Ondergang van die Tweede Wêreld

deur

Eugene Marais

_____________________________

Die volgende verhaal is saamgestel uit verslete dokumentedie inhoud van ‘n leersak wat die naturel Buffel in ‘n kransskeur op Kroonkop gevind het. Die herstelling van sommige onleesbare gedeeltes het ek te danke aan die bereidwillige hulp van ons landgenoot dr. S. de Kockskeikundige aan die laboratorium van die firma Benger et Cie.Hamburg.
Die naam van die skrywer van hierdie dokumente is onbekend. Al wat ons weetis dat hy in die dokumente ‘Willem’ en ‘Wimpie’ genoem word.

 – Die samesteller

 

Ek kan in alle waarheid verklaar dat die groot wêreld-omwenteling op my persoonlik op so ‘n wyse afgekom het dat ek nooit in werklikheid besef het dat iets buitengewoons aan gebeure was nie. Wat my betref, was dit maar net die gewone loop van sake – die alledaagse geskiedenis wat ons kinders van die twintigste eeu lank reeds geleer het om gedurig te wagte te wees.

My omgewing destyds het waarskynlik tot hierdie indruk bygedra, en selfs noudat ek besluit het om my ondervindings neer te skrywe, kan ek nie besef dat ek aan iets baie wonderliks deelgeneem het nie. Ek kan nie verstaan dat hierdie stukkies papier waarskynlik die eerste historiese dokumente mag uitmaak wat die nuwe mensegeslag (as daar ooit weer een tot stand kom) in kennis sal stel met die vernietiging van die voorwêreldlike beskawing nie. Dit is moeilik om te besef dat hierdie dokumente die Boek Genesis van die nuwe skeppingsverhaal mag wees.

Luister dan, O Toekomstiges, terwyl die besluit om te skrywe nog sterk in my gemoed lewe!

Ná my ontslag uit die hospitaal het ek besluit om drie wintermaande in die klein Bosvelddorpie Nastergal deur te bring. Ek het ‘n kamer in die klein grasdakhuisie van die bakker, Van der Veen, gehuur. Liggaamlik was ek weer taamlik sterk, maar ek het vreeslik aan slaaploosheid en neerslagtigheid gely.

Ons dorpie was soos ‘n eilandjie in ‘n magtige oseaan, geheel van die beskaafde wêreld afgesny. Af en toe het ek ‘n pak koerante van die stasie ontvang, maar baie ongereeld. En by sulke geleenthede het die hele bevolking (ongeveer dertig mense!) gewoonlik in my kamer vergaar om gretig ‘die nuus te hoor’.

Ons het natuurlik die telegramme gelees toe duisende vulkane in alle wêrelddele tegelyk in werking geraak het. Baie min indruk het dit op ons gemaak. Ons het gehoor van eilande in die see versonke; dat die magtige Krakatoa ‘n nuwe vasteland in die Indiese Oseaan uit die vurige dieptes van die aarde opgehoop het. Ons het gelees van miljoene mense in Japan, Suid-Amerika, Hawaii, Kalifornië, Italië, Griekeland, Rusland, Indië, Birma en honderde meer lande wat in een moment vernietig is deur gloeiende lawa; verswelgings deur aardbewings en oorrompeling deur vloedgolwe. Ons het gelees van die een wêreldstad ná die ander wat binne minute verwoes is. Ons het gelees van hongersnood, waternood, revolusie en bloedige opstande ten gevolge van hierdie wêreldrampe. En hoog bo al die geraas van revolusies, oorloë, moord en doodslag onder die mensdom, (wat in werklikheid aan die getjirp van ‘n kanarie gelyk was) het die bulderende, donderende woede van die duisende reuse-gebergtes uitgestaan. As ‘n rokende gordel om die aarde het die vulkane onophoudelik vuurkolomme honderde myle hoog ten hemel uitgeblaas. Onder ‘n reën van vlammende klipblokke, lawa en as oor ‘n oppervlakte van duisende myle in die omtrek van elke berg, lê die aarde ‘n halfmyl diep begrawe. Van keerkring tot keerkring oor die wydte van die aarde antwoord die een brullende vulkaan die donderstem van die ander. Die grondveste van die wêreld was losgeruk. Onder al die geweld het die mensdom in ons verbeelding verskyn as klein klompies miere wat aan die gevaar van ‘n veldbrand blootgestel word.

Dit was alles reeds ‘n maand aan die gang, toe was alles nog doodstil in Nastergal. Oor ons ou dorpie rus die diepste vrede. Nog helder skyn ons winterson en nagteliks vonkel ons sterre uit die stille hemel. Van der Veen gaan nog voort met sy broodbak en aan die ander kant van die sogenaamde straat hoor ek nog gereeld Mouton, ons smid en wamaker, se voorhamerslae, en Apie Cohen vloek nog daagliks in die agterplaas van sy winkel in tweesnydende Jiddisj op sy werksvolk en gade.

Dit was ‘n maand nadat die eerste berigte ons bereik het dat ons vir die eerste maal die vuurgloed saans aan die westelike hemel sien. Dít was die enigste sigbare teken in Nastergal van die ontploffings wat dreig om die wêreld in duie te laat stort.

My geheue is baie swak maar ek dink dit was in die begin van Junie, ‘n volle maand nadat die eerste vulkane in Suid-Amerika losgebars het, dat ek een oggend vroeg deur my slaapkamervenster kyk. Ek het net opgestaan en was besig om my aan te klee. Oorkant in die deur van die smidswinkel staan Mouton met opgerolde hempsmoue, besig met sy eerste koppie koffie. Hy was ‘n reus van ‘n vent en dit herinner my daaraan hoe ek sy magtige spierbou en sy vrolike, vreedsame gelaat met ‘n gevoel van bewondering beskou het. Geen vulkaan in Suid-Amerika kon sy gerustheid stoor nie! Agter in die skemerduister van die winkel was sy handlanger, Van Wyk, besig om die houtskoolvuur op die es aan die brand te kry terwyl ‘n klein klonkie, soos ‘n rolvarkie ineengekrimp van koue binne sy omhangende kombers, die groot blaasbalk met tamme trekke in beweging bring. Dit was ‘n helder, koue winteroggend. Ons hele dorpie was in dun blou newelwalms gehul. Mouton se gesig was omwolk van wasem wat uit sy warm koppie omhoog styg. Toe hy my by die venster sien, begroet hy my met ‘n handwuif en ‘n vrolike laggie.

‘Hoor jy hoe gaan Apie al weer te kere?’ roep hy my toe.

Ek kon die skelle Jiddisje vloekwoorde van die vet Joodse winkeliertjie hoor, maar hy self was buite gesig om die buitemuur van my slaapkamer.

‘Wat makeer nou weer?’ vra ek met baie weinig belangstelling.

‘Kom kyk!’ roep hy. ‘Dit is die moeite werd om die petalje te aanskou.’

Mouton sou ‘n myl loop indien hy wis dat daar ‘n grappie by die ander end was om oor te lag.

Toe ek my by Mouton aansluit, dans klein vet Cohen soos ‘n kaartmannetjie om sy boorgat en windpomp, waar ‘n stuk of ses van sy volk besig is met die handpomp, in vrugtelose pogings om water te voorskyn te bring. Die geratel en geskreeu van die droë pompe was ‘n gepaste begeleiding vir Cohen se skelle stroom vloeke:

‘Verdammte Schweinhunde! Teufelskinder! Alles altyd gebruk, gebruk? Waarom ek bruk niks? Jel wil my bankrot maak? Jel dink dis alles vol kelt, kelt, kelt,’ en hy skud sy wye broekspypies met woedende geweld. Mevrou Cohen had klaarblyklik vroegtydig die aftog van die slagveld geblaas. Sy was af en toe binne haar kombuisie sigbaar en derhalwe nie geheel onder skoot uit nie.

‘Rachel, waar is Abram? Verdamp! Ek moet alles toen: die winkel hou, die water pump, die koei melk? Ha! En jy? Net mooi klere, skoene, poeier? Ek sal sien wanneer ek bankrot is wat jelle sal toen! Die kelt is kedaan! Ek sal sien.’

Apie, ons rykste inwoner, soek klaarblyklik na iemand op wie hy die breek van sy ‘pump’ kan wreek en toe val sy oog op die laggende Mouton en op my, onskuldige, en dadelik word ons met sy vergeskut bestook.

‘Hé, hé, hé,’ maak hy ironies en verwoed Mouton se lag na. ‘Jy lag baie lekker, Hendrik, oor Apie Cohen se pump is gebruk, nè! – hé, hé, hé! Nou sal ons sien wie lag die agterste. My tenk is vol water. Ek het water vir ‘n maand en ek sal nie een dubbeltjie vir regmaak van die pump betaal nie. Soos jel wil water hê, daar is die boorgat en die pump. Apie is baie koed; hy gee water verniet.’

En met nog ‘n gemaakte lag-uitbarsting keer hy na sy huis terug.

‘Dit betaal nie om hom te vertoorn nie, Hendrik,’ sê ek nadenkend want dit het my te binne geskiet dat die hele dorpie vir sy water van Apie se vrygewigheid afhanklik is. Al die putte in die dorp was droog want ons had dié jaar een van die hewigste droogtes wat ons distrik ooit ondervind het.

Apie Cohen het goedhartig sy handpomp gratis tot beskikking van die ingesetenes gestel. Syne was die enigste boorgat (die meeste ingesetenes had putte) en dit was nog nooit droog nie. Die pomp was so ingerig dat die toestel maklik van die windpompe losgeskroef en in ‘n handpomp omgesit kon word. Daar was buitendien ‘n klein stertjie aan Apie se vrygewigheid. Met egte Joodse vernuf het hy twee pype van verskillende kaliber aan die handpomp vasgeskroef sodat elkeen wat die pomp gebruik, vier emmers water in Apie se tenk pomp terwyl hy een emmer vir homself vol maak. Niemand het hom egter sy slim plan misgun nie. Ons het gelag, hom ‘n paar grappige spotwoorde toegeswaai en dankie gesê vir die water.

Hendrik Mouton had meer water in sy bedryf nodig as enige ander inwoner. Hy moes wabande kort, bore, pikke, byle, ploegskare en ander groot gereedskap skerpmaak en hard en dan had hy boonop meer vee as enige ander inwoner en hulle moes saans en soggens uit sy waterkar drink.

‘Jy praat waar, neef,’ sê die smid, skielik uit sy vrolike luim wakker geskud. ‘Ek moet dadelik gaan kyk wat met die ou se pomp verkeerd is, anders raak ek self vandag in die knyp.’

Hy was besig om skroefhamers, hamers, pypdraaiers en ander gereedskap bymekaar te maak toe Hans du Toit in sy muilkar voor die smidswinkel stilhou. Hy kom van die stasie en was op die terugreis na sy plaas. Tegelyk met sy begroeting aan ons, bring hy ‘n pak koerante en briewe vir my te voorskyn.

‘Kyk gou wat die jongste nuus is, Wimpie. My ou vrou sal alles wil weet omtrent die aardbewings en gedoentes in ander lande en sy kry my voor stok as ek niks kan vertel nie. Ek self stel nie baie belang in al die gedoentes nie, maar vrouens is anders ingerig, soos jy eendag sal uitvind, Wimpie. Daar is aan hul nuuskierigheid geen einde nie. Dit was blote nuuskierigheid wat moeder Eva die appel laat eet het.’

Hoe helder val die herinnering my nog te binne: die kalme, heerlike winter oggend, die stilte en vrede ongestoord om ons heen, die vrolike gesing van voëltjies in die groot geboomtes, die gekekkel en gekraai van hoenders, gelag van kinders en by die wyd uit elkaar staande huisies was hier en daar mense sigbaar, besig met die eerste werkies van die dag.

Hendrik Mouton en sy handlanger, Van Wyk, het by ons kom staan terwyl Hans du Toit op sy kar bly sit. Almal was nuuskierig om te hoor wat verder ‘in ander land’ gebeur het. Mouton hou al sy gereedskap in die hand asof die oponthoud slegs ‘n paar minute sou duur. Stadig het van alle rigtings mans aangeslenter gekom toe hulle gewaar dat daar by die smidswinkel koerante aangekom het en dit het nie lank geduur voordat ek die hele manlike bevolking van Nastergal, nuuskierig soos kwêvoëls, om my had terwyl ek haastig in datumvolgorde die opskrifte van die oorsese berigte voorlees nie.

Wat my later verwonder het, was dat alles net soos gewoonlik om ons was: alles stil, vreedsaam, doodgerus en hier in my hande was die doodsberig van die wêreld! Die eerste reëls het ongetwyfeld ons vreedsame gemoedstemming ‘n weinig verroer, maar ons was glad nie verskrik nie. Met ons kon natuurlik niks gebeur nie. Hier was alles veilig en soos altyd. Al die dinge gebeur oor die see, duisende myl van ons af, en kon ons gewis nooit raak nie.

Mouton het hoopvol die mening geuit dat die prys van vleis dadelik sal opgaan want oral ‘in ander land’ was daar sprake van honger. Hulle sal ons vleis moet invoer – en teen ons pryse!

Die eerste opskrifte was:
Groot Verskrikking in Engeland!
Die Teems Opgedroog van Bron tot Mond.
Duisende Skepe op die Sand.

En daarop volg die een blad na die ander:

Mississippi Val 100 Voet in Een Dag.
Die Magtige Amasone Verdwyn Gedurende Een Nag.
Watervlak van See 1,000 Voet Laer.
Mere in Amerika, Switserland, Rusland, Verdwyn binne Paar Dae.

En dan die een ná die ander kom die doodsberigte van al die groot riviere, en die seevlak val al vinniger.

Teorieë van al die groot geleerdes van die wêreld word in die grootste letters uitbasuin:

‘Professor Von Schweikerd van Bonn verklaar dat die verdwyn van die water te wyte is aan ‘n groot holte in die middel van die aardbol wat deur die aanhoudende werking van die vulkane veroorsaak word. Dit het ‘n holte so groot as ‘n ertjie nodig as die aarde so groot soos ‘n lemoen was, om al die oppervlakte-waters in onbereikbare dieptes te laat verdwyn. Intussen vind daar in die gloeiende ingewande van die aarde aanhoudende oksidering plaas van al die gesmelte metale en minerale, wat beteken dat die watervoorraad van die aarde in gasse opgebreek word en as water verlore gaan. Geen nuwe water kan gevorm word nie daar die samesmelting van water besondere elektriese toestande vereis wat op ons aarde nie langer bestaan nie.’

Met hierdie sienswyse van professor Schweikerd stem die geleerde Italiaanse aardbewingkundige, dr. De Soto van Milaan, volkome saam. En uit Parys, Londen, New York en Moskou kom bevestigings van hierdie bewerings.

Tussen berigte van hernieude uitbarstings en aardbewings, kabels oor die verdwyn van riviere en mere en wegsak van die see, kom in groot letters proklamasies voor van konings, presidente en regerings van die verskillende nasies, smekende om bedaard te bly. Alles word gedoen om die ramp te bestudeer en te bekamp. Kongresse van alle regerings word bymekaargeroep om die toestand van die wêreld te bespreek en veiligheidsmaatreëls te tref.

En toe, dink ek, moes ten minste my stem ‘n weinig hees geword en my gesig ‘n weinig verbleek het. Op die laaste blad wat ek met bewende hande oopskeur, staar my in swart letters aan:

Afrika Volg op die Spoor van Ander Vastelande.
Die Groot Sentrale Seë Verdwyn die Een ná die Ander.
Die Magtige Nyl, Oudste Rivier in die Wêreld, Word binne Een Week in
‘n Droë Sloep Verander vanaf Midde-Afrika tot aan die Rooi See.
Die Zambezi Verdwyn! Die Magtige Victoria-waterval Is Nou ‘n Barre
Rotskrans in ‘n Dorre Grag.
Sal Geheel Afrika ‘n Sahara Word?
Jongste Berigte uit Suid-Afrika Nog Taamlik Gunstig.

En dan was daar berigte dat al die revolusies en opstande deur hierdie finale rampe, soos deur die laaste trompetgeskal, stopgesit is. Oral vergaar die mense in digte menigtes spraakloos en bleek asof hulle reeds dood is. Duisende bid en sing nag en dag. Een sekte in Amerika gaan in wit geklee, duisende het heuwels, rante en selfs die dakke van huise beklim waar hulle gedurig opstaar – wagtend op die tweede koms van Christus.

‘n Groot gedeelte van bestaande kerke het aangeneem dat dit die voorspelde einde van die wêreld is. Meer as die helfte skyn egter hierdie sienswyse te verwerp op grond dat dit met die algemeen aangenome verklaring van Bybelse profesieë teenstrydig is.

Toe ek met die laaste koerant klaar was, staan ons mekaar ‘n tydjie sprakeloos aan te staar. Ek herinner my dat die stilte deur Hans du Toit verbreek is. Hy leun oor die wiel van sy kar, slaan sy pyp op die band uit en sê doodbedaard aan Mouton: ‘Leen bietjie jou tabaksak, neef Hendrik. Myne is boomskraap en jy is die enigste man op die dorp wat tabak in plaas van vlermuismis rook’ … en hy lag die ander spottend toe.

‘Ek glo daar net een-tiende van,’ sê Van der Veen, die bakker, bekend om sy kalme verstandigheid. ‘Die koerante moet altyd iets hê om oor te skrywe, en as hulle ‘n nartjie in die hande kry, dan maak hulle gewoonlik ‘n boerpampoen daaruit, nie waar nie, neef Wimpie?’ vra hy my.

En toe begin ons die saak bespreek, maar altyd nog doodbedaard. Dit was nog altyd iets baie ver van ons af wat ons nooit direk kon raak nie. Hoe kon dit? Hoe kon sulke dinge ooit hier in ons Transvaal gebeur? Natuurlik nie aan te dinke nie! Ons was slegs toeskouers van iets wat oorkant die seewater gebeur. Ons kon dit bedaard van alle kante beskou en dan bespreek. En so het ons die winteroggend gedoen.

‘Mense, ek sê vor jel, my boorgat is droog. Dit is nie die pump wat gebruk is nie.’ Dit was die hees stemmetjie van Apie Cohen wat skielik op ons beraadslaging inbreek vanaf die buitekant van die groepie voor die smidswinkel waarvan Hans du Toit in sy kar nog steeds die middelpunt was.

(Hier is verskeie bladsye van die handskrif onleesbaar. Die leesbare vervolg lui as volg:)

Ek dink dit moes ‘n bestiering gewees het! Dit was voorbestem dat ek alleen van lewende mense die ramp moes ontkom.

Dit het so gebeur: Twee myl ten weste van Nastergal was die hoë berg bekend as Kroonkop wat die naam gedra het dat geen mens ooit die omringende kranse beklim en die tafelgelykte bo-op die kop bereik het nie. Ek was altyd ‘n groot liefhebber van bergklimmery, bergdiere en bergplante, daarom was dit dat ek die Kroonkop kort ná my aankoms in Nastergal noukeurig met my verkyker van alle kante bestudeer het. Ek het een sloep opgemerk en was vas oortuig dat met verskuiwing van ‘n enkele rots daar ‘n oop weg sou verskyn waarlangs dit moontlik sou wees om die kruin te bereik. Met behulp van ‘n enkele dinamietpatroon het ek die weg geopen. Dit was maande voordat die wêreldramp begin het. Bo-op die kop was ‘n enorme rotsgelykte met ‘n helling na die suide waar daar ‘n reusagtige skeur in die graniet was. Hierdie skeur was tot aan die rand met water gevul. In die rotse het ek tekens van tin gevind en daarom was dit dat ek my geheime pad weer met klippe afgesper het voordat ek die kop verlaat het. Toe die wêreldramp ons klein dorpie in al sy afgryslikheid bereik, het ek dadelik soveel voedsel bymekaargemaak as wat ek kon vervoer; met twee geweers en ‘n groot drag ammunisie belaai, het ek Nastergal alleen in die middel van die nag verlaat en Kroonkop beklim. Agter my het ek die pad sorgvuldig met rotse toegerol. Hier is dit waar die ‘bestiering’, myns insiens, sy verskyning gemaak het. Tot vandag toe kan ek nie verstaan hoe die besluit by my opgekom en posgevat het om so ‘n onderneming te aanvaar nie.

Hier het ek my verblyf ingeneem tesame met duisende voëls en ‘n klompie klipbokkies en ribbokke wat almal ook hierdie watervoorraad ontdek het.

Ons water het nooit verminder nie.

Vanaf die hoogte van Kroonkop het ek deur my verkyker die verskriklike ramp in Nastergal aanskou totdat alles uiteindelik verstil het. Daar was geen beweging van mens of dier meer sigbaar so ver my verkyker kon reik nie.

Nadat al die inwoners verdwyn het, het ek ons dorpie verskeie male besoek om voedsel en ander benodigdhede te vergaar en so het ek ongeveer twee jaar gelewe totdat die eerste reëns weer geval het. Dit het met vreeslike en aanhoudende storms ingesit wat binne ‘n paar weke al die riviere, spruite en damme weer met water gevul het. Ek was toe oortuig daarvan dat die water weer deur inwendige drukking tot die oppervlakte uitgepers was en dat die see weer sy verskyning gemaak het, maar ek was te ver van die kus om dit self te sien.

Daarná het ek die dorp slegs met een doel besoek, nl. om ‘n motor te vind waarmee ek na Pretoria kon reis. Ná veel moeite het ek arme Apie Cohen se groot motor reisvaardig gekry. Petrol was in die buurte volop. Ek het die motor met water (want ek wis nie wat voorlê nie), petrol en voedsel belaai en een oggend vroeg het ek na Pretoria vertrek.

Die meeste van die groot bome was nog aan lewe en was weer met groen beklee en die veld was groen so ver as die oog kon reik, maar ek het langs die pad g’n lewende dier of mens gesien nie. Geraamtes van beide was volop, maar van lewe was daar geen spoor nie.

(Weer bladsye onleesbaar.)

In die middel van Daspoort het iets met die motor verkeerd geraak wat ek nie kon ontdek of herstel nie. Al wat ek kon doen, was om die stad te voet in te gaan. Op die spoor in die poort staan ‘n lang passasierstrein. Dit is eienaardig hoe moeilik dit was om my by my nuwe omgewing aan te pas. Half onbewus het ek die trein staan en bekyk met die gedagte agter in my gemoed: ‘Ek sal aan die passasiers kan sien of dit ‘n plaaslike trein is of een wat op weg na Soutpansberg is!’ Ek wou ook wag totdat die trein weer vertrek! Toe ek as ‘t ware weer tot bewustheid geraak, het ek skielik nuuskierig geword omtrent die trein en hoe dit daar in die poort tot stilstand gekom het. Ek het deur die rotse tot op die spoor geklim en een van die koetse bestyg. Al die deure was oop en ek het van end tot end die gange en kompartemente deurgegaan. Daar was niks, geen enkele geraamte en geen stuk bagasie nie. As daar passasiers in was, moes hulle, kranksinnig van dors, gevlug het om water te soek. Ten laaste het ek die lokomotief besoek en bestyg en hier op die uiteinde vind ek bewysstukke waaruit ek miskien die storie van die verlate trein sou kon lees. Op die voetplaat lê twee geraamtes, nog met die flenters van klere bedek. Ek het lank meer geen verskrikking of afsku vir ‘n memento mori van hierdie aard gevoel nie. Aan mensegeraamtes was ek ten minste as gevolg van al die verskriklikhede van my nuwe omgewing, lank reeds gewoond, derhalwe kon ek hierdie twee met groot belangstelling bestudeer. Ek wou met alle geweld die verlore geheim van hul laaste ure uit die arme dooie beendere dwing. Met my voet het ek hulle uitmekaar geroer en dadelik is die storie in my gemoed saamgestel asof hulle uit die dode opgestaan en my vertel het. Deur een kopbeen is ‘n koeëlgat, om die ingang so gebrand dat die swart stukkies vel nog aan die gebroke skedel vaskleef. Onder hierdie geraamte lê die Webley-rewolwer waarmee die skoot gevuur is. Die tromp moet vas teen die voorhoof gedruk gewees het toe die skoot afgetrek is. Was dit selfmoord, in die laaste stadium van dors gepleeg? Ek was gereed om bewyse van selfmoord dikwels, dikwels teen te kom. Maar voordat ek enige vermoede aanneem, sou ek die ander geraamte bekyk. Dié een was van ‘n veel jonger en slanker man – dit altans het die gehalte van die beendere skyn te bewys. Hierdie geraamte lê met die hoof en bolyf op die voetplaat terwyl die voete en bene oor die trap afhang. Een been is in die kniegewrig deur die werking van verganklikheid afgebreek en lê onder langs die spoor met die skoen nog aan die voet. Toe ek die boonste gedeelte met my voet omkeer, sien ek die handvatsel van ‘n mes. Die lem is nog vas in die sleutelbeen en die punt is tussen die linkerribbebene sigbaar. Dit was die regte Italiaanse moordenaarsdolksteek, van bo deur die sleutelbeen reg deur die hart!

Alles was nou duidelik: hulle het mekaar byna gelyktydig gedood. Die een het die dolksteek gekry net toe hy die rewolwer aftrek.

Waarom?

Ek het lank in diepe stilte die ding oorweeg. Waarom dit my so diep geïnteresseer het, weet ek tot vandag toe nie want ek sou seker genoeg tragedies van hierdie aard te sien kry. Een ding was duidelik: dit kon vir g’n skat gewees het nie. Al die diamante in die wêreld had vir die twee mense nie die waarde van ‘n snuifie stof nie. Die tweede groot dryfveer tot manslag – ‘n vrou self – sou hulle nie tot doodslag genoop het terwyl hulle onder die skadu van die dorsdood verkeer nie. Waarom sou hulle dan gereed gewees het om hul lewe veil te hou? Dit kon slegs een ding gewees het – water! Wat was daar onder die uitspansel des hemels van groter waarde vir die twee ongelukkiges in die laaste moment as water? Maar waar was die waterskat waarvoor hulle ‘n dubbele, ‘n wedersydse moord gepleeg het? Die trein self het ek leeg gevind en hier op die lokomotief was g’n watersak of vaatjie wat water kon bevat nie.

Toe sien ek dat die koolwa opgehoop is met blikke en kiste voedsel van alle aard, ook drie sakke meel wat nou verrot en skaars herkenbaar is, maar g’n water nie. Ter wille van die kos sou hulle mekaar nie gedood het nie want die aarde het destyds kos genoeg gehad.

En skielik skiet dit my alles te binne asof iemand die storie in my oor fluister: Dit was sonder twyfel die masjinis en die stoker van ‘n passasierstrein. Hulle het uit Pretoria met hul trein gevlug om van die waansinnige gedrang los te kom en die voorraad water waarvoor een of altwee gelyktydig moord gepleeg het, was binne die lokomotief! Van almal wat waansinnig na water gesoek het, sou die masjinis en die stoker nie vergeet het dat die ketels van die lokomotiewe vol water is nie. Hulle het ooreengekom om die lokomotief met voedsel te belaai en dan tot op ‘n veilige afstand van die stad te vlug, waar hulle in staat sou wees om die ketel te laat afkoel en die water te gebruik. Hier in die Poort het hulle besluit om die trein van die lokomotief los te skakel. Dit was net gedoen en die stoker moes afklim om die nodige losskakeling te verrig. Dit was terwyl hy op die grond was dat die masjinis besluit het om sy plan uit te voer. Hy wou met die lokomotief wegvlug en die stoker in die steek laat. Maar die stoker was te gou vir hom. Voordat hy die lokomotief in beweging kon bring, het laasgenoemde op die trap gespring, rewolwer in die hand. Die masjinis staan met sy mes klaar en op die voetplaat het hulle mekaar ontmoet.

Uit die twee manne se voedselvoorraad het ek ‘n paar pakkies beskuit in my sak gesteek en toe langs die rivier opgeloop tot by Eloff’s Cutting. Die rivier was sterker as wat ek dit ooit gesien het. Op een plek was daar ‘n menigte geraamtes langs die walle. Oral lê pikke en grawe. Ek kon sien dat oral in die bedding diep gate gegrawe was. Hier het iemand waarskynlik nog op die laaste ‘n weinig water gevind in ‘n put wat hy in die bedding gegrawe het. Die gerugte het versprei en ‘n menigte het dadelik met grawe en pikke die plek bestorm en hier het hulle aangehou grawe totdat die dood hulle genadiglik van hul vreeslike foltering verlos het.

Ek weet nie wat my genoop het om deur die Dieretuin te gaan nie, want dit het aansienlike moeite gekos om oor die ystertralies te kom; ewenwel, dit was die weg wat ek gekies het.

Die groot tuin was taamlik woes begroeid en byna al die groot bome was nog aan die lewe. Hier was ook taamlik baie geraamtes in die paaie en diep onder die struikgewas waar die sterwendes waarskynlik, ter wille van die koelte, in die laaste wroeging van hul lyding ingekruip het.

Ek het met belangstelling opgemerk dat al die groot diere in hul koue doodgeskiet is. Oral rond het ek geweers gesien, op die grond en teen die tralies, en in sommige koue wat onder dak is, was die bloedmerke nog sigbaar.

Dit was langs Prinsloostraat dat ek die groot stad binnegeloop het.

Hoe sal ek ooit die indrukke wat my oorrompel het, beskrywe? Dit was ‘n koue dag met helder, skitterende sonskyn wat alles op groot afstande sigbaar maak.

Die eerste straat was leeg sover my oog kon reik. Daar was geen enkele geraamte, geen enkele rytuig sigbaar nie. Oor alles was ‘n doodse, ‘n verskriklike, ‘n onbeskryflike stilte. Ons praat van die stilte van die dood, die stilte van die graf – hier was ‘n stilte wat al ons spreekwoordelike vergelykings tam en betekenisloos maak. Toe ek in die middel van Prinsloostraat kom, voel ek koue rillings langs my ruggraat in gedurige beweging. Ek was bang – tot die dood toe bang – maar ek wis nie waarvoor nie. Daar was g’n beweging sigbaar, g’n geluid hoorbaar nie. Die lug self was bewegingloos en die takke van nog lewende bome was roerloos asof hulle in ‘n ewige slaap verkeer.

Ek is met Prinsloostraat op tot in Kerkstraat en hier het ek die eerste motors en trems gesien. Op die hoek van die mark staan drie trems agtermekaar op die spoor, en onder die afdakke van die mark staan verskeie motors.

Wat my die meeste verwonder het, was die min geraamtes in die strate – totdat ek my skielik herinner dat ek in die laaste nuusblaaie ‘n berig gesien het omtrent gerugte wat in die stad in omloop geraak het aangaande ‘n beweerde groot voorraad water in die opgaardamme by die Fonteine. Daar is beweer dat hierdie water deur ‘n klein klompie beamptes vir hul eie gebruik bewaar word. Die gevolg was dat die hele bevolking byna soos een man die stad verlaat en die Fonteine bestorm het.

Hierdie feit was natuurlik ook die oorsaak van die min motors wat daar in die strate te sien was. Die mense het alle vervoermiddels in beslag geneem om die beloofde water te bereik.

Die woonhuise was meestal oop; oral was tekens dat hulle in die haas van doodsangs verlaat is. Ek het by ‘n paar ingegaan en hier en daar het ek in slaapkamers geraamtes gesien, meestal van bejaarde mense, soos aan hul grys hare te sien was, wat in die laaste worsteling deur hul geliefdes verlaat is … Die dors ken geen medelye, geen jammerhartigheid, geen liefde nie!

Die groot winkels was meestal toe, en niks het duideliker op die laaste angs en haas gedui as die feit dat die groot glasvensters met hul uitstalling van pragware nog meestal heel en ongedeerd was nie.

Gedurende my doellose wandelings het ek skielik gewaar dat ek dors en honger word. Toe moes ek ontdek dat daar waarskynlik geen druppel water in die stad self is nie. Ek moes rivier toe gaan om my dors te les. Voedsel was daar egter in oorvloed. By die eerste groot kafee het ek die deur met ‘n stuk yster oopgebreek en my eerste middagmaal in die verlate stad geniet.

Ek het verskeie watersakke in ‘n saalmakerswinkel gevind en by die rivier vol gemaak sodat dit nie nodig sou wees om gedurig naby die rivier te bly nie.

Spoedig het ek aan my omgewing begin gewoond word. Later in die dag was selfs die stilte nie meer so ‘n verskrikking nie. Ek was onversadig nuuskierig om oral in te gaan en alles te besien.

Toe ek by een groot juwelierswinkel verbygaan, val my oog op ‘n plaat skitterende diamantringe en borsspelde met die opskrif in Engels: ‘Egte Namakwaland-diamante van die eerste water’. Hoe vas is die mensegewoontes nie? Sonder om na te dink, ontdek ek skielik dat ek die juwelierskatte met die ontsag van vroeër aanstaar. Ek had in my hand ‘n ysterkoevoet wat ek meegedra het om deure oop te breek van huise en vertrekke waar ek verlang om binne te kom. Met ‘n spotlag slaan ek die juweliersvenster aan stukke, gryp handevol diamante, praghorlosies, goue ringe en armbande en strooi dit om my die straat op en af. Wat help al die nuttelose speelgoed my as ek die enigste lewendige mens op aarde is?

Ek dink dit is die enigste vlaag van waansinnigheid wat my ooit oorrompel het.

In die kantiene en drankwinkels het ek van die weinige tekens van geweld teengekom. Almal was oopgebreek, die vloere bestrooi met geraamtes en stukkende bottels. Hier het ‘n menigte die dood in ‘n roes van dronkenskap gevind.

‘n Angsgevoel het my skielik weer beetgepak toe ek onverwags opmerk dat die son onder was en dat dit vinnig begin donker word. Vir ‘n slaapplek het ek geen voorbereiding gemaak nie. Ek loop in alle haas oor die mark na die naaste hotel. Die deure staan wyd oop, maar hier was daar gelukkig geen enkele geraamte en geen verwoesting nie. Die kantien staan leeg. Waarskynlik het die eienaar vroegtydig voorsorg geneem om al sy drank te verwyder.

In skemerdonker is ek die groot trap op na die slaapkamers. In die eerste sou ek slaap nadat ek die beddegoed uitgestof het. Toe ek by die kamer ingaan, druk ek die elektriese skakelaar af, en toe gewaar ek dat ek geen lig het nie. Ek moes ten alle koste ‘n lamp of kerse kry en in alle haas is ek weer uit om ‘n winkel oop te breek waar ek kerse sou vind. Ek het ‘n Griekse winkel in Prinsloostraat onthou waar ek op ‘n sekere aand ‘n paar jaar gelede ‘n swart vrou sien kerse koop het. Wonderlik hoe sulke nietige dinge onverwags in die menslike geheue opduik!

Ek is vinnig voort uit die hotel en oor die Markplein na Prinsloostraat.

Indien my eerste indrukke die oggend moeilik was om te beskrywe, dan sal ek seker nooit in staat wees om in woorde weer te gee watter gevoelens my oorrompel het net nadat ek die oop mark oorkruis en Prinsloostraat by die kruising van Kerkstraat ingegaan het nie. In die eerste plek, die donker, die verskriklike, ysingwekkende donker! Nooit het ek gedroom dat die donker so ‘n vreeslike, dreigende gedaante sou kon aanneem as wat ek die eerste nag in die verlate stad ondervind het nie.

In die ooste was ‘n dowwe skynsel bo die huisdakke. Dit moet die maan wees wat aan opkom is, maar die strate self was in sulke ondeurdringbare donker gehul dat ek met moeite my koers in die middel van Prinsloostraat kon hou. Ek moes werklik die koers rigsnoer deur my oë stip op die noordelike uitloop van die straat te hou, waar die rand swart teen die lug gesilhoeëtteer staan. Hierdie gedwonge oplettendheid het my aandag grootliks aan my omgewing onttrek – ‘n tyd lank altans. Dit was egter slegs ‘n verposing; ek had spoedig dié nag te ondervinde dat hierdie respyt kort van duur was!

Toe ek die klein Griekse winkel bereik, vind ek die deure oopgebreek en met my eerste tree binne die donker vertrek struikel ek oor verstrooide ware wat op vloer en toonbank opgehoop lê. Hier het mense waarskynlik gedurende die eerste stadiums van hul foltering na sodawater, limonade en ander drinkbare vloeistowwe gesoek. Asof die eienaar een druppel sou agtergelaat het nadat hy self moes vlug.

My geluk het standgehou; met die eerste beweging van my hande oor die toonbank, kom my vingers in aanraking met dosies vuurhoutjies. Daarná was dit ‘n eenvoudige taak om die voorraad kerse op te spoor en ‘n paar pakke in my baadjiesakke te steek. Intussen het dit bitter koud geword, nieteenstaande die nag helder en absoluut windloos was. Ek het ‘n aansienlike tyd in die Griekse winkel vertoef. Daar was drie geraamtes, een van ‘n jong meisie en twee van jong mans. Ek onthou dat die teenwoordigheid daar en die ligging van die geraamtes weer my nuuskierigheid gaande gemaak het. Ek kon in die begin nie begryp waarmee hulle daar besig was en hoe hulle dood is nie. Uiteindelik het ek meer as twee pakke kerse opgesteek en met gesmelte was op toonbank, stoele en op die vloer vasgeplak om die geheimsinnigheid van die drie geraamtes te ontsyfer. So maklik was dit destyds vir my gedagteloop om sig met nietighede te bemoei; tyd was vir my van geen betekenis meer nie; dit het eenvoudig opgehou om te bestaan; of ek ‘n ding nou doen of tot môre laat wag, was om ‘t ewe! Hoe lank ek in die Griekse winkel gebly het, weet ek nie meer nie, maar uiteindelik is ek uit. Ek het die kerse aan brand gelaat met die gedagte dat ek van buite sou sien hoe ten minste een verligte huis lyk! Maar ek het nooit geleentheid gehad om my verligting te bewonder nie!

Toe ek uitkom, was dit om ‘n skok tegemoet te gaan wat oombliklik alle ander gedagtes verdryf het. Die groot maan het intussen bo die dakke opgekom en die hele straat was helder verlig.

So ‘n stelling klink eenvoudig genoeg, maar geen woorde kan ooit die uitwerking van hierdie skielike verandering op my gemoed weergee nie.

Ek het tevore van stilte en die afwesigheid van beweging gepraat, maar die doodse stilte wat ek by helder dag gewaar het, was nie te vergelyke by die stilte wat my nou omgeef het nie. Daar was nou skielik iets boos, iets dreigends in die vreeslike stilte. Ek het dadelik die gevoel gekry dat iets kwaadgesinds my uit die slagskaduwees van die verandas beloer – ‘n spottende Bose wat op sy geleentheid wag om my te bevlieg! Ek herinner my dat dit met ‘n vreeslike ysing was dat ek die hoek van Prinsloostraat en die oop Markplein genader het. Ek het in die middel van die straat gestap en al vinniger geloop, terwyl ek onophoudelik van links na regs kyk, en af en toe oor my skouer na agter wanneer ek die gevoel kry dat iemand of iets my agtervolg! Toe ek op die hoek kom, het ek weer geweldig geskrik vir die drie verlate trems waarvan ek reeds vertel het. Met die eerste oogopslag het ek hulle aangesien vir lewende swart gevaartes wat my daar voorstaan!

Dit was toe dat ek vir die eerste maal skielik die nodigheid van wapens gevoel het en ek het net besluit om die geweerwinkel in die Markgebou te besoek en my te bewapen toe ek skielik veraf en dof, die jaaggalop van ‘n perd hoor! ‘n Mens sou dink dat dit blydskap en vreugde sou veroorsaak het om iets lewends in die wêreld van die dode te gewaar; inteendeel het dit my met die uiterste skrik en ontsteltenis vervul. My eerste beweging was om skuiling en ‘n wegkruipplek te soek en met hierdie doel het ek vinnig na die winkelingange aan die noordelike kant van Kerkstraat gevlug. Toe ek in die eerste donker ingang tot stilstand kom om die rigting en afstand van die perdehoewe af te luister, gewaar ek dat dit die klop van my eie hart is wat ek in die stilte vir die galop van ‘n perd aangehoor het!

Daarná is ek voort na die geweerwinkel. Ek het die oggend deur my verkyker Kerkstraat vanaf die boonste verdieping van ‘n winkel aan die noordekant bekyk en ek het onthou dat ek opgemerk het dat die geweerwinkel oopgebreek was en dat geweers en rewolwers op die sypad verstrooid lê.

Toe ek onder die veranda van die Markgebou kom, kry ek ‘n tweede skok: ek hoor, duidelik en hard, voetstappe wat met my tred hou aan die ander kant van die straat. So helder was die maanlig dat ek selfs binne die skaduwees van die geboue die beweging van ‘n lopende mens moes sien; maar daar was niks! Toe ek tot stilstand kom om die gedruis van my hart tot bedaring te bring, moes ek nogmaals ontdek dat dit my sintuie was wat my weer bedrieg het. Dit was die weerklank van my eie voetvalle wat ek aan die oorkant van die straat hoor!

Ek het my spoedig van ‘n koeëlgeweer en ‘n rewolwer en met die nodige ammunisie in ‘n bandelier en bladsakkie uit die geweerwinkel voorsien en toe is ek terug na die hotel.

Die Markplein was ‘n meer van lig waarin die skaduwees soos swart eilande uitstaan.

Ek herinner my dat toe ek veilig in die hotel te lande kom, my eerste arbeid was om die verroeste deure sorgvuldig agter my toe te sluit, asook my slaapkamerdeur. Nadat ek in die bed was, het ek self oor die onsinnigheid van die aksie gelag!

Ek het besluit om die volgende dag ‘n paraffienlamp en ‘n voorraad boeke te soek en na my slaapkamer te bring. Ek sou die kombuis in orde bring en my voedsel en ander benodigdhede in die spens bêre. Daardie eerste nag het ek vas en ongehinderd deurgeslaap.

Die volgende oggend had ek my groot ontmoeting.

Ek had lank reeds alle tydbepaling verloor en wis van geen wyse om dit weer reg te kry nie. Uit die meridiaanse hoogte van die son – min of meer geskat – het ek bereken dat dit die maand Junie of begin Julie moet wees, maar van welke dag van die week dit was, had ek nie die minste besef nie.

Ek is die oggend weer Kerkstraat op om ‘n lamp te soek. Voor die geweerwinkel gaan staan ek met my oog op ‘n stapel flitse in die venster. Die glas was aan stuk en ek het net my hand uitgesteek om een uit te haal om te toets toe ‘n eienaardige sissende gefluit skielik by my verbytrek om met ‘n luide gekletter skuins teen die muur langs my te eindig. Onmiddellik daarná hoor ek ‘n weerklinkende ontploffing in die rigting van Beckett se hoek. Ek het geweldig geskrik maar wis dadelik wat dit was: iemand het ‘n skoot op my afgevuur! Aan die geluid sou ek oordeel dat dit ‘n rewolwerskoot was.

Met een sprong was ek binne die beskutting van die winkel, maar met die sprong kom ‘n tweede koeël fluitend die straat op en weer die ontploffing. Haastig het ek weer ‘n koeëlgeweer uitgesoek en gelaai en my sakke met los patrone gevul. Die ander wapens had ek in my slaapkamer agtergelaat. My verkyker had ek om die skouer.

Ek was nog jagter genoeg om te weet hoe om te werk te gaan. Ek glo nie dat ek tyd in verwondering en gissinge verloor het nie. Genoeg was dit om te weet dat daar naby my ‘n lewende mens is wat met voorbedagte rade probeer om my te dood.

Ek het eers ‘n leë pakkis stadig by die deur uitgestoot, wat van my onsigbare aanvaller ‘n reeks skote uitgelok het, almal ver mis. Toe hy geen antwoord mynersyds kon uitlok nie, het sy fusillade tot ‘n einde gekom en weer heers ‘n doodse stilte in die straat.

Ek het byna ‘n uur gewag, toe kruip ek plat op my maag agter die kis uit, my geweer vooruit stotende. Met ‘n beitel het ek sorgvuldig die wydte tussen die twee planke van die kas vergroot totdat ek ‘n loergat had wat op ‘n afstand onsigbaar sou wees, en toe bekyk ek Beckett se hoek met my verkyker. Binne tien minute had ek my aanvaller ontdek. Op die tweede verdieping sien ek skielik deur die hoekvenster ‘n stadige beweging. Nog ‘n paar minute, toe kom van agter ‘n stuk gordyn ‘n loerende mensekop binne die gesigsirkel van my verkyker en toe kom die hele mens te voorskyn, altyd loerende en klaarblyklik op haar hoede, want tot my verbasing moes ek ontdek dat dit ‘n jong meisie was.

Nooit was ‘n jong dame seker in meer eienaardige tenue nie. Sy was geklee in ‘n kort mansbroek en ‘n oopnekhemp, en bo-oor dra sy ‘n pragtige vrouemantel met kraag en mansjette van bont en ‘n voering van sy. Sy het haar drag waarskynlik koud gevind, want onder die broekspype had sy donker sykouse tot oor die knieë. Behalwe haar gewone kleding had sy om die hals ‘n skitterende snoer van groot diamante, en polse, vingers en arms was belaai met diamantringe, armbande, polshorlosies en ander juweliersweelde. Stellig was dit my aanvaller wat al die juwelierswinkels op die uiteinde van Kerkstraat buitgeloop had.

Sy was ‘n baie aanvallige meisie, met ‘n bos donker hare wat sy klaarblyklik sorgvuldig gekrul het. Haar ouderdom het ek op uiters twintig jaar geskat.

Dit sou onnodig wees om te trag om my indrukke weer te gee. Die besef van die gevaar wat my lewe bedreig, het in die eerste instansie alle ander gedagtes en gevoelens verdryf. Ek het egter van die begin af geen bitterheid gevoel nie. Ek wou haar nie doodskiet as ek dit enigsins kon vermy nie; baie liewer sou ek haar gevange neem.

Ek het haar ure lank dopgehou totdat ek seker was dat sy alleen was. Af en toe het sy haar venster bekruip om die geweerwinkel te bespied, maar van my het sy nooit weer ‘n beweging gesien nie. Altyd had sy ‘n klein outomatiese rewolwer in die hand. Haar wapenkennis het my laat lag – om te trag om my op hierdie afstand met ‘n rewolwer van die kleinste kaliber dood te skiet!

Dit sou vervelend wees om hierdie gedeelte van wat gebeur het, breedvoerig uiteen te sit. Dit het alles baie maklik afgeloop, ofskoon dit veel tyd gekos het.

Nadat ek haar bewegings goed leer ken het, is ek agter deur ‘n venster na die agterplaas van die geweerwinkel en daarvandaan is ek van die een winkel na die ander totdat ek Pretoriusstraat bereik het; van daar agter om Kerkplein na Vermeulenstraat en langs hierdie straat het ek Beckett se gebou bereik. Om van Vermeulenstraat in te kom, was maklik genoeg, daar die meeste deure oop was. In die basaar het ek my skoene uitgetrek. Ek was slegs met ‘n rewolwer gewapen. Voet vir voet het ek die hoek van die boonste verdieping bekruip. Uiteindelik kon ek agter ‘n toonbankie inkruip, binne tien tree van die jong dame. Haar rug was na my gekeer. Voor ‘n gedeelte van die groot venster links van die hoekgewel het sy ‘n gordyn opgehang en sy was weer besig om die geweerwinkel te beloer, rewolwer in die hand. Klaarblyklik was sy nog altyd onder die indruk dat ek in Groeneveld en Hicks se winkel vasgekeer is! Nadat sy haar tevrede gestel het, draai sy om, plaas haar rewolwer op ‘n grammofoonstel langs haar en sak op ‘n gemakstoel agter die gordyn neer. Die rug van die stoel was na my kant. Al wat ek van haar kon sien, was haar bos donker hare bo die rug van die stoel. Ek het stadig nader gestap, altyd klaar om haar te bevlieg.

Haar eerste gewaarwording van my nabyheid was ‘n klein gerasie wat haar rewolwer gemaak het toe ek dit van die grammofoonkis optel. Sy spring orent, keer haar gesig na my, plaas haar met diamantbelaaide hande aan weerskante van haar gesig en gaan aan gil … en gil totdat die enorme leegheid van die reuse-gebou klink en weerklink tot in die oneindigheid!

Dit was onuithoubaar! Ek nader haar met geligte hand asof ek haar ‘n klap wou gee.

‘Bly stil!’ skreeu ek haar toe, ‘is jy mal? Wat makeer jou? Ek wil jou geen leed of kwaad aandoen nie? Waarom probeer jy om my te vermoor? In Godsnaam, waarom? Is jy nie dankbaar dat daar nog een lewende mens op aarde is nie?’

Langsamerhand kom sy tot bedaring om daarná wenend op die stoel inmekaar te sak. Deur haar snikke begin sy praat.

‘Ek was bang vir jou … vreeslik bang. Ek was bang jy sou my doodmaak of my mishandel. Ek het vreeslike dinge hier in die stad gesien teen die einde. Dit het my vir alle mense bang gemaak.’

‘Arme skepseltjie,’ sê ek, haar liefkosend, ‘dit sou die laaste gedagte wees wat ooit by my kan opkom om jou die minste leed of kwaad aan te doen. Inteendeel, ek sou altyd gereed wees om jou met veilhouding van my eie lewe te beskerm. God weet hoe dankbaar ek is om een lewende wese te vind. Waarom sou ek jou die minste leed aandoen? Vir my hoef jy waaragtig nooit weer bang te wees nie! Glo jy dit?’

Met betraande oë bekyk sy my, spring skielik op, omhels my en gaan weer bitterlik aan huile met haar gesiggie vas teen my bors gedruk.

‘Ek moes mal gewees het!’ snik sy. ‘Goddank dat ek jou nie raakgeskiet het nie!’

En so is die vrede tussen ons bewerkstellig.

Haar naam was Marie de Lange en sy was by Beckett in diens totdat die wêreldramp plaasgevind het.

Ek het haar kortliks die storie van my ontkoming vertel, waarná sy met haar ondervindings begin het.

Ek het baie gou besef hoe dit gebeur het dat haar ervarings hier in die middel van die groot stad haar siel met ‘n byna onuitwisbare vrees vir alles wat mens is, vervul het. Ek het slegs vanaf ‘n groot afstand deur ‘n verkyker en vanuit ‘n veilige rotsvesting die bewegings in ‘n klein velddorpie aanskou; dit was slegs die geringste weerskyn van wat die wêreld oorval het. Afstand het die meeste van die aaklighede van die gebeurde vir my versag.

Sy, daarenteen, was in gedurige en onmiddellike aanraking met die wêreldramp self en haar vertelling en beskrywings het voortgespruit uit beelde wat nog helder in haar siel lewe, derhalwe was sy in staat om alles wat hier gebeur het, ook voor my gees in heldere afbeelding te laat verskyn.

Eers het sy my deur die groot gebou gelei om my daadwerklik te toon hoe sy die ramp ontkom het.

En hier val my skielik iets by wat vermelding waardig is, slegs as ‘n enkele voorbeeld van honderde voorvalle wat gedurig in ons nuwe en onnatuurlike omgewing plaasgevind het. Op ons weg deur die enorme sale en vertrekke van die reuse-gebou het sy meestal voorgeloop as gids. In een groot departement waar vroueklere in oneindige weelde en prag ten toon versprei was, moes ons by die stellasie van die hysbak verbygaan. Daar was hier ‘n hoek waar dit taamlik donker was, want die gordyne van die naaste venster was toe. Marie de Lange had ‘n entjie voor geraak toe ek skielik – net om die hoek van die hysbak – byna in die uitgestrekte arms van ‘n ander jong meisie vasloop. In die donkerste van die hoekie staan sy my in te wag.

Ek kon wel sien dat sy in ‘n pragtige aandtenue geklee was, met blote arms en hals en ‘n pragtige mantel van bont wat sy ver na agter geskuiwe had, klaarblyklik om haar arms vry te laat. Hare en huid was baie opgetooi, want selfs in hierdie skemer kon ek die gelyke golwe van haar hare en die kleur op haar gelaat sien. Die hele beeld het my gewaarwording soos ‘n bliksemstraal ontroer. Selde in my lewe het ek groter geskrik – waarom weet ek self nie, behalwe dat die verskyning so absoluut onverwags was. Ek het een geweldige sprong gegee en met ‘n vreeslike gekletter ‘n toonbank omgestamp. Ek het ook hard gegil. So groot was die skrik dat ek haastig na my rewolwertas gesoek het! En toe snel Marie na my terug. Sy was ook bleek en verskrik, maar klaarblyklik net oor die lawaai wat ek veroorsaak het. Die skone jong dame wat al hierdie ontsteltenis veroorsaak het, was een van die wasbeelde wat destyds vir die uitstalling en vertoning van damesklere gebruik is.

Marie het my na die agterste gedeelte van die boonste verdieping gelei. Hier het sy teen die agtermuur ‘n hoë, smal staaldeur geopen wat toegang verleen tot ‘n lang vertrek wat klaarblyklik as brandkaskamer bedoel was maar in ‘n kantoortjie omskep is. In die agterste muur was twee hoë, smal vensters. Voor een van hierdie vensters was ‘n tafel met tikmasjien. Dit was Marie de Lange se kantoortjie. Hier was sy met sekere boekhouwerk besig. Sy moes voorraadlyste tik en van tyd tot tyd na die boekhouers neem. Niemand het ooit haar kantoortjie binnegekom nie, en menige van Beckett se klerke het seker nooit van die bestaan van hierdie afgeslote vertrek geweet nie. Hieraan had Marie haar ontkoming te danke.

‘Kom kyk hier,’ sê sy, en gaan staan voor een van die smal vensters en wys buitentoe, ‘dan sal jy dadelik sien waar ek gedurende die groot dorstyd water gekry het.’

Die twee vensters gaan uit op ‘n klein driekantige agterplaas wat geheel en al van al die omliggende geboue afgesluit was. Dit was nouliks twintig tree in omtrek en was klaarblyklik ruimte wat die argitek op geen ander wyse kon gebruik nie. Dit was ‘n stukkie uitvalruimte tussen die massiewe geboue aan drie kante. In een hoek van hierdie klein agterplaas was op hoë mure ‘n groot betonbak gemessel met ‘n ronde ysterdeksel in die middel. Dit was bedoel om die water van omliggende dakke op te vang en die oorvloeiende gedeelte deur ‘n pyp in een van die mure te los. Hierdie groot tenk was vol reënwater waarvan niemand behalwe Marie de Lange wis nie. Dit was blote geluk wat haar in die begin tot geheimhouding van hierdie voorraad beweeg het. Sy had die bestaan daarvan vergeet. Slegs toe die waterskaarste in die stad dringend begin word, het sy skielik onthou dat sy eendag deur die venstertjie geklim en uit blote nuuskierigheid die deksel ‘n weinig verskuiwe het. Dit het slegs ‘n klein ronde opening bedek. Sy het toe ontdek dat die betontenk vol water is, met die oppervlakte net onder die uitvloeipyp. Toe die bestaan van hierdie water haar byval, het sy dadelik maatreëls getref om dit geheim te hou. Sy het die sleutels van die staaldeur in haar besit gekry en feitlik haar verblyf hier geneem.

Hier het sy later stilletjies voedsel vergaar en toe die krisis kom, het sy haar eenvoudig in die kamertjie opgesluit totdat alles buite stil was. Niemand het haar ooit gehinder nie en die groot gebou was lank voor die einde reeds deur alle mense verlate om buite na water te soek.

Hier in haar vertrekkie had sy ‘n menigte dokumente rond verstrooid waaruit duidelik te lese was die loop van die grootste ramp wat die mensdom ooit op aarde getref het. Alle leemtes in die verhaal het Marie woordeliks aangevul.

Die Stadsraad van Pretoria het vroegtydig georganiseerde maatreëls toegepas. Byna al die blanke manlike inwoners is gewapen en op oorlogsvoet gemobiliseer. Die voorraad water in die opgaardamme is streng bewaak en een pyp is in elke afdeling van die stad aangelê om die ingesetenes van water te voorsien. Elkeen van hierdie pype is ook deur twee- of driehonderd man met bajonette aan hul gewere bewaak. Nog lank voor die einde het om hierdie pype verskriklike dinge gebeur.

Honderde is byna daagliks met bajonette om die pype doodgesteek totdat die hele organisasie uiteindelik in duie geval en die stad in chaos geraak het.

Uit Londen en ander groot stede is in die begin daagliks berigte uitgesaai wat die Stadsraad by wyse van gedrukte biljette uitgereik het. Ek kan uit Marie se versameling slegs die groot stadiums van die wêreldondergang agtermekaar stel.

Met die groot uitspuiting van die gesmelte kern van die aardbol is ‘n ontsettende verandering in die hele fisiese toestand van die aarde teweeg gebring. Die eerste en vernaamste was die opsuiging deur die inwendige holte van alle oppervlaktewater. Die verdwyning van die water na die middelpunt het ‘n verskriklike versnelling in die daaglikse draai van die aardbol om sy as veroorsaak. Die see was ‘n enorme rem wat die draaiing van die aardbol vertraag het. In die begin van die insuiging is enorme strominge veroorsaak. Die warm ewenaarwaters is na die pole gedwing, met die gevolg dat die poolklimaat byna tropies geword het en mettertyd had al die ys en opgehoopte sneeu totaal verdwyn.

Die verskriklikste van alle gevolge was egter die ophou van reën oor die hele oppervlakte van die aarde. Die geleerdes het dit aan verskillende oorsake toegeskrywe. Een het verklaar dat dit te wyte was aan die veranderde elektriese spanning van ons dampkring; ‘n ander het dit toegeskrywe aan die steeds verminderende verdamping. Maar altyd en van alle kante is hoopvolle voorspellings uitgesaai: die droogte en die verdwyn van die see is slegs tydelik. Deur inwendige druk moes die water weer na die oppervlakte gedwing word. Binne hoogstens een of twee maande sou die see weer verskyn en sou dit weer reën. Marie en ek was waarskynlik die enigste mense op aarde wat hierdie voorspelling kon loënstraf. Ons wis dat daar (in ons omgewing altans) meer as twee jaar geen druppel reën geval het nie.

So het sake oorsee geloop totdat die uitsaaistasies stil geword en die kabels op geen vrae meer geantwoord het nie.

Hier in Pretoria het dinge snel tot ‘n einde geloop. Marie se beskrywing van die toestande in die strate toe organisasie en regering begin magteloos word, was ysingwekkend.

Lank voor ‘n toestand van algemene dors werklik ‘n aanvang geneem het, het honderde mense reeds kranksinnig geword. Honderde het nakend en skreeuend deur die strate gehardloop; honderde weer het getrag om in dronkenskap die skrik af te wend. Menigtes het by tye singend en slingerend, bottels in die hand, hul verskyning gemaak. En by wyse van skrille teenstelling was daar oral groepies in wit geklee wat bid en sing en preek. Op Beckett se hoek het elke dag ‘n groot groep verskyn en van die môre tot die aand daar gebly. Hul leier was ‘n prediker wat met hese stem en later met dors-gekraakte lippe die versekering gedurig uitroep: ‘Christus is aan kom! Elke minuut mag Hy verskyn; wend jul oë opwaarts sodat ons die eerste mag wees om die Heiland te begroet en Sy voete te kus. Dra jul lyding nog ‘n paar minute! Hy kom met al die engele van die hemel om hom. Hy sal ons smart in vreugde verander. Halleluja, halleluja!’

Dronk mense – mans en vroue – het dikwels by die biddende groep aangesluit om hulle te bespot en met die verskriklikste lastering te bejeën. Niks kon hulle egter steur nie. Met gesigte bleek van dors staar hulle die lug in met uitroepe van: ‘Kom Here Jesus! Halleluja! Hy kom!’

Later het dit oorgegaan in ‘n oneindige herhaling van woorde op die een of ander gesangwysie: ‘Jesus kom! Jesus kom, Jesus!’ sonder wysiging en sonder ophou.

Marie de Lange het enkele insidente gesien wat ‘n diep indruk op haar geheue gemaak het. Terwyl die biddende groep besig was met hul aanhoudende gesang: ‘Jesus kom, Jesus kom!’ nader ‘n dronk man hulle met ‘n geopende bottel brandewyn in een hand, waaruit hy gereeld ‘n sluk neem. ‘n Tyd lank bekyk hy die biddende groep met beskonke belangstelling en toe val hy in by hul gesang met ‘n stem wat bo dié van al die andere klink. Sy gesang het bestaan uit drie reëls van ‘n ou Engelse drinkliedjie:

‘Give me six whiskeys and sodas

and put them all down in a row

– in a row

And give me six jolly good fellows

Tam-ti-tam-ti-tam.’

Verder as dit kon hy nooit met die woorde kom nie. Dan begin hy van nuuts af, totdat hy naderhand in die middel van die biddende sirkel was waar hy met groot erns al hul gebare na-aap en hul gesangwysie begelei met sy eentonige:

‘Give me six whiskeys and sodas -’

‘n Ander insident wat sy my vertel het, was die volgende: ‘n Man maak sy verskyning langs Van der Waltstraat tot by die groep bidders. Hy was geklee in ‘n wit laken wat hy om sy lyf gebind het sodat dit tot op die voete hang en sy hele liggaam bedek. Op sy kop had hy ‘n petrolblik wat diens gedaan had as ‘n blompot, sodat dit geen slegte namaking van ‘n kroon was nie. In een hand had hy ‘n lang spaansriet en in die ander ‘n groot Bybel. Toe hy die biddende skaar gewaar, roep hy hulle luid toe:

‘Julle is verkeerd; Christus kan nie hier land nie; daar is geen ruimte nie. Volg my, volg my, volg my. Ek is die Engel wat gestuur is om die Nuwe Jerusalem af te meet. Alle mag is in my hande totdat Christus kom. Hy sal op die afgemete plek neerdaal. Volg my, volg my. Kom help my om die Heilige Stad uit te meet. Die uitverkore plek is Skinner’s Court. Volg my! Hier wag julle tevergeefs! Kry jul riete by Blackwood Villa, Vermeulenstraat.’

Hy had natuurlik in sy gedagte die maatstok wat in die Bybel ‘n riet genoem word. So ernstig en so geesdriftig was hierdie ‘engel’ dat meer as ‘n derde van die gelowige groep om hom vergaar en sy woorde gretig aangeluister het en toe hy uiteindelik langs Kerkstraat voortgaan, het ‘n menigte hom gevolg en lank het Marie nog sy klinkende stem gehoor: ‘Volg my, volg my na die Nuwe Jerusalem!’ totdat die stoet in die verte verdwyn.

Net voor die einde was daar een vreeslike voorval wat ten duidelikste die uitwerking toon wat volstandige vertwyfeling op die mensegemoed gehad het.

Toe die rantsoenering van water so streng geword het dat dors die reël was, was daar aanhoudende gerugte dat die nie-blankes geheel en al afgesny sou word. Toe was daar een nag ‘n voltallige vergadering van die Stadsraad en van die hoofde van die georganiseerde gewapende magte. Die vergadering was streng geheim en gedurende die sitting is die stadsaal deur drie linies gewapen de manskappe teen indringers bewaak. Die beraadslaging het die hele nag geduur. Daar was allerhande wilde gerugte in omloop en ‘n digte drom mense het die hele nag al die strate in die omtrek van die stadsaal beset gehou.

Die volgende oggend vroeg is alle nie-blankes volgens munisipale proklamasie beveel om dié dag teen elfuur op die oop veld naas die kragsentrale byeen te kom – mans, vroue en kinders. Daar is voorgegee dat die doel was om maatreëls wat vir hul veiligheid getref is, aan hulle bekend te maak.

Die hele nie-blanke bevolking het eenparig aan die bevel gehoor gegee. Hul rantsoen was toe reeds veel kleiner as dié van die blankes en hul lyding eweredig groter.

Die groot gedrang gekleurdes is omsingel deur ‘n leër van ongeveer twintigduisend gewapende blankes wat reeds van hul offisiere geheime bevele ontvang had. Nadat hierdie kordon die gekleurde menigte op ‘n digte hoop gedwing het deur ‘n gedurige inkrimping van die sirkel, is skielik ‘n geheime sein gegee, ‘n rewolwerskoot deur ‘n offisier afgevuur, en onmiddellik daarná word die een sarsie ná die ander op die ongelukkiges gevuur. Die wat trag om te ontvlug, word deur ‘n skans van bajonette teruggedwing. Die geweeklaag van vroue en kinders, die smeekgebede van die mans, die uitroepe en gekerm van gewondes – niks het ooit een minuut ‘n staking in die slagting teweeggebring nie. Die uitvoerders van hierdie vreeslike maatreël het absoluut gevoelloos geword. Dit het aangehou totdat nie een onder die opgehoopte dooies meer ‘n teken van lewe gegee het nie.

Die dag hierná het alle orde en organisasie skielik in duie gestort. Die rantsoenpype was waterloos en toe gaan gerugte rond: ‘Daar is nog baie water by die Fonteine wat die amptenare vir hulself hou. Na die Fonteine! Dit is beter om geskiet te word as om van dors om te kom.’ Spoedig het byna alle lewendes die stad verlaat.

Maar nie geheel nie. Die siekes en swakkes moes agterbly. Marie het haarself binne haar vertrekkie toegesluit, waar sy in doodsangs die einde afwag.

Sy het ‘n gedurige en allesdeurdringende gekerm en geweeklaag van buite gehoor wat haar af en toe verplig het om haar ore toe te druk om die verskriklike geluid uit te sluit.

Dag en nag het dit aangehou, drie of vier dae; altyd swakker, altyd meer hartverskeurend. Die vierde nag het die stad stil geword. Toe sy op die balkon uitkruip, kon sy geen geluid hoor nie, geen beweging van ‘n lewende wese meer sien nie.

Al wat sy gewaar het, was die verskriklike reuk van vleeslike verganklikheid wat nog weke daarná haar alledaagse ondervinding moes wees.

Ek was egter die enigste en eerste lewende mens wat sy vanaf dié tyd gesien het.

Hier volg ‘n menigte bladsye van die handskrif wat totaal onleesbaar is en wat dr. De Kok tevergeefs getrag het om deur chemiese behandeling te herstel. Die leesbare gedeelte begin in die middel van ‘n onverstaanbare sin en vervolg dan:

Ons het in die gewoonte geraak om ure op die plafon onder die klok op groot gemakstoele deur te bring. (Klaarblyklik word nog die hoek van Beckett se gebou bedoel.) Een oggend ná ‘n lang wandeling deur die stad, sit ons hier toe ons skielik ‘n geluid hoor. Dit was ‘n geluid van mensestemme op ‘n verre afstand en die skrik wat dit by ons altwee veroorsaak het, was so geweldig dat dit ons woordeloos gelaat het. Terwyl ons nog met verbleekte gesigte na mekaar staar, begin ons agterkom dat dit swartes is wat singend en skreeuend deur die straat aankom.

‘God help ons!’ roep Marie terwyl sy my arm skielik vasklem. ‘Wat is dit?’

Binne enige minute maak die sangers hul verskyning om die hoek van Prinsloostraat. Hulle kom in die middel van Kerkstraat op. Ek het Marie vinnig na binne gedwing, van waar ons hulle deur een van die klein gewelvensters langs die klok met verkykers kon bekyk.

Daar was drie naturelle. Een was vreeslik dronk en slinger van kant tot kant van die straat. Hy was in aanddrag, met witborshemp en swart pluiskeil. Om sy skouers is ‘n bandelier vol patrone en in sy hand dra hy ‘n Lee-Metford-geweer. Dit was hy wat aanhoudend sing terwyl die ander twee, wat klaarblyklik nie so dronk was nie, af en toe ‘n geweldige kreet uit.

Ek kon sien dat Marie van kop tot voete soos ‘n riet bewe:

‘Willem, Willem,’ fluister sy my toe asof die swartes op hierdie afstand mag hoor, ‘hulle moet doodgemaak word; hulle moet dood. Jy moet hulle nie laat vrykom nie.’

Dit het voorwaar nie haar oorreding nodig gehad om my tot ‘n besluit te voer nie. Ek het dadelik gesien en gevoel dat hulle vernietig moes word. Daar was op aarde geen ruimte vir die blanke meisie en my aan die een kant en die drie gekleurdes aan die ander nie. Sonder ‘n woord het ek my geweer geneem, die magasyn gevul en die bandelier omgeslinger en toe het ek ‘n plek uitgesoek teen die tralies waar ek kon kniel en die geweer kon laat rus sonder dat die swartes my van die straat kon sien. Terwyl ek my plek inneem, roep Marie my naam. Toe ek omkyk, sien ek haar voor die venster met die groot Webley-rewolwer in haar hand.

‘Willem,’ fluister sy, ‘as jy doodraak, moet ek myself ook dadelik doodskiet! Sal deur die kop die sekerste wees?’

Met ‘n knik van my kop het ek haar vraag bevestigend beantwoord en daarná al my aandag aan die naderende swartes gewy.

Twee was gewapen met asgaaie en knopkieries; slegs die opgetooide een had ‘n geweer.

Ek het hulle ingewag totdat hulle regoor die deur van die hoek-drankwinkel was. Een sing nog altyd in ‘n Oos-Afrikaanse Bantoetaal wat ek ken. Hy was klaarblyklik ‘n swart myner uit Portugees-Oos-Afrika. Dit was sy liedjie:

‘Uriang, uriang, ubibi mahunga ronke

wakeetsi, wakeetsi rondedi?

Uvuna yami ronke

yena uvunandi ifelena na.’

(Vertaling: ‘Ek vra, ek vra, waar is julle witmense almal wat ons so lank, so lank vertrap het? Ons soek julle almal – julle wat die dood soek.’)

In die middel van sy lied het hy my koeël mooi op die linkerbors deurgekry. Ek kon die rooi kol op sy witborshemp sien uitslaan toe hy vooroor in die straat neerstort, waar hy bewegingloos op sy gesig bly lê.

Met een geweldige sprong is die ander twee binne die deur van die drankwinkel voordat ek ‘n tweede skoot op hulle kon los.

‘Kom, Marie,’ roep ek, ‘nou moet jy tot die einde by my bly. Ek kan jou nie alleen laat nie.’

Sonder ‘n woord het sy my gevolg.

Die swartes het die voordeur van die drankwinkel toegedruk. Die sydeur was gesluit. Ek wis dat daar geen ander uitgang was nie en toe ek en Marie langs die deur plaasneem, kon ons hulle binne hoor praat.

Aan hul taal kon ons dadelik hoor dat hulle Sesoeto’s is, en toe hulle ons toespreek, blyk dit dat hulle oorlams is. Een roep my smekend toe: ‘Moet ons nie doodmaak nie, seur! Ons is nie wilde Kaffers soos die ander een nie. Ons het onder witmense grootgeword. Ons sal vir die baas werk.’

‘Kom uit,’ was my antwoord. ‘Kom ongewapend uit, dan kan ons praat.’

‘Ja, my baas, ons kom, my baas,’ roep hy haastig, maar daar was ‘n lang vertraging. Toe kom een alleen uit: ‘Hier is ek, my baas. Ek is die seur se hond,’ sê hy met angstige onderdanigheid. Ek wou die taak klaarkry. Voordat hulle dood was, sou daar vir my geen rus meer wees nie. Sonder ‘n woord het ek met ‘n snelle beweging die geweer opgeruk en hom deur die hart geskiet.

Intussen had die ander een ook uitgekom en Marie links van my gewaar. Hy het dadelik op sy knieë voor haar neergesak. ‘Moet my nie doodmaak nie, nonnie. Ek het by witmense grootgeword. Ek sal vir jou werk totdat ek doodgaan. Ek sal jou hond wees. Red my, nonnie. Ek bid jou soos ek God bid.’ En toe skiet sy hom. Hy was nie verder as drie tree van haar af nie, maar sy het die swaar pistool sleg gehanteer. Die koeël tref hom met soveel geweld deur die linkersleutelbeen dat sy lyf agteroor ruk.

Ek herinner my dat Marie die oggend ‘n fraaie nuwe kostuum van swaar wit crêpe-de-chine in die damesaal uitgesoek het. Sy het ‘n slagaar in die swartman geraak en ‘n straal bloed spuit in stote teen haar aan sodat haar rok binne ‘n paar sekondes van knie tot soom met rooi strale bevlek was. Die skepsel gee ‘n gil van pyn, vou sy hande saam en spreek haar weer smekend toe:

‘Kyk hoe seer maak jy my, nonnie. Moet my nie doodmaak nie, nonnie. Help my, baas! Ek is julle hond.’ En toe hy sien dat Marie weer op hom aanlê, roep hy omhoog, nog met gevoude hande: ‘Help my, God – help my!’

Haar tweede skoot tref hom in die voorhoof, en toe hy stadig vooroor inmekaarsak, lê sy kop op haar een voet.

Onder al die dokumente was een verflenterde stuk papier wat dr. De Kock met veel moeite min of meer tot leesbaarheid herstel het. Maar ons is selfs ná herstelling nie van al die woorde seker nie. Die naam ‘Norman Angell’ is byvoorbeeld ‘n gissing. Ons kon niemand vind wat die naam gedra het nie. Dr. De Kock se herstelling lees as volg:

‘Is dit alles waar? Het dit alles werklik gebeur of is dit slegs beelde wat ek gesien het deur die toestel van my oorlede vriend, Norman Angell? My geheue is in die afgelope tyd baie swak maar ek herinner my dat Angell voor sy dood sy toestel voltooi het. Hy het dit die ‘Spektroperiskoop’ genoem. Dit was gebaseer op sekere berekenings wat Angell gemaak het met Einstein se teorie as basis. Hy was seker dat ons besef van tyd ‘n illusie was, soos die beroemde Kant honderde jare tevore ontdek had. Einstein se teorie bevestig dit volstandig. Daar is in werklikheid geen verlede, teenwoordige of toekoms nie. Dit alles is ‘n verkeerde begrip deur die menslike verstand geskep. Daar bestaan geen tyd soos die mens dit begryp nie. Alles is nou hier en teenwoordig. Daar kan niks verlede of toekomstig wees nie, behalwe alleen in die menslike verbeelding.

Angell het hierop te werk gegaan en deur die gebruik van gepolariseerde lig en ‘n kragtige elektromagnetiese veld het hy ‘n periskoop gemaak waarmee dit moontlik was om net so ver in die sogenaamde ‘toekoms’ te sien as wat die waarnemer begeer. Deur eenvoudige draaie van ‘n skroefie kon hy verder en verder in die toekoms sien deur verandering van die fokus van die periskoop.

Ek het so ‘n vae herinnering dat die toestel so ‘n verskrikking by ons twee veroorsaak het dat Angell besluit het om sy ‘periskoop’ te vernietig. Hy het ingesien dat dit alleen tot die ongeluk van die mensdom kan bydra en nie tot sy geluk nie.

‘… En nou weet ek nie of ek dit alles deur die “periskoop” gesien het en of dit werklik plaasgevind het nie. Maar wat maak dit saak? Daar is geen toekoms nie; of ek dit deur die Angell-toestel gesien het of werklik beleef het, kom op dieselfde neer. Alles het reeds gebeur; daarom is alles wat ek geskrywe het waar.’