DUNE

Frank Herbert was ‘n Amerikaanse skrywer wat in 1986 reeds oorlede is.  Hy word beskou as die skeppers van een van die heel gewildste wetenskapfiksieboeke ooit, naamlik Dune wat in 1965 vir die eerste keer gepubliseer was.  Die boek is later uitgebrei om die eerste van ‘n reeks van ses boeke te word.

Die verhaal is ongelooflik gewild, en is al na dosyne tale toe oorvertaal – ongelukkig nie na Afrikaans nie.  Daar word geskat dat daar al meer as 20 miljoen eksemplare van die boek verkoop is, en vername persone het hoë lof vir die boek gehad, soos Arthur C Clarke, Robert A Heinlein en Carl SaganJRR Tolkien het dit ook gelees, maar interessant genoeg nie daarvan gehou nie.

Vandag is daar sowat 21 boeke in die Dune-reeks.  Frank se seun saam met ‘n ander skrywer het die reeks na sy pa se dood aangevul met episodes voor en na die reeks wat die oorspronklike skrywer geskryf het.  Só het die Dune-heelal reeds ‘n allemintige wêreld geword wat die verbeelding aangryp.

Die eerste fliek oor hierdie boek is vrygestel in 1984, maar dit het nie veel lof ontvang nie.

 ‘n Meer suksesvolle weergawe was ‘n minireeks wat op die SciFi-kanaal uitgereik is, en dit was heel geslaagd in terme van gewildheid, maar dit het nie regtig die essensie van die boek kon oordra nie.

Uiteindelik is die boek van voor af as ‘n hoofstroom fliek uitgereik in 2021 (as ‘n deel 1), en die eindresultaat is voorwaar ongelooflik.  Daar is enkele voorvalle waar die nuwe liberale wêreldagenda afgedwing is, maar dis nie op ‘n skaal wat mens dwars in die krop steek nie.

Die visuele agtergrond is ryk en die fliek kry dit reg om die alternatiewe wêreld van die boek te laat lewe kry.

Die verhaal speel af in die toekoms in ‘n tipe oligarge waar families wedywer om mag en beheer.  Die keiser is oorhoofs die opperbevelhebber van die ganse imperium.  Die Huis van Harkonnen is ‘n bose spul wat deur ‘n wrede en walglike baron regeer word.

Die kosbaarste kommoditeit in die imperium is ‘n fiktiewe stof wat as spys (“spice”) bekend staan.  Dit het eienskappe wat lewe verleng, gesondheid verbeter en verstandelike vermoë vermeerder.  Dis ook noodsaaklik om te navigeer in die ruimte en daarsonder is ruimtevaart nie moontlik nie.  Dit word slegs op een plek in die heelal gevind, naamlik planeet Arrakis wat algemeen as Dune bekend staan.

Wanneer die keiser vir Barron Harkonnen verwyder vanaf Arrakis en in sy plek vir Leito Atreides van die Huis van Atreides aanstel is die stukke op die skaakbord opgestel vir oorlog…

Die verhaal fokus sterk op die politieke aspekte van ‘n komplekse ryk – wat dit onderskei van die meeste ander wetenskapfiksie.  Werksaam agter die skerms is ‘n vroue-organisasie wat die wêreldpolitiek manipuleer, die sogenaamde Bene Gesserit.

Dune is ‘n ongelooflike verhaal met talle metafore uit ons eie werklikheid – dit word sterk aanbeveel.