GISTER, VANDAG EN MÔRE – 2016 © Anna van der Walt
VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 891 WOORDE)
Linda kyk deur die kombuisvenster van haar meenthuis. Die erfie is klein en onder ’n afdakkie is ’n speelplek ingeruim vir klein Lientjie. Die vierjarige meisietjie met die donker vlegsels sit en speel in die sandbak – een van dié wat snags toegeknip kan word om te verhoed dat die alomteenwoordige katte daarin mors. Dit kon ’n mooi toneeltjie gewees het, maar dit is vir Linda duidelik dat Lientjie al weer met ’n onsigbare maatjie gesels.
Dit op sigself is seker nie snaaks nie. Baie kleuters het denkbeeldige vriende, maar Lientjie se vriend begin grillerige afmetings aanneem. Lientjie praat heeldag en aldag van Danie en sy ma wat so swaarkry en honger ly hier in die kamp en dan vra sy vir Linda kos vir hulle. En dis net mooi dit wat so grillerig is, want Linda het ’n vermoede dat hierdie redelik nuwe meenthuiskompleks opgerig is min of meer op die plek waar die konsentrasiekamp vir boerevroue en –kinders in die Suid-Afrikaanse oorlog geleë was. Die ou Dam van Trane, wat die vroue, volgens oorlewering, met hul bekers uitgegraaf het, is nie ver weg nie, aan die ander kant van Nelson Mandelarylaan.
Linda het al probeer om die presiese ligging van die kamp te Google, maar sonder veel sukses. Dis net duidelik dat dit wel hier teen die koppies aan die westekant van Bloemfontein was. Spook dit hier en speel klein Lientjie met ’n konsentrasiekampspook?
Sy het regtig nie nog meer trauma in haar lewe nodig nie. Sy was so lief vir Willie. Hy was vir haar so ’n mooi en aantreklike man – alles wat sy altyd as jong meisie van gedroom het, maar Willie het geblyk ’n verraaier te wees. Lientjie was maar drie jaar oud toe hy haar koel en kalm meegedeel het dat hy haar nie meer lief het nie en ’n egskeiding wil hê. Sy het agterna uitgevind dat sy nuwe liefde die enigste erfgenaam van ’n skatryk man is en sy dink dit het nogal ’n rol gespeel. In elk geval is die resultaat dat sy nou as enkelouer van ’n vierjarige dogtertjie, wat vreeslik na haar pa verlang, die mas moet opkom. Willie betaal wel onderhoud, maar het met die minimum weggekom en hy maak feitlik nooit gebruik van sy reg om sy dogtertjie te sien nie. Geen wonder die kind wend haar nou na ’n spookmaatjie nie.
Sy het Lientjie al by ’n sielkundige gehad, maar dié het die hele probleem afgemaak as ’n verskynsel wat dikwels by kleuters voorkom en wat waarskynlik vererger word deur die kind se verlange na haar pa. Linda weet egter dat dit nie die volle waarheid is nie.
Wat haar die meeste bekommer, is die kos wat so wegraak. Sy het eers toegegee as Lientjie kos vra vir Danie en sy ma en vir haar toebroodjies gemaak, waarmee sy dan na buite verdwyn het. Sy kon nie vasstel of Lientjie self die broodjies geëet het nie, maar hulle het in elk geval nie op die werf of in die asblik beland nie. Later het sy al minder broodjies gemaak, want Lientjie kan tog nie regtig so honger wees nie, maar toe begin kos uit haar kaste en yskas verdwyn. Sy het Lientjie probeer konfronteer, maar al wat sy reggekry het, was om haar kind in ’n mate te vervreem. Boonop het die hoof van die preprimêre skool wat Lientjie bywoon, haar nou ook meegedeel dat Lientjie kos by haar maatjies bedel vir “Danie en sy ma”, dat hulle haar amper moet dwing om haar eie broodjies te eet en dat sy altyd ’n deel van haar kos terugvat huis toe. As Linda egter in die aande haar koshouertjie oopmaak, is daar nooit iets daarin nie. Wie of wat voer die kind?
Die heel ergste was egter toe Lientjie siek geword het aan mangelontsteking en die antibiotika wat die dokter voorgeskryf het, ook verdwyn het. Sy kon niks uit Lientjie kry nie en was verplig om vir die apteker te sê dat die pakkie uit haar motor gesteel is om weer medisyne in die hande te kry, wat sy toe moes gaan toesluit om dit te beveilig.
Terwyl sy so bekommerd deur die venster kyk, merk sy skielik dat mense besig is om in die meenthuis langs hare in te trek. Sy sien ’n donker jong man en ’n seuntjie van ongeveer Lientjie se ouderdom wat by die huis in- en uitbeweeg, terwyl vervoerwerkers meubels indra. Waar sou die ma wees? Na ’n ruk besluit sy om die rol van die goeie buurvrou te speel. Sy maak ’n skinkbord met eet- en drinkgoed gereed. Dan roep sy na Lientjie: “Lientjie, kom ons gaan gee vir die nuwe mense hier langsaan iets om te eet en te drink.”
Lientjie lyk nie lus om saam te kom nie, “Ek wil met Danie speel.”
“Jy kan netnou weer met Danie speel, my skat. Kom ons gaan groet eers die mense.”
Miskien sal dit Lientjie goed doen as sy ’n vlees-en-bloed-maatjie in die nuwe seuntjie kan hê.
Met die skinkbord in haar hande, gaan staan sy in die oop deur van die buurmeenthuis. Sy wil vir Lientjie vra om te klop, maar dan kom die jong man uit een van die kamers en sien haar. Sy oë verhelder by die aanskoue van die skinkbord met eet- en drinkgoed, “Haai, hallo, is jy een van ons bure? Dis nou vriendelik. Danie en ek kan nogal doen met iets om te eet en te drink. Dit gaan so dol.”
Danie?! Dit skok Linda ’n bietjie, maar nou ja, Danie is ’n redelik algemene naam. Die jong man self is aantreklik met koperbruin, effens krullerige hare en donker oë, maar wat haar veral opval, is hoe sy glimlag sy oë verwarm. So baie mense glimlag met koue oë.
Sy glimlag terug, “Ja, ek onthou hoe dol dit kan gaan as ’n mens trek. Jou vrou het seker nie tyd om iets te maak nie. Toe bring ek maar. Ek is Linda Viljoen en dis my dogter Lientjie.”
Sy mooi oë vertroebel en, verbeel sy haar, of skok Lientjie se naam hom soos wat die Danie-naam haar geskok het?
“My vrou is oorlede,” sê hy, “Sy is twee jaar gelede in ’n motorongeluk dood. Dis net ek en Danie. My naam is óók Danie – ’n ou boerefamilienaam – Danie Malan.”
“Ek is so jammer,” sê Linda, “dis erg en ek kan ’n bietjie saamvoel, net my man is nie dood nie, ek is geskei. In elk geval, hier is iets vir julle om te eet en te drink. Ek sal later die skinkbord kom haal.”
Sy wil omdraai en loop, maar hy keer, “Nee wag, kom sit hier by ons en drink iets saam. Soos jy kan sien, is die eetkamer darem al bewoonbaar.” Hy draai na die kamerdeur, “Danie, kom groet die mense.”
Die seuntjie wat in die deur verskyn, lyk nogal baie soos sy pa – ook ’n donkerkop. Sy binnekoms is egter ’n skok vir Lientjie. Haar oë verhelder eers, maar dan gryp sy skielik haar ma vas, “Nee! Dis Danie, maar dis nie Danie nie.”
Linda en Danie kyk ’n bietjie geskok na haar, dan sê hy, “Linda, kom in en kom sit. Die eet- en drinkgoed is welkom, maar ek dink ook ons moet gesels. Wat is dit met Lientjie en Danie?”
Sy huiwer ’n bietjie. ’n Mens loop nie sommer met jou probleme te koop nie, maar dit was ook vir haar duidelik dat die naam Lientjie ’n reaksie by Danie Malan uitgelok het. Traag sê sy, “My kind verlang na haar pa en nou het sy hierdie denkbeeldige speelmaatjie, Danie. Ek het net soms al gewonder of hy nie ’n konsentrasiekampspook is nie. Sy bedel gedurig kos vir hom en sy ma wat so swaarkry in die kamp.”
Danie Malan word bleek en sy donker oë gaan ’n oomblik toe. Dan kyk hy weer met groot erns na Linda, “Nee! Dis moeilik om te glo, maar Lientjie se speelmaat is nie denkbeeldig nie en ook nie ’n spook nie.”
“Wat bedoel jy?”
Nou is dit hy wat ’n bietjie huiwer. Dan sê hy egter: “Ons albums is al uitgepak. Wag net ’n oomblik hier.”
Hy verdwyn weer in die kamer, kom na ’n ruk terug met ’n baie ou fotoalbum in sy hande. Hy blaai daarin, vind wat hy soek en roep die klein dogtertjie nader: “Lientjie, kom kyk gou hier. Is dit Danie?”
Hy hou die album so dat Linda ook kan sien. Dis ’n ou verbleikte en effens onduidelike foto van ’n vrou in ’n swart langmourok en ’n penkopseuntjie voor ’n tent. Die seuntjie lyk nogal baie soos die vlees-en-bloed-Danie wat nou hier by hulle staan. Lientjie kyk lank en aandagtig na die foto. Dan verhelder haar hele gesiggie, “Ja, dis Danie.”
“Maar dan ís hy ’n spook,” sê Linda ontsteld.
Die jong man se uitdrukking is onpeilbaar, “Nee, hy is nie.”
Hy blaai weer in die album en wys dan vir hulle’n skets wat ook in die album geplak is: ’n potloodskets op ou vergeelde papier, maar die gesiggie is onmiskenbaar, net soos die naam wat in kinderlike letters onderaan die skets geskryf is: Lientjie.
“Hemel, wat beteken dit alles?” vra Linda. Die een rilling na die ander loop langs haar rug af.
Danie Malan se oë is vol van ’n diep verwondering, “Die seuntjie op die foto is my oor-oupagrootjie, ook Danie Malan. Hy was saam met sy ma hier in die Bloemfontein-kamp. Hy was ’n kunstenaar, soos jy kan sien. Dis hý wat hierdie skets gemaak het van die dogtertjie wat hy altyd beweer het nie net hom en sy ma van ’n hongerdood gered het met die kos wat sy altyd aangedra het nie – nugter weet waar sy dit gekry het – maar wat ook by geleentheid sy lewe gered het toe hy baie siek geword het van al die ontbering en sy ’n eienaardige bottel medisyne gebring het wat hom gou genees het.”
“Maar my liewe genade, dis tog onmoontlik!”
“’n Mens sou so sê, nie waar nie, maar ek dink dis danksy Lientjie dat ek en klein Danie vandag hier staan. My oorgrootjie het die oorlog oorleef, later getrou en kinders gehad. Ek is een van sy nasate.”
“Maar hoe?”
“Ek weet wraggies nie, maar ’n mens kan nie met die feite stry nie. Dit lyk my so al asof daar op hierdie plek ’n soort tydwringing plaasvind, of hier ’n deurgang is na die verlede. Sou ’n mens dit parallelle werklikhede kon noem? Lientjie is in ’n sekere sin ’n tydreisiger. Moenie vir my vra hoe dit moontlik is nie, maar dat sy een is, is seker.”
Hy kyk skielik baie ernstig na die klein dogtertjie, “Lientjie, moenie ophou om vir Danie en sy ma kos te vat nie. Ek sal ook vir jou kos gee. Hou daarmee aan tot die oorlog vir Danie en sy ma verby is. Jy sien, hierdie oom en sy seun se voortbestaan is afhanklik van die kos en medisyne wat jy vir Danie vat. As daar vir hulle eers vrede gekom het – miskien kan ek en jou ma, en jy en my klein Danie dan baie goeie vriende word.”
Hy kyk weer na Linda. Sy mooi bruin oë verwarm in die glimlag wat so diep uit sy siel kom – ’n glimlag vol belofte vir ’n beter môre.