Spoe

Die voorkoms van kos in wetenskapfiksie is grootliks beperk tot daardie tipe stories waar baie wesens van verskillende wêrelde teenwoordig is of saam moet woon of werk.  In die televisiereeks Babylon 5 (1993) kry ons juis weer met só ‘n situasie te doen.

Dis ‘n reuse ruimtestasie wat deur die mensdom in die ruimte geplaas is omstreeks die jaar 2258, om ‘n diplomatieke sentrum te vorm waar alle nasies en spesies verteenwoordig kan wees of saam kan woon en handel dryf.  Daar is dus ambassadeurs (en natuurlik ambassadrises) van die meeste bekende wêrelde daar teenwoordig.  En waar daar lewe is, moet daar kos wees.

Dié reeks was so gewild en het so baie kos insetsels gehad dat daar glad ‘n kookboek uitgegee was oor resepte uit die verre toekoms.

Maar daar is natuurlik altyd sekere kossoorte wat nie deur almal waardeer word nie.  Dink gerus aan iets soos afval, of kaviaar – dit word definitief deur baie as ‘n eksklusiewe lekkerny beskou, terwyl dit ander amper kan dryf om katte te skiet.

En dít is min of meer wat Spoe is in Babylon 5.  Dis ‘n lekkerny wat uiters gesog is onder sekere wesens, maar word spottenderwys afgemaak deur die meeste van die bemanning van die ruimtestasie – want dis so vieslik en grillerig.  Dis ook nie eintlik moeilik om jouself voor te stel waarom hulle so heftig sou reageer nie – Spoe word gemaak van lelike vet wurms en kom oorspronklik van die tuiswêreld van die Centauri af.  Hoewel dit ‘n stapelvoedsel vir die Cantauri is, is dit duur om elders te koop en word dit as ‘n gesogte lekkerny beskou.

Die dis is gewoonlik in die vorm van blouerige blokkies waarin die wurms opgesny word.  Die bestanddele vir hierdie dis is die volgende:

10 middelmatige grootte aartappels

2 groterige beet

2 teelepels fyngemaakte vars knoffel

2 eiers

1 koppie meel

½ koppie botter

1 teelepel tiemie

1 eetlepel bloukaas

waspapier

Kook die beet en die aartappels saam asof dit vir kapokaartappels voorberei word.  Verwyder die skille en maak die aartappels fyn tot kapokaartappels.  Maak die beet ook fyn met ‘n voedselverwerker en meng die fyn beet met die kapokaartappels om ‘n egalige kleur te verkry.  Indien die kleur nie sterk genoeg buiteaards is nie, voeg ‘n paar druppels blou voedselkleursel by en meng goed.

Laat ‘n ander pot met water solank kook en voeg ‘n teelepel sout daarin.

Meng die fyn groente nou met die eier en die meel sodat dit ‘n egalige mengsel vorm.

Plaas die fyn mengsel op ‘n groterige vel waspapier wat met meel besprinkel is, en vorm dit tot ‘n reghoekige plak (soos ‘n groot blok sjokolade).  Sny die plak in blokkies met ‘n skerp mes wat telkens in meel gedruk word sodat dit nie te veel vaskleef nie.  Laat die blokkies solank afkoel.

Smelt die botter in ‘n pan, en voeg die knoffel by.  Wanneer dit gesmelt is, verdeel die vloeistof in twee gelyke dele.  In een deel in ‘n pan, voeg die tiemie by en laat dit vir ‘n paar minute trek.  In die ander deel van die vloeistof (in ‘n ander pan) voeg die bloukaas by wat daarin opgekrummel moet word.

Sit ‘n klompie blokkies op ‘n slag versigtig in die pot met kokende soutwater – hulle word vinnig gaar en kan uitgehaal word sodra hulle begin dryf.  Maak al die blokkies só gaar.

Verdeel die blokkies weer in twee dele en voeg die twee bottersouse onderskeidelik oor die een en die ander spul blokkies.

Dié met die bloukaas is “verouderde” Spoe – soos wat die Centauri dit eet.  Die ander stel blokkies met die tiemie sel vars Spoe voor – soos die Narn dit eet.

Jou gaste kan nou kies tussen ouer (soos die reuk sal aandui) wurmblokkies, of lekker vars Spoe

Londo:  “Kan ek vir jou Spoe aanbied?  Dis vars.

G’kar: “Ga! Vat dit weg voor my oë. Spoe moet verouder – dit vat tyd vir die geur om te ontwikkel. Om vars Spoe te eet is ‘n belediging vir die Centauri.

– Babylon 5