deur
Dr. Seus
(vertaal: Philip de Vos)
‘n Uittreksel
_______________________________________
.
.
.
In die goeie ou dae toe die gras altyd groen was
en die water so blink soos Aspoester se
skoen was;
toe wolke nog wit was – en hoog in die lug
die Vroetelvoëls sing
in hul swiepende vlug …
beland ek een dag in die Biebelies-dal
waar bome bly groei in tienduisend-getal.
Dis oranje, en geel en dis rooi Biebelies
met blare wat wieg in die vroeg-môre bries.
.
.
.
“Meneer!” skree die ou met ‘n snuitige nies
“Ek’s die Loraks en praat vir die stom Biebelies.
Ja, namens die boom, want ‘n boom het g’n tong nie,
g’n stembande, lippe, g’n nier en g’n long nie.”
Die Loraks was wel in ‘n aaklige luim:
“Wat’s daai DING wat jy maak van my plegtige pluim?”
“Ai, meneer Loraks, moet liewers nie gil nie –
Een, enkele boom maak tog glad geen verskil nie.
Dié ding is ‘n Bruim, en ek wil jou net sê:
Dis nuttig en almal sal ene wil hê.
Dis ‘n hemp. Dis ‘n kous. Dis ‘n skoen. Dis ‘n pruik.
Jy kan hom vir honderde dinge gebruik.
Dis goed vir ‘n laken, ‘n sloop of tapyt.
Dis goed as ‘n deksel van bessiekonfyt.”
Die Loraks sê:
“Ai, maar jy praat my skoon pê!
‘n Bruim is mos iets wat geen-niemand wil hê …”
.
.
.
En toe word ek briesend … Ek gil en ek skel:
“Ja, meneer Loraks, jóú soort ken ek wel.
Jy kla en jy kibbel,
Jy mor en jy grom.
Jy’t magtige klagtes, jy babbel en brom.
Ek wéét wat ek doen, is niks minder as reg,
maar jy sê mos gedurig dis slegter as sleg!
Kom, luister geduldig na wat ek vertel.
Van nou af gaan almal my Bruime bestel.
Jy durf my nie hinder
en plaas van verminder,
gaan ek
liewer eerder
my sake vermeerder.
Ek kry meer fabrieke en kappers wat kap
en almal brei Bruime en werk hul half slap.”
En juis op dié oomblik was daar ‘n groot klap!
Dié klap was so skielik, ons skrik ons skoon pap.
En net na die klap … kom ‘n yslike knal.
Die héél laaste Biebeliesboom het geval!
.
.
.
Van al die gedink, voel ek doodmoeg en pê,
tog weet ek oplaas wat dié woordjie wil sê:
Die woordjie tensy
dui op iemand soos jy!
Tensy jý sal omgee, kom niks ooit weer reg.
Niks sal verbeter, en als sal versleg.
.
.
.