Lusmaker – Fantastes

FANTASTES – GEORGE MACDONALD
Vertaal deur Quintin Ellis & Louise Eijbers
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)

8. Fantastes - Voorblad Foto - George MacDonald

 

HOOFSTUK 1

“ʼn Gees…
Die golwende en stil put en die kabbelende stroompie en die nag se somber skemering, nou verdiep in donker skakerings, waar spraak aannames maak, hou heilige nagmaal met hom, asof hy en dit al is wat daar was.”

– Shelley (Alastor).

EK het een oggend wakker geword met die gewone radeloosheid wat ʼn sameloop gevorm het met ʼn verstand wat terugkeer na ʼn toestand van bewuswording. Terwyl ek gelê en deur die venster in my kamer gekyk het, wat my ʼn uitsig oor die oosterkim gee, het ek die perskekleurige verdeling van ʼn wolk, wat net bokant die lae deining van die horison gestyg het, wat die aankoms van die son aankondig, opgemerk. My gedagtes, wat deur ʼn diep en blykbaar droomlose slaap bedek was, het begin om deursigtige kristalvorms aan te neem. Die vreemde gebeure van die voorafgaande nag begin hulself in my bedremmelde onderbewussyn hernuwe. Gister was my een-en-twintigste verjaarsdag. Saam met die seremonies van my mondigwording, is die sleutels van ʼn antieke skryftafel, waarin my pa sy persoonlike dokumente gebêre het, aan my oorhandig. Nadat almal weg was, het ek gevra dat daar nuwe ligte in die vertrek waar die skryftafel staan, aangebring word. Die ligte wat oorspronklik daar was, nog voor my pa se dood jare gelede, was onverstoord gelaat. Dit was asof die duisternis al te lank in die vertrek aangehou was om net goedsmoeds verwilder te word. Teen die swart gekleurde mure, waaraan die ligte soos vlermuise geklou het, het die lig geen beter doel gedien as om die skemer in ʼn halfhartige poging te bevorder nie. Dit het gelyk asof die flikkering nog meer donker skaduwees in die diep gewroegde holtes van elke kunswerk en die kroonlys gegooi het. Die res van die kamer lê gehul in die voue van ʼn diep raaisel, wat versamel het rondom die donker eikehout-kabinet. Ek het dit genader met ʼn vreemde vermenging van eerbied en nuuskierigheid. Amper soos ʼn geoloog, was ek nou op pad om lig te werp op ʼn vergete strata van die menslike bestaan, met sy fossiel verkoolde passie, versteen deur trane.

Miskien sou ek nou leer hoe my pa, wie se persoonlike geskiedenis aan my onbekend was, sy verhaal saamgeweef het soos ʼn spinnekop se web; hoe hy die samelewing ervaar het en hoe hy nie in die wêreld sy plek kon vind nie. Dalk sou ek net ou dokumente oor eiendomme en geld ontdek, hoe dit bekom en bewaar was. Wat deur mense van wie ek min geweet het, of glad nie geken het nie, aan hom oorhandig was. En hoe dit behoue gebly het in moeilike tye. Om my bespiegelinge uit die weg te ruim en om die bewondering wat soos ʼn naderende dood vinnig om my vergader het, te verdryf, het ek die skryftafel genader en die sleutel wat die boonste deel oopsluit, gevind. Met moeite het ek die roldeksel teruggeskuif. Ek het die swaar stoel met sy hoë rugleuning nadergesleep en voor die menigte laaitjies, skuiwers en vakkies gaan sit. Die klein kassie in die middel van die tafel het egter nou my volle aandag gehad, asof die geheim van hierdie lank verborge wêreld daarin opgesluit was. Na vele pogings ek die regte sleutel gevind.

Een van die geroeste skarniere het gekraak en gebreek toe ek die deurtjie oopmaak: ek was begroet deur nog ʼn paar versteekte laaitjies. Die laaitjies blyk baie vlakker te wees in vergelyking met die wat aan die sykante van die kassie was. Dit het tot aan die agterkant van die leestafel gestrek. Ek het vermoed hulle kon van die agterste deel van die skryftafel oopgemaak word. My vermoede was reg, die hele struktuur was op ʼn losstaande raamwerk gemonteer, wat my toegelaat het om die hele kassie uit te trek. Aan die agterkant het ek ʼn valpoortjie, saamgestel uit fyn houtsparretjies wat horisontaal op mekaar lê, gevind. Na ʼn lang gesukkel en vele pogings om die deurtjie te beweeg, het ek ʼn versteekte staalpennetjie aan die kant gevind. Ek het dit herhaaldelik en hard met die punt van ʼn ou instrument wat byderhand was, geforseer tot dit meegegee en na binne gegly het. Die klein valpoort het skielik oopgevlieg en ʼn kamertjie onthul wat op die oog af leeg was, behalwe vir ʼn hoop verdorde wit roosblare in die een hoek, wat al lankal hul geur verloor het, en in ʼn ander, ʼn klein bondeltjie papiere, wat met ʼn stukkie lint vasgebind was. Die kleur van die lint het saam met die geur van die rose vergaan. Met ʼn amperse vrees om daaraan te raak, want die papiertjies het die wette van vergetelheid in ʼn stom stilte ervaar, het ek in die stoel teruggeleun en die bondeltjie vir ʼn oomblik bestudeer. Daar het skielik, op die drumpel van die klein kamertjie, asof sy vanuit die dieptes van die laaitjie gekom het, ʼn fyn vroue-figuurtjie, perfek, asof sy ʼn klein Griekse standbeeldjie was wat lewe en beweging gekry het, te voorskyn gekom. Die ontwerp van haar rok was van so ʼn aard dat dit nooit oud-modies kon raak nie. Dit was eenvoudig en natuurlik: ʼn mantel ineengevleg om haar nek, wat vloeiend tot by die lyfband om haar middel loop en voortvloei tot by haar voete. Ek het egter eers heelwat later haar klere raakgesien, alhoewel my verbasing nie so groot was as wat verwag kan word met die eerste oogopslag van so ʼn verskynsel nie. Ek veronderstel dat my reaksie haar ietwat onkant betrap het. Ten spyte daarvan het sy tot amper teenaan my gestap en in ʼn stem, wat klink soos die doodse kalmte van ʼn naderende dagbreek oor rietvleie en rivieroewers, met ʼn sagte bries, begin praat:

“Anodos, het jy al ooit voorheen so ʼn klein wesentjie aanskou?”

“Nee,” het ek geantwoord, “en ek sukkel om te glo dat ek nou een sien.”

“Ai, so is dit altyd met julle mense, die eerste keer wat julle iets waarneem, glo julle dit nie en dit is uit pure onnoselheid dat julle uiteindelik deur blote herhaling oortuig word van die realiteit van dit wat julle eens as ongelooflik beskou het. Ek gaan nie met jou argumenteer nie, maar gaan wel vir jou een wens toestaan.”

Op hierdie stadium kon ek myself nie keer om haar in die rede te val, met ʼn dom opmerking, waarvoor ek geen rede tot berou gehad het nie:

“Hoe kan so ʼn klein, onbeduidende kreatuurtjie soos jy enigiets toestaan of van die hand wys?”

“Is dit die slotsom van jou filosofie, wat jy in een-en-twintig jaar opgebou het?” Het sy opgemerk. “Daar kan baie gesê word oor die gestalte, maar die grootte van ʼn persoon, is niksseggend. Dis ʼn eenvoudige argument rakende verhoudings. Ek neem aan dat jou ses voet lange statuur nie onbenydenswaardig oorkom nie, behalwe in die teenwoordigheid van jou oom Ralph, wat ʼn voet en ʼn half bo jou uittoring. Vir my het grootte so min betekenis, dat ek myself kan vereenselwig met jou vooropgestelde vooroordele.”

Terwyl sy gepraat het, het sy van die tafel af gespring tot op die grond, waar sy fier gaan staan het, ʼn innemende dame, met ʼn bleek aangesig en groot blou oë. Haar donker hare vloei oor haar rug, sonder enige krulle, tot op haar heupe en haar figuur vorm ʼn skrille kontras met haar wit kleed.

“Nou moet jy my glo.” Het sy opgemerk.

Oorweldig deur die teenwoordigheid van haar skoonheid, wat ek nou eers waargeneem het en ʼn onweerstaanbare en onverklaarbare aangetrokkenheid tot haar, neem ek aan, het ek my arms na haar uitgesteek, waarvan sy vinnig weggedeins het en gesê het:

“Simpel vent, as jy aan my raak, sal ek jou moet seermaak. Verder was ek twee honderd-sewe-en-dertig jaar oud, op die vooraand van die Somer Sonstilstand laasjaar en laastens mag ʼn man nie op sy eie ouma verlief raak nie.”

“Maar jy is nie my ouma nie,” het ek verdedig.

“En hoe weet jy dit?” het sy teruggekap. “Ek durf waag om te sê dat jy oor baie min kennis beskik rakende jou oumagrootjies en die generasies voor hulle, aan beide kante. En nou terug na die huidige onderwerp. Jy het gisteraand vir jou kleiner suster ʼn feëverhaal gelees.”

“Ek het wel.”

“Nadat jy klaar gelees het, terwyl jy die boek toegemaak het, het sy aan jou gevra: ‘Is daar ʼn feëtjie-land, Boetie?’ Jy het haar met ʼn sug geantwoord ‘Ek neem aan daar is een, indien ʼn persoon ʼn weg daarheen kan vind.”

“Ek het ja, maar my bedoelings was anders as wat jy nou uit my woorde aflei.”

“Vergeet nou wat ek veronderstel was om te dink. Môre sal jy die pad na Feëland vind. Kyk nou in my oë.”

Gretig het ek haar in die oë gekyk. ʼn Gevoel van onbekende verlange het my wese gevul. Om een of ander vreemde rede het die herinnering van Ma, wat gesterf het terwyl ek ʼn baba was, by my opgekom. Dieper en dieper het ek in haar oë gestaar, totdat hulle my omvou het soos oseane en ek weggesak het in die diepe waters. Alles om my was vergete, totdat ek myself voor die vensters, met die donker gordyne oopgetrek, bevind het, besig om uit te staar na ʼn hemel vol sterre, vonkelend en klein in die maanlig. Ver onder het die see gelê, stil soos die dood en grou in die maanlig, deinend tussen hawens, kape en eilande, weg, weg, en ek het nie geweet waarheen. Helaas! Dit was nie ʼn see nie, maar ʼn lae moeras gepoets deur die maanlig. “Daar moet êrens so ʼn see wees!” sê ek vir myself. Die soet strelende stem langs my het geantwoord:

“Dis in Feëland, Anodos.”

Ek het omgedraai, maar daar was niemand nie. Ek het die leestafel toegemaak en na my eie kamer gegaan en in die bed geklim.

Ek het al hierdie herinneringe herroep terwyl ek met half-geslote oë gelê het. Ek sou binnekort die waarheid agter die dame se belofte uitvind, naamlik dat ek op hierdie dag die weg na Feëland sou vind.