Verstekelinge na Mars

deur

Oom Willie Sutherland

____________________________

In die buitekamer van ’n huis in Pretoria sit twee maats, Japie en Frikkie, by die lig van ’n kers en wag. Dit is al byna eenuur. Langs hulle op die vloer lê twee rugsakke met koue vleis, blikkieskos, beskuit ‘ en bottels water daarin. Hulle het gelees dat die vlug na „Mars”, daardie klein rooi sterretjie wat ons saans amper reg bokant ons kan sien, ongeveer ’n week sou duur en vir die week het hulle genoeg eetgoedjies ingepak.

Frikkie en Japie het ’n waaghalsige plan. Frikkie se pa is een van die werklui wat die skip. gebou het en hulle weet presies hoe dit van binne lyk en wat alles bedags en snags in en om die skip aangaan.

„Dit is eenuur,” kondig Frikkie aan en staan op. Hy is veertien en die oudste van die twee . . . ’n vet outjie met bruin hare en lewendige bruin oë. Sy kuif hang aljimmers in sy oë en sy hemp hang gewoonlik agter by sy broek uit. Hy dra ’n bril wat hom baie na ’n padda laat lyk. Japie is dertien, is skraler as Frikkie en het swart hare en grys oë. Hy is ’n frisgeboude mannetjie en kan sy man staan as daar moeilikheid kom.

Japie kyk ook na sy horlosie, steek sy rekker agter in sy broeksak en tel sy rugsak op. Stilletjies stoot hulle hulle fietse by die agterplaas uit en sit af na die Swartkop-vliegveld waar die ruimteskip, die „MARS”, gereed lê om vroeg die volgende oggend op te styg. Die stad is stil, die strate verlate.

‘n Entjie van die lughawe af versteek hulle hulle fietse in die dekgras langs die pad en beweeg deur die veld om die vlieghawe van die teenoorgestelde kant af te bekruip.

„Ons moet versigtig wees,” maan Frikkie toe hulle plat op hulle maag deur die gras kruip in die rigting van die drie groot ruimteskepe.

Gelukkig is daar nie veel lig nie en hulle kom tot naby sonder dat iemand hulle gewaar. Duidelik sien hulle entjie van hulle af die wagte wat die skepe bewaak.

Reg voor hulle staan die geweldige groot gedaante van een van die ruimteskepe. Dit lyk byna soos ‘n groot spinnekop met ‘n dik maag en ‘n hele klomp ronde koppe wat op vier pote op die aarde staan.

„Ek weet nie hoe hierdie affêre kan vlie nie,” sê Frikkie. „Hy het nie eers vlerke nie! My pa sê egter dat wanneer daardie klomp spuitmotors wat in sy maag versteek is eers begin vuur spuit dan trek hy weg soos ‘n koeël uit ‘n geweer uit.”

Daar brand lig binne in die skip en dit skyn helder deur .die patryspoort en op die wagte wat dit bewaak. Die deur is aan die ander kant, dit weet hulle, en dit sal oop wees want daar word nog goedere gelaai.

Frikkie trek ‘n stuk lont en ‘n bondel klappers uit sy sak uit. Hy kry ‘n ondeunde glimlag op sy gesig, knik vir sy maat en begin hom gereed maak om ‘n goed uitgedinkte plan te laat slaag. Wanneer die klomp klappers begin lostrek sal jy ‘n spulletjie van ‘n ander wêreld sien. Die klomp wagte sal hulle bene breek om te gaan kyk wat aangaan en dan kry hulle die kans om ongesiens die skip te bereik.

Versigtig steek Frikkie die klappers aan die brand. Hy weet die lang stuk lont sal hulle kans gee om die kant van die skip, waar die leertjie is, en waar op die oomblik nie ‘n gewapende wag staan nie, te bereik.

Die klappers begin skiet en al wat ‘n wag is storm met gelaaide gewere na die anderkant van die skip. Soos twee stokstert meerkaaie hardloop die twee haastig na die leertjie. Haastig moet hulle egter koes, want twee manne spring by die deur uit, seil teen die leertjie af, en hardloop ook in die rigting van die skietery. Met bonsende harte haas hulle teen die leertjie uit en by die oop deurtjie in. Hulle kele is droog en hulle asems jaag. As daar nou net nie nog iemand in die skip is nie! . . . want dan, dan is altwee van hulle tot oor hulle ore in die moeilikheid.

Daar is egter niemand in die skip nie. Hals oor kop hardloop hulle die gangetjie af wat na die stoorkamers lei. Hulle hoor hoe ‘n toeter se klaende geskree buite weergalm . . . dit is seker die alarm! Met sweet op hulle voorkoppe en uitasem van die hardloop val hulle haastig agter ‘n netjies gepakte klomp kaste in. Hulle praat nie ‘n woord nie.

„Hier brand nog lig en dit beteken dat hulle nog nie klaar gepak het nie,” sê Frikkie beangs. „Ons kan maar net hoop vir die beste.”

___________________

Twee maande vantevore het die voorblaaie van die wêreld se koerante die nuus uitgeskree dat die eerste hemelruimskip gereed staan om na die planeet, Mars, te vertrek. Eers wou die mense dit nie glo nie, maar nadat die dagblaaie verduidelik het dat iemand nie besig is om grappies te maak nie en vertel het van die wonderlike resultate wat tot dusver met die skip behaal is, het die mense dit vir die eerste keer begin glo.

Dit is nie die eerste keer dat die moontlikhede van ‘n vlug na die Maan of na Mars voorbladnuus is nie, want presies vyf jaar gelede, toe dr. Gerber van Pretoria daarin geslaag het om kontak met Mars te maak deur middel van die radio, is die hele wêreld in rep en roer. Doktor Gerber het uitgevind dat daar mense op Mars woon met ‘n intelligensie gelykstaande aan ons eie en dit het die ondersoek en proefnemings in verband met ruimteskepe en hemelvaart laat opvlam in elke beskaafde land van die wêreld. Weer was dit ‘n man in Suid-Afrika, hierdie keer ‘n dr. Uys van Bloemfontein, wat die vernaamste ontdekkings gedoen het. Daar het een skynbaar onoplosbare tegniese moeilikheid oorgebly na intensiewe navorsing deur honderde geleerdes dwarsdeur die wêreld, ‘n moeilikheid wat hemelvaart onmoontlik gemaak het, totdat dr. Uys deur blote toeval en ‘n helder ingewing daarna, die probleem opgelos het.

Dr. Gerber en ander radiokundiges het nie stilgesit nadat hulle kontak met Mars bewerkstellig het nie. Die eerste kontak was eensydig. Dr. Gerber het radargolwe teen Mars laat weerkaats sodat dit weer na die aarde terugkom. Die mense op Mars het dit seker per ongeluk agtergekom en binne twee dae daarna het hulle ook van dieselfde golwe na die aarde gestuur. Dr. Gerber was juis weer met sy apparaat besig toe hy skielik hierdie eienaardige golwe begin opvang. Hy het ‘n opname daarvan gemaak en saam met ander geleerdes ‘n kode uitgewerk amper soos die wat hulle ontvang het. Die hele sakie was deksels ingewikkeld maar na ‘n paar maande kon hulle deur middel van die kode met die mense op Mars gesels en uitvind hoe dit daar lyk.

Mars se reaksie dat die mense op aarde besig was om ruimte-skepe te bou, was nie gunstig nie. Hulle het verklaar dat die mense van die aarde nooit lewendig deur die hemelruim sou kom nie. Aan die ander kant het hulle die belofte gemaak dat, indien die mense van die aarde dit kon regkry, elkeen in daardie eerste skip ‘n klein koninkrykie as geskenk sou ontvang . . . mits almal op die skip lewendig daar aanland.

Dit was ‘n verstandige aansporing. Oorhaastigheid het plek gemaak vir versigtigheid en vindingrykheid, maar tog ook vasberadenheid, nié net om ‘n „koninkrykie” te verower nie, maar ook om aan die Marsiete te wys wat die mense op aarde kon doen. Daar was so baie Afrikaners wat die reis na Mars wou meemaak dat dr. Uys letterlik duisende moes afkeur. Hy het slegs mense gekies wat tegnies van waarde was en wat navorsingswerk op Mars kon doen.

Toe die skip eindelik gereed was is die langverwagte datum van die vertrek bepaal . . . en toe het die mensdom omtrent nie meer geslaap nie … so gretig het hulle die dag van die vertrek afgewag.

__________________

Langsamerhand word dit stil aan die buitekant van die groot ruimteskip en weldra hoor die seuns stemme binne in die skip. Hulle kyk mekaar onthuts aan. As hulle hier gevang word is daar groot moeilikheid aan kom! Hulle hoor ‘n gewerskaf, toe voetstappe wat hulle wegkruipplek nader . . . en dan stemme. Hulle hoor duidelik hoe daar nog swaar voorwerpe reggesit word en dan verdwyn die voetstappe en die stemme weer. Die twee kêrels vee die sweet van hulle voorkoppe af. Hulle voel skielik vaak want dit is baie laat en die spanning maak ‘n mens maar baie moeg. Frik kyk na Japie.

„Wel, ou Jaap, as ons lewendig anderkant uitkom dan kry ons elkeen ‘n koninkryk.”

„Ja, ou Frik, dit moet darem lekker wees om ‘n koning te wees. Reken net! ‘n Koning . . . ‘n leër, ‘n vloot, ‘n lugmag en baie onderdane. In my koninkryk gaan twee Sondae wees. Daar sal net drie uur skool elke dag wees en lang vakansies. Elke kind bo vier jaar moet ‘n trippens per dag sakgeld kry, van sewe jaar af ‘n sikspens en van twaalf jaar af op een sjieling. Wanneer ‘n kind tien jaar oud is moet hy ‘n fiets kry en as hy agtien is, ‘n motorfiets. Vrugte stelery sal nie meer strafbaar wees nie en die aanhou van kwaai honde sal verbode wees.”

„Ja-nee,” antwoord Frik. ”Ek gaan ‘n daaglikse uitreiking van gratis roomys aan kinders onder vyftien verpligtend maak.”

„En koeldrank ook,” besluit Japie. „My land gaan ‘n kinderparadys wees en jy kan my glo ek gaan die grootmense … en veral onderwysers, kortvat.”

„Ek stem saam.” En so droom Japie en Frikkie totdat hulle eindelik aan die slaap raak.

_____________________

Japie stamp skielik aan Frikkie wat verwilderd orent kom.

„Wat is dit?”

„Dit is die spuitmotors wat besig is om warm te word,” skree hy in sy maat se oor, want die geluid is so geweldig dat hulle moet skree om mekaar te kan hoor. „Ons gaan seker enige oomblik vertrek.” Hy steek haastig sy hand in sy sak en haal twee stukke sponsrubber uit sy sak uit. „Steek dit in jou mond en byt met jou tande daarop vas!”

„Waarom?” vra Japie.

„Ek het gehoor my pa sê dr. Uys en die ander manne gaan dit almal doen. Dit is glo om skok af te weer!”

Japie steek haastig die sponsrubber in sy mond en klou krampagtig aan die toue vas waarmee die swaar kiste vasgemaak is. Frikkie gewaar dit en wikkel hom ook styf tussen twee kaste in.

Die geluid van die spuitmotors word al harder en harder en bereik naderhand so ‘n hewige hoogtepunt dat dit vir hulle voel asof hulle oordromme gaan bars. Binne ‘n paar oomblikke het al die manhaftigheid die twee verlaat en begin die trane van vrees vryelik uit Japie se oë loop. Frik maak of hy dit nie sien nie maar sy eie oë is so nat dat hy hulle skaars kan oophou. Hier binne voel hy hoe sy hart geweldig bons. ‘n Oomblik later voel hy die skip begin vinnig beweeg en eensklaps sit sy hart in sy keel . . . en dan voel hy skielik hoe elke druppel bloed uit sy kop gesuig word deur die opwaardse beweging. ‘n Oomblik later verloor sowel hy as Japie hulle bewussyn.

_____________________

‘n Uur later is Japie die eerste om sy bewussyn te herwin. Hy stamp teen Frikkie.

„Die son skyn al,” fluister hy gespanne. Frikkie brom en draai ‘n keer om. Japie skud hom weer.

„Watsit?” vra Frikkie vererg en gaap.

„Die son skyn al!”

Frikkie staan regop en eensklaps word hy asvaal. Hy tel sy een voet .op en dan skielik hang hy in die lug. Japie kom verwilderd orent en styg tot so ‘n vier voet van die grond af waar hy soos ‘n veertjie in die lug bly hang. Hy kyk net een maal na Frikkie en dan begin hy kliphard huil. Hy sukkel met sy hande en sy voete om paaie deur die lug te grawe om weer op die grond te kom maar alles help hom niks: Hy bly doodeenvoudig in die lug hang. Frikkie is vir ‘n paar oomblikke uit die veld geslaan en dan begin hy hardop lag dat jy hom waar kan hoor. Dit dien om ‘n end aan Jaap se gehuil te maak • en verdwaasd gaap hy vir Frikkie aan.

„Waaroor lag jy?”

„Ek wens jy kan jouself sien!”

„Nou maar . . . nou maar waarom hang ons dan in die lug?”

„Ek het skoon vergeet. My pa het een aand vertel dat ‘n mens hier tussen die hemel en aarde geen gewig het nie omdat die swaarte-krag van die aarde nie meer daar is om jou voete op die grond te hou nie. Hy het vertel dat dr. Uys en die ander manne glo skoene moet dra wat magnete onder aan die sole het. Met daardie skoene kan ‘n man glo maklik teen ‘n loodregte muur opklim soos ‘n vlieg, sonder om af te val.”

„Maar hoe gaan ons weer op die grond kom sonder die spesiale skoene?”

„Ek weet nie . . . ek sal ‘n plan maak. Wag, gooi vir my jou rekker sodat ek die een punt aan daardie plank kan vashaak. Dan trek ek myself af grond toe en sal jou dan help.”

So gesê, so gedaan. ‘n Rukkie later staan hulle albei op die grond en klou aan die toue vas. Stadig beweeg hulle na een van die patrys-poorte en kyk uit na buite.

„Dit is pikswart nag buite en tog skyn die son!” sê Japie en vergeet om sag te praat. Hy is dood verbaas, dat hy glad nie meer die geluid van die spuitmotors kan hoor nie. Frikkie verduidelik dat hulle soveel keer vinniger as die spoed van klank beweeg dat hulle die klank as’t ware heeltemal laat agterbly.

„Hier waar ons nou is, is geen lug wat kan blou wees of die sonstrale ‘n glans kan gee nie. Daar is niks vir die strale waarteen hulle kan weerkaats nie en derhalwe is die hemel pikswart. Hier is geen dag of nag nie daarom is die sterre so helder.”

Deur die patryspoort kan hulle duidelik die ander twee ruimte-skepe sien. Die strale van die son skyn helder teen die blink opper-vlaktes en in sy hart voel Frikkie bly dat nie een van die twee agter-gebly of miskien verongeluk het nie.

„Maar dit lyk nie vir my of ons beweeg nie,” sê Japie.

„Dit lyk maar so,” antwoord Frikkie. „Hoe ongelooflik dit ook al lyk, is ons op die oomblik besig om teen ‘n spoed van ‘n hele paar duisend myl per uur te beweeg. Dit is omdat die afstande tussen die sterre so groot is dat dit vir jou lyk asof ons stilstaan.”

„Maar waar kom jy aan al die kennis?” wil Japie weet.

„O, ek het elke aand as my pa hulle daaroor gesels alles gesit en aanluister. En soos jy weet was dr. Uys ‘n hele paar keer in ons huis en het baie te vertel gehad.

Vir ‘n lang ruk staan hulle voor die patryspoort en kyk na die swart hemel waarin die sterre met ‘n onaardse prag blink. Al waarvan hulle bewus is, is ‘n ligte trilling in die skip . . . en dan, opeens gaan die deur oop en ‘n man staan hulle met ongeloof op sy gesig en aangaap.

„Hoe op aarde . . . ?” Frikkie en Japie is lam geskrik.

„Wat maak julle hier!”

„Ons . . ons wou sommer . . . sommer saamry na Mars toe, Oom . . . ” antwoord Frikkie hees. Die man is so kwaad dat dit lyk of hy hulle enige oomblik by die patryspoort gaan uitgooi. Dan sê hy:

„Ek dink julle gaan elkeen ‘n dekselse pak slae kry. Kom saam met my na dr. Uys toe.”

„Maar, Oom . . . ons kan nie . . . ons kan nie loop nie,” sê Frikkie met ‘n huilstem.

Die man stap met sy swaar skoene ligvoets na hulle toe, neem elkeen aan ‘n arm en stap met hulle deur ‘n kort gang na ‘n ander vertrek toe. Voor hulle staan dr. Uys en dit lyk asof hy nie wil glo wat hy sien nie.

„En wat gaan hier aan?”

„Twee verstekelinge, Doktor.”

„Magtie, Frikkie, wat maak jy hier … en wie is hierdie?”

„Dis my maat Japie Kruger, doktor Uys . . . ons . . . ons wou baie graag saamgaan na Mars toe en omdat daar geen seuns mag saamgaan nie het ons gisteraand stilletjies . .”

„En wat gaan julle ouers sê van die skielike verdwyning?”

„Ek het gisteraand ‘n brief huis toe gepos om vir my pa te laat weet waarheen ons gaan,” antwoord Frikkie. Dr. Uys staan hulle ‘n paar oomblikke besluitloos en betrag en dan kom daar ‘n glimlag op sy gesig.

„Nou ja, en nou is julle hier. Wat gaan ons met hulle maak, Muller?”

„Ons sal hulle maar in die werk moet steek, Doktor. Mense wat hulle op skepe versteek moet gewoonlik vir hulle kos en passaat werk.”

„Ons sal werk, Oom,” sê Japie verlig . . . en vra toe met ‘n temerige stemmetjie: „Dink Oom ons sal ook elkeen ‘n koninkryk kry?”

„Ek weet nie, ou seun,” antwoord dr. Uys laggend. Mars weet nie hoeveel van ons kom nie. Dit is ‘n saak waaroor die mense daar sal moet besluit. En nou, na die kombuis toe met julle twee. Muller, gaan soek vir ons twee van die kleinste pare stewels met die magnete onder sodat ons koks nie dalk netnou soos vlieë teen die dak vassit nie.”

So in die stilligheid is die twintigtal geleerdes maar baie bly dat die twee seuns hulle verskyning gemaak het want hulle hou glad nie van die idee om self skottelgoed te was en potte te skrop nie. Dr. Uys laat ‘n radioboodskap na Pretoria stuur om te laat weet dat die seuns veilig is . . . en hierdie radioboodskap word voorbladnuus dwarsdeur die wêreld. Frikkie en Japie het dit later eers te sien gekry:

„TWEE JONG SEUNS VERSTEEK HULLE OP RUIMTESKIP.”

„Two BOYS’ BID FOR A KINGDOM.”

 . . . en so meer.

En toe kry die seuns ‘n stukkie nuus . . . so wonderbaarlik . . . ! so ontsettend dat hulle dit nie kan glo nie. Die reisgeselskap het op nommer nege-en-negentig besluit om eers ‘n landing op die maan te bewerkstellig om die landingsapparaat te toets. Die rit na Mars sou dan daarvandaan voortgesit word.

„En wanneer sal ons op die maan aankom?” het Frikkie met ‘n bewende stem gevra.

„Ons is al byna daar,” het dr. Uys geantwoord.

_________________________________

„Dis baie beter as om agter die kaste weg te kruip,” sê Frikkie toe hulle besig is om skottelgoed te was. „Nou sal ons tog behoorlik kos kry en darem tog ‘n bietjie met die ander lede van die bemanning kan gesels.”

„Definitief,” antwoord Japie. „En nou sal ons ook behoorlike slaapplek kry. Ek wonder net of ons ons koninkryke gaan kry.”

„Ons moet! Hulle het gesê almal wat op die eerste skepe is wat land, sal kry. Hulle het niks van verstekelinge gesê nie . . . buitendien weet hulle nie hoeveel van ons kom nie.” Frikkie skuif sy bril op die punt van sy neus en lyk baie ernstig as hy sê: „Ek gaan die mense op Mars wys hoe ‘n land regeer moet word.”

Gedurende die volgende uur het die maan al groter en groter geword. Hulle was nog besig om die tweede seksie skottelgoed te was toe dr. Uys hulle skielik laat roep. Hy staan by ‘n groot patryspoort en kyk na die maan wat vinnig besig is om nader te kom. Die twee van hulle gaan staan langs hom.

„Kyk, kêrels, wanneer ek instruksies gee, gaan julle na een van daardie banke daar oorkant en gaan lê daarop sodat ons julle stewig kan vasbind. Ons moet die ruimteskip omdraai sodat ons met die-selfde krag wat die skip stoot die aantrekkingskrag van die maan kan weerstaan. In ander woorde, ons moet weer ,omdop’ om op die maan te gaan sit soos ons van die aarde af weg is.”

„Hoe lank gaan dit nog duur?” verneem Frikkie.

„Ongeveer ‘n uur. Was dadelik die skottelgoed klaar sodat dit in die kaste kan toegesluit word anders het ons nie ‘n heel koppie of piering oor as ons op die maan land nie.”

‘n Halfuur later is hulle klaar met die skottelgoed en dan nael hulle na die eerste en naaste patryspoort om te kan sien wat buite aangaan.

Die maan is nou naby . . . so naby dat hulle duidelik kan sien hoe die hele oppervlakte daarvan lyk. Die lig van die son wat deur die maan weerkaats word, is so helder dat die twee onwillekeurig hulle oë moet knip sodat dit nie te veel moet water nie.

„Magtie! die maan lyk vir my nou net soos ‘n miershoop wat ‘n man met sy voet oopgeskop het,” sê Japie met ‘n paar groot oë.

„Dit kan jy nog ‘n keer sê,” antwoord Frikkie. „En dan kan jy nog byvoeg dat die mense op die aarde nie ‘n idee het dat hier nie werklikwaar ‘n man in die maan is nie.”

„Dit sien ek nou,” merk Japie op. „Jy weet my oupa het altyd gesê daardie man wat ons op die maan kan sien met die drag hout op sy rug daar moet sit omdat hy op ‘n Sondag gaan hout haal het. Waar is die man met die drag hout nou! Maar watse groot gate is daardie?”

„Dit is ou, dooie vuurspuwende berge ou maat,” antwoord Frikkie. „Die maan moes eeue gelede as’t ware binne in rooiwarm gewees het. Nou lyk hy regtig soos ‘n stuk kaas waardeur die muise honderde tonnels gegrawe het.”

Die skel geluid van ‘n alarm word gehoor en die twee stap haastig na die kajuit waar dr. Uys hom bevind.

„Toe julle twee . . . dadelik op daardie banke met die spons-rubber kussings. Muller! maak hulle gou vas. Dit is nou net ‘n kwessie van twintig minute dan moet ons omdop.”

Toe die twee hulle kom kry is hulle stewig vasgegespe. Hulle kan egter alles sien wat om hulle aangaan. Van die ander bemanningslede gaan neem ook posisies in op die banke, gespe hulleself vas en steek dan stukke sponsrubber in hulle monde. Dr. Uys gaan sit voor die kontrolepaneel en gespe homself op die stoel vas. Vir die eerste keer gewaar Frikkie en Japie dat die stoel teen ‘n muur vas is, op so ‘n manier dat die doktor dit al in die rondte kan draai sodat hy een oomblik regop sit en die volgende met sy kop na onder hang. Vir die eerste keer ook gewaar hulle dat die kontrole so ingerig is dat dit dieselfde patroon van onder of van bo vorm.

‘n Rukkie later voel hulle skielik hoe die vaartuig stadig begin draai en net so stadig draai hulle banke sodat hulle in ‘n normale posisie bly lê. Vir ‘n kort rukkie hoor hulle die geweldige lawaai wat die spuitmotors veroorsaak en sien deur die patryspoort hoe die maan allerhande katerjawels aanvang. Die grond kom geweldig vinnig nader en dan eensklaps is daar ‘n harde skok wat hulle heen en weer oor die banke rondslinger. Dan skielik ‘n doodse stilte.

Doktor Uys maak sy gespes los en stap oor die vloer, wat netnou, die dak was, na die manne toe en begin hulle losmaak.

„Wel, kêrels, dit het makliker gegaan as wat ons oorspronklik verwag het. Muller! kom gou hier. Jy, ek en Van Aard sal die eerste uitgaan. Sorg asseblief dat die ruimtepakke gereed is.”

‘n Halfuur later staan die seuns en kyk hoe die manne deur. ‘n dubbele deur na buite stap. Hulle hardloop na ‘n patryspoort en tuur na buite. Hulle sien die ander skepe ‘n entjie van hulle af en hoe die drie manne, gekleed in die eienaardige rubberpakke en groot glasballe oor hulle koppe, ‘n entjie van die skip af wegstap. Dr. Uys het ‘n instrument in sy hand waarmee hy heen en weer oor die oppervlakte van die maan beweeg.

„En wat maak hy nou?” vra Japie.

„Dit is wat hulle noem ‘n Geiger-teller. Dit is ‘n instrument wat aantoon of daar moontlik enige radio-aktiwiteit op die maan aanwesig is. As daar enige radio-aktiwiteit is, sal hulle dadelik na die skip terugkeer.”

„Maar sê vir my,” vra Japie, „wat is nou eintlik radio-aktiwiteit?”

„Tag, maar jy is onnosel . . . ! ek sal later aan jou vertel. Maar het jy al ooit soveel dooie berge, vlaktes en skeure in jou lewe gesien. Kyk daardie geweldige skeur aan jou linkerkant. Dit moet seker ten minste twee of drie myl wyd .wees. Dit lyk of die maan skielik gebars het. Kyk hier kom die manne terug.”

Dit is ook so. ‘n Paar minute later maak dr. Uys en sy geselle weer hulle verskyning en nadat die ruimtepakke verwyder is, sê hy haastig: „Ek dink ons moet maar dadelik vertrek. Hierdie gedeelte van die maan is geweldig radio-aktief en warm en ons skip is nie genoegsaam beskut daarteen nie. As ons ses uur lank hier moet lê, gaan dit vir almal in die skepe gevaarlik word.”

‘n Halfuur later, nadat hulle weer op die ban e vasgebind is, vertrek die ruimteskip met ‘n onaardse lawaai van die maan af weg.

_______________________

Die reis na Mars het sonder enige verdere insidente verloop. Frikkie en Japie se harte het al vinniger begin bons by die gedagte daaraan dat hulle binne .die volgende uur op die planeet sou land. Hulle het egter geen wetenskaplike belang daarby gehad nie. In hulle geestesoog was daar net een prentjie . . . elkeen van hulle het net hulle koninkryk voor hulle gesien en in hulle verbeelding paleise, soldate, vliegtuie en roomys in die vooruitsig gestel.

Mars word groter. Hulle sirkel een maal om die planeet terwyl die radio van Mars af, in die kodetaal, instruksies aan hulle gee waar om te land.

Wat die seuns deur die patryspoorte sien, is groen velde by die duisende, omgrens deur kanale en in elke veld ‘n kleurryke dorpie met ‘n groot sentrale gebou. Dan is hulle skielik oor ‘n groot stad met pragtige geboue van verskillende kleure en hoë, dun torings. Met blink oë kyk hulle na die pragtige toneel.

Die aangewese landingsveld is buitekant die stad. Frikkie en Japie sien duisende mense op die kaal vlakte staan terwyl die skip laer en laer afsak. Hulle sien hoe die mense waai en jubel. Die gedonder van die spuitmotors is nou so luid dat hulle niks kan hoor nie. Eers wanneer die skip weer ‘n keer hard op sy vier bene te lande kom en die motors afgesluit word, kan hulle weer hoor wat om hulle aangaan. Hulle hoor ‘n geluid soos die geloei van ‘n sterk wind . . . ‘n onaardse, vreeswekkende geluid.

Die bemanning van die ruimteskip kyk vraend na mekaar en dan haal dr. Uys sy skouers op.

„Ons kan nie verwag dat hulle net soos ons moet lyk nie. Is julle gereed? Maak oop die eerste deur . . . nee wag, laat ons eers versigtigheid aan die dag lê en die atmosfeer toets. Daar mag giftige gasse in die lug wees.”

Haastig begin die skeikundiges met hulle proefnemings en tien minute later glimlag hulle breed.

„Die lug is ‘n bietjie dunner as op die aarde maar daar is geen giftige gasse teenwoordig nie. Die suurstof hoeveelheid is ook minder en julle sal ‘n bietjie vinniger asemhaal. Verder sal daar geen ongemak wees nie.”

Hulle ,stap uit, die twee seuns laaste, hulle gesigte vol vrees en afwagting. Buite deins hulle terug.

Voor hulle staan ‘n groep wesens . . . ongetwyfeld die verwelkomingskomitee, afskuwelike gedaantes met vier bene en vier arms, ‘n plat, benerige kop en drie rooi oë. Die mond is net ‘n spleet in die benerige kop. Die ore, waarvan daar ook drie is, lyk soos die horings van ‘n takbok. Daar is geen neus nie. Daar is slegs ‘n aantal klein gaatjies bokant die spleet wat waarskynlik die mond moet wees. Verskrik staar die twee seuns hulle aan. Hulle het nie monsters verwag nie!

Die leier van die komitee begin praat. Die geluid is spookagtig, soos die geluid van wind deur ‘n verlate huis. Dr. Uys antwoord en die seuns merk dat die Marsiete effens terugdeins as sy stem soos ‘n donderslag in vergelyking met hulle s’n klink. Dan kom die twee leiers bymekaar en deur middel van ‘n masjientjie wat ‘n eienaardige geluid maak begin hulle met mekaar in die kode gesels. Daarna neem die komitee hulle na ‘n voertuig wat soos ‘n lang slang lyk en net soos een oor die grond kronkel. Hier ontmoet Japie en Frikkie vir die eerste keer die bemanning van die ander twee ruimteskepe wat hulle vriendelik groet en begin uitvra hoe dit met hulle afgeloop het nadat hulle ontdek is. Hulle kom voor ‘n lang, wit gebou tot stilstand.

Binnekant die gebou is alles ligpers. Alles is pragtig om te sien maar só onaards, só vreemd dat die groepie aardsmense se senuwees uiters gespanne raak. Hulle neem plaas in ‘n groot saal vol Marsiete. Die sitplekke is paddastoelagtige goeters, maar sag en gemaklik.

Gedurende die lang geselsery wat volg, styg die spanning en vrees in die seuns se harte: Hier wil hulle nie bly nie! Hier ken hulle niks, weet niks en vrees alles. Hulle wens ampertjies dat hulle maar liewer op die skip agtergebly het en in sy hart maak Frikkie hom klaar om sy vuiste deeglik te laat geld indien hierdie afskuwelike wesens miskien met verraad in hulle hart sit en wag om hulle aan te val en te vermoor. Hy wonder hoe dit sou voel om ‘n vuis teen daardie benerige gesig te plant en onwillekeurig dink hy terug hoe dit gesmaak het toe hy per ongeluk ‘n muur met sy kneukels raakgeslaan het.

Toe word hulle skielik deur ‘n Marsiet aan die arms geneem en vorentoe gestoot. Die aardige geloei van die wind begin weer en hulle kom agter dat die Marsiete hulle toejuig. Die leier moes seker iets in hulle guns gesê het. Dr. Uys moes vertel het wat daar gebeur het en hoe hulle, hulle op die een skip versteek het. In die middel van die vloer staan die seuns, met duisende rooi oë op hulle gerig.

„Sê iets,” beveel dr. Uys, en glimlag hulle gespanne toe.

Maar die seuns kan nie ‘n woord uitkry nie. Hulle weet dood-eenvoudig nie wat om te sê of hoe om dit te sê nie. Dr. Uys neem hulle terug na die paddastoele en sê: „Julle gaan ook elkeen ‘r koninkryk kry … maar ek dink julle gaan maar taamlik teleurgesteld wees. Dit is, wat ons by ons noem, ‘n plaas. Een van daardie groen weivelde met ‘n dorpie daarop.”

„Nee wat, ons wil liewer huis toe gaan,” sê Japie en Frikkie stamp hom aan die arm.

______________________

Gedurende die volgende veertien dae het hulle ‘n yslike groot deel van die planeet, Mars, gesien en met oop monde alles om hulle aanskou. Van die eerste dag af egter was daar ‘n merkbare spanning onder hulle en elke man, behalwe hulle twee, het gewapend gegaan. Die leier van die komitee sou aan dr. Uys vertel . het dat die onderkoning hulle nie goedgesind is nie en enige oomblik verraad kon pleeg. Hy was dan glo bang dat daar duisende van die mense van die aarde op Mars sou aankom en die Marsiete van hulle grond en eiendom beroof. Om daardie rede het hulle elke nag in die ruimteskip gaan slaap en wagte is buite geplaas om te sien dat die drie skepe nie dalk beskadig word nie. Gedurende die dag het hulle twee gewoonlik saam met Muller gestap aangesien hy met ‘n ligte masjiengeweer gewapen was en die enigste was wat hulle twee volkome kon beskerm.

Die Marsiete wou natuurlik weet watter snaakse goed dit is wat die aardmense rondkarwei. Dr. Uys het verduidelik dat dit instrumente is waarmee hulle uitstralings van radio-aktiwiteit in die grond bespeur en verduidelik dat die radio-aktiwiteit giftig vir die menslike liggaam is.

Etlike keer het die seuns hulle boeglam geskrik wanneer hulle op een van die vreesagtig maar onskadelike diere van Mars afkom. Diere so groot soos ‘n ry van tien perde agtermekaar en wat op ‘n menigte dun, horingagtige pote kruip. Amper soos ‘n monsteragtige duisendpoot met ‘n kop soos ‘n geitjie. Diere so groot soos ‘n olifant maar byna bolrond en vol penne wat omtrent drie voet lank is en wat ‘n geluid maak ampertjies soos ‘n outydse motortoeter. Die twee seuns het hulle elke keer bleek geskrik aangesien hulle nooit verwag het dat daar ook sulke gedrogte kon bestaan nie.

___________________________

Frikkie het die eerste keer agtergekom dat daar aanslae op hulle lewes gemaak word. Hy het skielik ‘n suisgeluid langs hom gehoor. Eers het hy gedink dit kan ‘n by of iets wees maar toe kom hy skielik agter dat ‘n Marsiet, wat half verskuil agter ‘n ander klomp gestaan het, ‘n eienaardige instrumentjie in sy rigting hou . . . en weer ‘n keer het hy daardie eienaardige geluid gehoor en yskoud geword toe ‘n Marsiet, wat skuins agter hom staan, skielik ‘n aardige geluid maak en op die grond neerplons.

Dit het onmiddellik ‘n geweldige opskudding veroorsaak. Frikkie het in die rigting van die sluipmoordenaar gewys en Van Zyl een van die ander skepe se bemanningslede, het op die Marsiet losgebrand met sy geweer en hom verwond. Die ou leier van die groep en vriend van dr. Uys het dadelik om ‘n verduideliking gevra en toe dr. Uys vertel wat gebeur het, is die sluipmoordenaar gevang en sumier van die gras af gemaak. Frikkie en Japie het naar geword toe hulle die slagting moes aanskou maar toe hulle sien dat daar geen bloed nie, maar wel ‘n waterige groen vog uit die Marsiet uitloop, het hulle oë so groot soos pierings gerek en het die naarheid dadelik verdwyn.

„Ons moet hier weg, en net so gou as moontlik,” het dr. Uys gesê toe hulle weer by die ruimteskip aankom. „Die wêreld word nou gevaarlik. Ons weet nie watter soort wapens hulle tot hulle beskikking het nie en as ons skepe beskadig word, bly ons hier sit vir die res van ons lewens. Ons kan nie langer bly nie en ek is tevrede met die inligting wat ons versamel het om na die aarde terug te neem. Ek dink ek moet maar aan ons ou vriend Lastos verduidelik en môre vertrek.”

„Hier bly ek nooit,” sê Muller. „Ons is te gewoond  aan ou moeder aarde en sal nooit hier aard nie. Alles is te anders en ons sal ons nooit hier kan aanpas nie . . . buitendien het ek nog so ‘n rooikop nooi wat op my wag en waarskynlik het die twee seuns ook elkeen ‘n nooi daar ver in die ou Transvaal.” Frikkie en Japie bloos geweldig maar lag ook maar as die ander manne begin skater.

„Hulle kan maar hulle koninkryke hou,” sê Frikkie. Japie stem volkome met hom saam en tel ‘n paar klippe op vir sy voëlrek.

„Die aandenkings wat ons van die Marsiete gekry het,” sê dr. Uys, „sal op die aarde ‘n fortuin werd wees. Daardie diamant wat julle twee, present gekry het, kan julle gaan verkoop en met die geld ‘n plaas koop.”

„Nee wat!” antwoord Japie. „Wat wil ek nou met ‘n plaas maak ! Die heel eerste wat ek vir my gaan koop, is ‘n trapfiets en as daar dan nog genoeg geld oor is, koop ek vir my vier wiele vir ‘n kar en ‘n hele gelling roomys.”

Daardie nag het hulle meer gerus geslaap . . . tot ongeveer sesuur die volgende oggend. Die twee word skielik wakker en binne ‘n oogwenk vind hulle dat die hele ruimteskip in rep en roer is. Met nagklere en al hardloop hulle na die kontrolekamer en vind dat die drie ruimteskepe deur ‘n tweeduisend vyandige Marsiete omsingel is. In hulle hande dra hulle eienaardige instrumente en dit is duidelik dat hulle klaarmaak om die instrumente te gebruik.

Doktor Uys skakel dadelik die radiosender aan en gee haastige instruksies aan die ander twee skepe.

„Maak die patryspoorte oop en begin vuur sodra dit lyk asof hulle wil moeilikheid maak. Moet nie voor die tyd skiet nie. Wees baie versigtig en skakel alle spuitmotors aan . . . ons vertrek oor tien minute.”

Die seuns sien hoe Muller na ‘n patryspoort hardloop, dit haastig oopmaak en die masjiengeweer se bek deursteek na buite. Binne die volgende oomblik hoor hulle hoe die spuitmotors begin vuur . . . en dan klap daar harde skote teen die wande van die skip. Gou kom hulle agter dat dit een of ander iets is wat die Marsiete na die skip vuur en dit word ‘n sekerheid wanneer dr. Uys skree:

„Hulle is besig om op ons te vuur maar dit lyk nie of die ammunisie enige skade veroorsaak nie. Skiet ‘n paar skote!”

Muller knyp los met die masjiengeweer en in ‘n ommesientjie lê daar ‘n twintigtal Marsiete op die grond. Die ander blaas haastig die aftog en gaan staan ‘n ent van die skepe af.

Weer ‘n keer kom hulle nader en met die eienaardige instrumentjies word skote afgevuur in die rigting van die skip. Weer begin die manne op die Marsiete lostrek en nog ‘n keer blaas hulle die aftog.

„Ons is gereed om te vertrek!” skree dr. Uys. Binne die volgende oomblik egter is daar ‘n geweldige slag en die dik glasplaat voor die kontroleplaat spat in ‘n duisend stukkies Frikkie voel net ‘n geweldige slag teen sy kop en dan word alles duister voor hom. Japie hardloop na sy maat toe en sak langs hom neer. Hy sien dat Frikkie bewusteloos is en dat daar ‘n straal bloed langs sy slaap afloop. Binne die volgende oomblik staan die skip se geneesheer langs hom en na ‘n haastige ondersoek word hy daarvan verseker dat sy maat nie ernstig verwond is nie. Japie hoor duidelik hoe dr. Uys haastig bevele gee deur middel van die luidsprekers.

„Ons het gelukkig ‘n ander stuk glas maar ons kan nie vertrek voordat dit ingesit is nie . . . en dit gaan tyd neem. Daar is nou net een ding. Ons moet hulle goed onder die lood steek totdat hulle op ‘n afstand is, dan maak ons ‘n aanval van ons eie en hou hulle so ver weg dat hulle ons geen skade kan aandoen nie.”

Japie hoor hoe die bevele gegee word en sien hoe twee manne vir Frikkie wegdra na die ongevallekamer.

‘n Minuut later begin die manne van die drie ruimteskepe maai onder die vyandige Marsiete en vyf minute later borrel hulle na buite om ‘n gekonsentreerde aanval op die vyand te maak. Talle Marsiete bly in die slag en die res laat spaander so haastig as wat hulle vier bene hulle kan dra. Op ‘n afstand van twee tot drie myl kom hulle tot stilstand en deur die verkykers kan die manne sien dat hulle besig is om haastig te beraadslaag. Haastig begin die manne die stukke glas uit die opening verwyder, die klampe word losgeskroef en ‘n uur later word die groot nuwe glasplaat versigtig in die opening geplaas. Nog ‘n uur later is die skip gereed om te vertrek.

Skielik gewaar Japie dat die Marsiete weer nader kom en weer met ‘n gekonsentreerde aanval gaan begin. Die manne skiet nog ‘n laaste paar skote deur die patryspoort, maak die poorte haastig toe en neem dan hulle plekke in op die banke. ‘n Paar oomblikke later vertrek die skip, en soos dr. Uys later vertel het, het ‘n hele klomp van die Marsiete wat al te naby was, dood verbrand toe die hitte van die spuitmotors hulle getref het. Japie het net gewag totdat hulle buite gevaar was, toe gespe hy haastig sy rieme los en laat spander na die patryspoort om te kan sien wat op die grond aangaan.

Onder hom wemel dit van die Marsiete en aan hulle houding is dit duidelik dat hulle maar baie vies voel omdat hulle prooi so maklik ontsnap het.

_________________________

Die groot ruimteskepe sak laer en laer bokant die Swartkop-vliegveld. Japie en Frikkie staan by ‘n patryspoort en klou vir al wat hulle werd is aan die staalrelings vas. Dr. Uys het besluit om baie stadig te sak sodat die gevaar van seerkry uitgeskakel word. Hy weet dat die manne nie in die banke sal bly as hulle land nie.

Onder hulle gewaar hulle duisende mense wat mekaar omtrent doodtrap om .alles duidelik te kan sien. Die ruimteskip kom met ‘n ligte skok tot stilstand. Die Doktor skakel die spuitmotors af en drie minute later word die deure oopgegooi en die leertjie sak na benede. Nou is Frikkie en Japie onder die voorstes om die skip te verlaat.

Skaars is hulle op die grond of hulle word bygedam deur ‘n man wat hulle hand hartlik skud. Die twee kyk verbaas na mekaar en sluk swaar wanneer hulle agterkom dat dit niemand anders as die Eerste Minister is nie.

„Baie geluk met julle prestasie, seuns. Julle het werklikwaar grootmoedigheid en durf aan die dag gelê.”

„Dankie . . . dankie Meneer . . . ” stamel die twee.

Gedurende die volgende twee uur het dit so dol met hulle gegaan dat hulle koppe skoon aan die draai was. Frikkie en Japie het eers weer normaal kon begin dink toe ‘n man hulle bydam.

„Kyk, seuns, ek laat twintig kaste koeldrank by julle huise aflaai.”

„Maar Oom, ons kan nie daarvoor betaal nie,” sê Frikkie met groot oë.

„Nou maar julle het nie nodig om daarvoor te betaal nie. Al wat ek van julle wil hê is ‘n portret en om te sê dat julle gereeld LEMOENKOLA drink, dan gee my firma dit gratis aan julle.”

„Maar Oom, ons drink gereeld LEMOENKOLA,” sê Japie.

„Nou maar dit was al wat ek wou weet,” antwoord die man.

„Die koeldrank sal vanmiddag afgelewer word.” Hy stap vinnig van hulle af weg.

„Nou wragtie!” sê Frikkie, „dit is die maklikste manier waarop ek nog ooit koeldrank in die hande gekry het. Maar jong, wat dink jy van daardie pak slae wat jou pa en my pa ons netnou belowe het?”

„Daarvoor gee ek glad nie om nie, ou maat,” antwoord Japie.

„Dit is so lekker om weer by die huis en op aarde terug te wees dat my pa my maar elke aand vir ‘n week lank kan deurloop. Maar kom ons laat spat . . . ! Hier kom al weer ‘n klomp koerantmanne aan en ek is nou al so moeg vir hulle dat ek die stuipe kan kry.”

Haastig laat spaander hulle om die hoek van die gebou en loop binne in Annie Verster en Ryna de Villiers vas. Die twee seuns steek vas, sien die uitdrukkings op die nooientjies se gesigte, vlie skielik om en hardloop terug in die rigting van die koerantmanne.

„As twee nooiens so lyk . . . is die koerantmanne baie minder gevaarlik” . . . so besluit hulle haastig.