Skeppingskompetisie 2023

Omdat Afrifiksie die 100-jarige bestaan van wetenskapfiksie in Afrikaans vier in 2023, gooi ons die net vir hierdie jaar se kompetisie wyer as gewoonlik.  Vir hierdie jaar is daar inskrywings in die volgende kategorieë moontlik:

Hoofkategorie:  Skryfkompetisie

  1. Kortverhaal
  2. Storie – (tema van die storie is “Eendag”)
  3. Volgerfiksie

Hoofkategorie:  Visuele kuns

  1. Skildery of skets
  2. Grimeerkuns

Hoofkategorie:  Mondelingse skeppings

  1. Liedjie (“filk”)

Die kortverhaal is soos só dikwels reeds beskryf, en moet voldoen aan al die eienskappe van ‘n kortverhaal – daar is talle hulpbronne op die internet wat leiding gee oor hierdie spesifieke genre, en lees ook gerus ons bladsy oor kortverhale wat in 2013 geskryf is.  Dit is tipies minder as 20 bladsye maar mag definitief nie meer as 25 wees nie (A4 op 1½ spasiëring met ‘n 11 grootte Arial lettertipe).  Enige sub-genre en enige tema is aanvaarbaar…

Die geskrewe werk (‘n storie met die tema “Eendag”) gaan ‘n middelslag lengte verhaal wees, en moet tussen 30 en 60 getikte folio’s wees (A4 op 1½ spasiëring met ‘n 11 grootte Arial lettertipe).  Dit kan in enige van die sub-genres van fantastika geskep word, byvoorbeeld wetenskapfiksie, fantasie, superhelde, ensovoorts.

Die volgerfiksie is tipies in die vorm van ‘n uitbreiding op ‘n bestaande werk of handelsmerk.  Dit wil sê ‘n hoofstuk wat bygevoeg word tot Harry Potter, Star Wars, Liewe Heksie, of wat ook al.  Die verhaal mag ‘n parodie wees van ‘n bekende verhaal of handelsmerk, en kan komies en spottend wees, of dit kan ‘n ernstige uitbreiding wees van die bestaande inhoud van daardie handelsmerk.

Visuele kuns is nie bloot ‘n prentjie nie.  Dis definitief nie iets wat met ‘n rekenaar of iets soos Photoshop geskep is nie.  Dit moet op die standaard wees van iets wat vir ‘n kunskompetisie ingeskryf kan word, en die keuring in dié kategorie is streng.  Skilderye kan uit waterverf, olieverf of akriel saamgestel word, en sketse uit ink, potlood of houtskool.  ‘n Hoë resolusie, goed beligte foto van die kunswerk moet per e-pos ingedien word – die foto moet behoorlig gefokus wees en geen weerkaatsing van die son of ander ligte mag in die foto waarneembaar wees nie.  Die skets of skildery kan oor enige aspek uit die fantastika handel – daar is geen voorskrif oor wat die verwagting is nie.  Gee die verbeelding vrye teuels…

Grimeerkuns se inskrywings is in die vorm van ten minste ses foto’s van ‘n werklike persoon op wie die grimering toegepas is, met een gesigfoto van die persoon van voor afgeneem voordat die grimering aangewend was.

Die musikale werk behoort tot die musiektipe wat as “filk” bekend staan.  Om te verstaan wat hierdie tipe musiek is, gaan kyk na ons bladsy wat handel oor musiek waar daar van hierdie musiek gepraat word en waar daar na voorbeelde hiervan geluister kan word (naby die einde van die musiekbladsy).

Die woorde van die liedjie moet, uit die aard van die saak, in Afrikaans wees.  Die talent van die kunstenaar wat dit uitvoer (of bloot sing) is onbelangrik in die beoordeling (ons verstaan dat dit natuurlik ‘n amateur sal wees) – daar word bloot gekyk na wat “vertel” word in die liedjie, hoe luisterbaar dit is, hoe goed die woorde “pas” in die liedjie en hoe goed die musiek gekies is waarop die liedjie gebaseer is, en hoe geslaagd dit is om uit te druk wat die bedoeling is.  Let wel dat dit nie nodig is om musiek vir die liedjie te komponeer nie – bloot om ‘n bestaande liedjie aan te pas by Afrikaanse woorde en dit inderdaad te sing (of laat sing).  Die inskrywing in die musiekafdeling is dus in die vorm van ‘n MP3-musieklêer wat ge-e-pos moet word.  (Neem kennis dat die meeste bekende musiek se agtergrond musiek, wat nie die woorde bevat nie, op die internet gevind kan word as ‘n sogenaamde “backtrack”).

In die verlede was daar dikwels ‘n eerste prys toegeken in ‘n kategorie waarin daar slegs enkele (of soms net een) inskrywings ontvang was.  Eerste pryse sal voortaan slegs toegeken word indien ‘n inskrywing slaag en waardig beskou word vir ‘n eerste prys.  Met ander woorde, soms sal daar nie ‘n eerste prys toegeken word nie alhoewel daar wel inskrywings in daardie kategorie ontvang was.  Die gehalte moet eenvoudig voldoende wees om ‘n eerste prys te regverdig.  Die besluit van Afrifiksie is finaal in die benoeming van wenners.

Indien daar inskrywings ontvang word van kinders, sal die nodige aanpassings gemaak word tydens die beoordeling – hulle sal egter nie deelneem teen volwasse deelnemers nie.

‘n Kontantprys van R1 000 sal toegeken word aan ‘n eerstepryswenner.

Alle inskrywings moet ons teen die einde van Januarie 2024 bereik.  Dit moet aan ons ge-e-pos word aan afrifiksie@outlook.com of afrifiksie.nova@gmail.com.  Die inskrywing moet die naam en kontakbesonderhede bevat, dit moet aandui in watter sub-genre dit bedoel is as inskrywing, die kompetisiekategorie en ook die ouderdom van die persoon wat dit geskep het.

Die uitslag van die kompetisie sal DV aangekondig word voor die einde van Junie 2024.

Algemene reëls en voorkeure

Die volgende riglyne sal toegepas word by die beoordeling van die inskrywings.

  1. Vloek word ontmoedig, maar lei nie tot diskwalifisering nie. Indien vloekwoorde of kras taal nodig geag word, moet dit egter in Afrikaans wees.  Die ydellike gebruik van God se naam (as ‘n stopwoord, kragwoord of vloekwoord – in sy verskeie verbuigings) word egter verbied en sal inderdaad tot diskwalifisering lei.
  2. Engelse woorde word ten strengste ontmoedig en lei gewoonlik tot ‘n afgradering in die finale beoordeling. Waar woorde in Afrikaans nie bestaan nie of nie algemeen bekend is nie, moedig ons deelnemers aan om nuutskeppings vir dié doel in te span.
  3. Vermy, indien moontlik, om in die eerste persoon te skryf.  Dit word aanbeveel dat ‘n storie geproeflees word voor dit ingedien word.
  4. Plagiaat word ten strengste verbied – die werk moet oorspronklik deur die persoon wat die inskrywing doen, geskep wees. Werke wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, mag nie weer ingedien word nie.
  5. Die kopiereg van die verhaal sal na afloop van indiening gedeel word deur Afrifiksie en die persoon wat dit ingedien het. Dit wil sê dat Afrifiksie dit mag beskikbaar maak op enige webwerf waaraan dit verbonde is, of dit publiseer – deur egter erkenning te gee aan die persoon wat dit geskep het.  Eweneens mag die persoon wat dit ingedien het dit steeds as ‘n eie werk gebruik en dit elders ook indien of publiseer – met erkenning dat die kopiereg wel ook deur Afrifiksie gedeel word.
  6. Daar is geen vereiste om die inhoud van die storie te belyn met die politieke of sosiale druk binne Suid-Afrika of die res van die wêreld nie – politiese korrektheid, al dan nie, is die uitsluitlike prerogatief van die skrywer en bevorder nie die uitkoms tydens beoordeling nie.
  7. Dit is nie aanvaarbaar om ander etniese vertakkings (behalwe indien hulle bloot fiktief is) op ‘n neerhalende wyse in die storie te gebruik nie.
  8. Afrifiksie is belyn met Christen geloof en aanvaar nie inskrywings wat dit aanval, bespot of benadeel nie.
  9. Dit is aanvaarbaar om ‘n storielyn verder uit te brei wat voorheen by Afrifiksie ingedien was, indien die persoon wat dit inskryf dieselfde persoon is, of indien die oorspronklike skrywer daartoe toestem.
  10. Die verhaal sal nie aanvaar word indien dit eintlik tot ‘n ander genre behoort en bloot teen die agtergrond van wetenskapfiksie, fantasie, ensovoorts afspeel nie. Byvoorbeeld, ‘n tipiese liefdesverhaal wat bloot in ‘n wetenskapfiksiewêreld uitspeel is nie aanvaarbaar nie.  Die storie moet inderdaad handel met die elemente van die gekose sub-genre van fantastika waarvoor dit ingeskryf word. Dit is aanvaarbaar om die sub-genres van fantastika te vermeng, byvoorbeeld om ‘n storie te skryf wat beide wetenskapfiksie en superhelde in dieselfde storie te kombineer.

Let wel dat reëls van tyd tot tyd bygewerk of gewysig word.

Afrifiksie wens elke deelnemer baie voorspoed toe.  Om te skep is ‘n voorreg en dit moet die skepper vreugde verskaf.  Só, geniet dit en wys ons hoe wyd jou verbeelding strek…