Wenners 2018

Ons wil eerstens om verskoning vra vir die vertraging om die uitslae bekend te maak – daar is telkens elke jaar dinge wat ons nie voorsien het nie, en leer maar oor tyd hoe om dit glad te laat verloop. Hopelik sal dit volgende jaar beter gaan…

Baie, baie, baie dankie aan al die deelnemers – julle maak dit nie maklik vir die beoordelaars om tot ‘n besluit te kom nie.

Na baie kopkrap en oorweging, is daar tot die volgende slotsom gekom.

Die eerstepryswenners in die onderskeie kategorieë, is as volg:

Fantasie: Verhaal:

Kallie en die kat – Henrico Bezuidenhout

Fantasie: Gedig:

Patrollie – Evert Pretorius

Wetenskapfiksie: Verhaal:

As Hy weer kom – Vickey de Jager

“’n Komeet wat op die aarde afpyl word suksesvol deur NASA se HAMMER van koers af gedwing. Brokstukke val ongelukkig op kwesbare punte op die aarde en rig grootskaalse skade aan met rampspoedige gevolge. Oorlewende aardlinge is nou vasgevang in ’n yskoue, sonlose nag op ’n vyandige planeet. Dan, die wrede ontnugtering – die brokstukke het nie toevallig met soveel katastrofiese presisie neergestort nie – die aarde word aangeval vanuit die buitenste ruim!”

Hierdie verbeeldingryke verhaal skets ’n realistiese beeld van ’n eindtyd-scenario waar die Aarde – en die lewe soos ons dit ken – op die ergste manier denkbaar tot ’n einde kom. Die verhaal spreek op baie vlakke tot die onderbewussyn van die mens en lig van sy ergste vrese uit. In die treffende slotsin neurie een van die karakters “As Hy weer kom, As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” Die leser is vry om self die betekenis en relevansie daarvan te interpreteer. – Louise Viljoen

Wetenskapfiksie: Gedig:

O gedorie, hoor dié storie… – Tanita Da Silva

Hierdie gedig bevat beide fantasie- en wetenskapsfiksie-elemente. Dis in ’n verrassend eenvoudige, maar sjarmante trant geskryf. Dis ’n gedig wat hardop voorgelees of voorgedra behoort te word, en kan selfs vergesel word deur kleurvolle illustrasies. Oulik! – Louise Viljoen

Skolier:

Nuwe Wesens – Amenity Viljoen

“Kaptein Viljoen is verheug toe Falkor, die vlagskip onder sy bevel, vind waarna hulle op soek was en hulle huiswaarts kan keer. Geheuereise is nou moontlik danksy die ontdekking van die GGG (Groot Groen Galaktici) oftewel die planeet-web. Maatskappye soos Ruimreis loop egter die gevaar om bankrot te speel en sal enigiets doen om finansiëel te oorleef. ’n Aanval word geloods op die hoofstad, Bespin, en Viljoen, sterf. Sy ondersteuners vernoem die planeet-web na die Viljoen-web om hulde aan die ontslape stigter en onderhouer van die web te bring.”

Die jong skrywer se verbeelding het oortyd gewerk met interessante konsepte soos geheureise en die planeet-web wat interplanetêre reise moontlik maak. Ek voorspel ’n blink toekoms as wetenskapsfiksie-skrywer vir haar en hoop dat sy die regte leiding rondom haar skryfwerk sal ontvang. – Louise Viljoen

Grimeerkuns:

Tina, die singende meermin – Elizabeth Eksteen

Fotografie:

Vreemde Vlieënde Voorwerp – Chantal Pretorius

Kuns:

Hergebruikte dromeEpiphany

Daar is kategorieë waarin daar nie pryse toegeken is nie, omdat daar gemeen is dat die standaard van die inskrywings nie voldoende was nie, of omdat daar in sekere afdelings geen inskrywings ontvang was nie.

Baie geluk aan al die wenners!! Afrifiksie is trots om jul werk ten toon te stel of beskikbaar te maak. Ons sal die wenners in Januarie kontak vir verdere besonderhede en reëlings.