DIE SWART HOND – Anna van der Walt

DIE SWART HOND – 2016 © Anna van der Walt

VOLWASSE FANTASIE (1 421 WOORDE)

 

Marna weet glad nie waar of wanneer die gedagte aan die swart hond die eerste keer by haar opgekom het nie. Sy kan nie onthou dat iemand haar ooit iets van ’n swart hond vertel het nie. Sy het van kleins af baie gelees, maar sy kan ook nie ’n storie van ’n swart hond onthou nie. Die gedagte was net daar. Onverklaarbaar.

Sy was een van die dogters van ’n plattelandse predikant en, as haar pa in die nag ’n plaasbiduur moes gaan hou, moes die dogters noodgedwonge saam. Al was dit nog nie die dae van grootskaalse geweld en moord op plase en plotte nie, sou dit nie baie verstandig wees om drie jong dogtertjies alleen in die pastorie op ’n plot te los nie. Dit was wanneer hulle op pad terug was, veral op maanligaande, dat die gedagte aan die swart hond grillerig langs haar rug afgeloop het. Daar was dikwels lang lanings bloekombome langs die ou plaaspaaie en, as die maan dan so deur die bome val en strepe maanlig en boomskaduwees afwisselend op die pad los, het sy skielik gedink: ‘Dis ’n nag van die swart hond.’

Sy het dan omgedraai op die agterste sitplek – dit was voor die dae van veiligheidsgordels – en haar gesig tussen die bekleedsel van die bank en die deur weggesteek. Dit sou nie help om met haar ouers daaroor te praat nie. Hulle sou dink sy is verspot, en haar susters het in elke geval dikwels vir haar gelag oor haar eienaardige idees en vrese. Sy kon eers weer die grilgedagte aan die swart hond van haar afskud as sy veilig terug was in haar eie bed.

Jare later, toe sy wyer begin lees het, en veral toe die internet beskikbaar geraak het, het sy uitgevind dat haar grilgedagte van die swart hond nie uniek is nie. Veral in die Britse Eilande is daar baie stories en mites oor swart honde. Soms is hulle voorbodes, soms draf hulle maar net op oerpaaie, of boer naby plekke van teregstelling of kruispaaie. In enkele gevalle is hulle goedaardig, maar meestal nie. Sy het die verhale oor en oor gelees en bestudeer, maar kon steeds nie verstaan hoe sý oorspronklik op die idee gekom het nie – en hier in Suid-Afrika! Eindelik het sy gedink: dit moet seker maar deel wees van wat Carl Jung die “kollektiewe onbewuste” genoem het. Dit is iets wat diep in die menslike psige leef, net soos die onverklaarbare gevoel van depressie wat sommige mense ervaar as die son begin sak. Is dit die oervoorvaders wat roer – daardie jagter-versamelaars, wat goed geweet het dat die nag gevaar bring? Dis dan wanneer die roofdiere begin jag, en dan moet ’n mens liefs veilig in jou skuilplek of grot, naby jou vuurtjie wees.

Sy is nou ouer en wyser en broei lankal nie meer oor die gedagte van die swart hond nie. Maar hier is hy vanaand nou weer – en in lewende lywe. Sy het vir ’n vriendin op ’n plaas gaan kuier, hoewel sy weet ’n vrou behoort nie meer so alleen op paaie buite die stad rond te ry nie. Maar Gerhard is dood en sy smag na sosiale omgang. En toe kuier sy en Elsie te lank en die donker oorval haar terwyl sy nog op plaaspaaie op pad is terug huis toe. Dis weer ’n maanlignag, Die maan se lig val streep-streep deur die laning bloekombome tot op die pad en die swart hond is voor haar motor, reg in die middel van die pad. Hy draf-draf-draf voor die motor uit. Daar is nie veel uitdraairuimte nie, maar as sy dit probeer, help dit nie. Draai sy links, is die hond voor haar. Draai sy regs – dieselfde. Hou sy reguit aan – die hond bly voor haar.

Sy wys haarself eers tereg: dis seker maar ’n rondloperhond wat iewers gaan kuier het en nou op pad terug is na sy eie huis, of ’n weggooidier wat nie meer ’n huis het nie. Sy gaan regtig nie toegee aan haar vrese nie! As sy stilhou, sal hy aandraf op sy eie missie. Sy probeer dit. Die hond gaan sit in die middel van die pad, draai om en kyk vir haar. Dis ’n groot hond, miskien ’n kettingboel, en hy het sulke snaakse groot geel oë!

Nou is sy regtig bang. Dan trek sy haarself bymekaar. Sy sal die vervlakste dier wys. As hy nie padgee nie, gaan sy hom platry, al beteken dit sy moet haar kar beskadig! Sy los die koppelaar en trap weer die versneller. Die hond draai om. Hy draf weer voor haar uit. Sy ry al vinniger en vinniger. Dit help weer nie. Die ellendeling bly voor haar, draf-draf-draf voor haar uit. Kan ’n hond teen meer as sewentig kilometers per uur draf? Sy kan nie bra vinniger ry nie. Dis gevaarlik op ’n kronkelende, sanderige plaaspad. Sy ry in elk geval nou te vinnig vir veiligheid op hierdie pad. Sy verminder spoed – die hond ook. Hy bly net daar, reg voor haar motor.

Daar is net een ding wat haar nou troos. Sy is amper by die aansluiting na die Kimberley-pad. As sy eers op daardie pad is, sal die dier dalk padgee. In elk geval sal sy nie meer so alleen wees op die pad nie. Die aansluiting kom nader. Die plaaspad word ’n bietjie wyer. Amper daar!

Die hond gaan sit. Hierdie keer ry sy regtig byna bo-oor hom. Sy trap vervaard rem. Hy sit net daar voor haar kar. Dan hoor sy die ongeduldige toeter agter haar, kyk in die spieëltjie, sien die ligte. Weer die skerp kwaai toeter. Wie is nou so haastig? Sien hy of hulle nie die hond hier voor haar wat haar pad blokkeer nie? Sy bly sit. Waar moet sy heen?

Die bestuurder agter haar verloor sy geduld heeltemal, swaai uit, jaag amper teen die walletjie langs die pad op in sy ongeduld om verby te kom, blaas steeds aanhoudend toeter. As hy langs haar is, sien sy dis ’n bakkie met plaaswerkers agterop. Sy kan nie sien of daar ’n wit of ’n swart man agter die stuur is nie. Wie ook al, laat hom maar gaan! Hoekom is mense so ongeduldig? Hy is amper in die aansluiting. Dan hoor sy die enjingedreun van die groot vragmotor. Die slag as dit die bakkie tref, is oorverdowend. Wrakstukke, en mense se liggame, vlieg oor die pad. Een of twee skerp stukke metaal tref haar motor, maar dis nou van minder belang. Sy het nog nooit so ’n afgryslike toneel gesien nie. Sy bly ’n rukkie versteend sit, gryp dan haar selfoon, skakel die nooddienste en die polisie.

Sy bly daarna net sit. Sy dink nie sy kan op die oomblik bestuur nie. Die skok was te groot. Die pad is buitendien vol wrakstukke, lyke en beseerdes. Sy wag vir die nooddienste. Knyp haar oë dig toe. Sy wil nie sien nie! Eers as die loeiende sirenes arriveer, die ambulans en polisiemotors stilhou, waag sy dit om weer haar oë oop te maak. Waar is die hond? Hy sit nou by haar deur. ’n Polisiebeampte kom aangestap. Sy maak haar deur oop. Dit lyk nie of hy die hond sien nie, asof hy amper op hom gaan trap. “Be careful, Sergeant,” sê sy vir hom, “This is a strange dog. I do not know whether it will bite.”

Hy kyk na haar asof sy mal is, “There is no dog.”

Hy vra haar lisensie en dan vrae oor die ongeluk en sy antwoord maar na die beste van haar vermoë, terwyl die rillings weer langs haar rug afloop. Dan haal hy die alkotoetser uit. Laat haar blaas, dink duidelik sy is dronk, maar sy weet hy sal niks kry nie.

“Can you drive, Lady?”

“Yes, Sergeant. I’ll leave as soon as you have cleared the road.”

Sy wag maar eers. Die paramedici laai beseerdes en lyke op. Die hond sit.

As die pad redelik skoon is, steek sy ’n bewerige hand uit, voel oor ’n warm, wollerige kop, kyk in vriendelike geel oë, “Dankie, ounooi se honne. Jy het waarskynlik my lewe gered.”

Hy gee ’n kort blaffie, swaai weg en hardloop die veld in. Sy kyk hom agterna, maar skielik is hy weg.

Spook? Mite? Voorbode? Beskermengel? Sy is nie meer bang nie. Sy weet net een ding: As iemand ooit die pad voor haar met sy motor versper, sal sy eers seker maak daar sit nie ’n hond voor sy kar nie voor sy verbyjaag.