Helena J F Lochner

Helena Johanna Francina Lochner is een van die vroegste en indrukwekkendste skryfsters in Afrikaans.  En as haar naam onbekend voorkom, is dit bloot omdat haar werke hoofsaaklik gemik was op jong kinders.

Sy is in die distrik van Moorreesburg gebore op 15 September 1892.  Helena was die 10de kind (uit ‘n totaal van 14).  Reeds baie vroeg, as 10-jarige dogtertjie in haar ouerhuis, skryf sy klein opvoerings wat sy dan self afrig en laat opvoer op hul eetkamertafel van die pastoriewoning.

Sy raak verloof, maar haar verloofde sterf voor hul huwelik, waarna sy toe enkellopend bly vir die res van haar lewe sonder enige kinders.

As volwassene werk sy as onderwyseres, en hoewel sy dikwels stories geskryf het en self illustrasies gemaak het om by die stories te pas,  betwyfel sy of haar werk goed genoeg is.  Gelukkig meng een van haar vriende met haar lewe in, steel een van haar stories en stuur dit aan Die Huisgenoot in 1926 – wat dit onmiddelik publiseer.

Helena se skryfloopbaan begin toe in alle erns, en hoewel sy enkele werke vir volwassenes skryf, begin sy eerder op die kinders fokus.  Sy skryf ‘n totaal van 62 stories waarvan die meeste fantasieë is – dikwels sprokies en fabels.  In die volgende foto (uit ‘n tydskrif geneem) is Helena met talle van die voorblaaie van haar boekies teen die mure…

Die boekies het skaars geraak weens hul ouderdom, maar verskeie omnubusse met ganse stelle van haar werke en is geredelik beskikbaar.  Die oorspronklike boekies is gewoonlik in groot druk met enkele illustrasies, terwyl die buiteblad in kleur is met ‘n gepaste illustrasie daarop.  Al die illustrasies in die oorspronklike boekies het Helena self geskep.

‘n Samestelling van ‘n aantal van haar werke word hieronder vertoon.

Sy sterf op 15 Julie 1951 na ‘n baie produktiewe loopbaan en ‘n ryk nalatenskap vir ons.

Helena Lochner was een van die vroeë pioniere van kinderfantasie in Afrikaans, en selfs vandag nog gryp haar stories die verbeelding aan van kinders en selfs volwassenes wanneer hulle dit vir die eerste keer hoor.

Sy word vereer deurdat verskeie strate na haar vernoem word – in 2023 is daar ‘n Helena Lochner straat in Sasolbur, Vanderbijlpark en verskeie ander dorpe en stede in Suid-Afrika…

Afrifiksie bring hulde aan hierdie vrou wat nie bang was om in Afrikaans te droom nie en wat die verbeeldingsaad in die verstandjies van menige jongeling geplant het oor die jare.  Dit is geen wonder dat haar werke vandag nog gelees word nie.