8 Augustus 2014
© dr. François P. Verster
My eie gestoei met werk, vryskutwerk, sosiale verpligtinge, die gedurige “aandrang” van verskeie genres, en dies meer – alles dinge wat mens mal maak – het my die volgende laat neerpen; vir eie bestekopname en om sommer ook met ander te deel wat voel hulle sukkel alleen.
Kunssinniges is nie bekend vir hulle metodiese werkswyses of kliniese werksomgewings nie. Relatiewe chaos is egter altyd beter as volkome disfunksionaliteit.
Hoe langer mens skryf, hoe meer besef jy dat jy moet organsieer, of verdrink in ’n moeras van bokse, lêers, los papiere: notas, ook elektronies (op rekenaar, slimstokkies, eksterne hardeskywe, CD’s, en so aan), gedurig aan die spartel om iets te vind: frustrasie en tydmors – hopelose hulpelose moerigheid volg. Want later raak jou bêreplekke ook vol, jy wyk uit na die motorhuis, Wendy-huis, waar ook al…
Ironies dan dat mense wat nie skryf nie vra “Hoe kry jy alles gedoen?” En die kort antwoord is “Ek kry nie alles gedoen nie.” Een aspek wat hier ter sprake is, is spesialisasie teenoor veelsydigheid. Sommige mense kry dit reg om te spesialiseer; om eenvoudig sommige aktiwiteite agter te laat en op een of twee genres te fokus. Prysenswaardig!
Ek dink gister daaraan dat as mens ’n liter Fanta in ’n swembad gooi, jy net water sal sien, g’n Fanta nie. Gooi daai liter Fanta in ’n skottel vol water en natuurlik sien jy tekens van oranje. Net so met die mate van alsydigheid waaroor kunssinniges mag beskik: jy gaan min impak hê as jy jou talente “wyd en dun” (verspreid) aanwend. Soos met sportsterre wat aanvanklik aan verskillende sporte deelneem en dan later kies of dit bv. krieket of rugby sal wees, so kan mens met vrug eers bv. gedigte en kortverhale skryf en later op prosa konsentreer. Die bywoning van skryfskole kan jou help om te kies, want die aanbieders mag insigte hieromtrent verskaf – iets soos “Um, jou forté is dalk NIE kortverhale nie.” En dan is daar skielik minder afdelings in jou atiwiteitslêer (as jy so iets het) – dus ’n bedekte seën om vrot te wees in iets.
So hoe meer genres jy beoefen, hoe erger gaan die chaos in jou werkplek wees. Ja, spesialisasie is ook in dié opsig beter. Ek praat van minstens ’n keuse tussen poësie en prosa – jy kan steeds romans en kortverhale skryf, as jou talente sodanige ontwikkeld is. Poësie is beslis nie my sterkpunt nie en die keuse was maklik genoeg: ’n kursusaanbieder het dit redelik duidelik so aan my gestel! Verder is daar min geld in skryf in S.A. en dalk die minste in poësie, want die mark daarvoor is piepklein. Of stel dit liewer so: ’n skrywer wil gepubliseer word, en dis moeilik genoeg om ’n roman gepubliseer te kry, laat staan nog ’n digbundel.
Maar in my geval moes ek ook kies tussen skryf en die visuele kunste – my esel staan soos ’n monument vir die oorheersing van skryf teenoor skilder in een hoek van my studeerkamer; ’n stille beskuldiging. Maar tans ’n noodsaaklike situasie: die pasiënt is stabiel, hoewel in ’n bedenklike toestand!
Verwysing na my eie situasie is dus ’n geval van “Ek weet, en ek voel dit aan my bas.” Maar terug na praktiese oplossings. “Kompartementalisasie” werk die beste vir my – een hoek vir naslaanbronne vir my geskiedenisrubriek, een hoek vir boeke wat ek nog moet resenseer, een hoek vir notas vir ’n roman… en dan is daar die gemerkte bokse waarin weergawes van manuskripte is (asook op ’n eksterne hardeskyf) en kontrakte met uitgewers kom in die kluis, korrespondensie met sulke uitgewers in ’n liasseerkabinet (en onder Personal files op my rekenaar – duplisering is nie altyd ’n slegte idee nie).
En as mens besig is met redigering? Ek hou ’n boekie waarin ek aanteken wat die elektroniese lêer-titel van die betrokke roman is (mens het mos later verskillende weergawes en die gevaar bestaan altyd dat jy deurmekaar raak met watter een is die nuutste). Ek hou ook altyd die nuutste weergawe op ’n slimstokkie wat in dieselfde kantsakkie van die rugsak is wat elke dag saam met my kantoor toe gaan. As jou skootrekenaar eers een maal gesteel is – met ’n hele manuskrip in, plus jou bystand-stokkies in daardie rekenaartas, sal jy leer om dit so te doen – vra my. Skrywers soos Abraham de Vries het al meer as een keer nuwe weergawes van byna-voltooide manuskripte deur diefstal verloor, en dis traumaties om die minste te sê.
Soos ek elke oggend vroeg, vóór werk, eers aangaan met redigering, teken ek aan: die nuutste titel van die file (bv. “Omega, gesny, nr. 9”), die datum, die bladsy tot waar ek gevorder het en die aantal woorde wat die nuutse file bevat. Dis omslagtig, maar noodsaaklik. Die alternatief is erge trauma, uit en gedaan. Boonop hou jy ook ’n lysie van jou vordering.
Om saam te vat: Elke skrywer ontwikkel mettertyd sy/haar eie stoorstelsel en werkswyse, maar hoe gouer dit gebeur, hoe beter. Skryf is nie speletjies nie; jy wil jou oeuvre opbou, want skryf is ’n soort loopbaan en jy moet dit beplan*. Anders is jy net (nog) ’n liter koeldrank in ’n hengse groot swembad.
# # #
*Suksesvolle skrywers leer hoe die boekebedryf werk en beplan bv. volgens die temas wat meer waarskynlik is om gepubliseer te word. Soos jou loopbaan vorder kan jy ook beplan watter genres beter is en watter uitgewers jou beter pas.
Aanpasbaarheid is duidelik belangrik in so ’n beplannings-opset. Maar dis ook nie noodwendig ’n probleem indien jy op net op een genre konsentreer nie – as Fantasie byvoorbeeld al is waarin jy goed is/belangstel, sal jou skottel duideliker oranje wees as myne waarvan bietjies dalk in drie, vier verskillende skottels gegooi is!
Solank jy georgansieerd is en jy jou eie kanse tot sukses nie inperk nie.