Chantal Pretorius – 2021 Wenner

Die ruimtekolonie- Die gewese aardelinge

 

Deur Chantal Pretorius

____________________________

Moeder Aarde

Hanna Bloemhof tuur deur die ronde ruit. Vir haar lyk die aarde klein van ver af. Dis asof sy die planeet aanskou in ʼn ruimte ensiklopedie. Die ovaal bruin, groen en blou planeet is in die lugruim omring van blink klippe. Die grys-wit maan donker die een helfte van die lande slaperig en die son skyn die ander deel wakker. Daai asemrowende konfigurasie is nie meer haar tuiste nie.

Hanna draai haar kop skuins en haar oë beland op haar enigste kleinseun, Joshua Viljoen.Sy is trots om ʼn ouma te wees. Haar gedagtes hol weg na die pandemie toe.

Dit het al die vorige infeksiesiektes saamgesmelt en hengse wanorde op aarde begin. Haar ouma grootjie, Sofia le Grange, was gebore in die tydperk toe die swart dood een persent van die hele aardbewoners se lewens geëis het. ʼn Honderd jaar is verstreke en nou is dit hulle beurt.

Joshua storm op haar af. Hy hou ʼn silwer blink mannetjie in sy vuis vas. Die speelding lyk na ʼn ingenieurskonsep wat haar kop laat draai. Die ding het rooi oë, lang arms en bene en ʼn vierkantige blikkop. Sy mis die ou dae toe kunstenaars dierbeelde uit houtblokke kap, skilders tulpe verf op doeke, sangers optree by teaters, interessante boeke lees, goeie flieks kyk en dit als laat haar steeds glimlag. Daar is ander dinge ook wat sy graag weer sal wil doen.

Deur wilde parke rond ry opsoek na wilde diere en foto’s neem. Pieknieks hou onder massiewe koeltebome, in publieke swembaddens baljaar, saam met vriende en familie rugby kyk en gil wanneer een rugbyspeler saam met die bal op die wenstreep plons, breiwerk, poedings bak, ouers hul kinders rondomtalie in parkies, visvang en biltong eet. Onverwagse trane brand in haar oë. In die blink van ʼn oog is alle plesier van die mensdom weggeruk.

Hanna vee vinnig die traan weg wat oor haar wang rol. Haar geplooide hand streel sag oor die seepglad vel en sy sê: “Ai, my kind, waarmee speel jy? Dit lyk na ʼn robot of iets soortgelyks. Wens ek kon jou ʼn vierwiel kar wys, selfs ʼn dinosourus figuur…” Toe Anna iets kerm oor haar sêgoed.

“Aag ma,” kom dit langdradig uit, weer normaal, “moet net nie weer praat van daai geskiedenis nie. Die zombieste seëvier en ons leef in koepels omring van duisternis en kamstige diamante.”

Hanna sug vies oor daai aanmerking. “Ek is siek en sat vir al hierdie blou ligte binne. Ek voel al blou en lyk seker ook blou. Ek hou van kleur en is moeg om elke dag in silwer vas te kyk. Die blink vloere, mure en dakke gee my hewige kopsere. Ek mis… ek mis… als!” Hanna kan dit nie meer keer nie. Sy bars uit van die trane, dat Joshua haar met groot oë aanstaar. Die pragtige kind weet nie wat sy ouma makeer nie. Toe Anna nader kom en Hanna simpatiek omhels. Anna verstaan nie eintlik haar hartsbegeertes nie. Sy was 3 jaar oud toe die virus elke deel van die aarde oorneem. Sy weet nie eers meer hoe roomys lyk of proe nie. Wat weet Anna regtig van verlange en swaarkry af? Al wat sy ken is ruimtetuie, vegetaries wees en meganiese goed leer bou.

“Ek ken nie die lewe wat Ma geken het nie. Miskien sou ek als beter verstaan het as ek 46 was toe die aarde mal was. Ma praat al ewig van sjokolade in Ma se slaap?”

“Dit was die lekkerste soet ding vir my gewees. Ek het altyd twee klein blokkies in my mond gesit, agteroor gelê en inry flieks gekyk terwyl ek aan my peuselhappie smul. Ek sal my siel… nee… ek sal my regterhand gee vir ʼn blok daarvan!”

“Wat het Ma se siel met peuselhappies uit te waai?” wil Anna snaaks weet.

Hanna lig haar hand flou op. “Vergeet waaroor ons tans kwel. Dis nie meer van belang nie.” Sy wou verder iets sê toe die interkom die bewoners na die eetarea toe roep. “Ag tog, al weer een van daai mengelslaaie met hope wortels in. Dit maak my naar.” Hanna wens ʼn koei wil te voorskyn kom en vir haar suiwer, organiese melk gee. Te jammer in die ruimte word wense nie waar nie. Net die tyd vlieg vinnig verby.

“Ma… hou op negatief klink. Kou die wortels en verbeel ma dis sjokolade.”

As dit maar net moontlik was, dink Hanna ingedagte.

Hanna kom los in Anna se stywe greep. Sy staan swaar op van die staalstoel en druk haar hand op die ruit, presies waar die aardbol is. Dis nie Jupiter, Mars of Venus dié nie, daai kleurvolle bondel vreugde was haar geboorteplaneet.

Haar refleksie in die blink ruit is duidelik sigbaar. Die wit hare wys tussenin die swart, haar lagplooie is nou bitterbekmerke en haar blou oë lyk grys. Haar tingerige lyf word skraler by die maand. Sy lyk afgemat en stokoud. Mens sou nie sê sy lyk 66 nie, haar liggaam trek swaar met al die kopbagasie. Eintlik is sy figuurlik 75.

Sugtend en kopskuddend dink Hanna aan alles wat die mensdom vrywillig moes prysgee. Die een aanval wat die begin van alles was – die virus wat ʼn halwe biljoen lewens eis. Dis wat gebeur het die laaste 20 jaar in die wêreld. Dit was ʼn leeftyd van chaos. Iets wat Hanna nooit sal vergeet nie. Die tien aanvalle wat die oorblywende handvol mense hier laat beland het.

Die virus-22 is die oorsaak van die pyn en lyding in die mensdom se lewens.

Aanval een: Die virus

In die jaar 2020 breek daar ʼn ernstige virus uit. Die wetenskaplike, Johannes Blerk, ontwerp ʼn entstof wat die geaffekteerdes weer normaal kan laat funksioneer. Elke persoon in Suid Afrika word ingeënt. Ongelukkig affekteer elke mens anders as gevolg van die vloeistof en val enigiemand aan wat asemhaal. Selfs diere was nie veilig nie. Daar was net een oplossing vir die probleem.

Die President Markus Steyn woon vergaderings by en spreek die land toe om binnenshuis te bly en te sorg om voorrade op te gaar vir veiligheidsredes. Kos, water, medisyne, dierekos en ander belangrike items is noodsaaklik. Selfs petrol of diesel word genoem vir ingeval induksiemotors gebruik word. Enige voertuie kan dit ook gebruik om na ander dele van die land te rit.

Gesinne kry wel die geleentheid om na rusoorde te vlug. Intussen die reis verloor hulle diere, selfs familielede wat aangeval word deur siekes. Die gebitte moes agterbly om die gesondes te gun om by hulle bestemmings uit te kom. ʼn Handvol mense daag by riviere, damme en wildparke op. Daar woon hulle en leef op die wild en gebruik die water. Goeie dinge hou nie lank nie. Saam gebringde kos, wilde diere raak min en water raak besmet. Mense raak mal, veroorsaak mekaar se ondergang en ander vlug terug stede toe. Meer mense sterf.

Hanna se herinneringe is helder soos daglig.

Sy en Anna ry vinnig verby supermarkte. Een na die ander winkel word geplunder. Skote klink die lug op en mense skreeu en hardloop uit winkels met mandjies, trollies of hande vol kos. Hanna sug hardop moedeloos. Daar is nie tyd vir speletjies nie. Sy ken die stad se takke goed. Toe bestuur sy nes ʼn renjaer die pad af, na die naaste kafee toe.

Hanna klim verbouereerd uit die Toyota. Sy haal ʼn kombers uit die boot en vou Anna stewig voor by haar bors vas daarmee. Dis al manier hoe sy haar kind kan beskerm. Kort-kort loer sy na die spul mense wat met gesteelde goedere uitstorm en weghardloop ander rigtings in. Elke mens is nou die vyand. Niemand stel belang in jou kwellings nie. Elke ou is nou vir homself. Oorlewing is al wat tans tel!

Mense met sere op hul lywe storm op ander af. Snaakse gruwel geluide kom by hul monde uit. Hanna kyk na die kafee. Dis nou of nooit nie! Sy hardloop die plek binne, hou twee mandjies aan weerskante vas, vat die nodigste en gooi dit in die agterste sitplek.

Sy skakel die stil enjin aan, kry die wiele op die pad en trap die rem, toe sy twee siekstes omry en voel hoe hulle koppe onder die wiele kraak. Die kar lig effens op en sak weer, en dis toe Hanna met spoed wegry. Daar is nie sprake van geduld nie, net spoed. Jou eie lewe is wat saak maak in die drama.

Dieselfde middag daag Hanna by die plaas op. Op die erf is opstalle, vrugtebome wat in rye groei. Rooi, geel en -groenappels staar haar in die gesig. Haar vingers draai stywer senuagtig om die stuurwiel. Wat gaan sy besluit om te maak?

Sy klim vinnig uit die kar. Stoot die ou geroeste staalhekke haastig oop. Klim weer vinnig in die motor, trap die rem en ry in. Sy doen dieselfde roetine en stop die motor onder die sinkdak. Die voertuig is op ʼn veilige plek.

Anna begin te snik, Hanna waarneemhaar ligpienk wange en trane wat haarself ook emosioneel raak. Sy streel sag aan die kind se rooikrulkop hare en sus haar totdat die kind kalmer is. Ingedagte haal sy ʼn lekker uit en sit dit versigtig in haar mond. Die kind is weer soet.

Dit sink by Hanna in dat Anna dalk honger is. Haar maag gee leeuwelpie gromme. Dit was ʼn lang dag sover. Sy en Anna verdien rus na heeldag se rondry, winkel kruideniersware steel en siekes omry.

Sonder om te twyfel en enige vrees, ruk Hanna die voorhoutdeur oop en stap binne-in die plek. Sy asem die reuke van tuisgebakte brood en lensiesop in. Die deur klap vanself toe as gevolg van ʼn rukwind. Haar senuwees is aan flarde toe syself skrik vir die verdomde deur. Haar maag grom ook nou. Hulle albei is lekker honger.

“Hallo! Enigiemand tuis? Hallo.” Ongelukkig eggo geen onbekende stemme terug nie. “Lyk my dis net ek jy in die plaashuis, Anna.” Sy sug verlig oor die stilte in die plek. Daar buite is dit die wilde weste. Sy wil nie gou weer vir enige rede buite toe gaan nie.

Hanna en Anna eet klaar. Sy doen die nodige, ruim die kombuis op en sit Anna langs haar neer op die dubbelbed. Al twee raak gou aan die slaap. Sy ruk wakker toe ʼn haelgeweer kliek en haar diep in die oë staar.

Die ou man huig na asem asof hy in ʼn wedloopkompetisie was. Hy is skraal gebou met ʼn lelike litteken onder sy oog. Dit lyk of iemand hom met ʼn mes bygekom het. Hoekom haar bangmaak met ʼn geweer?

“Askies, meneer ek en my kind kort net rus na ʼn lang reis. Sal meneer omgee as ons bly tot môre?” Vra Hanna versigtig en sit sag haar arm oor Anna se lyfie. Sy draai haar kop skuins en loer vir die slapende dogtertjie.

“Wie maak die reëls? Ek of jy?” Hy klink ernstig, kwaai en dreigend met sy sêgoed.

“Dit is meneer se huis. Ek is uitgerus. Dis Anna wat haar slaap eis, meneer.”

Hy kyk na die krulkop, dan volg sy grys oë na haar toe. Sy blik bly vasgenael op haar. Wat is die man se probleem? Al wat hulle soek is net rus, vrede en stilte. Is dit so baie gevra?

“Ek sien my kos is halfpad klaar geëet ook. Jul kan bly tot more, maar wanneer die haan kraai wil ek nie jou kar op my staanplek meer hê nie. Verstaan ons mekaar?” Die man is ʼn regte buffel. Sy verstaan al te goed hulle is nie welkom hier nie. Sy sou nou al wou padgee, maar Anna se slaap is belangriker as haar woede-idee.

Hanna knik om te bevestig.

“Dis reg so meneer.” Sy lig niks in oor die kos nie. Dit sal dalk konfrontasie vermy om stil te bly. Alhoewel hulle wel dankbaar is oor die maaltyd.

Weke steek verby en die virus ruk hande uit en die spuitmiddel werk glad nie meer nie. Daar is nie meer sprake van probleem-oplossings nie. Daar is net een uitweg!

Suid Afrika konkel met ander buitelande om ruimtuie te ontwerp. Die land is bankrot om self tuie te bou om in die ruimte te vaar. Sjina,Europa en Amerika stem in om finansiering te skep om SA te help. Na twee jaar is die ruimtetuie klaar gebou. Eers word ʼn aap in die ruimte gestuur om te kyk stelselmatig hoe die aap reageer. Alles verloop sover goed en die eerste gekieste gesinne word in massiewe ruimtetuie die onbekende ingestuur. Die volgende op die wêreld-lys is om maniere te vind hoe om in die ruimtuie te oorleef.

Gereeld word daar ander reddingstuie gestuur vol van kospakkies. Die klomp ruimtetuie verloor naderhand sein met die aarde en die mense sit met hul hande in die hare om maniere te vind hoe om te lewe. Nukkerig vind die ruimtebewoners maniere om tonnels te bou. Binne die tonnels word speserye, groente en vrugte geplant. Elke bewoner doen sy deel om voedseltekorte te voorkom.

Jaar in en jaar uit gaan alles goed.

Die ruimtetuie bollemakiesie saam met gravitasie in die ruimte. Dis onmoontlik vir asteroïdes, selfs meteoriese klippe om die tuie te tref. Dis stewig vas aan konfigurasies. In die buitensteruimte lyk die ruimtuie na miershope wat ʼn tegnologiese deurbraak gemaak het. Dis heel interessant hoe ingenieurs die oorlewing van die mens in die onbekende laat uitbeeld het op papier, toe op rekenaars en nou sweef daar honderd en vyftig infrastrukture in die uitspansel rond.

Die aardbewoners se lot is permanent. Die mens sal nooit weer normaal kan funksioneer op die planeet nie. Alles wat eens mooi was is vernietig. Dit sal ʼn eeu neem om moontlik alles daarop te kan red. Kan die besmette planeet ooit weer herstel?

Die ruimtebewoners se lot gaan ook nou begin.

Vlaag twee: Die mens raak mal

Die ruimtetuie binne is omring van angstige, vol vrees en depressiewe mense. Gedurigdeur kry iemand ʼn woedeuitbarsting, hardloop die gillende gange af asof hulle besete is deur fobies. Neofobie is seker die regte antwoord daarvoor.

Daar is nie ʼn kuur vir gekheid nie. Geen sielkundige kan iemand oorreed om positief na die situasie te kyk nie. Om elke dag in donkerte vas te kyk raak naderhand afgesaag. Ons mensdom was gewoond aan die natuur, geboue, voertuie op die pad, verslawings en televisie. Al kan ons aanpas, wil ons eerder vasklou aan dinge wat ons ken, as die onbekende.

Wat sê die Afrikaners: nuuskierigheid is die duiwel se oorkussing. Ons is lief vir wetenskapfiksie flieks kyk, maar in realiteit, eintlik ʼn nagmerrie. Ruimtevaders is daar vir ʼn rede.

Hoe oorreed mens 500 mense om kalm te bly? Herinner hulle aan die nagevolge van aardelinge wees. Een of ander tyd sou daai mense gebyt word, binne twintig sekondes transformeer in ʼn lewende invalide. Selfs nie eens ʼn kopskoot kan een dood kry nie. Onsterflikheid is wat die kreature word.

Honderde militêre vegvlieëniers en lugmag verloor die geveg. Duisende soldate verloor hul lewens. Die land kan nie die siekes onderbeheer kry nie. Die gebitte veroorsaak anargie, nes die gewone mense. Plunder, uitvoer onwettige dade en vure stook. Almal in die geboorteland is nou kriminele, behalwe kinders en gestremdes.

Haar gedagtegang ruk wakker deur ʼn man wat sy skinkbord hard skuinsoorkant haar op die ronde tafel sit.

Terwyl Hanna aan haar middagslaai peusel, sluk sy swaar die wortels af en verskoon haarself kamer toe. Sy trek ʼn houtkissie onder haar bed uit. Tel op die deksel en haal ou foto’s uit en sluk die knop in haar keel weg. Sy verlang na die goeie ou dae, sy mag dit sê, want sy is ʼn ruimtebewoner. Een na die ander foto kyk sy aandagtig na.

Elke gebeurtenis speel af in verskillende jare. Selfs die agtergronde lyk anders. Anna se grootword en skool jare. Hulle gesin vakansies, werk funksies en familie braaiers. In daai dae was meeste mense vol opwinding, vreugde en spontaanheid. Dinge was so anders. Kleurryk. Nou is die lewe vir ons laaste menskolonie gekies en daar is geen uitkomkans nie.

Hanna sug hardop terwyl sy na die gesin foto staar. Die een waarop haar vervreemde man, Charlie Schoeman, op is. Voordat hul huwelik versuur was deur sy oulike en jong sekretaresse. Al waaraan sy vasklou is goeie herinneringe. Die slegte herinneringe wil sy in Pandora se boks gooi en in die ruimte vrylaat.

Haar gedagtes dwaal weer weg na die virus tydperk toe. Sy en Anna moes drie weke in kwarantyn deurbring – protokol om te verhoed dat siekes die kamp binnedring en gesondes nie geaffekteer word nie. Dit was als ʼn nagmerrie gewees.

Anna was gedurig aan die huil en was klaerig oor hongerpyne. Die lugmag wat die honderde mense letterlik as gevangenes aanhou binne sokkervelde watse bane omring is van tralies laat mens nes ʼn krimineel voel.Was op die verdediging naby kos trokke om dit te beveilig. Daar was eenvoudig nie genoeg kos vir almal nie.

Bejaardes in die minderheid kon elke dag twee kere eet. Kleuters in die middae en jeugdiges in die oggend. Ons middeljarige mense in die aande. Niemand wil op ʼn leë maag bed toe gaan nie.

Die begin van ʼn nuwe week, ruk dinge hande uit in kwarantyn. Massiewe militêre trokke vol kos daag op. Mense staan nes eentjies in ʼn ry en wag hul beurt af. Toe een jongman die weermagman se pistool uit sy gordel ruk en skote die lug in skiet, terwyl mense wat gil in alle rigtings spat om weg te kom van die mal man af. Hy bestorm die trok en tel twee bokse op, in plaas van een.

Vervlaks, hy steel iemand anders se boks kos. Wie gee hom die reg om iemand anders te laat hongerly oor sy gierigheid? Sies vir hom. Hy klou aan die kos en geweer vas asof dit sy lewe is. Ons almal veg vir oorlewing in SA. Ons is nou op die punt om ammunisie ook bymekaar te maak om mekaar in die kamp aan te val. Ons baklei oor kartondose met kos in, waterbottels en woonplek.

Binne die tronk, is net genoeg tente opgeslaan om ʼn paar honderd te huisves. Die res vind slaapplek waar hulle kan. Om veilig te voel is die belangrikste.

Die jongman word gewond in die linkerskouer. Hy sak op die grond neer, hou sy arm vas en kners op sy tande in pyn. Twee soldate kom aangehardloop en sleep die jongman weg na die mediese tent toe. Dae daarna is hy in ʼn ander hok gesit om gestraf te word vir sy gierige daad. Hy kan bly wees hy is nie vir die siekes gegooi om aan geknibbel te word nie.

Die soldate hou ʼn oog oor ons.

Terwyl die radio-omroeper ernstig praat oor moontlike ruimtetuie. Hanna kan nie glo wat haar ore hoor nie. Ruimtetuie? Is die wetenskaplikes van hul looitjie getik? Is dit al opsie oor vir ons mensdom? Om in die ruimte te woon nes diere in metaalhokke. Wat is volgende?

Hanna skrik toe ʼn hand op haar linkerskouer rus. Die onaangename herinneringe verdwyn weg soos wasem op ʼn spieël. Haar kop draai skuins, sy kyk in bekommerde blou oë vas.

“Anna… wat kruip jy soos ʼn leeu op my af?”

Anna sug sag. Jammer ma, ek wou kom inloer. Is ma nog okei?”

Hanna trek haar mond op ʼn plooi. Sy gee ʼn halwe glimlag oor haar dogter se goedgesindheid en omgee oor haar toestand as ʼn bejaarde. Haar oë dwaal rond, in wonder waar Joshua is, die krulkoppie met die vriendelike engel kindergesig.

Hanna kyk fronsend na Anna en vra: “Waar is my oulike kleinkind?”

“Hy is by die rooikop vrou. Die een wat ma niks van hou nie.”

Sy grinnik. “Sy is my ruimtevyand. Miskien is dit beter as ek my eie onderwys klas begin,” sê sy olik en klink ernstig oor haar opmerking.

“Ma se plan sal nooit gebeur nie.”

“Ek ken die aardse geskiedenis baie goed.”

“Nou klink ma nes ʼn ensiklopedieë,” terg Anna glimlaggend. “Wie is nou die outomaat? Ma of daai rooikop?”

“Ek sê maar net,” dwing sy haarself om te antwoord.

“Joshua geniet die juffrou en die klas.”

Hanna bly eerder stil, dis ook ʼn antwoord. Om te dink Joshua word lesse gegee deur een van die outomate, gee haar ʼn hol kol op die maag. Vir daai blikkoppe het sy geen geduld nie.

Vlaag drie: Swaartekrag en robotte

Baie wetenskaplikes was in groot gevegte oor die woord gravitasie. Elke professor en mens wat asemhaal sal vandag nog stry daaroor. Bestaan gravitasie regtig, of is dit een van die hoëslim koppe se breinspoeling met die mens?

Hoekom val ʼn appel na die oppervlak toe? Hoekom vlieg skoenlappers die lug alle rigting in? ʼn Boot seil op die water. ʼn Blaar kan op die water val en op die oppervlakte dryf, terwyl ʼn klip kan sink na die ondervlak toe. Dis sulke vreemde vrae wat enige persoon beantwoord wil hê.

Ons woon in ʼn wonderlike wêreld. Ons het op ʼn ongelooflike en kosbare planeet gewoon. Nou in die ruimte leef die laaste ruim kolonie smartvol saam. Dieselfde vervelige roetine, niks opwinding wat gebeur nie.

Die nuwe gebore kinders word die ruimte bank genoem. Hulle leer drie kere per week oor die ruimte. Gravitasie is een deel daarvan. Die mens is ʼn nuuskierige ding. Hoe meer inligting hulle nes sponse kan opsuig, hoe meer wil hul weet van die onbekende wat elkeen vrees.

Hanna aanskou die onderwysrobotte wat die kinders leer van die planete, meteoriete, newelkringe, buiteaardse wesens en die ruimte. Die onnatuurlike soortgelyke robotte wat na mens lyk met hul krulhare, gladde vel en pienk lippe wat Paul Kruger in sy graf ongemaklik sal laat omdraai. Wat ʼn konkoksie?

Hanna aanskou robotte as ingenieurs wesens wat bestaan uit data. Bo die goed se gemiddelde intellektuele en geeslose bestaan wat nou deel is van die mens se lewe. Al wat anders is van die mens-robot is die onnatuurlike gloeiende rooi oë.

Die vrou met die pragtige lang rooi hare wat Hanna herinner aan ʼn filmster kyk haar met ʼn strak gesig aan. Geen emosies en geen lewensles plooie op haar blik nie. Die robot-vrou werk op haar senuwees. Nes in die regte bestaan, staan sy nes ʼn seer oog uit.

Die robot-vrou verduidelik aan die middeljarige kinders die konsep van gravitasie en hoe dit ontstaan het in die ruimte. Een keer het Hanna luidrugtig vir haar gevra wat beteken gravitasie. Hier is haar blikkop antwoord:

“Swaartekrag wat ons dit noem. Is ʼn krag wat verskillende liggame op mekaar uitoefen. Veral by liggame met groot massas is van belang. Dit kan ook ʼn groot afstand uitoefen soos byvoorbeeld die aarde en maan en selfs tussen sterrestelsels. Dis my kort beskrywing oor swaartekrag. Nog iets mevrou Pieterse?”

Hitte stoot by Hanna se nek op. Sy rol haar oë nes ʼn ongeduldige tiener in die rondte. “Dis professor Hanna Pieterse jou rooikop metaal ding…” Sy hou die sin onvoltooid.

“Mevrou Pieterse, jy glo in die vlees, skelette, brein funksie, spierkrag en beenweefsel liggaam. Jy wil niks te doen hê met ons klas B spesie nie.” So reg uit die blik se metaal bek! Dit kan sy maar weer sê!

“Jy is ʼn ‘dit’, in my oë. Niks meer nie. Jy is gemaak om lesse uit te deel nes woordeboeke. Wat is jou naam?” wil Hanna geïntrigeerd weet.

“Ek is apparaat KL503. Masjien nommer 503. Dis my outomaton naam.”

Hanna gee ʼn skril lag. Dit klink vir haar eerder na ʼn wagwoord, as ʼn verdomde naam.

“Vertel my al jou funksies KL503?” gaan sy voort.

“Ek die ruimtetuig outomaat is verantwoordelik vir aardelinge se handhawing.Sonder my vermoëns sal die homo sapiens nie oorleef nie. Ons spesie beheer vyftig persent van die ruimtuie se toestelle, instandhouding, kwekerye en rekenaars.”

Dit voel of iemand op Hanna se graf tans loop. Die wete dat robotte haar vyand geword het. Wie in hul wetenskaplike linkerbrein sal masjiene aanstel om die laaste ruim kolonie te beheer?

“O, ek sien.” Kom dit vies uit. Sy weet nie wat om regtig terug te antwoord nie.

“Jy hou nie van die idee van outomatiese mense nie. Ons is intellektueel ingestel om die lewe gerieflik te maak vir die mens. Hoekom is jy teen als op die ruimteskip gekant?”

Outomaties ja, maar glad nie mens nie, wou Hanna sê, maar bedink dit eerder.

“Wat weet jy van die ossewa tyd af? Boereoorlog verhale? Hoe vroue en kinders in kampe vergaan het. Al wat jy ken is tegnologiese terminologie. Wie weet wat nog als in jou elektriese battery kop ingeprent is.”

Om te dink haar kleinseun woon tans klas lesse by deur die mensgemaakte meganiese masjiene. Die robotte kan enige natuurlike konsep weerstaan. Immortaliteit is in hul elektriese gene.

Sy verlang na die reuk van ʼn nuwe gedrukte boek. Om ʼn pen vas te hou en al jou drome in ʼn dagboek te skryf. Selfs inkleurboeke waar elke kleur van die reënboog se potlode realiteit was. Al wat nou bestaan is tegnologiese laserpenne wat in rooi skyn op harde, wit borde en woorde daarop inbrand. Dis nie vir haar menslik nie.

Sy verlang na die aarde.

Die ruimtetuig is een groot bol laboratorium!

Die ruimtestasies as woonplek

Professor Hanna Jacobs was gekies om in die ruimtestasie te woon saam met Anna. In die klaskamer was haar gunstelinge tye. Sy het gesels oor alles wat gepaard gaan met die ruimte. Haar naam was tegnologies gekies om gered te word. Hier en daar was ʼn gewone mens ook gekies, maar niemand met kriminele rekords nie. Onregverdigheid in sulke situasies was ook deel van realiteit gewees.

Die ruimtestasies sweef 400 Km bokant die aarde in sy wentelbaan. Elkeen word ʼn Internasionale Ruimtestasie genoem (IRS) wat gekoppel is aan tegnologie. Wat was die grootste doel van die IRSSE? Om dit multilineêre spesies te maak.

Eers was navorsing op die aarde gedoen en nou op die ruimtestasies. Dis soos ʼn enorme laboratorium en waar duisende eksperimente al sedert 2019 uitgevoer is. Onder meer oor hoe die menslike liggaam in die ruimte sou aanpas en hoe plante, selfs diere daar sal groei. Ongelukkig was diere navorsing onsuksesvol gewees.

Elektriese motorvervaardigers het omtrent liggewigte voertuie ontwerp vir ingeval ʼn ander planeet beter opsies raak en die ruimte onveilig vir een of ander rede. Roetine sendings was lank gelede ook gereeld van gebruik gemaak om lewe op ander planete te gaan soek. Nog nie een ruimteskip het terug gekeer met goeie nuus nie. Ons was ingelig dat ons totaal sein verloor het met die mense in daai ruimtestasies. Wat kon van hulle geword het?

Die robotte gesels wel gereeld oor die rooi planeet. Die ruimtekolonie moet weer eens gered word van een of ander nuwe vyand wat glo op pad is. Om die laaste mensdom te help om Mars te koloniseer voor oorbevolking die ruimtestasies onbewoonbaar maak. Alle veiligheidstandaarde word alreeds gevolg om daar uit te kom. Wat kan die volgende vyand wees in die onbekende?

Later dieselfde tyd word alle mense en robotte na die vergaderingsportaal geneem. Hanna wonder wat gaan aan. Het die tyd aangebreuk vir nuwe oorlewings idees?

In die saal is hewige geselsies tussen mense oor wat volg. Die robot-mens daag op met ʼn witbord in hul hande. Die robot-man lig die bord op en in rooilaser staan ‘Mars is ons nuwe woonplek’. Is ons op pad soontoe?

“Welkom ruimkolonie. Ons bevolking word te veel. Ons nuwe plan is om die ruimte vir ewig te verlaat en na ons nuwe tuiste te gaan.”

Die idee van ʼn nuwe woonplek laat Hanna gril. “Watse nuwe tuiste babbel jy oor robot?” kom dit stuurs uit.

“Die Rooi Planeet, Hanna. “Daar is nie meer ʼn ander uitweg nie.”

“Hoe lank gaan dit ons duur om daar uit te kom?” Hanna hou aan met die vrae asof sy ʼn ruimtespeurder is.

“Oor twee jaar, glo ek. Enigiets is moontlik dat dit korter of langer kan duur, maar ons wil uit die ruimte, na Mars toe.”

Sy woorde klink belowend, maar vir Hanna is als ʼn ruimtenagmerrie as gevolg van die feit dat sy nooit weer die aarde sal kan bewonder nie. Sy kan nie glo hulle gaan eindelik Mars toe nie. Dis soos om te immigreer na ʼn ander rooi land waar als net klippe, rooi-bruin sand, grotte en berge is. Dis ʼn aardplaneet, weet sy.

Die robot-man vertel hulle wat Mars is. “Dis ʼn kleiner planeet as die aarde. Op die oppervlakte is impakkraters sowel as vulkane, valleie, woestyne en poolkappe nes op die aarde, en die seisoenale siklusse is soortgelyk aan dié van die Aarde.”

“Gmf,” brom Hanna,” klink nie juis belowend nie. Stuur my terug Aarde toe seblief. Ek sal saam met die siekes daar kan klaarkom en oorleef.”

“Begin die rit en Mars te aanvaar, Hanna. Ons dae is getel in die ruimte. Ons gaan nie meer langer oorleef nie.”

Hanna antwoord niks terug nie. Sy kyk uit die groot ovaal ruit na die Aarde vir die laaste keer en sluk die knop in haar keel af. “Tot siens my Moeder Aarde, tot ons eendag weer ontmoet.”

Die Rooi Planeet

Hanna tuur uit die ruit na die Rooi Planeet. Sy hou tog wel van wat sy aanskou. Daar is sowel lig as donker dele daarop. Later is wel bewys deur wetenskaplikes dat die reguiter groewe of lyne bestaan nie werklik nie, maar is bloot ʼn duidelike optiese illusie. Mars is mooi op die oog.

“Is daar genoeg water vir ons op Mars?” Wil Hanna weet by die robot-man.

“Natuurlik, ja. Die Utopia-Planitia-streek is daarop. Daar is ʼn groot hoeveelheid onderwaterys wat al die mense sal help oorleef. Kwekerye in glaskoepels is in grotte geskep om hul immuunstelsel te ondersteun. Nog iets Hanna?” Klink dit vir haar of die robot probeer sarkasties wees.

Haar wenkbrou lig skepties op. “Ek glo jou,” stem sy vir die eerste keer saam met ʼn meganiese mens.

Die robot-man draai om, gaan staan en gesels met die rooikopvrou wat iets vir hom wys op haar pannekoek-plat slimfoon. Klink of die gesprek ernstig is. Waaroor kan hulle nogal gesels?

“Ek glo nie wat ek hoor nie?” sê Anna met ʼn mooi glimlag.

Hanna draai om en gee ʼn flou glimlag vir haar. “Oor wat nogal?”

“Ma wil Mars toe gaan. Uiteindelik sien Ma die lig en aanvaar ons nuwe woonplek. Die planeet wat ek gaan ontmoet.” Anna klink positief oor die Rooi Planeet.

“Ek konsidereer die opsie om Mars ʼn kans te gee.”

“Gun dit vir ma ook!”

Hanna knik om te bevestig. “Ja, ja, ek hoor jou, kind.”

Anna gee haar beste glimlag en antwoord: “ Ek gaan kamer toe om te begin pak. Die ingeboude rekenaar stelsel in die slaapkamer het verkondig dat ons land binne paar ure op die oppervlak!” Ann klink opgewonde om die planeet te verken.

Hanna herken die twee mane van Mars: Fobos en Deimos, albei is klein met onreëlmatige vorms. Die mane is moontlike asteroïdes wat in ʼn wentelbaan aangetrek is, net soos Eureka. Sy kry haar gedagtes in orde en besluit om in ʼn ander rigting te loop.

Hanna kruip agter die silwer en wit muur weg en luister af waaroor die twee robotte van vroeër oor skelm praat.

“Die hobo sapiens eksperimenteer met bakterieë en virusse in die Rooi laboratorium. Geen mens mag daarvan uitvind nie, veral nie Hanna nie!”

Ha, sy hoor haar naam duidelik beskinder word. Die vervlakste goed wat haar nie uitlos nie. Wat steek hulle in hul blikbreins weg?

Die robot-man probeer te lag. “Ons sal sorg dat ons spesie haar keer voordat haar nuuskierigheid die oorhand kry.”

“Ons B-spesie oorheers nou Mars en sal oorneem as ons die geleentheid kry.”

“Moenie jou elektroniese hart daaroor mors nie. Dis waarom ons eksperimenteer met die nuwe korona-23. Binne die volgende twintig jaar is Mars ons sin.”

“So lank?”

“Wees geduldig KL 503. Ons robotte kan wag vir tyd.” Die twee robotte klink of hulle boos lag en stap weg klaskamers toe.

Hanna sluk die kriewelrige spoeg af haar keel. Sy was reg oor die robotte, hulle is die volgende vyande van die mens, nes al die robotflieks wat sy al voorheen gekyk het.

Al vertel sy die mens op Mars die robotte se boseplanne sal hulle haar uitlag. Anna sal haar ook nie glo nie. Oor twintig jaar is sy al dood, haar dogter en Joshua sal die nuwe ruimtekolonie word. Hulle sal die laaste mense wees wat in die ruimte gaan rond dobber en opsoek na nuwe planete om te huisves. Al wat gaan oorbly is staal, robotte en meganiese kreature op Mars.

Die einde van die mens is in die ruimte. Nie op Mars nie. Nie meer op die Aarde nie. Net in die onbekende wat ons vrees.

 

Die einde.