OU FRANKIE – Annico van Vuuren

OU FRANKIE – 2016 © Annico van Vuuren

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 976 WOORDE)

 

Iets is fout… wel nie pyn nie. Dit voel hy nêrens nie. ʼn… Onverklaarbare onrus…? Iets… naamloos? Dalk droom hy – ʼn nagmerrie? Nee, dis… méér. Asof hy toegemaak is.

Hy kan nie roer nie. Nie sien nie. Nie hoor nie. Nie… Hy is iewers vas. Dis asof hy uit ʼn… onbeskryflike plek van… verskrikking moet uitklim.

Waar is hy dan? Wat het gebeur?

Hy lê in dié onmag vasgekluister. Benoudheid gryp hom met groot hande vas. Hy is in iets toe. Iets waarin daar niks is nie. ʼn Niks wat méér is as stilte. Méér as donkerte – ʼn bodemloos iets. En die stilte en donkerte en bodemloosheid sak hom toe en hy raak daarin weg.

Hoe lank voordat hy weer boontoe dryf? Maar dié slag kom hy asof hy die pad al ken. En dadelik – soos die rol van ʼn kamera, ʼn klippie in die poel van sy gemoed: die enkele gedagte: Ek is nie blind nie.

Dan die besef: Hy kán sien. Hy moet in ʼn hospitaal wees, daar staan ʼn verpleegster hier by hom. En dis nie net dat hy kan sien nie – hy sien goed: Tot die fyn druppeltjies sweet in die velpatroon op die verpleegster se bolip. Ook die aartjies in die wit van haar oë. Méér. Hy kan tot ágter haar oë inkyk, waar hy nou vrees kan sien ontkiem. Vrees? Hoekom sou sy dan bang wees? Is hy dalk…?

Sy oë beweeg. En… is dit nie vreemd nie? Het hy al ooit voorheen geweet wanneer sy oë beweeg? Dis mos onwillekeurig? Maar hy kan hulle duidelik voel terugkom na die wit laken toe, wat styf, byna plat, oor sy lyf span.

Sy lyf… Hy kan nou ʼn bietjie voel ook! Wéét sy lyf daar is. Maar verder niks. Wat van tone, vingers? Wat van hande? Hy wil vra. Maar sy lippe is weg, en daar is gʼn stem in hom nie. Die verpleegster sê ook niks. Is sy nie veronderstel om hom gerus te stel nie? Hoekom neem sy nie sy pols of iets nie – het hy dan nie pas sy bewussyn herwin nie?

Amper asof sy gedagte iets in haar aan die gang kon sit, spring sy haastig om en verdwyn met afgewende gesig by die deur uit.

Haar vrees… ʼn Vrees wat opeens op hom oordra en hom weer in die niks intrek.

Toe hy weer tot sy sinne kom, staan Harry by sy bed. Hy kan hom in dieselfde ongelooflike detail sien. Hom hoor ook. Tot sy asemhaling – sy maag wat gorrel.

Harry het sy halfwas wit jas aan – dan is hy seker hier in sy hoedanigheid as dokter? Harry is die heel beste onder die bestes. As daar iets te redde is, sal Harry dit kan red. Sy verligting om in Harry se hande te wees, laat hom sonder om daarteen te probeer stry, weer wegglip na die niks.

Later word hy met twee oombliklike gedagtes wakker: Hoekom is die verpleegster bang, met hom vasgekluister aan ʼn bed? En Harry, wat net ingeroep word vir hopelose terminale gevalle?

Harry is daardie rare verskynsel – iemand wat sy tyd ver vooruit is. Dit maak sy kollegas ongemaklik. As hulle kan, vermy hulle hom. Sy hulp word net ingeroep as daar ʼn onoplosbare probleem opduik. Almal weet, jy kan Harry vertrou om te probeer – altyd iets te prakseer. En…

Hy lê na die horlosiewysers en kyk – op die wit muur oorkant. Hy kan tot die nate sien waar die plastiek aan die metaal geheg is:

ʼn Ongeluk…? Maar hy kan niks onthou nie. Hy kan ontbyt terugroep. En hoe hy Marietjie en Janneman groet. ʼn Dag vol verwagting, want die gesimuleerde buite-ruimte-toestande van die kapsule moet getoets word. Maar hy mag nie sy opwinding wys nie. Marietjie kerm al lank: Die werk van ruimtetuie toets is te gevaarlik. Veral vir die pa van ʼn seun van drie. Dis tyd dat hy aan sy vrou en kind dink ook.

Elke keer pleit hy, nog net dié projek. En hy herinner haar aan die ruim vergoeding, die sekuriteit vir die dag as die kragte gaan taan en die reflekse verstadig. En nou gaan Marietjie kan verwyt: hy het dit te lank uitgestel. Want iets moes verkeerd geloop het – die verdere dag is uit sy kop weg. Iets moes met die kapsule gebeur het.

Hy word van geluide agter sy toe deur bewus. Waar sou sy verpleegster dan wees? Hy sluit sy oë en luister. Hy kan die oorsprong van elk klank identifiseer. Verweg, daar moet nóg ʼn vertrek – dalk twee – tussen hom en die gang wees.

Dadelik kan hy agter sy ooglede uitwerk: Hy is in Harry se ontvangslokaal. Dis nie by Harry se laboratoriumblok nie, maar in die hoofgebou: Daar is die ontvanglokaal, ʼn kantoor en ʼn derde vertrek.

Dís waar hy lê, in die derde vertrek. En die geluide wat hy kan hoor, kom van die gang in die hoofgebou, en van die saal laer af daarin geleë. Hy kan beddens hoor kraak. Dowwe stemme. Twee van hulle nader aan hom – in die sloesgewoel. En daar kom ʼn trollie met die gang af. Hy kan elke wieletjie se indiwiduele geruis onderskei.

Dan, soos ʼn haelstorm uit ʼn wolklose hemel, slaan ʼn massa feite met opeense kilte op die oop vesel van senuweedrade iewers in hom: Waar is die gebruiklike bottels en buise en naalde in sy lyf? Waarom word hy nie met medikasie pamperlang nie? Niks eers teen pyn nie? Geen pyn nie! Hoekom is hy nie dors nie? Die vreesbevange verpleegster…? Harry…?

Die kamera in sy brein hoor steeds die trolliewieletjies ruis. Hy draai sy kop na die deur toe. Dis asof hy nou deur sy ore dwarsdeur die twee vertrekke tussen hom en die gang kan sien. Die voetenent van die trollie verskyn in dié gehoorveld. Die verpleegster wat die trollie stoot, is met ʼn drup aan die vroetel en met iemand agter haar aan die gesels – haar aandag nie by haar pasiënt nie. ʼn Pasiënt, kléin – moet ʼn kind wees – want hy is besig om tussen die twee vasgegespede bande wat hom op die trollie moet vashou, uit te skuif. Hy gaan val. Hy mag nie val nie.

En hy is óp. Deur twee deure en betyds om ʼn klein lyfie te gryp voordat hy kan val.

Hy staan roerloos toe die trolliebed verder wegruis, die verpleegster se aandag nou verskrik verdeel tussen die kind, en oor haar skouer terug by hom. Daar is ander monde ook wat hom aangaap. Maar sy oë soek oor sy perfek gesonde lyf. Van die oomblik af dat hy kon hoor die kind gaan val, het hy opgespring, meters ver beweeg en die kind nog betyds gered. Ongelooflik…

Ongelooflik vinnig? En sy bene, voete, hande, tone, vingers – alles daar. Gʼn besering nie. Gʼn…

Woorde bly in sy kop herhaal. Hy strompel terug bed toe, hy moet lê. Daar bly hy oor sy lyf voel – bly elke stukkie van hom beskou: Bene, hande, borskas. Geen verband nie. Nie eens ʼn skrapie of ʼn kneusplek nie. En die nie-verstaan sluk hom weer in.

Sy lyf skud. Die geluid van die trolliewieletjies is terug. Hy kan die knyp van ʼn windjie voel. ʼn Oomblik nog voordat hy besef, dis hy wat knars en skud – hy op die trollie. Sy kop lê afdraand en dit gee aan die gang ʼn vreemde hoek. Sy lyf is sonder letsel, onthou hy weer – die fout moet in sy kop wees.

Die gang is donker met net die momentele oomblikke van lig onder deur elke gloeilampie teen die dak. Bordjies flits verby: Administrasie. Radiografie. Kapel. Hy is in die ondergrondse hoofgang van Ruimtunsa Hospitaal, onthou hy. Hy…

Onrustig probeer hy roer en besef met ʼn skok dat hy ʼn dwangbaadjie moet aanhê. Is dit dan nie net vir versteurdes nie…?

Na ʼn oneindigheid draai hulle iewers in. Harry staan by ʼn venster. Hier is hy nou in Harry se laboratoriumblok.

Skielik is hy kwaad. Wat staan Harry net daar! Hy beur regop. Die dwangbaadjie val soos vodde van hom weg. Harry – opeens spierwit – gooi hande in die lug, retireer. “Ral, asseblief!”

Harry – ook bang! Dit ruk aan hom. Hy sak op die trollie terug: “Wat gaan aan, Harry? Wat maak julle met my? Wat makeer my kop?” Hy sluk, want sy stem – dis eerste keer dat hy probeer praat, besef hy – klink soos ʼn skarnier wat lank nie olie gesien het nie.

Harry, sy kleintydse maatjie van langsaan, en later, toe hulle op Ruimtunsabeurse studeer, sy goeie vriend – met ʼn intelligensie wat aan die abnormale grens – staan met sy mond oop en los. Harrybly ook van hóm wegretireer voordat hy in sy stoel neersak.

En hy, nog altyd onderdanig aan daardie ylblou oë waaragter Harry se gedagtes vir hom Grieks bly, kan skielik, soos met die verpleegster, in Harry inkyk tot by sy verbysterde ongeloof, sy skrikwekkende opgewinding. Daar is onsekerheid ook, en groter vrees as dié van die verpleegster!

Boonop weet Harry nie hoe om hom die waarheid te vertel nie.

Toe Harry opspring en op en af begin loop, probeer hy ontspan. Maar juis sy beweging toe hy gemakliker op die trollie probeer sit, ruk Harry tot stilstand. Hy wil amper lag, maar vra toe droog: “Hoekom sê jy nie maar net reguit wat jy met my aangevang het nie?” Gelukkig klink sy stem amper weer normaal. “Iets met my kop?”

Harry lag skielik en sak op sy stoel terug. “Jou kop, Ral, is al waarmee ek nie gelol het nie!

“Hulle het my kom roep. Niemand kon glo daar is nog ʼn dowwe hartklop iewers nie. Jy lê, net ʼn stuk verkoolde vleis. Gʼn bene of arms oor nie. Gʼn neus, of oë of ore nie. Sou jy nie jy – my vriénd – gewees het nie, het ek net daar omgedraai.”

Terwyl sy brein, soos op ʼn afstand, probeer verwerk wat Harry sê, sien hy, op ʼn ander vlak, weer op sy nuwe manier deur Harry. Harry oorweeg opnuut hoe hy die ding moet benader. Iets wat Harry baie doen, besef hy, Harry sensor sy gedagtes. Miskien om nooit die wese daarvan aan ander te openbaar nie? En hier, vandag, sien hy deur die skans wat nog altyd vir Harry gewerk het.

“As jy dit dan reguit op die ken wil hê,” val Harry weer weg, “ek het jou rugmurg en brein met al die senupunte – die outonome stelsel hopelik daarmee saam – uitgeslag uit daardie verkoolde stuk vleis en dit op ʼn robotlyf oorgeplant – wat ek natuurlik eers moes aanpas om soos jy te lyk.”

Sy nuwe rolkamerabrein herroep dadelik – bloot feitlik, asof dit hóm nie raak nie: Harry se robotlywe waarmee Harry van sy studentejare af speel. En uiteindelik ʼn geleentheid vir Harry om met altwee hande aan te gryp…

“Soos jy sal besef, so iets is nog nooit van gedroom nie,” praat Harry voort. “Dis nog nie eens op diere gedoen nie. Al het ek in die teorie al daarmee begin speel. Niemand behalwe my direkte personeel weet ook nog hiervan nie. Almal dink ek hou jou daar in my kantoor, waar ons jou moes indra, op een of ander wonderbaarlike manier aan die lewe. Selfs Marietjie weet nog niks.

“Só, jy is my ou Frankie – my geheime Frankenstein, teen die wet gepleeg. Ek het geen idee gehad of dit kon werk nie. Net gehoop dat van die senupunte sou begin funksioneer… Maar of jy behoue sou kon bly, kon ek nie weet nie. Ek is absoluut oorweldig dat jy met my in jou stem praat – dat jy klink asof jy jy is…

“Ek is die hele tyd bevrees dat jy sou vasgevang wees… iewers binne, dalk sonder dat sommige sintuiglike punte kontak kon maak.

“Ek het besef dat die aanpassing geleidelik sou moes kom – maar hier is dit net ʼn skamele drie maande!”

Drie maande! – al daardie kere in die donker niks af. En die gevoel van vas wees: toe in die kol! En dit het geleidelik gekom. Eers sy visie, toe gevoel, gehoor – en beweging toe hy dit nodig kry.

“Baie vinniger as wat ek ooit kon gedroom het…” mymer Harry verder. “En die goed wat jy aanvang – red ʼn kind! Ons superheld! Te vinnig. Te sterk. Dis hoekom ek die dwangbaadjie gebruik om jou hierheen te smokkel – ons kon mos nie dat ons sterwende pasiënt sports maak daar in die hoofgang nie!” Hy lag. “Nie dat dit juis gehelp het nie! Dis veronderstel om onvernietigbaar te wees.” En hy wys na die baadjie wat in drie stukke op die vloer lê. “Van hier af kan ek jou by die agterdeur uitsmokkel. Ek wil jou huis toe vat. Sodra jy kans sien, ʼn perskonferensie reël – sou die beste wees om hulle met die suksesvolle resultaat dood te gooi.”

Die begrip: ʼn plastieklyf, begin stadig tot hom deurdring. Hy kan sy hande nie keer nie, hulle vat oor hom, bevoel hom. Maar hy voel dan nes altyd. Dis juis sy kop, veronderstel om onaangeraak te wees, wat… helderder dink, minder deur emosie deurmekaar gekrap word? Die emosie is steeds daar, maar gelouter, onder beheer… – volwasse?

Harry hou opgewonde aan praat – herhaal homself. Hy moet weer sy lag bedwing toe hy besef Harry is nie meer ʼn godjie in sy gemoed nie – slim Harry waarlangs hy nog altyd minderwaardig gevoel het. En hy, al hierdie jare toe net toegelaat om gesellig saam met die wonderlike Harry te verkeer?

En dis nie net hy wat anders teenoor Harry voel nie. Hy word vir Harry ʼn opeense intieme vertroueling – ʼn amperse medepligtige. Medepligtig aan Harry se waaghalsige eksperiment. – Dat dit nou so ongelooflik suksesvol kon wees! En waarom maak dit hóm nie ook opgewonde nie? Vreemd, hierdie nuwe siening van hom.

Sy aandag keer stadig na Harry terug. Harry aan die uitbrei oor hoe hy jare gelede al besluit het dat ʼn robotlyf, al moet dit in elke detail soos ʼn mens lyk, nie hoef belas te word met goed soos uitskeidingstelsels of bloedsomloop nie. ʼn Meganiese liggaam kan tog soveel beter funksioneer. Dis slegs die rugmurg en brein in hulle vloeistofbed wat voeding nodig het. Een funksie van die meganisme is dan juis die vervaardiging daarvan. Die ideale voedsel wat die stimilus en impuls altyd konstant hou. Die hele gedoente is selfonderhoudend en behoort sonder modifikasie vir die volgende honderd jaar te funksioneer.

“Die enigste probleem is sosiaal,” lag Harry. “Saam eet is soos gesels, noodsaaklik vir die samesyn. En daar is die seksuele sy ook, wat probleme kan veroorsaak. Nie dat ek dink jy probleme sal hê nie,” grinnik Harry weer, “drange ontstaan in die brein en skynbaar is daar niks met joune fout nie, dis die ánder persoon! Dalk kan ek ʼn bietjie verander aan…?”

“Jy los my uit soos ek is!” Hy is self verbaas oor sy heftigheid. Ook oor die inskiklikheid wat hy by Harry aanvoel. Tot hy besef: Hy hou Harry en alles wat vir Harry belangrik is, in die holte van sy hand. En wat hom betref, Harry kan maar ʼn bietjie in sy eie vet braai. Hy het tyd nodig om uit te sorteer hoe hy voel, en veral hoe hy oor Harry voel. Hy sal eers by Marietjie moet uitkom ook. Sy het tog ook seker ʼn sê.

Om aan haar te dink, laat alles in hom op ʼn knop trek. Marietjie, hoeveel jaar reeds die kern van sy bestaan. Hoe gaan sy oor hom – oor sy… lyf – voel?

“Kan jy Marietjie asseblief laat kom, ek wil haar hier by my hê. Ek sal haar self inlig.”

Harry huiwer ʼn oomblik, maar knik dan – steeds inskiklik. “Ek dink net… Sy verwag ʼn baie siek man, ons moet jou eers in die bed kry.”

Hy lê vir die growwe muur en kyk totdat Marietjie kom. Sy huiwer eers in die deur, haar oë vol vrae. Toe hardloop sy na hom toe. “Ral! Hulle wou my nog nie toelaat nie! Nie eers net om by jou bed te sit nie.” Sy steek vas. “Maar, Ral, jy lyk verskriklik goed, ek dog dan…” Sy bedink haar en kom gryp sy hand vas.

Sy is my lewe! en hy kan nie glo toe hy ʼn branderigheid agter sy ooglede voel nie: Ewig op ʼn voetstuk, sy Marietjie – wat nog altyd daardie tikkie onbereikbaarheid behou. Haar geheim, nog vandat hy haar die eerste keer gesien het – steeds vol hoekies vir hom om te ontdek.

Waar gaan hy die regte woorde kan uitkrap? Skok sal daar wees… Maar hy het vertroue in haar diepte. Miskien maar soos Harry gedoen het – sonder ompaaie uitpak?

“My lyf was só stukkend, Harry het besluit om ʼn nuwe oor te plant.” Hy hou haar oë dop, maar daar is net die óú versluierde kyk, haar vingers op sy pols streel nog net so rustig. Miskien verstaan sy nie heeltemal nie?

“Die oorplanting is toe ʼn reuse sukses, Marietjie. ʼn Ongelooflike sukses.” Haar uitdrukking verander nie. Het Harry gelieg – het hy haar tog voorberei? “Verstaan? Ek makeer niks. Ek kan saamgaan huis toe. Ek met my…”

“Huis toe?” skielik ontsteld. “Dan het ek verniet eetgoed saamgebring? Ek het nie geweet wat jy sou kon eet nie. Toe bring ek maar die bruislekkers waarvan jy hou, en appels…” Sy bly skielik stil, maar haar oë is steeds sonder ʼn troebeling.

Hy sê afgemete: “Hoef nooit weer te eet nie, Marietjie. My nuwe lyf het nie kos nodig nie.”

Haar pupille sper skielik, haar verdonkerde oë kom klou aan sy mond. Hy kan haar stadige gedagtes lees asof dit swart op wit voor hom geskryf staan: Harry se robotlyf! Om ʼn mond wat nie kan eet nie te moet soen? Wat nie…?

Niks wat ooit weer gaan bloei nie? Niks wat…?

Sy laat sy hand op die deken val. Haar oë kruip oor sy lyf asof sy iets soek. Hy voel haar wegdu.

Meteens val haar vrouemisterie ook vir hom van haar weg. Hy sien dat dit toe altyd maar net ʼn leegte gewees het. Nie eens veel intelligensie nie, net genoeg om die leegheid soos ʼn tafel met ʼn vrolik geblomde doek te dek – wat hom laat dink het daar skuil iets raars.

Meteens het hy haar dieper lief, want sy staan geestelik naak voor sy bed, en hy wil alles weer vir haar met geborgenheid kan toemaak. Maar hy weet: Hy kan nooit weer iets vir Marietjie doen nie. Hy kan haar nooit weer bereik nie. Hy het vir haar ʼn onmenslike monster geword.

Hy lê roerloos na haar en kyk. Dis nou sy wat teen die muur sit en vasstaar. Sy probeer, dit moet hy toegee. Hoeveel vroue sou nie opspring en vlug nie?

Na ʼn rukkie draai sy na hom terug. Sy probeer ʼn glimlag dwing. Sy vat weer sy hand. Dalk het sy maar net tyd nodig, wil hy hoop. Maar met ʼn onverbiddelike nuwe eerlikheid weet hy die breuk is finaal, dis net sy wat dit nog nie aanvaar het nie.

“Ek het Janneman ook saamgebring, maar hom eers by kinderbewaring gelos.” Sy glimlag maskeragtig. “Ek gaan haal hom net gou.”

Wildvreemdes word gereeld slagoffers van Janneman se bekkigheid. Koning of boemelaar, almal is sy vriende. Hy het baie meganiese speelgoed ook, wat hy liefdevol sal vasdruk. Dooie goed – blikspeelgoed, lapspeelgoed, opwengoed, batterygoeters, plastiekspeelgoed. Dalk sal sy lyf vir hom aanvaarbaar wees?

Hy wag gespanne en dink aan Janneman en die afgelope tyd. Die maand vantevore moes hy met sy werk vir meer as drie weke weg, by sy terugkeer is hy met gille van vreugde, nat soene en ʼn gedruk van jong arms terugverwelkom. Drie maande is hopelik nie te lank nie?

Hy hoor hulle kom – klem sy vuiste. Janneman gee hom een kyk en begin soos ʼn maervark skree, klou sy ma vas, probeer sy lyfie kleiner maak – wég van hom af.

Instink, besef die koel stukkie van sy brein – vleeslike instink. ʼn Oerkennis wat weet dis nie meer ʼn pa met ʼn vleis-en-bloed-gesig nie.

Skielik word alles vir Marietjie ook te veel. Sy gil haar ontsteltenis uit: “Jy is nie Ral nie – Ral is dood!” En sy gryp Janneman, druk hom styf teen haar vas en dra hom by die deur uit. Net die sakkie peuselgoed bly by hom agter.

Na ʼn ruk staan hy op. Hy stap deur ʼn sydeur uit tot in die hospitaaltuin, dwaal daarvandaan verder weg, onder die skadu- en ligpatrone van ʼn laan bome deur en toe met ʼn sypaadjie langs.

Skielik is die gronde van die ou pretpark voor hom. Jare al staan dit hier en roes. Die stadsraad kon blykbaar nog nooit die geld vind om dit te laat sloop nie. Hy klim deur ʼn slap draadheining en stap nader – loop in sy jeugjare terug. Hoe het hy nie hier geboer nie. Eers alleen en toe later saam met Marietjie – saam met Harry.

Sou hy liewer dood wou wees?

Nee, hy dink nie so nie.

Wat Harry betref, dié het aan hom hierdie nuwe lewe gegee, al is dit nie sy ou lewe nie. Hy is seker die perskonferensie aan Harry verskuldig.

Voor hom lê verroeste stukke sink inmekaar gestort – lank gelede se spooktonnel. Hy onthou: hy en Marietjie daar binne, die eerste keer toe hulle uitgegaan het, albei nog op skool. Hoe het sy hom nie beklou daardie aand nie! En gegil – en hy te skaam om haar selfs te soen.

Wat kan hy nog vir Marietjie doen? Daar sal ruimskootse skadevergoeding uitbetaal word vir die ongeluk by Ruimtunsa. Hy kan dit vir haar en Janneman laat belê. Hy moet Harry vra om ʼn skeisaak aanhangig te maak. Hy sal vra om Janneman voorlopig nie te sien nie, maar later wel. Daar sal binnekort ander robotlywe met mensebreine begin rondloop – Harry sal daarvoor sorg. Janneman sal met die grootword daaraan gewoond raak. En dalk later…?

Hy bly voor die eertydse systalletjies staan. Daar waar hulle die fratsmense altyd op ʼn ry uitgeveil het aan die skadukant van die mensegemoed: Die vetste vrou. Die langste man.

Wanneer hy op sy eentjie pretpark toe kon kom, was dit hulle wat hom vasgehou het met ʼn band van jammerte en afsku. Nou het hy een van hulle geword. Behalwe natuurlik, vir hulle het vlees en bloed darem gebly.

Hy gaan sit. Hy moet hierdie nuwe lyf van hom vierkant in die oë kyk. Hy onthou die aaklige jaar toe hy vyftien geword het. Sy pa skielik dood, hy so ontsteld dat hy druip. Tog voel hy nie heeltemal soos tóé nie, daar is nie die gedool en gewriemel wat nie rigting kan kry nie. Hy is rustig; terwyl vrae een vir een in sy gemoed plons: Het hy regtig iets verloor – iets van menswees tussen mense?

Het hy Marietjie of Harry tóé beter geken – het hy nader aan hulle geleef? Hulle beter verstaan? Hoe naby is een mens ooit aan ʼn ander? Is naby-wees nie altyd net ʼn hersinskim nie?

Hy onthou weer die vetste tannie, die meisie sonder arms en bene. Waarom het hy tot hulle aangetrokke gevoel? Waarom het hy Hárry as vriend gekies, Mariétjie as vrou? Dalk omdat hy gedink het hy herken ʼn alleenheid in hulle – soos hy in homself kon voel?

Maar is hy dan nie nou méér alleen as ooit voorheen nie? Tog, voel hy hom dan een met hierdie ou mensgemaakte bank waarop hy sit nie? Een met al die mensgemaakte voorwerpe in die park – is hy dan nie nou ook mensgemaak nie? En met al die motors en busse wat verbydreun ook. ʼn Verkeerslig trek sy oog. Met sy drie kleure deur die bome knik die verkeerslig vir hom – wink.

Skielik weet hy, met sy verpligtings teenoor Marietjie, Janneman en Harry eers agter die rug, wag ʼn wêreld op hom. ʼn Nuwe lewe vir ʼn nuwe mens – plastiekgebonde, maar vir ewig verlos van die wispelturige, hormonale vlees – ou Frankie. Hy gaan dié nuwe naam ook syne maak.