Kompetisie 2019

In 2019 het ons besluit om die kompetisie ‘n bietjie te vereenvoudig.  Ons gaan slegs twee afdelings hê – ‘n geskrewe afdeling en ‘n visuele afdeling.  Die geskrewe afdeling gaan ons hierdie jaar beperk tot kortverhale in enige van die kategorieë van fantastika, onder die hoofde van Wetenskapfiksie en Fantasie onderskeidelik – hierdie jaar word gedigte nie as inskrywings aanvaar nie.

Alle tekste sal op gelyke voet met mekaar meeding en ‘n enkele inskrywing sal as dit wenner aangewys word.

As ‘n algemene riglyn moet ‘n kortverhaal tussen 2,000 en 5,000 woorde bevat.  Die elemente van wetenskapfiksie of fantasie moet ‘n integrale deel van die storie uitmaak, en dit kan byvoorbeeld nie maar ‘n alledaagse storie wees wat bloot teen die agtergrond van die ruimte of ‘n sprokieswêreld afspeel nie.

Taalgebruik is belangrik.  Engels, spesifiek, is nie aanvaarbaar nie en sal streng gepenaliseer word tydens beoordeling.  Spelling en die korrekte gebruik van taalreëls is altyd belangrik.  Idiomatiese en kleurvolle taalgebruik sal ‘n inskrywing bevoordeel.  Hoewel politiese korrektheid geensins ‘n inskrywing bevoordeel nie, moet gewaak word om nie aanstoot te gee nie.  Vloekwoorde, soos dit algemeen verstaan word, is ontoelaatbaar.

Die doel van die kompetisie is om oorspronklike en skeppende skryfwerk in Afrikaans aan te moedig deur te spekuleer met dít wat as onmoontlik of onwaarskynlik beskou word.  Daarom word die ontwikkeling van nuutskeppings aangemoedig.

Soortgelyk sal alle visuele inskrywings teenoor mekaar beoordeel word en weereens sal ‘n enkele wenner aangewys word.

Die visuele inskrywings sluit tipies kuns in wat geskets of geskilder is, grimeerkuns, strokiesprente, beeldhou, ens.

Alle werke, visuele kuns of skryfkuns, moet elemente uit die fantastika gebruik wat integraal tot die werk is, en sluit in:

  • Wetenskapfiksie
  • Stoompunk
  • Utopie of distopie
  • Superhelde
  • Mitologie
  • Fantasie
  • Sprokie of fabel
  • Fiksie met godsdienstige inhoud (hier moet die spekulatiewe element in gedagte gehou word)
  • Paranormaal of bonatuurlik
  • Alternatiewe geskiedenis
  • Gruwels of spookstories

Die pryse is boekpryse van resente werke uit die versameling van WF+F, en sal later op besluit word.

Soos altyd, sal werke deur skoliere afsonderlik beoordeel word en sal nie teen die ander inskrywings wedywer nie.  Hierdie is dus ‘n uitsondering op die reël wat hierbo gestel is.

Die kompetisie sluit op 31 Oktober 2019 en die wenners sal aangekondig word teen 20 Desember 2019, of vroeër.

Maak asb. seker dat daar aan die Bepalings en Voorwaardes gehoor gegee word.

Baie voorspoed aan al die deelnemers wat in 2019 wil deelneem…