Skryfkompetisie 2022

WENNERS AANKONDIGING

Uiteindelik‼ Ons het al die inskrywings deur gewerk en kan nou aankondig wie die wenners is.  Dis ongelooflik hoe baie moeite daar ingaan deur die skrywers en hoe skeppend hulle is om nuwe idees en wêrelde te skep.

Gebaseer op die aard van die inskrywings in die geskrewe werk, kondig ons twee wenners aan – een vir wetenskapfiksie en die ander vir fantasie.

Die wenner in wetenskapfiksie is Chantal Pretorius met haar uiters skeppende werk Bewakers van die Ruimte.  Chantal het al verskeie kere deelgeneem en het dikwels gewen.  Hierdie jaar se werk is weereens besonder verbeeldingryk – ons beveel dit sterk aan as ‘n lekker-lees storie.

Ons wenner in fantasie is Adellé vor Rönge Kotzé se werk Tussen Wêrelde.  Dit het sterk godsdienstige ondertone, maar is nietemin ‘n verbeeldingryke verhaal.

EERSTE PRYS:  WETENSKAPFIKSIE  Chantal Pretorius – Bewakers van die Ruimte

EERSTE PRYS:  FANTASIE  Adellé von Rönge Kotzé – Tussen Wêrelde

Uit die ander inskrywings wat nie gewen het nie, het ons ‘n aantal van die bestes gekies om ook hier te deel…

Jaco van der Merwe – Die Ridder

Nita Osmond – Îngerilor, stad van engele

Mariana Holtzhausen – Ahav in die Onsienlike Slagveld

Ons het slegs een musikale inskrywing ontvang van Bianca Janse van Rensburg met haar liedjie Kayla.  Hoewel ons slegs die een inskrywing ontvang het, ken ons inderdaad ‘n eerste prys aan haar toe – die eerste musikale prys in Afrifiksie se geskiedenis…

Luister asseblief daarna – Bianca toon baie potensiaal en belofte, en ons hoop sy sal in die toekoms weer deelneem…

Ons wil ons opregte dank uitspreek teenoor al ons deelnemers, ons is trots op die talent en oorspronklikheid wat aan die dag gelê word.

 

KOMPETISIE AANKONDIGING

Die kompetisie vir 2022 gaan uit twee kategorieë bestaan, naamlik

  • ‘n Geskrewe werk
  • ‘n Musikale werk

Die geskrewe werk gaan ‘n middelslag lengte verhaal wees, en moet tussen 30 en 60 getikte folio’s wees (A4 op 1½ spasiëring met ‘n 11 grootte Arial lettertipe).  Dit kan in enige van die sub-genres van fantastika geskep word, dit wil sê wetenskapfiksie, fantasie, superhelde, ensovoorts.

Die verhaal mag ‘n parodie wees van ‘n bekende verhaal of handelsmerk.

Die musikale werk behoort tot die musiektipe wat as “filk” bekend staan.  Om te verstaan wat hierdie tipe musiek is, gaan kyk na ons bladsy wat handel oor musiek waar daar van hierdie musiek gepraat word en waar daar na voorbeelde hiervan geluister kan word (naby die einde van die musiekbladsy).

Die woorde van die liedjie moet, uit die aard van die saak, in Afrikaans wees.  Die talent van die kunstenaar wat dit uitvoer (of bloot sing) is onbelangrik in die beoordeling (ons verstaan dat dit natuurlik ‘n amateur sal wees) – daar word bloot gekyk na wat “vertel” word in die liedjie, hoe luisterbaar dit is, hoe goed die woorde “pas” in die liedjie en hoe goed die musiek gekies is waarop die liedjie gebaseer is.  Let wel dat dit nie nodig is om musiek vir die liedjie te komponeer nie – bloot om ‘n bestaande liedjie aan te pas by Afrikaanse woorde en dit inderdaad te sing (of laat sing).  Die inskrywing in die musiekafdeling is dus in die vorm van ‘n MP3-musieklêer wat ge-e-pos moet word.  (Neem kennis dat die meeste bekende musiek se agtergrond musiek, wat nie die woorde bevat nie, op die internet gevind kan word as ‘n sogenaamde “backtrack”).

Alle inskrywings moet ons teen die einde van Januarie 2023 bereik.  Dit moet aan ons ge-e-pos word aan afrifiksie@outlook.com.  Die inskrywing moet die naam en kontakbesonderhede bevat, dit moet aandui in watter sub-genre dit bedoel is as inskrywing en ook die ouderdom van die persoon wat dit geskep het.

Die uitslag van die kompetisie sal DV aangekondig word voor die einde van Junie 2023.

Algemene reëls en voorkeure

Die volgende riglyne sal toegepas word by die beoordeling van die inskrywings.

  1. Vloek word ontmoedig, maar lei nie tot diskwalifisering nie. Indien vloekwoorde of kras taal nodig geag word, moet dit egter in Afrikaans wees.  Die ydellike gebruik van God se naam (as ‘n stopwoord, kragwoord of vloekwoord – in sy verskeie verbuigings) word egter verbied en sal inderdaad tot diskwalifisering lei.
  2. Engelse woorde word ten strengste ontmoedig en lei gewoonlik tot ‘n afgradering in die finale beoordeling. Waar woorde in Afrikaans nie bestaan nie of nie algemeen bekend is nie, moedig ons deelnemers aan om nuutskeppings vir dié doel in te span.
  3. Vermy, indien moontlik, om in die eerste persoon te skryf.
  4. Plagiaat word ten strengste verbied – die werk moet oorspronklik deur die persoon wat die inskrywing doen, geskep wees. Werke wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, mag nie weer ingedien word nie.
  5. Die kopiereg van die verhaal sal na afloop van indiening gedeel word deur Afrifiksie en die persoon wat dit ingedien het. Dit wil sê dat Afrifiksie dit mag beskikbaar maak op enige webwerf waaraan dit verbonde is, of dit publiseer – deur egter erkenning te gee aan die persoon wat dit ingedien het.  Eweneens mag die persoon wat dit ingedien het dit steeds as ‘n eie werk gebruik en dit elders ook indien of publiseer – met erkenning dat die kopiereg wel ook deur Afrifiksie gedeel word.
  6. Daar is geen vereiste om die inhoud van die storie te belyn met die politieke of sosiale druk binne Suid-Afrika of die res van die wêreld nie – politiese korrektheid, al dan nie, is die uitsluitlike prerogatief van die skrywer.
  7. Dit is nie aanvaarbaar om ander etniese vertakkings (behalwe indien hulle bloot fiktief is) op ‘n neerhalende wyse in die storie te gebruik nie.
  8. Afrifiksie is belyn met Christen geloof en aanvaar nie inskrywings wat dit aanval, bespot of benadeel nie.
  9. Dit is aanvaarbaar om ‘n storielyn verder uit te brei wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, indien die persoon wat dit inskryf dieselfde persoon is, of indien die oorspronklike skrywer daartoe toestem.
  10. Die verhaal sal nie aanvaar word indien dit eintlik tot ‘n ander genre behoort en bloot teen die agtergrond van wetenskapfiksie, fantasie, ensovoorts afspeel nie. Byvoorbeeld, ‘n tipiese liefdesverhaal wat bloot in ‘n wetenskapfiksiewêreld uitspeel is nie aanvaarbaar nie.  Die storie moet inderdaad handel met die elemente van die gekose sub-genre van fantastika waarvoor dit ingeskryf word.