Voer die meisie. Beskerm haar.

Dit gaan interessant wees om te hoor hoe hy hier beland het.

My lank genoeg gevat.

 

-ꭥ-